• No results found

Dit is baie belangrik dat daar duidelike verantwoording ten opsigte van interdissiplinêre interaksie vanuit die aangrensende wetenskappe gedoen word. Binne hierdie hoofstuk is daar na verskeie aangrensende wetenskappe se invloede rakende hierdie studie, wat oor ʼn model wat van Facebook-tegnieke gebruik maak handel, gekyk. Die doelwit van hierdie studie is die daarstelling van ʼn bruikbare model vir pastorale beraders en ʼn baie pertinente aspek van die terapeutiese benadering binne hierdie model sal op aktiwiteite en tegnieke gefokus wees wat in die sosiale netwerk, Facebook, aangewend en toegepas kan word. Facebook is deesdae algemeen aan die gemiddelde jongmens bekend. Hierdie pastorale model sal op ʼn eklektiese benadering gebaseer wees, wat ʼn narratiewe en ʼn kognitiewe benadering insluit en daar word op aspekte van belang vir die geestelike en emosionele groei van jongmense gefokus ten einde uiteindelik goed funksionerende volwassenes te kweek.

Wat die narratiewe benadering betref is die implikasie dat die individu met behulp van ʼn tydlyn en ander komponente van Facebook deur vertelling eksternaliseer en op hierdie wyse die invloede van gebeure en in besonder die trauma in sy/haar lewe ondersoek. Tydens hierdie proses maak die berader van vraestelling gebruik om sodoende eksternalisering te bevorder. Die riglyne vir die vraestelling word deur die komponente verkry wat op Facebook en ʼn profiel wat geskep of gebruik word, gebaseer is. Bykans elke komponent wat op ʼn Facebook-profiel aanwesig is, kan

132

gebruik word met die wanneer, waar en hoe vrae. In hierdie model kan die

Facebook-profiel van die beradene byvoorbeeld effektief as bron en riglyn vir die

vraestelling deur die berader gebruik word.

Herraming en kognitiewe strukturering is van groot belang sodat die storie wat vertel word nuwe betekenis sou kon kry en ʼn ander storie dus ontwikkel. Nuwe maniere van dink en nuwe oortuigings kry geleentheid om te vorm deur die herstelling van gedagtes en die verband tussen gedagtes, gevoelens en gedrag word bepaal. Tydens die vertelling van die individu se verhaal kry hy/sy ook die geleentheid om na sy/haar identiteit te kyk en te verstaan hoe dit gevorm is.

Alhoewel die onderhawige model deur persone van enige ouderdom gebruik sou kon word, is hierdie studie grootliks op jongmense, met die verdere oogmerk van ontwikkeling tot goed funksionerende volwassenes, gemik.

Vanuit hierdie hoofstuk het verder geblyk dat daar ʼn sekere aantal komponente is waaraan aandag gegee sal moet word binne die tersaaklike model ten einde geestelike en emosionele groei by hierdie groep jongmense te bewerkstellig. Voorbeelde hiervan is die volgende:

- Identiteit sluit in dat daar groei ten opsigte van eiewaarde en selfbewuswording sou plaasvind.

- Verhoudings het geblyk van groot belang te wees in die vorming van wie die adolessent is asook vir groei/ontwikkeling en psigiese gesondheid.

- Selfbewuswording is ook van kardinale belang en sluit in groei ten opsigte van emosionele intelligensie, doelwitstelling en toekomsperspektief asook hanterings-vaardighede.

Al hierdie komponente tree in interaksie met mekaar. Adolessensie het geblyk ʼn betekenisvolle tyd vir sosiale en emosionele ontwikkeling te wees en in hierdie opsig vervul die digitale era ʼn pertinente deel van die hedendaagse jongmens se lewenswyse. Om hierdie rede is dit ook toepaslik om in ʼn studie soos hierdie op ʼn model te fokus wat daarvan gebruik maak. Dit is ook belangrik om

133

ontwikkelingsensitiewe modelle te gebruik, dus ʼn model wat vir ʼn spesifieke tyd van ontwikkeling gepas is (Rasmussen, 2012:5)

Binne die voorgestelde model sal daar verder ook spesifiek aandag aan verhoudings geskenk word aangesien verhoudings met psigiese gesondheid korreleer. Aspekte soos ouerleiding, vergifnis en grense is weer van belang wanneer daar op verhoudings gelet word.

Trauma het ook geblyk ʼn belangrike kwessie te wees aangesien dit byna elke individu raak. Binne hierdie model sal daar gevolglik gepoog word om met behulp van Facebook-tegnieke en die gebruik van die voorgestelde terapeutiese benaderings emosionele verwonding en onverwerkte traumatiese ervarings te verlig. Daar sal in hierdie verband aandag aan drie areas rakende seksuele trauma, naamlik verkragting, molestering en bloedskande, geskenk word.

Trauma slagoffers het gewoonlik probleme in hulle interpersoonlike verhoudings en dit beïnvloed ook die vorming van identiteit. Deur die bou van verhoudings en selfbewuswording het geblyk dat daar waarskynlik meer geleentheid is om trauma te kan oorbrug.

Adolessente toon ʼn unieke vatbaarheid vir trauma en in die voorgestelde model sal in besonder op die psigiese en geestelike dimensies van die beradene wat weens trauma benadeel is gefokus word en daar sal ook gepoog word om psigiese en geestelike groei by die individu te bewerkstellig. Indien daar aan die vermelde komponente binne hierdie model gewerk word, word gepoog om daardeur die individu se toekomstige funksionering positief te beïnvloed.

Die voorgestelde model skep ook die moontlikheid vir die aanwending van ʼn selfhelpterapie en persoonlike veryking aangesien dit van terme en tegnieke gebruik sal maak wat aan meeste persone bekend is wat met Facebook vertroud is. Wanneer die riglyne soos aan die beradene voorgestel, nagekom word, sou dit emosionele en geestelike groei by meeste individue wat dit sou toepas kon bevorder.

134

Die geleentheid sou ook daar wees vir ʼn student met tegniese bekwaamhede, om ʼn

toepassing (application) of program te ontwerp waarvolgens gewerk kan word. In

sulke gevalle sal daar dus kommunikasie deur middel van die tegniese program (toepassing) tussen die berader en beradene wees, of net die gebruik van die

135

AFDELING C: DIE NORMATIEWE TAAK

HOOFSTUK 4

BELANGRIKE BYBELSE PERSPEKTIEWE AAN DIE HAND

VAN ‘N AANTAL TERSAAKLIKE SKRIFGEDEELTES

4.1 INLEIDING

Richard Osmer (2008:4-29) interpreteer Praktiese Teologie met betrekking tot vier verskillende take, soos gemeld in hoofstuk 1. Met betrekking tot die normatiewe taak, wat in hierdie hoofstuk aan die orde is, is die volgende vraag ter sake: “Wat

behoort te gebeur?”

Die drie elemente wat figureer binne die normatiewe taak soos deur Osmer gestel (2008:8), lyk soos volg:

- Die eerste element behels die teologiese refleksiestyl waarbinne teologiese konsepte gebruik en geïnterpreteer word. Dit word gebruik volgens sekere episodes, situasies en kontekste in die lig van vrae soos die volgende: Wat weet ons van God? Hoe tree God gewoonlik op? Wat is die mens se tipiese reaksie patroon hierop?

- Etiese beginsels hou verband met die tweede beginsel. Dit gaan oor die reëls en riglyne wat toepaslik is op spesifieke situasies en ook rigtinggewend vir strategieë en sekere aksies.

- Die derde element behels die ondersoekte ervaringe van Christelike tradisies van die verlede en hede wat eksegetiese rigting kan gee rakende die vorming van patrone van ʼn Christelike lewe.

136

Die normatiewe taak hou verder verband met die verhale van God se mense wat in die Skrif vervat is waar God se mense Sy aksies van die verlede herroep en ook moontlike toekomstige aksies van God beskryf wat die mens in die toekoms kan antisipeer van hoe God mag optree (De Klerk en van Rensburg, 2005:3). Binne ʼn pastorale model hou die normatiewe aspek verband met die interpretasie van Bybelse norme, waardes en kriteria van mense se optredes (Osmer, 2008:4). Dit behels ook die ondersoek van teologiese vertrekpunte vanuit die Skrif. Die Skrif is die basis van alle geloof en gaan oor God se verlossingswerk (Venter, 1993:247). Die Skrif is die hoofbron waaruit beraad word en is getuie van God se groot dade met Sy mense en deur die Heilige Gees word daar onderrig, begelei en gefasiliteer (De Klerk & van Rensburg, 2005:3).

In die volgende vloeidiagram is die normatiewe taak onderstreep, soos deur Osmer (2008:28-29) voorgestel:

4.2 DOELSTELLING

Teologiese beginsels word gebruik om gebeure te interpreteer volgens Osmer (2008:4). Met betrekking tot die tema van hierdie studie gaan dit vervolgens in hierdie hoofstuk belangrik wees om spesifieke riglyne te identifiseer vanuit die Skrif rakende identiteit, verhoudings en trauma of emosionele verwonding, om sodoende doelwitte ten opsigte van die normatiewe taak te stel.

Beskrywende empiriese taak Pragmatiese taak Interpreterende taak Normatiewe taak

137

Soos in hoofstuk 1 vermeld, is daar vervolgens drie Skifgedeeltes geïdentifiseer wat as basiese vertrekpunt gebruik sal word om uiteindelik ʼn antwoord te formuleer op die vraag van Osmer (2008:28) “Wat behoort hier te gebeur?” Die doel is om etiese kwessies te stel met die oog op vernuwing van die praksis, geloofsvernuwing en verdieping van spiritualiteit. Skrifgedeeltes wat aan die orde gestel sal word, is die volgende: Galasiërs 5:22-23, Psalm 113:7-8 en Johannes 1:12.