• No results found

DIE VERSKUIWING VAN DIE MODERNE ERA NA ’N POSTMODERNE ERA RAKENDE KINDERS EN DIE OPVOEDING VAN KINDERS

ʼn Oorsig oor die Hantering van Kinders tussen die ouderdom van 6 en 13 deur die Verloop van die Geskiedenis van die Westerse

5.6. DIE VERSKUIWING VAN DIE MODERNE ERA NA ’N POSTMODERNE ERA RAKENDE KINDERS EN DIE OPVOEDING VAN KINDERS

Cunningham (1995: 163, 164) beskryf die twintigste eeu as die eeu van die kind. Die Westerse samelewing is volgens hom uniek gevorm deur die kombinasie van kapitalisme, die gevolge van oorlog en die oorheersing van die Christelike geloof. Hierdie kombinasie van faktore kom volgens Cunningham (1995: 164) byeen om die moderne era te vorm. Binne die konteks van ‟n moderne samelewing het die konsep van kindwees ‟n bloeitydperk beleef.

Kinders is ‟n baie belangrike deel van die samelewing in die moderne lewenswyse. Kindwees binne die konteks van moderniteit het baie te make met die vestiging van dissipline en orde in die samelewing (Corsaro 2005: 98). Moderne onderrigmetodes handel oor die skep van sinvolle strukture waarbinne ‟n kind in sy opvoeding kan floreer. Die moderne konsep van kindwees hang nou saam met die mate van

139

sekuriteit wat daar binne die strukture van die samelewing gevind word. Die bevraagtekening van strukture word binne ‟n moderne konteks as ‟n bedreiging vir stabiliteit beskou (Jenks 2005: 104, 105).

Die denkwyse van die moderne era het ‟n bepaalde invloed op die hantering van kinders in die samelewing. DeMuth (2007: 22, 23) bied ‟n goeie opsomming van moderne denke wat die opvoeding van kinders raak. Die volgende stellings is tipies van die denkwyse van die moderne mens:

 Meer onderrig bring ‟n morele samelewing na vore.

 Sosiale konstruksie is die manier waarop die mensdom ontwikkel tot ‟n beter samelewing.

 Skeptisisme is aan die orde van die dag. Wonders kan nie bewys word nie.

 Mense neem besluite in die lewe op grond van dit wat hulle voel en beleef.

 Mense oefen keuses uit as dit sin maak.

 Alle kennis kan deur die verstand bereik word.

 Ateïsme is ‟n logiese verskynsel.

Die stelling: “I think, therefore I am” van Rene Descartes.

 Mense vertrou net wat bewys kan word met wetenskaplike rasionalisme.

 Die wêreld is ‟n meganiese sisteem met funksionele wette wat nie oortree kan word nie.

 Probleemoplossing vind plaas deur middel van analise vanuit verskillende oogpunte.

140  Die behoeftes van die individu is belangriker as die behoeftes van die

gemeenskap.

In aansluiting hierby beskryf Jenks (2005: 102) die kind se plek in die moderne samelewing as ‟n toekomsverwagting. Binne die moderne konteks bly die kind ‟n objek van opvoeding. ‟n Kind word deur sy ontwikkelingsjare onderrig om goed te kan redeneer binne die bepaalde natuurwette wat wetenskaplik bepaal is. Hoe die kind in die moderne era gesien word, is ‟n eindproduk van die ontwikkeling van die begrip van kindwees wat oor eeue heen gekom het. Die rasionele karakter van kindwees is by uitstek ‟n unieke eienskap van die moderne era.

Gedurende die afgelope dertig jaar het die samelewing in ‟n nuwe era begin inbeweeg – die sogenaamde postmoderne era (DeMuth 2007: 24). Kindwees binne die konteks van post-moderniteit het baie te make met die ontwikkeling van ‟n kind se vermoë om deur middel van nuuskierigheid sy eie begrip van die werklikheid te ontwikkel (Corsaro 2005: 104, 105). Die sekuriteit wat skole in dissipline gevind het, word in die era van post-moderniteit bevraagteken. Onderwysmetodes verander na ‟n benadering van leer deur ervaring en bevraagtekening, wat in baie onderwyskringe wat geskoei is op ‟n moderne denkwyse, ernstige probleme veroorsaak (Bennink 2006: 300).

Wat die verstaan van kindwees betref, bring die oorgang wat tans in die samelewing plaasvind, vanaf ‟n moderne na ‟n postmoderne era, unieke uitdagings. Die volgende stellings is beskrywend van die denkwyse van die postmoderne era en die invloed daarvan op die verstaan van kindwees (DeMuth 200724, 25):

 Rasionalisme bring nie ‟n beter samelewing na vore nie.

141  Onderrig en opvoeding bring nie noodwendig ‟n beter wêreld na vore nie.

 Dekonstruksionisme is die nuwe manier van dink. Die denkwyse van post- moderniteit is dat daar geen absolute waarheid bestaan nie. Deur die dekonstruksie van waarhede kan daar van voor af gebou word aan ‟n nuwe begrip.

 Almal se verhaal is deel van ‟n groter verhaal, maar daar is nie meer universele verhale wat kulture kan tipeer nie.

 Postmoderne mense is nie bang om vrae te vra nie.

 Omdat die postmoderne mens nie in absolute waarhede glo nie, sal veroordeling glad nie plaasvind nie.

 Post-moderne mense het ‟n neiging na die transendente.

 ‟n Diep skeptisisme is kenmerkend van ‟n postmoderne mens.

 Wetenskaplike bewyse het nie baie groot waarde by post-moderne mense nie.

 Die ekologie van die wêreld word baie sterk beklemtoon in die postmoderne era.

 Die idees van mag en beheer is afstootlik in ‟n postmoderne denkwyse.

 Maklike en eenvoudige antwoorde word met wantroue begroet. Post- moderne mense verstaan die lewe as ingewikkeld en multi-dimensioneel.

Jenks (2005: 106 – 109) kies om die kind in die postmoderne era met die woord nostalgie te beskryf. Omdat dit (in kontras met die moderne) vir die postmoderne manier van dink nie meer noodsaaklik is om in beheer van alles te wees nie, het ander dinge belangriker geword. Vir die postmoderne mens is dit eerder belangrik om beduidende oomblikke en gebeurtenisse ten volle te geniet en te benut – selfs al beteken dit dat hy nie ten volle in beheer sal wees nie. Dit is op hierdie basis dat

142

Jenks (2005: 107) die verskuiwing van die moderne na die postmoderne, wat kindwees betref, met die woord nostalgie beskryf. Nostalgie beskryf ‟n lewensbenadering van die postmoderne mens wat moeite doen om verskillende belangrike lewensmomente (uit die verlede en van die hede) van ‟n mens se lewensverhaal in volheid te beleef en te ervaar.

Die samelewing van vandag beleef steeds ‟n geleidelike oorgang tussen ‟n moderne en postmoderne uitkyk op kindwees (DeMuth 2007: 39 - 43). Op sommige terreine veroorsaak hierdie oorgang spanning. Dit is veral wat die skool-onderrig betref, dat daar ‟n sterk spanning beleef word ten opsigte van die oorgang van die moderne era tot die postmoderne era (Bennink 2006: 301).

In die pastoraat aan kinders is dit uiters noodsaaklik om kennis te neem van die huidige verskuiwing wat plaasvind van ‟n moderne na ‟n postmoderne uitkyk op kindwees. Hierdie verskuiwing wat tans plaasvind, dra by tot die ontstaan en die intensiteit van baie van die pastorale probleme wat kinders ondervind (Bennink 2006: 302).