• No results found

Grondbeginsels in die Pastoraat aan Kinders, met spesifieke verwysing na Kinders tussen die Ouderdom van 6 en 13 Jaar

4.3. PASTORAAT AAN LAERSKOOLKINDERS

4.3.2. Die Unieke Aard van Kinderpastoraat

Volgens Grossoehme (1999: 5 – 22) is daar ’n duidelike onderskeid te tref tussen pastoraat aan volwassenes en die pastoraat aan kinders. ’n Behoorlike begrip van die onderskeid tussen gewone pastoraat en kinderpastoraat maak die effektiewe pastorale versorging van kinders moontlik. Die volgende onderskeid kan getref word tussen pastoraat aan volwassenes en kinderpastoraat:

Pastorale probleme by kinders is baie meer akuut as chronies. Kinders word intensief geraak deur pastorale krisisse, maar hulle beskik oor die vermoë om dit vinniger te verwerk en aan te gaan met hulle lewens (Coetsee 2005: 34 - 36). Omdat hulle besig is om te groei, is hulle baie meer aanpasbaar. Pastorale krisisse by volwassenes word dikwels oor ’n lang tydperk beleef en neem baie langer vir hulle om te verwerk (Grossoehme 1999: 5 – 8).

Kinders gebruik ander taal. Die woordeskat van kinders verskil drasties van volwassenes s’n, veral ook wanneer dit by die beskrywing van pastorale krisisse kom. Kinders ervaar dieselfde emosies en belewenisse as volwassenes, maar ken nie genoegsame woorde om daardie emosies en belewenisse te omskryf nie (Malan 2005: 132). Die uitdaging vir die pastor is om die brug van taal oor te steek, aangesien die pastor ’n volwassene is wat met ’n kind werk. In volwasse pastoraat is dit ’n volwassene teenoor ’n volwassene wat in gesprek met mekaar is (Grossoehme 1999: 8 – 10).

Kinders is baie eerlik en op die man af. Hulle sal nie met verskuilde agendas deelneem aan ’n pastorale gesprek nie en sal, as dit in hulle verbale vermoë is, op ’n baie egte wyse antwoord op die vrae wat aan hulle gestel word (Malan 2005: 133). In volwasse pastoraat moet die pastor bedag wees daarop dat die antwoorde wat deur die kliënt verskaf word nie altyd heeltemal eerlik is nie. Laerskoolkinders is selde oneerlik in ’n pastorale gesprek, veral

116

wanneer hulle ’n ernstige pastorale krisis beleef en dit ter sprake kom in die pastorale gesprek (Grossoehme 1999: 9).

Kinders se verbeelding speel ’n baie belangrike rol in die manier hoe hulle die wêreld rondom hulle verstaan. Kinders se response in ’n

pastorale gesprek is dikwels gevul met verbeelding en die pastor moet ’n fyn onderskeid kan tref tussen wat werklik is en wat verbeelding is in die kind se gesprek (Lester 1985: 77). Die pastor moet ook die kuns aanleer om op ’n gepaste wyse op die verbeeldingswêreld van die kind in ’n pastorale situasie te reageer (Grossoehme 1999: 16).

Laerskoolkinders het nog nie die vermoë ontwikkel om abstrak te kan

dink nie. Kinders sal Skrifgedeeltes soos gelykenisse eerder letterlik

verstaan as om die abstrakte betekenis daarvan in te sien (Lewis 1999: 189). Die pastor moet die kind met gepaste vraagstelling begelei om abstrakte konsepte aan kinders te kan verduidelik. ’n Pastorale gesprek is die ideale geleentheid vir die pastor om ’n kind geleidelik te begelei tot ’n dieper (abstrakte) insig in die pastorale krisis wat hy beleef (Grossoehme 1999: 16).

Op laerskoolouderdom het kinders al genoegsaam ontwikkel om besorg

te kan wees oor moraliteit. Reëls speel ’n baie belangrike rol in hulle dag-

tot-dag funksionering. ’n Bewustheid van moraliteit stel ’n laerskoolkind in staat om situasies waarin hy homself bevind en optredes van mense in sy lewe, te kan beoordeel (Herl & Berman 2004: 203). Hulle is ook in staat om te verstaan dat optrede sekere gevolge teweeg bring. Kinders moet egter deur die pastor begelei word dat hulle op die terrein van moraliteit die korrekte beoordelings maak en verkeerde afleidings wat hulle maak, regstel. ’n Klassieke voorbeeld is die geneigdheid van ’n kind om te voel dat dit sy skuld is dat sy ouers skei. Die pastor kan ’n baie belangrike rol speel om hierdie probleem aan te spreek (Grossoehme 1999: 16, 17).

117

Lester (1985) bied ’n baie goeie benadering tot die pastoraat aan kinders. In baie opsigte stem sy benadering baie sterk ooreen met die gevolgtrekkings aangaande die narratiewe pastoraat wat hierbo in Hoofstuk 3 gemaak is. Die pastorale tegnieke (Lester 1985: 85 – 133) wat hy voorstel, is in wese narratiewe tegnieke wat relevant is in die pastorale versorging van kinders.

Kinders wat ’n pastorale krisis beleef en deur ’n pastor begelei word, het bepaalde behoeftes wat teenoor die pastor gekoester word (Lester 1985: 51 – 64). Hierdie behoeftes sluit in:

’n Sin van vaardigheid (Lester 1985: 52 – 54): Vir ’n kind is dit belangrik om

te ervaar dat hy sekere basiese lewenstake bemeester soos wat hy grootword. Mylpale soos loop, praat, om self te kan eet, toiletgewoontes en die hantering van speelgoed word voor skool bereik en ontlok gewoonlik baie positiewe reaksie by die kind se ouers wanneer dit bereik word. Wanneer kinders laerskool toe gaan, is daar steeds mylpale wat bereik moet word (Herl & Berman 2004: 221). Die erkenning wat volwassenes aan die bereiking van hierdie mylpale in die laerskooljare gee, neem gewoonlik baie af wanneer die kind begin skoolgaan. Wanneer ’n kind begin skoolgaan, begin hy homself baie sterk met ander kinders vergelyk (De Beer 2006: 89). Die pastor moet dus bedag wees op hierdie behoeftes van die kind in hierdie ouderdomsfase.

Gesindhede en waardes (Lester 1985: 54 – 56): Teen die tyd dat ’n kind laerskool toe gaan, is sy vroeë waarnemingsprosesse reeds afgehandel (Van Zyl 2007a: 40, 41). Op hierdie ouderdom het die kind egter nog nie voldoende kognitiewe vermoëns of ervaring van die buitewêreld om sy gesindhede en waardes ten opsigte van sy menswees in die samelewing te ontwikkel nie. Gedurende die kinderjare ontwikkel die mens sy gesindhede en waardes ten opsigte van kultuur, opleiding, geld, etniese groepe, seks, sport, werk, televisie, familiestyle, kerk en godsdiens (Lewis 1999: 99). Hierdie gesindhede en waardes speel ook ’n rol in die manier waarop ’n kind krisisse soos siekte, rousmart, dood en egskeiding verwerk. Lester (1985: 54)

118

meld dat psigologiese en sosiologiese navorsing aangetoon het dat sosiale gesindhede en waardes geïnternaliseer word en ontwikkel tot ’n norm vir kinders wat dwarsdeur hul lewens gehandhaaf word, tensy hierdie norm uitgedaag en aangepas word deur ’n beduidende nuwe leerervaring. Om hierdie rede is dit van die uiterste belang dat kinders voor die ouderdom van 13 blootgestel word aan leerervarings wat ’n sterk impak op hul lewens maak sodat Bybelse gesindhede en waardes in hul lewens vasgelê word.

Bevestiging van persepsies (Lester 1985: 56, 57): Volwassenes wat met kinders te doen het wat deur ’n pastorale krisis geraak word, openbaar die geneigdheid om oorbeskermend te wees teenoor die kind. Dit gebeur dikwels deurdat die volle waarheid van die krisis van hulle weerhou word of deurdat die waarheid op ’n skeefgetrekte wyse aan hulle voorgehou word. Wanneer kinders se persepsies van ’n krisis en dit wat hulle daaroor vertel word van mekaar verskil, bring dit mee dat kinders in hulleself begin twyfel en onseker is oor hulle eie waarnemings. Die pastor verteenwoordig Christelike waardes in ’n pastorale verhouding met ’n kind (Herl & Berman 2004: 231). Met die pastorale verhouding met kinders in gedagte het die pastor die verantwoordelikheid om met integriteit toe te sien dat die persepsies wat by kinders ontstaan as gevolg van die pastorale krisis wat hulle beleef, op ’n realistiese wyse bevestig word. Waar wanpersepsies ontstaan, is dit die verantwoordelikheid van die pastor om toe te sien dat dit tydens die pastorale proses reggestel word (Malan 2005: 289).

’n Plek om te behoort (Lester 1985: 57 – 59): Soos wat kinders hulle

laerskooljare betree, verlaat hulle al meer die veilige omgewing van hulle huisgesin. Sosiale interaksie met skoolmaats vind algaande op ’n dieper vlak plaas. Wat hulle skoolmaats van hulle dink, raak mettertyd tydens hul skooljare vir kinders al meer belangrik. Hulle eksperimenteer dikwels in hierdie jare van hulle lewe met verskillende maniere waarop hulle hulleself aan ander kinders voorstel, veral wat hulle kleredrag en haarstyl betref (Clark 2004: 187). Voordat hulle skool toe gaan, sal kinders sommer met enige ander kind wat saam met hom in die sandput sit, speel. Soos hulle ouer

119

word, word hulle al meer uitsoekerig oor die maats met wie hulle interaksie het. Hulle raak dan ook baie afhanklik van die sosiale terugvoer wat hulle van hulle maats ontvang tydens die interaksie met hul skoolmaats (Van Zyl 2007a: 45). Dit is daarom vir kinders baie belangrik om in te pas in die groepe met wie hulle assosieer. Die pastor kan in hierdie opsig kinders help om te assosieer met maats vir wie Christelike waardes belangrik is. Die pastor het in hierdie opsig die uitdaging om in die plaaslike gemeente gesonde verhoudings tussen kinders te bevorder ten einde kinders te help om te assosieer met groepe wat vir hulle voordelig kan wees, veral wanneer hulle deur ’n pastorale krisis geraak word. Kinders wil iewers behoort – die pastor kan hulle help om te behoort waar dit vir hulle goed kan wees (Lang 1994: 199).

Volwasse vriende (Rolmodelle) (Lester 1985: 59 – 61): Dit is uiters noodsaaklik vir kinders dat ander volwassenes anders as hulle ouers ’n rol speel in hulle ontwikkeling. Hierdie volwassenes dien as rolmodelle vir die volwasse lewe, hulle bied aan kinders voorbeelde, hulle help kinders om doelwitte daar te stel en help kinders met konkrete idees wat hulle kan naboots en nastreef. Die rol van ander volwassenes in die lewe van ’n kind, moet onderskei word van die rol van die ouer in ’n kind se lewe. Ouers se primêre taak is om te voorsien in die basiese lewensbehoeftes van die kind en om dissipline toe te pas in die voorsiening van lewensbehoeftes aan die kind. Hierteenoor het ander volwassenes nie hierdie primêre rol te speel in kinders se lewens nie en kan hulle derhalwe binne ’n ander konteks betrokke wees in die lewe van ’n kind (Meyers & Meyers 1992: 83). Uiteindelik word die ander volwassenes volwasse vriende vir kinders. Die pastor is een van die ander volwassenes in ’n kind se lewe. Hy is in die posisie om as ’n rolmodel vir ’n kind op te tree, hy kan kinders help met goeie Bybelse voorbeeld vir die lewe en situasies waarin hulle hulself bevind, hy kan hulle help om doelwitte wat ooreenkomstig met die Skrif is, vir hulleself te stel en hy kan hulle help met konkrete Christelike idees, wat hulle kan naboots of nastreef. Die pastor kan ook ’n baie belangrike rol speel in die kontrole van die rol wat ander

120

volwassenes in die lewe van ’n kind speel. By die plaaslike gemeente kan hy help om kinders aan goeie rolmodelle bloot te stel en om toe te sien dat hulle voortdurend blootgestel word aan volwassenes met ’n positiewe invloed op die lewens van kinders. Clark (2004: 178 – 180) is van mening dat die verhouding van volwassene tot kind in ’n gemeente 5:1 moet wees en nie 1:5 nie. Dit beteken dat daar ten minste vyf ander volwassenes aktief ’n rol moet speel in die lewe van ’n kind.

Iemand om te luister (Lester 1985: 61, 62): Een van die belangrikste funksies wat ’n pastor teenoor ’n kind kan verrig, is om met aandag en deernis te luister wanneer ’n kind die punt bereik waar hy openhartig oor sy gevoelens en belewenisse praat. Hoërskoolkinders kies meestal vriende om te luister na hulle hartsake, maar laerskoolkinders sal nie sommer hulle diepste hartsake met hulle maats bespreek nie. Vir kinders is dit belangrik om, wanneer hulle iemand vind met wie hulle openhartig kan praat, te voel dat hulle nie veroordeel of gespot sal word oor die sake waaroor hulle praat nie. Dit is daarom noodsaaklik vir die pastor om ’n vertrouensverhouding met die kind op te bou – ’n verhouding waarbinne die kind beleef dat die pastor met aandag en deernis na hom luister (Coetsee 2005: 25, 26).

Iemand om hulle gevoelens te aanvaar (Lester 1985: 62, 63): Volwassenes maak hulle dikwels daaraan skuldig om die gevoelens van kinders in algemene gesprekke te misken. Kinders leer om daarmee saam te leef dat hulle gevoelens nie altyd in volwasse geselskap aanvaar of verreken word nie. Wanneer ’n kind egter ’n pastorale krisis beleef, word die aanvaarding van sy gevoelens ’n baie groot behoefte by ’n kind (Lang 1994: 177). In die helingsproses is dit noodsaaklik dat die pastor die gevoelens van die kind aanvaar en seker maak dat die kind ook beleef dat sy gevoelens aanvaar word. Kinders se emosies is eerlik en op die man af. Die pastor moet gereed wees om met sensitiwiteit en besorgdheid te kan reageer op die gevoelens wat kinders met hulle deel, selfs al is dit rou, passievolle, kwade of opgewonde gevoelens (Lewis 1999: 179).

121  Geestelike begeleiding (Lester 1985: 63, 64): Net soos volwassenes, vra kinders ook teologiese vrae. Die enigste verskil is dat kinders soms sukkel om hulle vrae behoorlik te verwoord. Kinders se ontwikkelende woordeskat bring mee dat hulle ander woorde gebruik om die vrae wat hulle het te vra. Die teologiese vrae wat kinders vra, is egter uiters relevant. Behoorlike beantwoording van die teologiese vrae van kinders is boustene in hulle geestelike ontwikkeling (Grossoehme 1999: 86). Die pastor moet bedag wees op die woordeskat wat kinders gebruik om teologiese vrae te vra, sodat die wese van die vrae wat hulle vra behoorlik verstaan kan word en dat dit ook gepas geantwoord kan word sodat behoorlike geestelike begeleiding kan plaasvind. Kinders behoort ook aangemoedig te word om hulle geestelike belewenisse te verwoord, ten einde die proses van geestelike begeleiding te vergemaklik (Malan 2005: 289).