• No results found

Bybelse Perspektiewe op die Narratiewe Pastoraat

4. HERSTURKTURERING van die verledeverhaal

3.4. DIE EPISTEMOLOGIESE DEBAT RONDOM DIE NARRATIEWE PASTORAAT

Rondom die gebruik van narratiewe in die pastoraat is daar ‟n epistemologiese keuse wat uitgeoefen moet word. In die literatuur wat in hierdie studie bestudeer is, is daar ‟n sterk meningsverskil tussen Van den Berg (2006) en Janse van Rensburg (2007a) oor die epistemologie waarbinne die narratief in die pastoraat aangewend moet word. Hierdie epistemologiese debat konvergeer op die gebruik van die Skrif in die pastoraat. Die debat handel oor die vraag of dit moontlik is om ‟n postmoderne epistemologie in praktiese teologie te volg sonder om Bybelse en geloofsuitgangspunte in gedrang te bring – en of Bybelse beginsels en ons belydenisgrondslag hoegenaamd ‟n rol moet speel (Janse van Rensburg 2007a: 62).

80

In sy artikel bepleit Van den Berg (2006: 176, 177) ‟n herbesinning van die raamwerk (epistemologie) waarbinne praktiese teologie, en in die besonder die pastoraat, beoefen word. In aansluiting by Veltkamp (1988: 107 - 172) wat breedvoering skryf oor die invloed wat die lewensverhaal van die pastor in die pastoraat het en terselfdertyd die belangrikheid van die Skrif beklemtoon, stel Van den Berg (2006: 176) die volgende standpunte:

 “Dat die Bybel as gesaghebbend beskou word en nie die verskillende vertolkings van die Bybel nie.”

 “Dat gespreksgenote bewus daarvan raak dat enersyds „Wat „die Bybel‟ is en andersyds wat die „die Bybel‟ sê, in 'n groot mate af hang van wie „die Bybel‟ lees en hoe dit hulle verstaan konstrueer. Dit maak my sensitief vir die gevaar dat die Bybel die handboek word by my waarhede en dat mý God beeld word. In die voortdurende besef dat my konsepte oor God altyd bly wankel en dat alleen God geloof-waardig is, word die uniekheid van geloof, teenoor elke vorm van weet vergestalt.”

 “Dat wanneer 'n gewilligheid tot bewustheid hiervan en insig hierin plaasvind kan die gespreksgenote dan in die moontlike versmelting van eie verstaanshorisonne tot nuwe betekenis kom.”

 “Dat pastors nie as draers van 'n eie narratief, die Christelike narratief voor hoef te hou as die absolute en die volle waarheid nie. Nie omdat dit nie so is nie, maar omdat hulle weer tot die besef moet kom dat die krag en die waarde van hierdie Christelike narratief in die Woord self opgesluit lê. In my eie pastoraal-teologiese portretvorming verloor die Bybel daarom appèl indien dit gebruik word as bloot 'n modernistiese verbale wapen.”

Hiermee pleit Van den Berg (2006: 176, 177) vir ‟n “nie-outoritêre, praktiese en pastorale teologie wat in die gees van refleksiewe verwetenskapliking afsien van modernistiese opvattings van die wetenskap en sodoende ‟n bydrae lewer tot transformatoriese praktyke sonder om te verval in ‟n nuwe toepassings- wetenskaplike model.”

81

Janse van Rensburg (2007a) reageer skerp op die pleidooi van Van den Berg (2006) in ‟n artikel wat die epistemologiese keuse wat Van den Berg (2006) uitoefen, analiseer. Is sy analise kritiseer Janse van Rensburg (2007a) vir Van den Berg (2006) oor die volgende:

 Hy vra na die epistemologiese posisionering van Van den Berg (2006) in die volgende: “In tipies-postmoderne trant wil hy juis vaste formulerings vermy en wil hy sy eie posisionering ten opsigte van heersende epistemologieë vasstel. Hy verwys na nuwe paradigmas en die impak daarvan „op die tradisionele gereformeerde posisie in praktiese teologie en pastorale teologie‟ (Van den Berg 2006: 165). Teen hierdie agtergrond probeer hy dan om sy pastoraal- teologiese plasing soekend te verwoord.”

 Hy vra die vraag of Van den Berg (2006) se posisionering in die pastorale teologie ‟n postmoderne epistemologie verteenwoordig of nie. Janse van Rensburg (2007a: 65) merk hieroor op: “Is Van den Berg se keuse dus postmodernisme? „Nee‟, hy wil nie relativisme omarm of bevorder nie. Maar dan tóg weer „ja‟, want hy kies vir sosiale konstruksionisme as epistemologie. Só ‟n innerlike teenstrydigheid is ‟n tipiese postmoderne verskynsel”.

 Hy bevraagteken Van den Berg (2006) se standpunt oor die voorlopigheid van waarheid en taal. Hy wys daarop dat Van den Berg (2006) verkies om sy eie subjektiwiteit ten opsigte van waarheid en taal te erken en terselfdertyd relativisme wil vermy, maar dat hierdie erkenning lei tot ‟n lewens-en wêreldbeskouing wat onafwendbaar op ‟n relativering van waarheid afstuur.

Met hierdie kritiek beweer hy met die volgende stelling dat Van den Berg (2006) se postmoderniteit buite die gebruik van Skrif en belydenis in die pastoraat staan: “Wanneer waarheid só bevraagteken en uitgedaag word omdat Skrif en belydenis aan taalbeperkinge en subjektiwiteit onderworpe is, kom die plek van die Skrif en belydenis inderdaad in gedrang.” (Janse van Rensburg 2007a: 68).

Hieruit ontstaan die vraag of Janse van Rensburg (2007a) se kritiek op Van den Berg (2006), soos hierbo uiteengesit, geregverdig is. In hierdie studie word die

82

keuse uitgeoefen om nie Janse van Rensburg (2007a) se kritiek op Van den Berg as geregverdig te beskou nie. Die volgende redes word vir hierdie keuse aangevoer:

 Janse van Rensburg (2007a: 63) bly in gebreke om aan te toon dat Van den Berg se standpunt van sensitiwiteit om die Bybel as handboek in die pastoraat te gebruik, die gesag van die Skrif in die pastoraat in gedrang bring.

 Van den Berg (2006: 176, 177) pleit veel eerder vir ‟n herbesinning van Skrifgebruik in die pastoraat as wat hy die gesag van die Skrif wil bevraagteken.

 Janse van Rensburg (2007a: 63 - 65) se sterk antagonisme teenoor die postmoderniteit open die deur dat hy in sy keuse van ‟n diakoniologiese epistemologie voeling verloor met die uitdagings wat ‟n postmoderne samelewing aan die pastoraat stel.

 Van den Berg (2006: 173 - 176) probeer juis die uitdagings wat ‟n postmoderne samelewing aan die pastoraat stel met ‟n diakoniologiese epistemologie versoen, waar Janse van Rensburg dit as onversoenbaar met mekaar stel.

 Janse van Rensburg (2007a: 74 - 76) se kommentaar dat die keuse wat Van den Berg (2006: 167 - 169) vir subjektiwiteit uitoefen, noodwendig gaan uitloop op relativisme, is ‟n veralgemening wat lei tot ‟n onregverdige verdagmaking van Van den Berg (2006: 164, 165) se erkenning van die gesag van die Skrif.

In ‟n studie van Bybelse perspektiewe op die narratiewe pastoraat, is dit onontbeerlik om deeglik kennis te neem van hierdie epistemologiese debat. Hierdie twee protagoniste van die debat, Van den Berg (2006) en Janse van Rensburg (2007a), verteenwoordig ‟n breër teologiese debat wat tans rondom die narratiewe pastoraat aan die gang is. Hoewel die simpatie in hierdie studie by Van den Berg (2006) lê, bly die soeke na ‟n sinvolle epistemologie wat die gesag van die Skrif as die onfeilbare Woord van God, sowel as die unieke uitdagings wat die postmoderniteit bied, saam kan verreken.

83