• No results found

Die gesin vervul ʼn belangrike rol in die samelewing, want binne hierdie ruimte vind individuele ontwikkeling plaas. Só dien gesinne as boustene vir gesonde en stabiele gemeenskappe. Binne die gesin word ook gesonde én ongesonde gedragspatrone aangeleer. Vir die sosialiseringsproses van die mens is die gesin onvervangbaar (Stoop & Masteller, 1996:50; Van der Vlies, 2013:85; vgl. Louw, 2005:65, 71).

Dit is belangrik om eers ʼn begrip te vorm van wat funksionele gesinsverhoudings behels voordat aanbeweeg word na ʼn definisie van disfunksionele gesinsverhoudings. ʼn Goed aangepaste gesin het die balans gevind tussen twee teenstrydige konsepte naamlik om naby en/of om apart te wees (Stoop & Masteller, 1996:74).

3.5.1

Funksionele gesinsverhoudings

Volgens Stoop en Masteller (1996:74, vgl. Van der Vlies, 2013:86) kom die volgende kenmerke in ʼn deeglik aangepaste gesin voor, naamlik:

 Gesinslede het wedersydse respek vir mekaar se verskille en hegte onderlinge gesinsverbin- tenisse bestaan tussen die lede oor generasiegrense heen.

 Lede van die gesin is vry aan eie behoeftes om uitdrukking te gee.

 Lede deel regstreeks met mekaar nie deur ander gesinlede nie.  Onderlinge verskille word aanvaar en aangemoedig.

 Ander se gedagtes en gevoelens word aanvaar en gerespekteer.

 Individuele lede weet wat hulle aan ander kan gee en van hulle kan ontvang.  ʼn Positiewe klimaat word as hoë prioriteit beskou en gehandhaaf.

 Elke gesinslid waardeer die gesin as ʼn voortreflike plek om in te leef.  Gesinslede leer mekaar aanmoedig deur gesonde terugvoer.

Die deeglik aangepaste gesin dien as lewensondersteunende sisteem. Binne hierdie ruimte ervaar gesinslede geborgenheid, ʼn gevoel van samehorigheid word geskep en gesinslede voel veilig sodat die ontwikkeling van hulle volwassenheid en identiteit bevorder word (Louw, 2005:76) Om hierdie ontwikkelingsproses te stimuleer tree ouers as model en voorbeeld op en vervul die rol van gids en tolk met die oog op die internalisering van lewenswaardes. In ʼn Christelike verband tree die ouers namens God op en vertolk die rol as verbonds- verteenwoordiger (Louw, 2005:76).

3.5.2

Disfunksionele gesinshoudings

Disfunksionele gesinne slaag meestal nie daarin om probleme op te los nie. Vanweë ongeorganiseerdheid binne die gesin kan lede nie tot klarigheid kom en oplossings vind vir die hoofprobleme binne die gesin nie (Stoop & Masteller, 1996:78; vgl. Mc Donald, 2015:75-77). Binne hierdie gesinne is daar dikwels een of meer lede wat die rol van “tiran” uitspeel (Coetzee, 2007:17).

Volgens navorsers bestaan daar verskillende soorte gesinsisteme wat lei tot swak aangepaste families (Stoop & Masteller 1996:79-98; vgl. Coetzer, 2007:2-3; Coetzer & De Klerk, 2014:23). Dit behels die volgende sisteme:

 Rigiede gesin – die outoritêre gesin, almal weet wie die leier en die baas is en almal ken die gesinsreëls.

 Chaotiese gesin – die opvoeding en dissiplinering van kinders is inkonsekwent.

Verstrikte of ineengestrengelde gesin – die lede is so ingeweef met mekaar dat dit moeilik is om te onderskei wie het met wie ʼn nabyverhouding het; die ingeweefdheid word as so belangrik beskou dat enige poging om apart of onafhanklik te probeer funksioneer, gesien word as dislojale gedrag teenoor die gesin; vals lojaliteit is aan die orde van die dag sodat individue versmoor voel.

 Onverbonde gesin – word gekenmerk deur erge tekort aan emosionele verbintenis; hulle waarde lê in onafhanklikheid en verhoudings buite die gesin; min saamwees word ervaar en lede weet min van mekaar; interne grense word sterk toegepas terwyl dié buite gesinsverband weer aanpasbaar is; individue voel geïsoleer.

Sondebokgesin – iemand word gekies om die skuld te dra vir die familie se probleme en daardie persoon word as buitestaander behandel; veral by gesinne waar drank misbruik word en vasgelegde persepsies bestaan oor “goeie” en “slegte” familielede

.

Gesinsdisfunksie hou verband met enige toestand wat inmeng met gesonde funksionering binne gesinne. Die disfunksionele gesin is geneig om ʼn kroniese geaardheid te begin ontwikkel deurdat kinders se behoeftes nie konsekwent aangespreek word nie (Coetzer, 2007:2; vgl. Kumar & Tiwari, 2008:141-143; Louw, 2005:77)

.

3.5.3

Onderlinge gesinsverhoudings

ie jong kind se ontwikkeling binne die gesin word veral beïnvloed deur die verhouding met die ouers, die aard van opvoeding en die atmosfeer tuis. Onvervulde behoeftes het ʼn besliste invloed op die kind se funksionering binne die gesin. Onder hierdie behoeftes geld: liefde, sekuriteit en aanvaarding, om te behoort, kritieke gebeure in die gesin en posisie in die gesin (Engelbrecht, 2002:30-31). Wanneer gesinslede binne hierdie onderlinge gesinsverhoudings negatiewe gedragspatrone beleef, toon hulle gevoelens van vrees, skuld, skaamte, woede en depressie. Gevolglik lei hierdie afbrekende gevoelens tot die vorming van ʼn negatiewe Godsbeskouing (Coetzer, 2007:17; Coetzer & De Klerk, 2014:28-29; verw. 2.7.4.2).

3.5.4

Patologiese gesinsverhoudings

Die patologiese gesin is een waar die lede nie bevoeg is om hulle verantwoordelikheid binne die gesinsopset teenoor ander lede van die gesin na te kom nie. Dit geld wedersydse liefde, vriendskap, minsaamheid, geluk, empatie en begrip vir mekaar (Stomczyńska, 2014:263). Die gevaarlikste voorkoms van patologie in die gesinsluit geweld in, ongeag die sosiale status van so ʼn gesin. Die slagoffers van geweld in patologiese gesinsverhoudings is meestal vroue, kinders, gestremdes en ouer mense. Die geweld kan wees in die vorm van fisieke straf of as ʼn psigiese mishandeling (Stomczyńska, 2014:265; verw. 2.7.4.2). Verskeie faktore kan tot patologiese gesinsverhoudings bydra. Dit sluit in: verwerping, oorbeskerming en ingeperktheid, oordrewe onderdanigheid en dinge toelaat, onrealistiese verwagtings, onbehoorlike dissipline en onvanpaste rolmodelle (Kumar & Twari, 2008:141-142; verw.

2.7.4.2).

Alkoholisme is ʼn vorm van sosiopatologie en dra by tot sosiale armoede, gesinsgeweld, haweloosheid en wetlike probleme. Vir talle gesinne is alkoholmisbruik ʼn manier van ontvlugting of ʼn uitweg om ekonomiese probleme te hanteer (bv. verlies van werk). Dit kan ook wees om traumatiese gebeure in die gesin of gestremdheid te kan hanteer (Stomczyńska, 2014:265). Wanneer ʼn persoon opgroei binne ʼn gesin waar patologiese verhoudings voorkom, beleef hulle God as verwyder; hulle glo dat God nie omgee nie, en ervaar gevoelens van skuld, skaamte en vrees (verw. 2.7.4.2; 2.7.4.3).