• No results found

Die Identifisering van die Mees Algemene Pastorale Behoeftes van Kinders tussen die Ouderdom van 6 en 13 jaar aan die hand van ʼn

7.3. DIE SAMESTELLING VAN DIE VRAELYS

7.3.1. Die Inleiding

In die inleiding word kortliks aangedui wat die aard van die studie is. Die besonderhede van die student, die akademiese vlak van die studie asook die tersiêre instelling waaraan die studie gedoen word, word vermeld. Om die respondente by te staan met die agtergrond van die studie, word die volledige titel van die proefskrif van die studie vermeld. Die doel van die vraelys word kortliks gestel. Daar is egter in hierdie verduideliking ’n onderskeid tussen die mees algemene pastorale probleme en moeilikste hanteerbare situasies wat aanleiding gee tot pastorale probleme by laerskoolkinders tussen die ouderdom van 6 en 13 jaar. Die verduideliking van hierdie bewoording word weergegee in 7.3.3. en 7.3.4. hieronder. Die inleiding word so saaklik as moontlik gestel, ten einde die vraelys so gebruikersvriendelik as moontlik te maak.

Die inleiding is as volg verwoord: “Hierdie vraelys vorm deel van ’n Ph.D.-studie van S.W. Basson (Studentenommer: 20229755) aan die NWU (Potchefstroomkampus). Die titel van die proefskrif, waarvan hierdie vraelys deel vorm, is: “ʼn Model vir die gebruik van Bybelse Narratiewe in die pastoraat aan kinders tussen die ouderdom van 6 en 13 jaar.” Die vraelys vorm deel van ’n empiriese studie om die mees algemene en moeilikste hanteerbare situasies wat aanleiding gee tot pastorale probleme by laerskoolkinders (tussen die ouderdom van 6 en 13 jaar) te bepaal.”

168

7.3.2. Vraag 1

Die eerste vraag van die vraelys het ten doel om te bepaal in watter hoedanigheid die spesifieke persoon wat die vraelys beantwoord, met laerskoolkinders tussen die ouderdom van 6 en 13 jaar werk. Hierdie onderskeid sal dit later moontlik maak om die terugvoer van die respondente in groepe te plaas en mag belangrike inligting verskaf in die interpretasie van die resultate van die vraelys. Die vyf tipes opgeleide persone wat met laerskoolkinders tussen die ouderdom van 6 en 13 jaar werk, is: jeugwerker/ kategeet, maatskaplike werker, onderwyser, predikant en sielkundige.

Vraag 1 is as volg verwoord: “In watter hoedanigheid is u werksaam met laerskoolkinders?” Op die vraelys is daar in tabelformaat voorsiening gemaak vir die respondent om ’n keuse van sy betrokkenheid by laerskoolkinders (jeugwerker/ kategeet, maatskaplike werker, onderwyser, predikant of sielkundige) met die merk van ’n “x” uit te oefen. Die tipes opgeleide persone waaruit ’n keuse uitgeoefen kan word, word alfabeties gelys. Die woord “hoedanigheid” is in die vraag onderstreep omdat dit die kernwoord van die vraag is.

7.3.3. Vraag 2

Die tweede vraag van die vraelys het dit ten doel om vanuit die respondente se terugvoer vas te stel wat die mees algemene probleme is waarmee die respondente in hul interaksie met laerskoolkinders te make kry. Daar is besluit om van die respondente te verlang om met ’n “x” drie situasies aan te dui om die mees algemene oorsake van pastorale nood by laerskoolkinders tussen die ouderdom van 6 en 13 te identifiseer. Om die keuse wat die respondente uitoefen in die beantwoording van hierdie vraag te beperk tot net een keuse, sou die spektrum van resultate beperk het, in gevalle waar daar meer as een oorsaak vir pastorale nood is

169

wat as algemeen beskryf kan word. ’n Keuse van drie uit ’n moontlike tien oorsake van pastorale probleme beperk ook die keuse voldoende sodat die resultate nie te wyd sal wees nie.

By die identifisering van pastorale behoeftes van laerskoolkinders, kan die onderskeid getref word tussen dié mees algemene oorsake van pastorale probleme en die pastorale probleme wat die moeilikste is om te hanteer. In hierdie vraag word daar gefokus op die mees algemene oorsake, terwyl daar in vraag 3 (7.3.4. hieronder) aandag geskenk word aan die pastorale probleme wat die moeilikste is om te hanteer. Daar word ’n keuse vanuit tien moontlike situasies gegee aan die respondent wat die vraelys voltooi. Hierdie lys van keuses (in alfabetiese volgorde) is: Blootstelling aan Misdaad, Egskeiding, Ernstige Siekte, Fisies Voorkoms, Gestremdheid, Klinies-Sielkundige Afwyking(s), Mishandeling/ Gesinsgeweld, Molestering/ Verkragting, Negatiewe Groepsdruk, Swak Akademiese Vordering, Verhuising en Verlies van ’n Ouer/ Familielid aan die Dood.

Vraag 2 is soos volg verwoord: “Na u mening, watter drie situasies hieronder vermeld, is die mees algemene oorsake vir pastorale nood by laerskoolkinders?” In die bewoording van die vraag is daar gekies om klem te lê daarop dat die vraag oor die mening van die respondent handel. Dit help om by die respondent die vrymoedigheid te skep om ’n eerlike keuse van drie uit te oefen uit tien moontlikhede en voorkom dat die respondent ’n keuse uitoefen wat hy voel die algemene norm is. Dit is belangrik dat die antwoorde van die vraelys die menings van die onderskeie kundige persone wat met laerskoolkinders werksaam is, akkuraat sal reflekteer. Die getal drie is in die vraag onderstreep, ter wille van duidelikheid oor die korrekte invul van die vraelys, terwyl die woorde “mees algemene” ook onderstreep is, om die spesifieke klem in die vasstelling van pastorale behoeftes te beklemtoon.

170

7.3.4. Vraag 3

Die derde vraag van die vraelys sluit ten nouste by vraag 2 (7.3.3. hierbo) aan, maar met die onderskeid dat dit handel oor die moeilikste hanteerbare oorsake van pastorale probleme by laerskoolkinders tussen die ouderdom van 6 en 13 jaar. Dieselfde oorwegings geld vir vraag 3 as vir vraag 2 (7.3.3. hierbo) ten opsigte van die getal keuses wat die respondente kan uitoefen. Die lys waaruit die keuse uitgeoefen word, is ook dieselfde as wat by vraag 2 (7.3.3. hierbo) aangedui word.

Vraag 3 lui: “Na u mening, watter drie situasies hieronder vermeld, is die moeilikste hanteerbare oorsake vir pastorale nood by laerskoolkinders?” Soos in vraag 2 (7.3.3. hierbo) is die woorde “na u mening” gebruik en beklemtoon om die respondent aan te moedig om ’n eerlike opinie wat spruit uit ondervinding in die werksaamheid met laerskoolkinders tussen die ouderdom van 6 tot 13 jaar te lug. Die woorde “drie” en “moeilikste hanteerbare” is in die vraagstelling onderstreep om die spesifieke fokus van hierdie vraag te beklemtoon. In die hierdie vraag word daar gefokus op die identifisering van pastorale behoeftes in terme van die oorsake van pastorale probleme wat respondente, wat met laerskoolkinders werksaam is, die moeilikste kan hanteer.

7.3.5. Vraag 4

Met die stel van Vraag 4 (die enigste vraag in die vraelys wat nie met ’n “x” beantwoord word nie), kry die respondent die geleentheid om enige ander situasies of omstandighede wat kan bydra tot die pastorale nood van laerskoolkinders tussen die ouderdom van 6 en 13 jaar, en nie in die gegewe lys wat in vraag 2 en vraag 3 (7.3.3. en 7.3.4. hierbo) van die vraelys gelys word nie, te kan weergee. Hierdie vraag word gestel om volledigheid aan die empiriese studie te verleen, aangesien

171

die moontlikheid bestaan dat die lys van keuses in vraag 2 en vraag 3 (7.3.3. en 7.3.4. hierbo), nie volledig mag wees nie en dat daar ’n ander prominente oorsaak vir pastorale probleme by laerskoolkinders tussen die ouderdom van 6 en 13 jaar na vore kan kom.

Vraag 4 is soos volg gestel: “Is daar enige ander situasies, wat nie hierbo vermeld is nie, wat aanleiding kan gee tot pastorale nood by laerskoolkinders?” Die woorde “ander situasies” is in hierdie vraag onderstreep om klem daarop te plaas dat die respondent hier die geleentheid gegun word iets by te voeg wat nie vantevore op die vraelys verskyn het nie. Op die vraelys is daar genoeg ruimte gelaat dat die respondent voldoende opmerkings kan maak.

7.3.6. Vraag 5

In die byvoeging van Vraag 5 kry die respondent ’n geleentheid om ’n ja/nee mening uit te spreek oor ’n aangeleentheid wat wyer strek as die bepaling van die pastorale behoeftes van laerskoolkinders tussen die ouderdom van 6 en 13 jaar. Die vraag sluit aan by die sentrale fokus van die studie wat poog om ’n model vir die gebruik van Bybelse narratiewe in die pastoraat aan kinders tussen die ouderdom van 6 en 13 jaar, daar te stel. Die respondente kry die geleentheid om aan te dui of die gebruik van Bybelse narratiewe in die pastoraat aan laerskoolkinders relevant is. Die resultate van hierdie vraag in die vraelys kan ’n bydrae daartoe lewer om die resultate van vraag 1 tot vraag 4 (7.3.2. tot 7.3.5 hierbo) in die vraelys in perspektief te kan plaas. Met die interpretasie van die resultate van hierdie vraag, kan die positiewe of negatiewe reaksie van die respondente ’n bydrae lewer tot die mate waarop die onderskeie gekwalifiseerde persone (soos bepaal in vraag 1 (7.3.2.) hierbo) se menings ’n rol speel in die verstaan van die pastorale behoeftes van laerskoolkinders tussen die ouderdom van 6 en 13 jaar.

172

Vraag 5 lui: “Na u mening, kan Bybelse verhale laerskoolkinders help om hulle pastorale nood te verwerk?” Die woorde “Na u mening” is weer eens in hierdie vraag gebruik om klem te plaas op die opinie van die respondente vanuit hul verwysingsraam in hul werksaamheid met laerskoolkinders. Op die vraelys is daar ’n ruimte gelaat waarin die respondent ’n keuse kan uitoefen tussen “ja” en “nee” deur dit met ’n “x” aan te dui. Die woorde “Bybelse verhale” is onderstreep, om die klem te laat val op die gebruik van die narratiewe uit die Skrif. Die woord “verhale” is gekies bo “narratiewe”, aangesien die betekenis van die woord “narratiewe” moontlik nie aan alle respondente bekend mag wees nie. Omdat Bybelse narratiewe hier ter sprake is, is die gebruik van die term “verhale” nie misleidend nie.