• No results found

Bybelse Perspektiewe op die Narratiewe Pastoraat

3.1. DIE NARRATIEF IN DIE TEOLOGIE

Die term “narratief” is afgelei van die Engelse term “narrative” en beteken verhaal, vertelling of relaas (Pharos 2005: 1178). Die implementering van die narratief in die teologie, en meer spesifiek in die pastoraat, inkorporeer hierdie definisie van narratief as die vertelling of ‟n relaas van ‟n gebeurtenis of geskiedenis wat beleef is of waarvan gehoor is en oorvertel word, byvoorbeeld ‟n lewensverhaal in ‟n biografie of ʼn Bybelse verhaal van God se bemoeienis met die mens (Bezuidenhout & Janse van Rensburg 2006: 20).

In die teologie het die narratief in die onlangse verlede ‟n belangrike rol begin speel. Die narratief word dikwels in die teologie aangewend as die beginpunt van

52

teologiese verduidelikings in plaas van ingewikkelde abstrakte verduidelikings – dit bring mee dat die gebruik van die narratief in die teologie induktief van aard is eerder as deduktief, soos baie ander metodes in die teologie (Lucie-Smith 2007: 1). Lucie- Smith (2007: 1) verwys na Thomas Aquinas se vraag of die teologie as ‟n wetenskap beskou kan word, al dan nie. Hy wys daarop dat Thomas Aquinas tot die gevolgtrekking kom dat teologie nie as ‟n wetenskap beskou kan word nie omdat dit oor individue en gebeurtenisse in die lewens van mense soos Abraham, Isak en Jakob handel, terwyl wetenskap nie direk oor individue en gebeurtenisse in hulle lewens handel nie, maar oor algemeen geldende beginsels.

Wanneer die fokus egter verskuif vanaf die spesifieke lewensverhaal van die mens en sy belewenis van die omstandighede van die narratief, en op die openbaring van God, wat te midde van daardie narratief plaasvind, val, word Thomas Aquinas se siening oor die wetenskap in twyfel getrek (Lucie-Smith 2007: 1). In hierdie opsig verduidelik Lucie-Smith (2007: 1, 2) dat die waarde van die narratief in die teologie daarin geleë is dat die Goddelike openbaring nie beskou word as ‟n stel beginsels vir die lewe nie, maar dat dit geïnterpreteer kan word as ‟n openbarings-gebeurtenis wat vir ons verstaanbaar word deur ‟n narratief. So kan die verhaal van Eksodus verstaan word as die verhaal van die uitverkore volk wat binne die konteks van die verhaal van Jesus Christus se menswording, lyding, kruisiging, opstanding en opvaar na die hemel staan. Dit beteken dat die waarde van Bybelse verhale in hierdie benadering verhoog vanaf bloot illustratiewe stories tot die hart van die teologie en die beoefening daarvan (Lucie-Smith 2007: 2).

Lucie-Smith (2007: 11) poog om in sy werk die verband aan te toon tussen die morele teologie en narratiewe teologie deur aan te dui dat morele teologie ‟n narratiewe ondertoon het. ‟n Narratief bied ‟n samehangende en toeganklike storie waardeur daar by ‟n gemeenskap en individue begrip kan ontwikkel van die konteks waarbinne hulleself, hulle gemeenskap en die reëls van die gemeenskap funksioneer. Hy maak die stelling dat ‟n narratief die beginpunt is van die mens se

53

abstrakte denke en dat dit derhalwe ‟n bepalende invloed het op die mens se morele redenering. Om narratiewe teologie te beoefen, stel Lucie-Smith (2007: 11, 12) die volgende voorwaardes: ‟n narratief moet altyd geposisioneer word binne die konteks van sy ontstaan; die konteks van die narratief, binne die verwysingsraamwerk van die totale mensdom, moet verreken word; die sosiale omgewing of tradisie waarbinne die narratief funksioneer moet in ag geneem word; en die manier waarop die narratief in wetenskaplike beredeneringe omskep word, moet ondersoek word. Met hierdie voorwaardes in ag genome, kan die narratief ‟n baie belangrike rol in die teologie speel.

Janse Van Rensburg (2003: 56) tref die opvallende onderskeid tussen ‟n narratief en ‟n storie. ‟n Storie kan beskryf word as ‟n reeks gebeure wat ‟n begin, ‟n verloop en ‟n einde het. Die verskillende elemente van tyd in die storie word aan mekaar verbind deur ‟n logiese verhouding wat hulle tot mekaar het of deur ‟n informele verhouding tot mekaar of deur die dinamiek tussen ‟n narratief, beelde en argumente. Die blote verslagdoening van ‟n reeks kronologiese gebeure kan volgens Janse Van Rensburg (2003: 56) nie as ‟n narratief beskou word nie. Hy noem ‟n narratief ‟n kunstige rangskikking en vertelling van gebeure op so ‟n manier dat die storie die optimale effek in die oorvertelling daarvan aan die hoorders kan hê. Dit is baie belangrik om hierdie onderskeid tussen storie en narratief in die beoefening van narratiewe teologie te tref.

Die narratiewe teologie het ‟n belangrike rol in die Homiletiek gespeel. Janse Van Rensburg (2003: 57) beskryf dit deur te vermeld dat stories wel identiteit oordra en ‟n standpunt kan help bewys, of dat dit ook nuttig kan wees in die oordra van feite. Dit is egter in die gebruik van narratiewe in die prediking dat die narratief identiteit kan transformeer omdat dit die storie, wat ter sake is,binne ‟n groter konteks van God se verhaal plaas. Alhoewel niemand kan voorspel hoedat mense op narratiewe prediking (of prediking in die algemeen) gaan reageer nie, is die krag van die narratief daarin geleë dat dit mense uitnooi om te identifiseer met die karakters of ‟n

54

spesifieke karakter van ‟n narratief. Die teoloog fasiliteer as‟t ware die identifisering van die mens met die narratief uit die Skrif totdat die mens by die punt kom om te kan sê: “Ek is soos in daardie verhaal.” Of: “Ek wens ek kan so wees soos die karakters in daardie verhaal.” Of: “Ek wil nie so wees soos in daardie verhaal nie.” Die beginsels wat Janse Van Rensburg (2003: 56 - 58) hier neerlê vir die gebruik van die narratief in die Homiletiek, is ook van toepassing op die teologie in die algemeen, maar spesifiek ook vir die pastorale teologie.

In aansluiting by Janse Van Rensburg (2003) hierbo, onderskei Lucie-Smith (2007: 165 - 197) drie modelle waarvolgens narratiewe teologie beoefen word. Die drie modelle waarna hy verwys, is: die model van die geslote narratief (166 - 179); die model van ‟n deurdringbare grens (2007: 179 - 188); en die model van ‟n eindelose oop narratief (2007: 188 - 197). Vervolgens ‟n kort omskrywing van elkeen van hierdie drie modelle om die onderskeid tussen hulle duidelik te maak:

Die geslote narratief (Lucie-Smith 2007: 166 - 179): Die geslote narratief omskryf

‟n narratief wat ‟n begin, ‟n verloop en ‟n einde het. Die rol van ‟n geslote narratief in die teologie is dat dit help met die interpretasie van menslike optrede binne die situasie van die narratief. Omdat die narratief afgehandel is, gee dit ‟n volle beskrywing van hoe die narratief enduit verloop en derhalwe van hoe die verloop van hierdie narratief ‟n invloed op die menslike optrede gehad het. Hierdie model veronderstel ‟n kontinuïteit tussen die narratief en die lewe. Die narratief reflekteer ‟n geleefde lewe wat veroorsaak dat die hoorder van die narratief daarmee identifiseer en gevolglik sy teologie kan beoefen vanuit ‟n identifisering met die narratief en die karakters in die narratief.

Die narratief met ’n deurdringbare grens (Lucie-Smith 2007: 179 - 188): Net soos

die geslote narratief hierbo begrens kan word, is daar in hierdie model ook ‟n grens in die narratief, maar in hierdie geval is die grens deurdringbaar. Wanneer ‟n mens

55

met ‟n narratief identifiseer, word die beperkinge van die narratief die beperkinge waarmee hyself moet saamleef. Die persoon wat met ‟n narratief identifiseer, het egter die vryheid om homself los te maak van daardie narratief. Dit veroorsaak dat daar ‟n verskil kan ontstaan tussen die narratief wat gelees word en die narratief van die persoon wat tot op ‟n punt met die narratief geïdentifiseer het. Hierdie model is veral gebruik in die toepassing van narratiewe in die morele teologie. Teologiese gevolgtrekkings vanuit narratiewe kan nie sonder meer gemaak word nie en moet getoets word aan die hand van korrelerende narratiewe. Dit is juis in die toets en opweeg van narratiewe teen mekaar waar die deurdringbare grense van hierdie model na vore kom.

’n Eindelose (oop) narratief (Lucie-Smith 2007: 188 - 197): Die tyd en plek

waarbinne ‟n narratief verloop en afspeel, gee ‟n aanduiding van die eindeloosheid van die narratief. Dit kan vergelyk word met die geykte uitdrukking in kinderverhale van: “eendag lank, lank gelede en in ‟n verafgeleë land...”. Die gebruik van hierdie tipe frases in kinderverhale help om ‟n eindeloosheid in die verhaal te skep. Dit is ook waar van Bybelse narratiewe, maar op ‟n ander manier. Die see van Galilea is byvoorbeeld die plek waar Jesus gepreek het, dit is die plek waar die dissipels geroep is, dit is ook die plek waar baie van die opstandingsgebeure plaasvind. Hierdie plek vorm ‟n prominente plek in die narratiewe van Jesus se lewe op aarde en daarom is daar ‟n mate van eindeloosheid daaraan. Die see van Galilea is nie net ‟n plek waar ‟n paar gebeurtenisse plaasgevind het nie; dit is ‟n spesiale plek in die lewensverhaal van Jesus waar daar baie belangrike gebeure, wat ‟n groot invloed op die teologie het, plaasgevind het.

Dieselfde kan van tyd gesê word. In die Evangelie van Lukas word daar verwys na Jesus se koms in “die tyd van koning Herodes” (Lukas 1: 5). Vir baie mense wat die geskiedenis bestudeer, was “die tyd van koning Herodes” maar net ‟n tydperk waarin daar bepaalde geskiedkundige gebeure plaasgevind het. In die teologie het “die tyd van koning Herodes” egter ‟n veel dieper betekenis as die tydperk waarbinne die

56

verlossing van die mensdom plaasgevind het. In hierdie opsig is daar ook ‟n eindeloosheid aan ‟n narratiewe verwysing na tyd. Hierdie laaste model vir die narratiewe beoefening van die teologie, help om ‟n teologiese onderskeid te tref tussen algemene gebeure in ‟n narratief en gebeure wat ‟n daadwerklike teologiese invloed uitoefen. Dit dui daarop dat narratiewe deur mense neergeskryf mag wees, maar dat daar ‟n ander Outeur van die narratief van die mensdom is.

Volgens Sauter en Barton (2000: 3) het die konsep van die gebruik van narratiewe baie byval gevind in die Westerse samelewing. Hulle beskryf die narratief as ‟n neutrale grond tussen ‟n presiese weergawe van gebeure (geskiedenis) en verbeelding-gebaseerde fiksie, waarvan teoloë uit beide teologiese waarhede aflei. Sauter en Barton (2000: 3) vermeld dat hierdie neutrale grond van die narratief daartoe lei dat die klem van Bybelse wetenskappe in die afgelope tyd eerder val op die narratiewe dimensie van Bybeltekste as wat daar gefokus word op die dogmatiese interpretasie daarvan. Hulle beskryf hierdie verskuiwing na narratiewe teologie as bevrydend van ‟n oormatige didaktiese lees van die Skrif. Hulle is ook van mening dat hierdie manier van teologie beoefen die Christelike teologie veel nader aan Judaïsme bring as in die verlede, omdat die oorvertel van narratiewe van verlossing en redding (soos in Eksodus) vandag steeds ‟n baie belangrike rol in die tradisies en rituele van die Judaïsme speel.

Pratt (1990) het ‟n insiggewende werk gelewer wat handel oor die verhale van die Ou Testament. Hy kies vir ‟n model van gesagvolle-dialoog tot die interpretasie van die narratiewe van die Ou Testament (Pratt 1990: 32 - 41). In die uitoefening van hierdie keuse, waarsku hy teen die twee ekstreme benaderings tot die interpretasie van Ou Testamentiese narratiewe, naamlik die subjektiewe model en die objektiewe model. Die subjektiewe model verteenwoordig ‟n oormatige klem op die leefwêreld en belewenis van die leser van die teks in die interpretasie daarvan (Pratt 1990: 24 - 29). Hy praat van ‟n “meaning is in the eye of the beholder”- benadering tot die narratiewe van die Ou Testament. Die subjektiewe model laat ruimte vir elke mens

57

wat die Woord lees om dit te interpreteer soos hy wil. Teenoor die subjektiewe model staan die objektiewe model (Pratt 1990: 29 - 32). Die objektiewe model fokus weer op ‟n oormatige wyse op die feite wat die teks weergee, sonder om die breër konteks van die narratief in ag te neem. In hierdie benadering sal ‟n uitdrukking soos “let the facts speak for themselves” baie gewild wees. Die objektiewe model laat weer geen ruimte vir interpretasie nie – teologie gaan net oor die hantering van die feite van die teks vir ‟n persoon wat ‟n objektiewe model aanhang.

Die gesagvolle-dialoog-model wat Pratt (1990: 32 - 41) vir die interpretasie van Ou Testamentiese narratiewe voorstel, bied ‟n goeie aanduiding van hoe teologie en narratiewe van die Skrif bymekaar kom. Dit is ‟n model wat ‟n balans vind tussen relativisme en rasionalisme. Dit is baie belangrik om hierdie balans te vind wanneer narratiewe teologie beoefen word. Die spanning tussen relativisme en rasionalisme word deur Pratt (1990: 32, 33) ontlont deur van dialoog gebruik te maak. Dialoog bied ‟n gee-en-neem-verhouding tussen die leser en die teks in die wedersydse gesprek wat daarin plaasvind. Dialoog alleen is egter nie genoeg nie, want dialoog tussen ‟n mens en die Woord is nie op dieselfde vlak nie. Die Skrif het gesag as die Woord van God en daarom kan die interaksie tussen die Skrif en die mens nie op gelyke vlak wees nie. Dit is daarom belangrik dat daar nooit die voorveronderstellings van die mens ingelees word in die narratiewe van die Skrif nie, maar ook dat daar terselfdertyd ‟n dialoog aan die gang is. Die dialoog tussen die Skrif en die mens is uiteindelik die dialoog tussen God en mens.

Vanuit die bovermelde bronne is dit duidelik dat die narratief ‟n baie belangrike rol in die teologie vervul. Die gesagvolle-dialoog model wat Pratt (1990) voorstaan en wat hierbo behandel is, is ‟n goeie sleutel tot die beoefening van die narratiewe teologie, aangesien dit die gesag van die Skrif beklemtoon en terselfdertyd ook die kommunikatiewe voordele van ‟n narratief, soos beskryf deur Lucie-Smith (2007), Janse Van Rensburg (2003) en Sauter en Barton (2000), en soos hierbo behandel, verreken.

58