• No results found

4.5 SKRIFPERSPEKTIEWE OP VERWERPING

4.5.1 Die eerste verwerping

Die heel eerste geval van verwerping sou inderdaad na die sondeval as sodanig teruggevoer kon word. So onmoontlik as wat dit kan voorkom, was God die eerste verworpe Persoon. Binne die konteks van die huidige studie sou aangevoer kon word dat hierdie gebeurtenis die oorsprong en beginsel van verwerping vergestalt. Die gebeure is verwoord in die skeppingsverhaal volgens Genesis 3:8-11. By Adam en Eva (die eerste mense) wat God vanweë ongehoorsaamheid verwerp, het vrees en gevolglike skuldgevoelens ontstaan (vgl. 2.7.4.3.; 3.7.1.1; 3.7.1.2). Dit het hulle uiteindelik vir God laat wegkruip (Hepden, 1992:21). Hierdie mense se “nuwe” insig vanuit hulle besluit om ongehoorsaam te wees, het hulle afgesonder en geskend laat voel (Hepden, 1992:21). Hierdie skadelike insig is na hul kinders oorgedra. Een van die bekendste verhale wat oor die gevolge van verwerping handel (Gen. 4:1-16) is dié van die eerste gebore mense, die broers Kain en Abel. Uit dié “voorgeskiedenis” van die mens meen Von Rad (1981:104-106) dat wat tussen hierdie twee broers gebeur het, moontlik met enige mens sou kon gebeur. Die gebeure bring kwessies na vore wat die hele mensdom raak en dan veral wat verwerping betref (Van Selms, 1979:17; Von Rad, 1949:29- 30; Westermann, 1976:89-95)

Die eerste geval van verwerping waarby ʼn mens betrokke was, is dié van Kain. Dit sou wel onhaalbaar wees om te wil sê dat God vir Kain sleg behandel het toe God nie sy offer aanvaar het nie (Harris, 2001:46; Von Rad, 1981:104), en Kain daarop sy ontevredenheid hieroor op Abel uitgehaal het. Tog bied Kain se reaksie op die ontvangs van hulle onderskeie offers ʼn goeie insig van maniere waarop iemand wat verworpe voel kan reageer (Van Selms, 1979:81).

4.5.1.1 Die rol van ouers

In die Skrif is daar verskeie teksgedeeltes oor die rol van ouers en hoe hulle teenoor kinders behoort op te tree. Die Psalmdigter maak in Psalm 131:31 gebruik van ʼn treffende metafoor, naamlik om veiligheid en sekuriteit te vergelyk (verw. 3.4.3.3) met ʼn tevrede kind of ʼn “gespeende kleuter”. In hierdie ongewone metafoor word God met ʼn ma vergelyk (Jes 66:7- 13; 1 Tess 2:7; vgl. ook Burden, 2007:871; verw. 3.11.2).

In Efesiërs. 6:4 rig die apostel Paulus ʼn ernstige waarskuwing aan ouers om hul kinders nie seer te maak en te ontmoedig nie (verw. 3.4.3.3; 3.4.3.4; 3.4.3.4; 3.4.3.5). Dit kom veral daarop neer dat ouers geduldig teenoor hul kinders moet wees. Die ouers moet die liefde en erkenning wat hulle van die Here ontvang het, teenoor hulle kinders uitleef (Van Rensburg, 2007a:1833). Efesiërs 6:4 stel dit soos volg: ”En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here wil.” Rousseau (2010:15) het dit vry vertaal: ”Ook moet die vaders nie hulle kinders vertoorn nie, maar hulle begelei in tug en onderrig van die Here” en hy wys daarop dat die oorspronklike werkwoord in die Bybel (1999) as “terg” vertaal is. Rousseau (2010:15) verduidelik verder: “Terwyl terg enersyds positief (goedig en genietlik) kan wees, het vertoorn daarteenoor net ’n negatiewe, bose, kritiese kant wat (geestelik gesproke) iemand moedeloos kan stem ... dat hy net nooit goed genoeg is nie”.

Uiteraard sou verwerping dan op niks anders neerkom nie, as om doelbewus seer te maak en te vertoorn en om deur iemand te laat voel hy/sy is nie goed genoeg nie. Benewens die moontlikheid dat daardie individue kwaad kan wees vir die een wat hulle so laat voel, kan die seergemaakte persone ook teen hulleself draai. Hulle voel hulle is immers nie goed genoeg. Daarteenoor moet pa’s en ma’s hul kinders help om te doen waarvoor die apostel Paulus in Efesiërs 3:18-21 bid. Dit is om te begryp hoe onbeperk God se liefde is, sodat mense daarin vervul kan word om God daarin te eer (Rousseau, 2010:15). Dit staan duidelik in algehele kontras met die gevolge van verwerping deur ʼn ouer waar dit ʼn kind se Godsbeskouing kan belemmer.

Ouers se voorbeeld speel ʼn sleutelrol in die opvoeding van kinders binne die Christelike lewenswyse (vgl. Deut. 6:4-7; Pieterse, 2006:114). Hiervolgens moet ouers spesifieke godsdienstige waardes oordra wat gegrond is op die oortuiging dat die mens die beelddraer van God is (Larney & Lotter, 2005:662-664). Wanneer ouers te streng optree en ʼn oordrewe sin vir waardes en dissipline toon, kan kinders dit interpreteer as onwelkom en/of selfs dat hulle verwerp word (Pieterse, 2006:26). In Psalm 128:1-4 is die verskillende lede in ʼn gesin beskryf en oor Efesiërs 6:4 wys Ingram (2010:21) daarop dat Paulus waarsku teen te veel teregwysing en om dinge van kinders te verwag wat hulle moedeloos kan maak.

Daarteenoor is God se wil duidelik: ouers moet hulle kinders koester en seën. In Matteus 19:13-15 is Jesus se optrede teenoor die kindertjies ʼn toonbeeld hiervan. Vaderlike omgee is in Lukas 15:11-32 in die verhaal van die verlore seun vergestalt en daarin staan veral die pa se rol as ʼn getroue ouer en sy oorvloedige liefde uit (Graham, 2008:44). Die vernaamste pa- kind-verhouding is egter die tussen God en Jesus as die enigste Seun (Malina, Joubert & Van der Watt, 1995:74).

 Só praat die Vader tydens Jesus se doop goedkeurend vanuit die hemel oor sy geliefde Seun in wie Hy Hom verheug.

 Markus 1:11 en Matteus 11:27 getuig van die Vader se unieke verhouding met sy Seun.  Johannes 5:20-23; 14:6-11 dui op opregte seunskap deurdat Jesus soos sy Vader optree;

Jesus se identiteit is in sy Vader geanker, Hy weet wie Hy is omdat Hy sy Vader ken (14:6- 11).

 Jesus se onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan sy Vader (vgl. Fil 2:5-11) vergestalt nie net eervolle gedrag nie, dit is ook die Skrif se voorskrif vir gelowiges se optrede as “seuns van God” (Rom 8:14; vgl. Malina et al., 1995:74).

4.5.1.2 Die voorkeur vir een kind (voortrek)

In die belang van die teologiese vertrekpunt moet die verhaal van Esau en Jakob in Genesis 25:19-34 reg gelees word. Die verwysing na “liefhê” en “haat” onderskeidelik moenie met verkiesing en verwerping eties verwar word nie. Hierdie terme moet eerder in historiese verband verstaan word (Vosloo, 2007:53). Die gebeure is belangrik, want dit belig die “verskil” wat die ouers getref het tussen die twee broers, Jakob en Esau. Dit geld veral die fokus op die manier waarop en mate waarin verwerping ʼn persoon sou kon beïnvloed waar ouers een kind bo ʼn ander een verkies.

Die Woord in Genesis 25:28 skets dit só: “Isak het vir Esau voorgetrek, want Isak het van wildvleis gehou, maar Rebekka weer, het vir Jakob voorgetrek.” Hier is ʼn tipiese gesin- scenario waar ouers ʼn kind begunstig omdat daardie kind se optrede en belangstelling goedkeuring en guns van die betrokke ouer wek (Hartley, 2000:236; verw. 2.7.4.1; 3.4.3.4). In Genesis 27:14; 37:3 word die geval van ouers verwoord wat meer van een kind as ʼn ander een gehou het. ʼn Natuurlike geneigdheid om meer van iets of iemand te hou oor ʼn spesifieke rede kom hier voor.

Isak se gevoel vir Esau word gekwalifiseer deur die kousale gebruik van omdat. Omdat Esau vir Isak (wilds-)vleis voorsien het, het Isak vir Esau ʼn spesifieke toegeneentheid heens Esau gehad (vgl. Bybel, 1999). Daarteenoor word niks gesê oor Isak se verhouding met sy ander

seun, Jakob, nie. Dit kom dus voor of Isak se voorkeur vir Esau bloot gegaan het oor ʼn doel, naamlik dat hy in sy pa se gunstelingvoedsel voorsien. Daarteenoor was Jakob weer sy ma se gunsteling. Sy het hom nie liefgehad omdat hy ʼn doel gedien het nie, maar oor wie en hoe hy as mens was, naamlik ʼn rustige persoon wat verkies het om tuis te bly (Gen 25:27; Vosloo, 2007:52).

4.5.1.3 Verwerping deur woorde en dade

Woorde kan enersyds ʼn wapen wees waarmee mense te nagekom of vernietig kan word, maar andersyds kan dit kragtig ingespan word om mense na waarde te prys en hulle in die opdrag van die Woord (Rom. 12:10b) te eer en te erken vir wie hulle is (Coetzer, 2009:41, 45; verw. 2.7.4.1; 3.4.3.4). Jeremia se eie mense (die mense van Anatot) sweer eers saam om hom dood te maak, omdat hulle hom nie as profeet wil hê nie (Jer 18:8, vgl. Botha, 2009:1037). Later sweer hulle weer saam om Jeremia wel nie om te bring nie, maar om hom figuurlik gesproke dood te praat (“met die tong te slaan” – Jer 18:18) en sy karakter te vermoor. In die diadiese, eer-en-skande-kultuur wat die Skrif beskryf (Malina 1993:67, verw. 4.4.1), is dit ewe erg, soms selfs erger, om iemand te marginaliseer deur hom te ignoreer. Anatot se mense het Jeremia onteer, hom as onbelangrik gereken deur te sê dat daar sal altyd priesters, wyse manne en profete wees om God se wil aan die mensdom bekend te maak soos hulle dit graag sal wil hoor (Botha, 2009:1046; Jer. 18:18).

Hierdie tendens kom ook in die Nuwe Testament voor. In onder meer Johannes 7:5; Lukas 4:28-30 en Matteus 13:54-57 verwys Jesus na profete wat nie erken (geëer) word nie, nie eers binne hul eie familie-opset nie. In dié sin verwys Jesus na die Ou-Testamentiese profete wat gereeld deur hul eie mense verwerp is, omdat hulle as volk nie wou luister na die uitsprake en teregwysings van God wat die profete oorgedra het nie (Van Zyl, 2009:1378).