• No results found

Bybelse Perspektiewe op die Narratiewe Pastoraat

4. HERSTURKTURERING van die verledeverhaal

3.3. DIE METAFOOR IN DIE NARRATIEWE PASTORAAT

Die metafoor is ‟n belangrike hulpmiddel in die narratiewe pastoraat. Metafore word gebruik om ons werklikhede te beskryf, sonder dat die metafoor self die werklikheid is. Die wese van ‟n metafoor is om een soort ding te verstaan en te ervaar en om dit in terme van ‟n ander beeld of metafoor te beskryf (Botha 2003: 73). Vir die pastor is dit uiters belangrik om in die kliënt se taal te kommunikeer, aangesien taal uiteindelik die metafoor is waarin sy ervarings uitgedruk word (Müller 2000: 16).

Volgens Anderson & Goolishian (1998: 377) word die betekenis en begrip in die pastoraat deur die gebruik van taal oorgedra. Taal gee verstaanbare betekenis aan menslike ervarings. Taal is narratief van aard, want interpretasies van ervarings wat oorgedra word kan alleenlik gemaak word as daar verbande gelê word tussen gebeurtenisse en as dit deur middel van taal in ‟n tydsraamwerk geplaas word. Wanneer ‟n mens dit doen – om ervarings te interpreteer en tyd daaraan te koppel – word ‟n nuwe narratief deur die persoon self geskep. Ervarings is rou en betekenisloos totdat die mens op ‟n punt kom om woorde en betekenisse daaraan te koppel (Müller 2000: 13).

Enige gebeurtenis in ‟n mens se lewe word eers ‟n ervaring wanneer hy dit regkry om taal aan daardie gebeurtenis te verbind (Botha 2003: 74). In die narratiewe pastorale proses kry die kliënt die geleentheid om uitdrukking te gee aan sy ervarings deur die narratief wat in die pastorale situasie vertel word. Deur die

77

narratief te vertel, word die kliënt begelei om nuwe betekenis te gee aan die pyn van die nood, dramatiese gebeure en dominante diskoerse van sy lewensverhaal. Hierdie proses maak dit moontlik vir die kliënt om nuwe betekenis aan sy nood te verleen deur nuwe taal daarvoor te gebruik (Müller 1996: 130).

Dit is egter belangrik om uit te wys dat hierdie nuwe betekenis alleen kan plaasvind as die kliënt die spreekwoordelike brug van taal kan oorsteek. Hiermee word bedoel dat die kliënt dit eers moet regkry om sy gevoelens en belewenisse teenoor die pastor te kan verwoord, alvorens die vertel van ‟n narratief ‟n verskil kan maak in die pastorale nood van die kliënt. Anderson & Goolishian (1998: 371) praat van “being in the language”, waarmee hulle verwys na die proses van die konstruksie van inter- subjektiewe realiteite. Hiervolgens vind begrip plaas wanneer belewenisse op ‟n bepaalde moment in taal geformuleer word en (in die pastorale situasie) gedeel word. So ontstaan daar ‟n terapeutiese sisteem binne die taalsisteem van die gesprek (Botha 2003: 74). Die sosiale eenheid wat daar binne ‟n pastorale situasie ontstaan, is ‟n taalsisteem wat van die ander sisteme onderskei word deur ‟n “in- language”- gebeurtenis (Anderson & Goolishian 1998: 371). Die mens se ervaring kry betekenis binne die parameters van taal. Die mens se ervaring word verder bepaal deur die moedertaal van die kliënt – die taal wat ook binne ‟n kultuuropset gepraat word. Mense leef en verstaan die lewe deur hul gemeenskaplike gedeelde narratiewe werklikhede wat aan hul ervarings vorm en betekenis gee.

Van den Berg (1998: 118 - 136) noem die metafoor ‟n brug tot nuwe betekenis. Hy skenk in sy werk aandag aan die aard en funksionering van metafore binne die konteks van narratiewe pastoraat. In die model wat Van den Berg (1998: 211 - 225) vir die gebruik van metafore in die narratiewe pastoraat voorstel, word daar klem gelê op die skep van nuwe metafore in die pastorale gesprek. Hy wys daarop (Van den Berg 1998: 213) dat die terapeutiese konteks van die pastorale gesprek kan dien as ‟n indikator vir die ontwikkeling van nuwe of “vars” metafore. In hierdie opsig word dit van die pastor verwag om oor ‟n goeie taalvaardigheid te beskik ten einde

78

hom in staat te stel om die kliënt te begelei in die ontdekking van nuwe of “vars” metafore. Die gemeenskaplike soeke na nuwe metafore waarmee die nood van die kliënt omskryf word en uiteindelik ook begryp word, is die brug na nuwe betekenis waarna Van den Berg (1998: 118, 119) verwys. In hierdie opsig word die ontwikkeling van nuwe metafore in die narratiewe pastoraat beskryf as ‟n gedeelde verantwoordelikheid tussen die pastor en die kliënt.

Met die pastorale effek wat metafore in die pastorale proses teweeg bring in gedagte, ontstaan die vraag na die rol wat Bybelse metafore in die pastorale proses kan speel. Veltkamp (1988: 220) dui die ooreenkoms aan wat daar bestaan tussen die erediens, waar daar ‟n drieledige interaksie tussen die Skrif, liturg en gemeente bestaan, en die pastorale gesprek, waar daar ‟n drieledige interaksie tussen Skrif, pastor en kliënt bestaan. Hierdie ooreenkoms kan skematies soos volg voorgestel word:

Erediens:

Pastorale Gesprek:

Figuur 5

Met die aantoon van hierdie ooreenkoms, wil Veltkamp (1988: 220) die relevansie van die Skrif, en in die besonder Bybelse metafore, vir die pastoraat beklemtoon.

SKRIF

Liturg Gemeente

SKRIF

79

In hierdie verband is die uitdaging vir die pastor om die toepaslike Bybelse metafore op toepaslike oomblikke in die pastorale gesprek te gebruik. ‟n Verdere uitdaging vir die pastor is om die kliënt op so ‟n wyse te begelei aan die hand van Bybelse metafore, dat die kliënt die relevansie daarvan vir sy pastorale nood self sal ontdek. In hierdie opsig is die gebruik van Bybelse metafore in die narratiewe pastoraat ‟n kuns, aangesien dit juis die kliënt kan help om by ‟n nuwe begrip van sy nood en nuwe hoop uit te kom. Op hierdie wyse vervul Bybelse metafore die soeke na begrip en betekenis waarna Botha (2003: 73, 74) verwys. Eweneens kan Bybelse metafore, ter uitbreiding van Van den Berg (1998: 118, 119) se model, beskryf word as ‟n brug tot nuwe betekenis in die lewensverhaal van die kliënt. So kry die mens se ervaring betekenis binne die parameters van die taal van Bybelse narratiewe.

In hoofstuk 8 van hierdie studie sal daar gepoog word om aan te toon hoe Bybelse metafore wat deel vorm van Bybelse narratiewe, in die pastoraat gebruik word in die pastorale gesprek met die kliënt.