• No results found

3.2 OOGMERKE VAN HIERDIE HOOFSTUK

3.2.5 Verhoudings

Verhoudings is deel van die lewe en kan nie vermy word nie aangesien almal daardeur geraak word en wat die beradene gewoonlik affekteer, affekteer ook die verhoudingsisteem. Verhoudings en vriendskappe is ook in die hantering van spanning van belang (Stanton Salaza & Spina, 2005:379).

ʼn Studie wat met vroue in tronke gedoen is, het aangetoon dat interpersoonlike diepte die graad is waartoe die verhouding die persone betrokke affekteer en raak. Die implikasie hiervan is dat die verhoudings wat gewoonlik ondersteunend is, dié met meer waarde is. Daar is ʼn aanduiding dat hierdie ondersteuning ook met goeie psigiese gesondheid verbind word en dit het ʼn groot invloed op die betrokke vroue se funksionering later in hulle lewens (Martin & Herselbrock, 2001:38).

3.2.5.1 Ouerleiding

Komponente wat deel van berading met adolessente is wat deur trauma geraak is, is om ouers op te lei en leiding te gee in vaardighede, die kognitiewe hantering daarvan en ook om ʼn trauma narratief te formuleer, wat vervolgens ʼn struktuur kan voorsien waarvolgens ʼn adolessent konkrete gebeurtenisse kan definieer en

115

bespreek (Cohen et al., 2006:58). Wanneer daar met ʼn adolessent gewerk word, is dit belangrik om die proses aan die ouers te verduidelik (Cohen et al., 2006:63). Ouerleiding word voorgestel om gepaste ondersteuning vanaf die ouers aan te moedig om sodoende alternatiewe opbouende gedagtes en gedrag te bevorder (Cohen et al., 2006:48).

Ouers speel ʼn belangrike rol in hul kinders se toekomsoriëntasie deur byvoorbeeld tyd saam met hulle te spandeer en hulle kinders se genesing te bevorder op grond van die voorbeelde wat op hierdie wyse vir hulle gestel word (Milkie et al., 2010:1329). Wanneer ouers se gedrag en reaksies gepas is, is kinders se reaksies meer geneig om gepas te wees (Baggerly & Exum, 2007:82).

Konflik tussen ouers asook tussen ouer en kind word soms met verswakte psigiese gesondheid geassosieer (Toussaint & Jorgensen, 2008:337). Hierteenoor word inter- ouerlike konflik deur Toussant en Jorgensen (2008:345) as baie betekenisvol vir die kind se psigiese gesondheid beskryf – die voorwaarde is egter dat vergifnis binne die gesinsisteem ʼn prominente rol sal vervul.

3.2.5.2 Vergifnis

Vergifnis is ʼn persoonlike besluit om op ʼn ander persoon te reageer wat ʼn onregverdige daad teenoor die betrokke individu gepleeg het, om die persoon van dit wat hy/sy gedoen het te vrywaar, eerder as om dit teen die persoon te hou of om kwaad te word (Fitzgibbons et al., 2000:9). Volgens Worthington (2003:20) impliseer vergifnis om iemand anders te vergewe wat die persoon onregverdig benadeel het, die oortreding te laat vaar en met die lewe vorentoe te beweeg – dit is dus is ʼn geskenk wat vryheid en liefde behels.

Vergifnis kan nie aan tyd verbonde wees nie (Fitzgibbons et al., 2004:20). Dit wil ook voorkom of vergifnis psigologiese aanpassing en welstand bevorder (McCullough, 2000:53). Die een wat vergewe word, het nie noodwendig nodig om te weet dat die ander persoon hom/haar vergewe nie om terapeutiese waarde daarin

116

te vind nie (Macaskill, 2005:1260) en daar blyk dikwels ook dieper verhoudings te wees waar daar vergifnis plaasgevind het (McCullough, 2000:47).

Vergifnis hou baie geestelike, sielkundige en fisiologiese voordele (Toussant & Jorgensen, 2008:337) asook verhoudingsvoordele in (Enright & Fitzgibbons, 2000:325, Muller-Perrin & Krumrei Mancuso, 2014:235). Daar is waarde daarin om aan vergifnis aandag te skenk tydens berading aangesien die vermoë om te vergewe iets is wat steeds kan verbeter (Klatt & Enright, 2011:25). Om breër perspektief te verkry, denke te kan herraam en empatie te kan betoon, is belangrike meganismes in die proses om uiteindelik ander te kan vergewe (Konstam, 2003:172).

Vergifnis is volgens Davis et al. (2012) nie noodwendig iets wat slegs net aanvaar word as deel van iemand wat hom/haarself as religieus beskou nie, maar dit hang baie van hoe sekere spirituele oortuigings in die persoon geïnkorporeer is af. Dit blyk dus dat ʼn aspek soos gepaste ouerleiding van belang is om hierdie betrokke vaardigheid, asook verskeie verhoudingsinvloede deur ander persone aan te leer.

ʼn Studie wat met adolessente wat mishandel was gedoen is, het getoon dat dié wat oor die vermoë beskik het om te vergewe ʼn laer aanduiding van woede, depressie en aggressiewe gedrag getoon het (Park et al., 2013:2; Enright & Fitzgibbons, 2000:4). Ander studies het getoon dat adolessente ook egskeiding van hul ouers beter hanteer as hul oor die eienskap van vergifnis beskik. Die adolessent beskik ook meer oor hoop as angs terwyl sy/haar psigiese welstand tydens die proses ook positief beïnvloed word aangesien dit verhoudings verbeter (Freedman & Knupp, 2003:135; Enright & Fitzgibbons, 2000:212). Daar is ook aangetoon dat vergifnis effektief vir die terapeutiese proses in die algemeen kan wees (Baskin en Enright, 2004:79).

Om reeds as jongmens te leer wat ware vergifnis impliseer en hoe om dit in die praktyk toe te pas is in die langtermyn vir emosionele en fisiese welstand belangrik

117

(Witvliet et al., 2001:212). In hierdie verband beïnvloed modellering adolessente se vermoë om te vergewe (Morris et al., 2007:380). Kognitiewe vaardighede bevorder vergifnis (McCullough, 2000:46) en vergifnis lei tot meer aanpasbare gedrag. Namate persone dit regkry om te kan vergewe, lei dit dikwels tot die afplatting van aspekte soos angs en woede terwyl aspekte soos eiewaarde en ʼn gevoel van hoop verhoog (Enright & Fitzgibbons, 2000:4). Volgens Worthington (2003:23) is vergifnis noodsaaklik aangesien dit wil voorkom of mense wat vergewe in die algemeen ook fisies meer gesond is.

Volgens Enright (2001:72) se riglyne met betrekking tot vergifnis, is dit nie stappe waardeur die beradene moet beweeg nie, maar eerder bakens as deel van die vergewingsproses. Die manier waarop daar deur die bakens beweeg word, sal van beradene tot beradene verskil aangesien dit wat ten opsigte van vergifnis vereis word van persoon tot persoon sal verskil.

3.2.5.3 Grense

Selfhandhawing as deel van grense word met geesteswelstand en ʼn hoër selfbesef geassosieer (Sarkova, 2013:147). Om selfhandhawend te wees behels om jou gevoelens bekend te maak sonder om ander of jou eie respek aan te tas. Die gedrag val dus tussen aggressiewe gedrag en passiewe gedrag (Miley, 1999:134).

Volgens Resnick (1988:135) kan die volgende akroniem ten opsigte van die benadering tot selfhandhawing gebruik word:

L = Look at rights (Die reg om jou eie opinie te openbaar en ook ander se

opinie aan te hoor, asook die hantering van kritiek).

A = Arrange a time (Besluit oor ʼn tyd om die probleem aan te spreek).

D = Define problems (Definieer die probleem so duidelik as moontlik. Begin die

sin met ‘Ek-boodskappe’, bv. “Ek voel hartseer omdat ...”).

D = Describe feelings (“Ek voel seer gemaak,” eerder as, “Jy het my seer

gemaak.”).

E = Express requests (Beskryf dit wat jy verkies in maklike kort sinne en wees

118

R = Reinforce (Beskryf die voordele wat dit vir beide partye inhou indien die

versoek nagekom word).

Om grense te kan stel is van belang binne alle kontekste van die lewe.

3.2.6 Seksuele trauma

Tydens 2013/2014 was daar 62,649 gevalle van seksuele oortredings aangemeld soos deur die SAPS (2015) se statistieke aangedui. Volgens ʼn artikel deur Health 24 (2015), ervaar elke tweede persoon onder die ouderdom van 18 jaar seksuele trauma, soos deur Childline bekend gemaak.

Kinders en jongmense reageer verskillend op trauma volgens Cohen et al. (2006:5). Wanneer iemand seksueel deur iemand misbruik word wat hulle vertrou om hulle te beskerm, is die gevolge oorweldigend as gevolg van die kompleksiteit van lojaliteit en die geheimenis agter die daad wat so verwronge is (Levine & Kline, 2007:27). Slagoffers van misbruik vind hulself in ʼn vorm van ʼn lewenskrisis, wat behels ʼn krisis van menswees, betekenis en sosiale verhoudings. Dit alles het ʼn effek op die individu se lewensstorie (Landman, 2007:294).

Wat seksuele misbruik van kinders verder ernstig maak, is die feit dat dit die kind se diepste kern en sin van self skade berokken. Een van die gevolge is gewoonlik die ervaring van oorweldigende gevoelens van skuld en skaamte (Levine & Kline, 2007:32).

Dit is gevolglik geweldig belangrik dat die berader die beradene na iemand sou verwys wat goed in die gebied van seksuele misbruik opgelei is indien nodig (Levine & Kline, 2007:33) en dat ʼn professionele persoon verkieslik met betrekking tot die proses van begeleiding betrek sal word (Levine & Kline, 2007:71). Persone wat seksueel misbruik was, is geneig om vriende te kies en sosiaal te verkeer met ander wat soortgelyke ervaringe gehad het, soos byvoorbeeld mishandeling of misbruik tydens kinderjare. Dit kan soms tot herhaling van vorige ervaringe lei (Levine & Kline, 2007:369).

119

In ʼn studie deur Manarino et al. (2012:240) gedoen, is empiries aangetoon dat die volhoubaarheid van ʼn kognitiewe benadering se behandeling oor ʼn tydperk, positief is. Volgens hierdie artikel bestaan ʼn kognitiewe benadering met die getraumatiseerde, uit die volgende fases:

- Die bou van vaardighede en komponente om kinders se affektiewe, gedrag-, biologiese en kognitiewe self-regulering te verbeter, asook die verbetering van ouerskapintervensies ten opsigte van versorgingsvaardighede.

- Die begeleiding van die beradene om tydens ʼn traumatiese ervaring deur

narratiewe ʼn beskrywing van die kognitiewe prosesse van sy/haar persoonlike traumatiese ervaring te gee.

- Afsluiting met ouer-kind sessies.

Algemene simptome van post-traumatiese stresversteuring (PTSV), soos vermydende gedrag, geaffekteerde slaappatrone wat nagmerries insluit, gemoedsimptome en aangetaste funksionering binne sosiale en werksomstandighede, moet deur die berader uitgeken word (Mastakis, 1996:16).

Onverwerkte emosies van verlies en rou soos byvoorbeeld woede, hartseer, hopeloosheid, skuldgevoelens, dissosiasie, depressie, terugflitse en oordrewe skrik- reaksies kom soms ook by die individu, wat trauma ervaar het, voor en hierdie simptome is dikwels soortgelyk aan dié van PTSV (Mills, 2001:197). Slagoffers van trauma gaan gewoonlik ook deur die tipiese roufases van verlies wat ontkenning, woede, skaamte of vrees, depressie en aanvaarding insluit (Mills, 2001:198).

Trauma slagoffers ervaar gewoonlik probleme in hulle interpersoonlike verhoudings. Verhoudings kan in die langtermyn ook ʼn bepalende faktor wees ten opsigte van die vraag of die individu vanaf ʼn slagoffer van die trauma na ʼn

oorlewende van die trauma sal oorbeweeg (Mills, 2001:198). Indien ʼn beradene deur

seksuele trauma bedreig word of dit reeds ervaar het, is die berader eties verplig om dit volgens die kriminele wetgewing van Suid-Afrika aan te meld (Seksuele oortredings en verwante sake; Wet 32 van 2007).

120 3.2.6.1 Verkragting

Suid- Afrika se jeug het ʼn geskiedenis van blootstelling aan hoë vlakke van trauma, hetsy as slagoffers van geweld of as ooggetuies daarvan (Seedat et al., 2004:169; Lockhat & van Niekerk, 2000:292).

Dit is belangrik om vir jongmense wat trauma ervaar het strategieë te leer wat hulle kan help om ontwikkelingsvaardighede te versterk. Vaardighede wat van belang is, is selfbewustheid, hantering van angs, doelwitstelling, selfevaluasie en funksionele selfspraak (Jooste & Maritz, 2014:91).

Adolessente wat verkrag is ervaar in die algemeen angstigheid, is gewoonlik intens getraumatiseer en ervaar ook fisiese pyn. Verder ervaar meisies dikwels die vrees van swangerskap of dat hulle moontlik met seksueel oordraagbare siektes in kontak kon gekom het (Roye & Coonan, 1997:45).

Verkragtings word soms nie aangemeld nie as gevolg van die vrees vir ʼn sosiale stigma en ook die vrees van wat volgende gaan gebeur, onder andere mediese ondersoeke, hofsake, openbare blootstelling, ens. (Poirier, 2002:53). Vroulike adolessente is ʼn hoë risiko vir afspraakverkragting (“date rape”) volgens Poirier (2002:53) en dit blyk ook gereeld binne die konteks van verhoudings plaas te vind (Rickert, Vaughen & Wiemann, 2002:495).

Adolessente toon ʼn unieke vatbaarheid vir laasgenoemde tipe situasies asook afspraakgeweld (“date rape”), en om dit te voorkom moet daar veral op aspekte soos die volgende gefokus word:

- Verminder die kanse van viktimisering en houdings teenoor verhoudings wat geweld bevorder

- Verhoog selfeffektiwiteit - Verminder alkoholmisbruik

121

Verder ervaar meeste adolessente slagoffers van verkragting gevoelens van skuld, skaamte en rou. Hulle is ook daartoe geneig om hulself vir die verkragting te blameer, veral as daar dwelmmiddels betrokke was of indien hulle voor die voorval seksueel aktief was (Poirier, 2002:56). Elke seksuele aanranding het mediese, sosiale en psigologiese implikasies vir die slagoffer en die gemeenskap (Proirier, 2002:57).

3.2.6.2 Molestering

’n Studie wat deur Fergusson et al. (1997:789) gedoen is, het getoon dat adolessente wat as kinders seksueel misbruik is, meer daartoe geneig is om hulself weer in ʼn posisie te plaas waar hul slagoffers van seksuele misbruik kan wees. Daar is ook bevind dat daar ʼn korrelasie tussen seksuele misbruik as kind en seksuele risiko-gedrag as adolessent is.

Beitchman et al. (1992:105) kom tot die gevolgtrekking dat daar ʼn moontlike verband tussen homoseksuele gedrag en molestering kan wees. Sy studie dui ook op ʼn korrelasie tussen molestering, angs en depressie, en by mans veral aggressiewe gedrag (Beitchman et al., 1992:106).

Steyn et al. (2014:1) se studie rakende seksueel misbruikte seuns het getoon dat die volgende simptome by die seuns voorgekom het:

- Probleme met hulle eie seksualiteit - Hulle vind interaksie met ander moeilik

- Hulle worstel met gevoelens van woede en aggressie

- Hulle openbaar self-destruktiewe gedrag en vind dit moeilik om in skoolwerk te presteer.

3.2.6.3 Bloedskande

Bloedskande word met slagoffergedrag later in ʼn misbruikte persoon se lewe geassosieer (Rickert et al., 2002:495). Volgens ʼn studie wat deur Adler en Schitz (1995:817) gedoen is, wil dit voorkom asof die patroon van bloedskande

122

herhaal, aangesien meeste (92% van die steekproef in daardie studie) van die oortreders self slagoffers as kind of jongmens was. Die probleem kom veral na vore wanneer die kind die ouderdom van seksuele bewuswording bereik. Volgens hierdie studie wil dit voorkom asof die meeste oortredings van bloedskande tussen sibbes tussen die ouderdom van 11 tot 14 jaar plaasvind.

Cyr, Wright, McDuff en Perron (2002:957) het ʼn studie gedoen wat getoon het dat die psigologiese gevolge van bloedskande tussen ouer-kind en tussen sibbes dieselfde is, en dat die een nie meer ernstige gevolge as die ander het nie. Om terapeuties met ʼn beradene as die slagoffer van bloedskande te werk, verg in- diepte kennis van bloedskande (Rudd & Herzberger, 1999:915).

Een van die ernstigste gevolge van vader-dogter bloedskande is dat die slagoffer emosioneel verraai voel. As kind ervaar die slagoffer hy/sy word nie beskerm nie en word deur die ouers verraai as die bloedskande tussen sibbes plaasvind (Rudd & Hersberger, 1999:924).

Volgens Rudd en Hersberger (1999:924) ervaar slagoffers van bloedskande gevoelens van hopeloosheid en hierdie studie toon verder dat slegs een vrou vanuit die steekproef aksie teen die misbruik, waarin sy die slagoffer was, kon neem. Die meeste van die ander vroue het wel besef dat hulle geviktimiseer word maar hulle het totaal magteloos gevoel. Hulle het skuldgevoelens as kind ervaar, maar die sterkste emosies wat hulle as volwassene ervaar het, was woede. Die prognose van die groep vroue was egter goed aangesien hulle daarvan bewus was dat die misbruik nie reg was nie en dat hulle ook nie daarvoor verantwoordelik was nie. Hierdie gedagte het gehelp dat hulle in ʼn later stadium orde in hul lewens kon skep en deur groei vorentoe kon beweeg. Vir baie van die slagoffers was dit nodig om byna al hul familiebande te verbreek ten einde die misbruik te kon verwerk. In die langtermyn het hulle die behoefte gehad om na meer positiewe verhoudings uit te reik. Bykomende groepsterapie kan om hierdie rede van groot waarde wees, veral ook omdat die slagoffer in die algemeen geneig is om hom/haarself te isoleer (Rudd & Hersberger, 1999: 962). Langtermyn berading is nodig vir hierdie slagoffers, veral aangesien vertroue skade gely het (Rudd & Herberger, 1999:926). Daar bestaan

123

dikwels ook ʼn korrelasie tussen bloedskande as misbruik, en ouerlike afwesigheid, verwaarlosing en fisiese aanranding (Rudd & Hersberger, 1999:926). Die adolessente oortreders van bloedskande het ʼn betekenisvolle aanduiding gegee dat hulle binne hul gesinne van oorsprong aan verskeie van die volgende faktore blootgestel was:

- Huweliksprobleme - Ouerlike verwerping - Fisiese dissiplinering

- ʼn Negatiewe familie atmosfeer en ontevredenheid met familieverhoudings (Worling, 1995:633).

Worling, (1995:641) kom tot die gevolgtrekking dat fisiese, emosionele en verbale gesinsgeweld asook ʼn geskiedenis van seksuele viktimisering en die beskikbaarheid van ʼn jonger sibbe, dikwels met die ontwikkeling van adolessente sibbe-bloedskande oortredings geassosieer word.

Motiverende faktore wat die bekendmaking van misbruik beperk, blyk onder andere die vrees vir fisiese en emosionele welstand van die self, geliefdes en soms die oortreder te wees (Paine & Hansen, 2002:281).