• No results found

Navorsing oor mense se belewenis van ʼn lewensomstandigheid is onderhewig aan die streng etiese kodes wat in die Sosiale Wetenskappe geld. Die Professionele Etiese Kode (PBP, 2007) dien as riglyn om navorsing te bedryf binne die etiese raamwerk wat vir sielkundiges geld. Kwalitatiewe navorsing voer nie eksperimente op individue uit nie, maar is daarop ingestel om antwoorde te kry op die vrae wat die beste verstaan word. Dit geskied deur die insameling van narratiewe en lewensverhale wat begrip soek vir mense se lewenservarings (Savin-Baden & Major, 2013:322).

Die beskerming van deelnemende persone is noodsaaklik en die navorsing moet so gedoen word dat selfs die geringste moontlike benadeling weens die navorsingsprojek tot die minimum beperk word (Bloomberg & Volpe, 2012:76; Boeije, 2010:44). Daar moet seker gemaak word dat die regte, privaatheid en welsyn beveilig word van die mense en gemeenskap wat die fokus van so ʼn studie uitmaak (Berg 2009:60; Boeije, 2010:46). In die huidige studie het die navorser verseker dat respondente teen nadelige gevolge beskerm is, deur byvoorbeeld persoonlike verleentheid te voorkom en te beklemtoon dat deelname aan die navorsing vertroulik en anoniem is (Berg, 2009:94).

2.4.1

Etiese riglyne

Voordat die empiriese studie begin is, is die voorgeskrewe etiese goedkeuring by die Etiekkomitee van die Fakulteit Teologie aan die Potchefstroomkampus van die Noordwes- Universiteit verkry (verw. 1.9). Die NWU se Institusionele Navorsingsetiek Regulatoriese

Komitee (NERK) het etieknommer NWU-00312-16-A6 vir die doeleindes van hierdie navorsing toegeken. Daar is streng volgens die voorgeskrewe riglyne van NERK en die Navorsingsetiekkomitees (NEK’s) gewerk en die belange van die deelnemers is deurgaans eerste gestel. Die basiese etiese riglyne is noukeurig gevolg soos hier onder verduidelik. 2.4.1.1 Inligting aan die deelnemers

Deeglike voorsorg is getref dat die inligting wat met hierdie navorsing verband hou nie roekeloos of onbedagsaam bespreek is nie (vgl. Berg, 2009:92). Die navorser het seker gemaak om die relevante inligting oor die navorsing volledig deur te gee aan al die deelnemers wat vrywilliglik aan die navorsingsprojek deelneem. Inligting is aan die potensiële deelnemers voorsien deur ʼn dokument (Bylaag A) wat aandui waaroor die studie handel en wat daarmee beoog word.

2.4.1.2 Vrywillige deelname en ingeligte toestemming

Respondente is van alle toepaslike inligting voorsien oor hulle vrywillige deelname aan die projek. Om te help dat hulle ʼn ingeligte besluit oor deelname kon neem is ʼn week toegelaat om daaroor na te dink (Bloomberg & Volpe, 2012:85), waarna hulle skriftelik verklaar het dat hulle bereid is om deel te neem (Henning et al., 2004:73). Respondente het ʼn verklaring oor hulle deelname aan die navorsing onderteken (vgl. Bylaag A). Vrywillige deelname magtig ʼn respondent om enige stadium van die navorsing te onttrek sonder verpligting om ʼn rede te verstrek (Berg, 2009:94; Strydom, 2011:113-130). Die toestemming wat van die ingeligte deelnemers verkry is verseker ook anonieme deelname. Al die deelnemers se deelname aan die navorsing was vrywillig en toestemmingsbriewe is verkry (Bylaag B).

Die volgende aspekte oor die navorsing is saaklik en eerlik aan die deelnemers verduidelik (vgl. Henning et al., 2004:73):

 die doel van die studie;

 belang van die beoogde studie;

 navorser se kwalifikasies, ervaring en kredietwaardigheid;

 moontlikheid van enige ongemak (fisies of psigies) of enigiets wat die respondent se bereidwilligheid om deel te neem aan die projek sou kon beïnvloed;

 dat deelname vrywillig is en sonder vergoeding;

 dat die deelnemer op enige tydstip van die navorsing mag onttrek sonder verpligting om ʼn rede/s te verstrek.

2.4.1.3 Reg tot privaatheid, anonimiteit en vertroulikheid

Dit is praktyk om ʼn vertroulikheidsooreenkoms met elke deelnemer van die navorsingspan aan te gaan (Berg, 2009:92). Hierdie verklaring van vertroulikheid onderskryf die sensitiwiteit waarmee die navorser die navorsingsprojek benader. Dit bied ook aan die deelnemers die versekering dat die inligting wat van enige van die deelnemers bekom is, nie met ander bespreek sal word nie (Berg, 2009:92; Boeije, 2010:46).

Die navorser het seker gemaak dat deelnemers se privaatheid gerespekteer word terwyl alle inligting wat verkry is vertroulik hanteer is. Daar is voorts seker gemaak dat die identiteit van deelnemers vertroulik gehou is. Net die navorser dra kennis van wie die deelnemers is en alle inligting is vertroulik deur die navorser en studieleiers gehanteer.

2.4.1.4 Geen nadeel vir deelnemers

Daar is die versekering gegee dat indien ʼn deelnemer om watter rede ook gedurende die projek sou onttrek, dit geen nadelige gevolge inhou nie (Bloomberg & Volpe, 2012:76; Henning et al., 2004:73; Marshall & Rossman, 2006:72; Creswell, 2014:62-67).

2.4.1.5 Potensiële risiko en ongemak

Die doeleindes van die navorsing was om kwalitatiewe inligting in te samel oor die belewenis, gevoelens en ervaring van persone wat verwerping ervaar het en wie se Godsbeskouing moontlik daardeur beïnvloed is. In die lig van hierdie doeleindes is nie enige fisiese ongemak voorsien nie.

Alle onderhoude is gevoer in ʼn professionele omgewing waar deelnemers veilig en gemaklik kon voel. Hulle was algeheel vry om te praat oor hul belewenis, gevoelens en ervarings rakende die navorsing se onderwerp. Daar is met deelnemers ooreengekom dat die tydsduur van onderhoude nie langer as 90 minute sou wees nie. Geeneen van die onderhoude het egter so lank geduur nie; die gemiddelde tyd vir al die onderhoude was 60 minute.

Die navorser het gesorg dat deelnemers nie ongemak tydens die onderhoud beleef het nie. Daar is seker gemaak dat alle inligting oor die moontlike voordele, nadele en gevare waaraan die respondente hulle kon blootstel akkuraat en volledig deurgegee is (Henning et al., 2004:74; Silverman 2010:156).

2.4.1.6 Potensiële voordeel vir deelnemers

Die verwagte bydrae van die studie tot die vakgebied is om ʼn gespreksproses saam te stel wat pastorale hulpverleners kan bemagtig om persone wie se Godsbeskouing weens verwerping beïnvloed is tot genesing en ʼn dieper verhouding met God te begelei. Die potensiële voordeel vir deelnemers aan hierdie studie is nie slegs dat respondente wedersyds

by mekaar se insette kon baat nie. Die troosvolle versekering is aan deelnemers gekommunikeer dat die seer wat iemand ervaar het in God se hand ook die pad tot genesing vir ander kan help baan.

2.4.1.7 Vergoeding

Volgens die etiese vereistes vir empiriese navorsing is geen voorsiening gemaak of verpligtings gelê om respondente te vergoed nie.