• No results found

Die hoofstukke is soos volg ingedeel:

HOOFSTUK 1: Inleiding tot die navorsingsontwerp.

HOOFSTUK 2: Beskrywend-empiriese taak – empiriese kwalitatiewe navorsing om perspektiewe van verworpe persone te bekom oor hul belewenis van die fenomeen verwerping; om vas te stel hoe en hoedanig het verwerping hul Godsbeskouing beïnvloed. HOOFSTUK 3: Interpreterende taak – ʼn literatuurstudie onderneem om gegewens oor verwerping vanuit die menswetenskappe na te vors en toe te pas op die beïnvloeding van ʼn individu se Godsbeskouing

.

HOOFSTUK 4: Normatiewe taak – Skriftuurlike en teologiese perspektiewe wat op die fenomeen verwerping van toepassing is, nagegaan om individue se ontoepaslike/nie- Skriftuurlike Godsbeskouings aan die hand van die Skrif te herstruktureer.

HOOFSTUK 5: Pragmatiese taak – formulering van praktyk-teoretiese pastorale perspektiewe wat rigting kan gee aan die pastorale gesprek met persone wat verwerping beleef of beleef het en wie se Godsbeskouing daardeur benadeel is.

1.13 BIBLIOGRAFIESE GEGEWENS

Tensy anders aangedui, is alle Bybelteksverwysings geneem uit die 1983-vertaling van die Afrikaanse Bybel (Nuwe Afrikaanse Vertaling, in die studie na verwys as NAV, 1983).

Bronne is erken en die bronnelys ooreenkomstig die Harvard-metode van bronverwysing saamgestel. Die tegniese handleiding Verwysings van NWU (NWU, 2012) is hiervoor geraadpleeg. Daar is gepoog om (veral die langer) verbatim aanhalings tot die minimum te beperk.

HOOFSTUK 2

BESKRYWEND-EMPIRIESE TAAK

2.1 INLEIDING

In sy model vir Praktiese Teologie stel Osmer (2008:4) eerstens die beskrywend-empiriese taak om uit te vind wat het geskied, of is besig om te gebeur met die aspek, fenomeen of gebeure wat ondersoek word. Die navorsingsonderwerp van die huidige studie ondersoek die invloed wat verwerping op iemand se Godsbeskouing kan uitoefen. Die studie is daarop gerig om vernuwende insigte te bekom oor die manier waarop en die mate waarin verwerping iemand se Godsbeskouing kan beïnvloed. Die taak wat hier uitgevoer word, is dus beskrywend-empiries.

Die navorsingsproses behels ʼn aantal fasette wat noodsaaklikerwys uiteengesit en verduidelik moet word, waarna die verkrygde data geïnterpreteer word. Om die eerste vraag oor wat aangaan te beantwoord is van ʼn kort vraelys (Bylaag B) gebruik gemaak. Dit is aangevul met indiepte-onderhoude, gebaseer op terugvoer uit die vraelys. Daar is vir elke deelnemer ʼn lys semi-gestruktureerde vrae vir die onderhoud saamgestel (vgl. Greeff, 2011:341; Henning, Van Rensburg & Smit, 2004:32-33) om daardie individu se ervaring van verwerping te verneem. In die onderhoud is die aspekte uitgelig oor die manier en mate waartoe verwerping iemand se Godsbeskouing kon beïnvloed het. Die doel was om ʼn praktykteoretiese riglyn voor te stel vir die herstrukturering van so iemand se Godsbeskouing (Heyns & Pieterse, 1998:76).

In hierdie deel van die studie is empiries gewerk met mense en hul ervaring van iets wat hulle benadeel het. So ʼn navorsingstrategie vereis dat die navorser ʼn aanbiddende teenwoordigheid handhaaf, wat ʼn empatiese meelewing sou vereis waarvolgens “‘priesterlik” na ʼn deelnemer geluister word (Osmer, 2008:34; vgl. Denton, 2014:2). Hierin vervul gebed ʼn uiters belangrike rol om namens ʼn beradene te kan intree, aangesien mense as’t ware hul hart oopmaak om hul belewenis te verwoord (Osmer, 2008:34). Om hierdie rede moet spesifiek gelet word op episodes, situasies en die konteks van die ondersoek tydens die beskrywend-empiriese taak. Só kan vasgestel word wat gebeur en aandag kan geskenk word aan wat in die lewe van individue, families en gemeenskappe aangaan (Osmer, 2008:38).

Die volgende aspekte word kortliks aangedui: die plek of rol van die navorser; die konteks waarbinne die navorsing gedoen is; die kwaliteitsversekering en etiese oorwegings; data- analise en die bespreking van die resultate wat uit die vraelyste verkry is. So word daar ʼn beter begrip gevorm van wat aangaan binne ʼn spesifieke episode, situasie of die konteks waarin dit plaasgevind het (Osmer, 2008:4, 38-39). In die geval van die huidige studie is dit mense se belewenis van verwerping, hoe en in watter mate dit hulle Godsbeskouing beïnvloed het. Figuur 2.1 hier onder beeld uit waar die beskrywend-empiriese taak binne die navorsings- geheel inpas.

Figuur 2.1: Beskrywend-empiriese taak (Osmer, 2008:11)

Om aan te sluit by Osmer (2008:4) se beskrywend-empiriese vraag na wat gebeur, word die volgende navorsingsvraag (verw. 1.5.1) in hierdie hoofstuk beantwoord:

Watter kwalitatiewe perspektiewe kan deur ʼn empiriese ondersoek ʼn verhelderende bydrae lewer tot die navorsing van verwerping asook die manier waarop en die mate waarin dit daardie persoon se Godsbeskouing negatief beïnvloed?

Beskrywend- empiriese taak Pragmatiese taak Prakties teologiese interpretasie Interpreterende taak Normatiewe taak

2.2 EMPIRIESE NAVORSING

Die aard van elke studieveld bepaal die mees geskikte metode van ondersoek vir daardie veld. In teologiese kringe is daar soms ʼn negatiewe instelling teenoor die begrip “empirie” omdat gemeen word dat dit konnotasies met positivisme en empirisme suggereer (Heyns & Pieterse, 1998:73). In Praktiese Teologie het empirie egter te doen met teologiese teorieë waarmee die werklikheid krities en evaluerend ondersoek word (Heyns & Pieterse, 1998:76). Sodanige teorieë word beïnvloed deur die konteks waarin teologies gewerk en ʼn empiriese werklikheid gevorm kan word (Heyns & Pieterse, 1998:73). In die breë beskou, sou teologiese uitsprake, indien daar nie ʼn wetenskaplike proses in die empiriese metodologie gebruik is nie, hoogstens uitsprake wees wat op ervaring berus (Heyns & Pieterse, 1998:73).

2.2.1

Doel van die empiriese ondersoek

Vir die noodsaaklike eerste taak om uit te vind wat aangaan (Osmer, 2008:33, 48) is ʼn kwalitatiewe empiriese werkwyse die aangewese benadering om mense se ervaring van en funksionering binne hul werklikheid te bestudeer (vgl. Babbie, 2007:289; Heyns & Pieterse, 1998:74; Osmer, 2008:52). Empiriese navorsing is wetenskaplik bruikbaar om inligting te bekom wanneer daar nie voldoende of volledige inligting oor ʼn bepaalde fenomeen bekend is of indien daar nog nie ʼn verduidelikende teorie daaroor ontwikkel is nie (Heitink, 1999:163- 164). In so ʼn geval word doelgerig, sistematies en gekontroleerd op die ervaringproses gebou (Heyns & Pieterse, 1998:75) om mense se werklike ervarings vas te stel – binne ʼn bepaalde navorsingskonteks of verskynsel soos in die huidige studie (Pieterse, 2010:236). In betrokke persone se leefomgewing word hulle ervaring dan wetenskaplik verken, beskryf, getoets en verklaar. Dit behels drie subprosesse (Heyns & Pieterse, 1998:75), naamlik:

 vermoed – in sekere mate die kennis van bepaalde samehang en prosesse wat in die omgewing opgedoen is;

 verwag – die afleidings uit die vermoede gemaak;  toets – die korrektheid van die verwagtings nagegaan.

Hierdie bogenoemde subprosesse vorm die onderbou van die empiriese kringloop waaruit waarneming, vermoede, verwagting, toetsing en evaluering spruit (Heyns & Pieterse, 1998:75).

Teorie en praktyk moet uit die subprosesse nader aan mekaar kom. Dit sou veral ʼn antwoord vereis (en kon verstrek) op die vraag na wat gebeur (Osmer, 2008:33). Sodoende kan ʼn teorie geformuleer word wat ʼn mens empiries kan toets (De Vos & Strydom, 2011:39-40; Heyns &

Pieterse, 1998:77). Dit sou uiteindelik bydra om ʼn praktyk-teoretiese riglyn vir die pastorale gesprek te formuleer. In die konteks van die huidige studie sou ʼn persoon wat verwerping ervaar het en wie se Godsbeskouing daardeur beïnvloed is, begelei kon word om sy/haar Godsbegrip te herstruktureer (vgl. Heyns & Pieterse, 1998:76).

2.2.2

Metodologie van empiriese navorsing

Osmer (2008:33) benut die beskrywend-empiriese fase om bykomende metateoretiese insig te verkry. Hierin fokus hy op tersaaklike, sekulêre of nie-religieuse studievelde om uit te vind: Wat is aan die gang? (Osmer 2008:4). Die Praktiese Teologie put ook groot waarde uit ander wetenskappe vir ’n geskakeerde beeld van die werklikheid (Heyns & Pieterse, 1998:36). Gevolglik is daar 'n voortdurende wisselwerking tussen pastoraat en psigologie as “buurmanwetenskappe” (Louw, 1999a:22) wat as sodanig die noodsaaklikheid vir ’n meta- teoretiese studie benadruk.

Dit is noodsaaklik om ʼn geskikte en geldige werkwyse vir ʼn studie te vind – wat die beste sal pas by die navorsing, die navorsingsbenadering en die navorsingsprobleem (Bloomberg & Volpe, 2012:27; Wellman, Mitchell & Kruger, 2005:5). Om die navorsingsprobleem te kan hanteer word bepaalde riglyne gevolg wat deel uitmaak van ʼn gestruktureerde navorsingsraamwerk. Vir die verstaan van ʼn probleemsituasie moet die klem val op die navorsingswerkwyse, paradigma en metodologie wat die geestes- en sosiale vakwetenskappe gebruik.