• No results found

Tradisioneel was die opvatting dat die mens se lewe eintlik met geboorte begin. Gevolglik is die tydperk voor geboorte grootliks misken (Stulting, 2006:25). Trauma wat die fetus voor geboorte ervaar, is nie in aanmerking geneem nie. Daar is aanvaar dat hierdie ervarings van die fetus nie werklik ʼn betekenisvolle invloed sou hê op die mens se latere lewe nie (Stulting, 2006:25). Sommige gedragswetenskaplikes ondersteun hierdie siening en meen dat kinders jonger as twee jaar nie die volwassenheid het om ervarings te beleef en gevoelens te kan hê nie (Meyer & Van Ede, 1998:57). Die aanvegbaarheid van so ʼn stelling word geopper en hier onder nader beskou.

3.6.1

Breinontwikkeling

Babas en kleuters is van nature geprogrammeer om op te groei tot volwassenheid in reaksie op die omgewing waarbinne hulle is en die mense rondom hulle. Dit is uiters noodsaaklik dat daar ʼn sterk band tussen ouer en kind gevorm word. Dit geskied deur fisiese nabyheid, aanraking, oogkontak en gehoorstimulasie. Hierdie ervaring lei daartoe dat positiewe brein- ontwikkeling gevestig word (Coetzer, 2009:63; Malekpour, 2007:84). Die brein is betrokke by mense se denkpatrone en gedraguitings. Die brein is die sentrum waaruit gedrag, persoonlikheid, emosies, kognitiewe vermoëns en denke ontstaan en voortspruit (Rohner, Khaleque & Cournoyer, 2012:7; Ziegler, 2002:110). Perry (2001:3), ʼn internasionaal gerekende gesag op die terrein van breinontwikkeling en getraumatiseerde kinders, meen dat 90% van die volwasse grootte van die menslike brein gedurende die eerste drie lewensjare ontwikkel (vgl. Van Niekerk, 2007:78, 81). Gedurende hierdie ontwikkelingstydperk word die oorgrote hoeveelheid sisteme en strukture gevestig waaraan toekomstige emosionele gedrag, sosiale en psigologiese funksionering verbind is. Voorts geld hierdie breinontwikkeling vir die res van daardie mens se bestaan.

Tydens die kleuterjare ontwikkel die breinstam en middelbrein (die laer, eenvoudige breingedeeltes) eerste (Perry, 1997:130; vgl. Van Niekerk, 2007:27, 79). Die oorstimulering van die breinstam of middelbrein, of die onderstimulering van die limbiese sisteem of korteks, lei tot ʼn wanbalans in die verhouding tussen die breinstam en die middelbrein teenoor die limbiese sisteem en die korteks. Hierdie wanbalans kan veroorsaak dat die persoon aggressiewe of gewelddadige gedrag toon (Perry, 1997:130).

Schore (2001:10) verwys na van sy eie werke wat onderskeidelik in 1994 en 1998 gepubliseer is in verband met die regterbrein wat oorheers tydens die eerste drie jaar van die mens se lewe. Die regterbrein is nie slegs betrokke in die prosessering van sosiale emosionele informasie en die fasilitering van die bindingsfunksie en die regulering van die liggaam nie. Dit is ook in beheer van die noodsaaklike oorlewingsfunksies wat ʼn organisme in staat stel om spanning aktief of passief die hoof te bied.

Hierdie veranderlike, rypwordende en regulerende regterbreinkapasiteit maak staat op dinge wat die individu beleef. Hierdie belewenis word vasgelê in die gebondenheidsverhouding tussen die jong kind en die primêre versorger. Sodanige belewenisse kan ook ʼn positiewe of ʼn negatiewe invloed uitoefen op die rypwordende brein, wat weer die psigiese ontwikkeling van die jong kind kan raak (Schore, 2001:10; Ziegler, 2002:20). Wanneer ʼn kind vanaf geboorte emosioneel verwaarloos sou word, lei dit later tot emotiewe belemmering, want die dele van die brein wat die emosionele gebeure eerste registreer, naamlik die regterkantste korteks, nie laat ontwikkel nie. So ʼn kind kom emosioneel afgestomp voor en bied weerstand teen enige vorm van toenadering (Perry, 1997:132; Ziegler, 2002:20).

3.6.2

Die onderbewussyn

Ervarings van verwerping en verlies word onuitwisbaar op die onderbewuste van ʼn kind ingeprent (Lotter & Hoepfner, 2011:559). Van die wrede woorde wat teenoor die persoon geuiter is of word, word afdrukke gemaak wat in die onderbewussyn gestoor word. Deur die herhaalde afbeeldings van wat gehoor en gesien word, word hierdie nuwe afbeeldings deel van die voriges wat reeds in die onderbewussyn gestoor is. Só vorm dit later ʼn skildery van verwerpingstaal, skuld en skaamte (Bradshaw, 1988:32; Malekpour, 2007:82; vgl. Van der Merwe, 2005:74; Van Niekerk 2007:30, 31; verw. 2.7.4.3).

Ouers, stiefouers of versorgers wat buite beheer of onbeheersd optree, maak die meeste negatiewe indruk op kinders. Hierdie optredes word in die amigdala (oorlewingsentrum van die brein) geregistreer en as’t ware daar ingebrand (Bradshaw, 1988:32; vgl. Van Niekerk, 2007:28). Erozan (2009:4) en Özen, Sümer & Demir et al. (2010:165) verwys na Bowlby

(1969, 1973, 1982) dat kinders denkwyses van hulleself en oor verhoudings vorm wat hul latere interaksie met hulle medemense beïnvloed. Erozan (2009:4) verduidelik wat dan gebeur:

When caregivers tend to meet children’s needs sensitively and consistently, children develop secure working models that incorporate the expectation that others will accept and support them.” Daarteenoor, wanneer ‘n kind verwerping ervaar ‘’...children develop insecure working models that incorporate doubts and anxieties about whether or not others will accept and support them (vgl. Mellin, 2012:3).

Persone kan nie net bly twyfel en angstig wees of ander mense hulle sal aanvaar en/of ondersteun nie; hulle bedink dit ook teenoor God (verw. 2.7.4.4). Riem, Bakermans- Kranenburg, Van IJzendoorn, Out, en Rombouts (2012:547) verduidelik dit soos volg “Amygdala hyperactivity might be one of the mechanisms underlying the experience of negative emotions ... in insecure individuals and might explain why insecure parents have more difficulty responding to their crying infant in a sensitive way”. Die manier waarop ouers optree om die jong kind se basiese behoeftes aan te spreek, dra by tot hierdie hipersensitiwiteit van die amigdala en werk later ongunstig in op die kind en vorming van dié se gehegtheid aan ander. Hierdie onaangename herinnerings word lewendig gehou deur terug te dink aan die verlede en erge pynlike terugflitse uit die onderbewuste laat die individu daarmee identifiseer (Ziegler, 2002:12-13). Feitlik onvermydelik het dit weer ʼn invloed op ʼn persoon se Godsbeeld (Riem et al., 2012:547; vgl. Van der Merwe, 2005a:71-80; Venter 2005:18; verw. 2.7.4.1; 2.7.4.4).