• No results found

Bybelse perspektiewe op die Pastoraat

2.2 ’N SAMEVATTING VAN BYBELSE PERSPEKTIEWE OP DIE PASTORAAT

2.2.1. Primêre Bybelse Perspektiewe op die Pastoraat

2.2.1.1. Sonde en die totale verlorenheid van die mens: Die sonde speel ’n beduidende rol in die ellende van die mens. Volgens Adams (1973: 117 - 140) kan sonde uitgesonder word as die enkele oorsaak van alle pastorale probleme. MacArthur & Mack (1994: 98 - 115) verwys na die groot invloed wat die sondeval op die mens gehad het en steeds het. Elke mens word in sonde ontvang en gebore en is derhalwe onderworpe aan die effek van die sonde in sy lewe. Die effek van die sonde kan op baie terreine van die lewe van die mense opgemerk word – dit ruïneer verhoudings tussen mense, dit breek die selfbeeld van die mens af, dit tas die mens se vermoë om Christelike norme te handhaaf aan, dit verhoed die mens om Christelike lewensvaardighede aan te leer en bowenal, tas die sonde die mens se vermoë aan om in ’n liefdevolle verhouding met God te leef.

Die sondeval het veroorsaak dat die mens totaal verlore is in die sonde. Daar is in homself geen uitweg uit die penarie van sy totale verlorenheid in sy sonde nie. Alle

44

pastorale probleme staan in konteks tot die sondeval. In die pastoraat moet die verband van die sonde en die totale verlorenheid van die mens verreken word wanneer die probleme van die mens pastoraal hanteer word. Dit is alleen vanuit ’n belydenis van die totale verlorenheid van die mens dat dit vir hom moontlik is om die genade en verlossing van God te kan aanvaar. Die pastor het dus die taak om die kliënt te begelei in die verstaan en besef van die rol wat sy sonde speel in die pastorale probleem wat hy beleef. Dit moet gebeur sodat hy in ’n proses van heling die genade van God kan aanvaar en die verlossing van Jesus Christus in sy eie lewe kan toe-eien.

2.2.1.2. Die genade van God: Die heling wat in die pastorale proses plaasvind, is die werk van God. Dit is nie die pastor of sekere pastorale tegnieke wat gebruik word wat die heling bewerkstelling nie – dit is die genadewerk van God. Alleen deur genade word die mens deur God gered vanuit sy totale verlorenheid in die sonde. ’n Pastor kan nie pastoraat beoefen as daar nie by hom ’n belydenis is van die afhanklikheid van die genade van God vir die heling in die lewe van die kliënt nie (Benoit 1947: 50, 51).

Binne die konteks van die genade van God vorm die voorsieningheid van God ook ’n belangrike deel van die verstaan van die pastoraat. MacArthur & Mack (1994: 154 - 170) wys daarop dat die pastoraat op God gerig moet wees omdat Hy die Voorsiener in die lewensbehoeftes van die mens is. In die lewensbehoeftes van die mens wat ’n stryd met pastorale probleme het, moet die pastorale verhouding daarop gerig wees dat God voorsien in dit wat nodig is om herstel in die lewe van die kliënt te bring. Op die pastor rus die verantwoordelikheid om hierdie fokus op God en sy voorsienigheidheid voortdurend in die pastorale proses gehandhaaf word.

2.2.1.3. Die versoening van Jesus Christus: Die verkondiging van die versoening van Jesus Christus staan sentraal tot die pastoraat. Die totale verlorenheid van die mens veroorsaak dat hy totaal afhanklik is van die genade van God – die genade

45

van God is verpersoonlik in die versoening van Jesus Christus aan die kruis. Pastoraat word onderskei van die psigologie deurdat die versoening van Jesus Christus die spilpunt is waarom die pastorale proses van heling draai (Collins 1993: 39). MacArthur & Mack (1994: 64) beskryf die versoening van Jesus Christus as die vertrekpunt tot die pastoraat.

Vanuit ’n gereformeerde tradisie kan die pastoraat alleenlik beoefen word as die versoening van Jesus Christus sentraal daarin staan. Die verband wat Calvyn tref tussen die versoening van Christus en gehoorsaamheid, behoort nie in die pastoraat buite rekening gelaat te word nie (Benoit 1947: 53). Dit is juis ’n diepe verstaan van die omvang en noodsaaklikheid van die versoening van Christus in sy lewe, wat die kliënt daartoe dring om uit dankbaarheid aanpassings in sy lewe te maak om dit sodoende te rig volgens die wil van God. Gehoorsaamheid aan die wil van God as ’n uitvloeisel van die versoening van Christus, stel die kliënt in staat om in die pastorale proses heling te verkry (Benoit 1947: 54).

2.2.1.4. Die soewereiniteit van God: Dit is noodsaaklik dat die pastor deurlopend fokus op die soewereiniteit van God in die pastorale proses. In sy soewereiniteit beskik God oor die lewe van die mens. Wanneer die soewereiniteit van God word in die pastoraat verreken, kom dit na vore dat God die groot Geneesheer is in die heling wat plaasvind. Dit is alleen deur die genadige beskikking van die soewereine God dat pastoraat beoefen kan word (Benoit 1947: 54). Die kennis en tegnieke van die pastor staan dus ondergeskik tot die genadewerk van die soewereine God.

Dit is daarom belangrik dat die pastoraat op God gefokus sal wees (MacArthur & Mack 1994: 154 - 170). Die soewereine God is ’n jaloerse God wat daarop aanspraak maak dat die lof en die eer vir dit wat in die pastoraat plaasvind aan Hom behoort. ’n Fokus op God gedurende die pastorale proses dra by tot die kliënt se aanvaarding van die genesing wat plaasvind deur die waarheid van God se Woord in sy lewe. Dit help verder die pastor om deurentyd daarvan bewus te wees dat hy

46

bloot ’n instrument in die hand van die soewereine God is, waardeur Hy genadig genesing bring in die lewe van die kliënt.

2.2.1.5. Eenheid met Christus: In die fokus op God kom die eenheid met Christus na vore. ’n Lewe in eenheid met Christus is volgens Calvyn die uiteindelike doel van die pastorale proses (Benoit 1947: 54). Die eenheid met Christus vind op ’n mistieke wyse gestalte in die herstelproses van die kliënt wanneer hy al hoe meer gelykvormig word aan die beeld van Christus. Eenheid met Christus impliseer dat die kliënt saam met Christus gekruisig word en saam met Hom uit die dood opstaan (Benoit 1947: 29). Die Evangelie van die verlossing, wat sentraal tot die pastoraat staan, word vergestalt in ’n lewe in eenheid met Christus (MacArthur & Mack 1994: 116 - 130).

Die eenheid met Christus impliseer ook ’n aanvaarding van verantwoordelikheid by die kliënt (Benoit 1947: 54). MacArthur & Mack (1994: 116, 117) noem dit die Evangelie van verandering. Dit impliseer dat die Evangelie mense se lewens verander op ’n manier waarop daar heling van die wêreldse verwondheid plaasvind. In die pastoraat handel dit by uitstek oor die bediening van die hoop dat die Evangelie waarlik daadwerklike verandering in die lewe van die kliënt kan voortbring. Nie alleen handel dit in die pastoraat oor die aankondiging van die hoop nie, maar ook oor die daadwerklike bediening van hierdie hoop. Dit vind plaas deurdat die kliënt in die pastorale proses begelei word in ’n lewe in eenheid met Christus (MacArthur & Mack 1994: 118, 119).

2.2.1.6. Die werking van die Heilige Gees: God is aktief in die pastorale proses deur die werking van die Heilige Gees. In die gebruik van die parakletiese metafoor het Louw (1997: 27 - 37) ’n duidelike verbintenis neergelê tussen die pastoraat en die verkondiging van die Woord. In die proses van pastorale sorg staan die verkondiging van die Woord sentraal. Die werking van die Heilige Gees maak dit moontlik dat daar Woordverkondiging in die pastoraat kan plaasvind. Dit is alleen

47

die Heilige Gees wat die kliënt kan begelei tot ’n begrip van, en aanvaarding van die waarheid en beloftes van die Woord.

Die werking van die Heilige Gees kan nie bloot net in die pastoraat in gedagte gehou word nie, maar moet eerder deurlopend in die pastorale proses erken word as die teenwoordige Trooster (MacArthur & Mack 1994: 131 - 141). Deur dit wat in die pastoraat gebeur, is die Heilige Gees die Bewerker van blywende verandering en genesing in die lewe van die kliënt. Dit gebeur deurdat die Heilige Gees hulp verleen as Heilige Helper, deurdat die Heilige Gees leiding gee as Gids tot die Waarheid en deurdat die Heilige Gees teenwoordig is in die lewe van die mens as Inwonende Teenwoordigheid (MacArthur & Mack 1994: 140, 141).

2.2.1.7. Die verkondiging van hoop: Die rol van die pastor is ten nouste om die kliënt daarvan te oortuig dat daar in Christus, ʼn Bybelse basis van hoop is (Adams 1973: 140). Vanuit Thurneysen (1963: 11 – 31) se klem op die verkondiging van die Woord in die pastorale proses en Clinebell (1992: 26) se langtermyn-rekonstruktiewe benadering kom die verkondiging van hoop na vore. Dit is baie belangrik dat hoop voortdurend vanuit die Skrif aan die kliënt verkondig word, want dit is die hoop vanuit die Skrif wat die nodige motivering aan die kliënt verleen om in ’n langtermyn pastorale proses te volhard.