• No results found

3.2 OOGMERKE VAN HIERDIE HOOFSTUK

3.2.4 Identiteit

3.2.4.3 Identiteit en psigiese welstand

Identiteit korreleer met psigiese gesondheid en beter akademiese prestasie (Wakefield & Hudley, 2007:152). Studies het bewys dat daar ʼn korrelasie tussen enersyds aspekte soos die ervaring van sin en betekenis in die lewe, positiewe lewenseffek, selfrespek, selfkonsep, positiewe lewenservaring en psigologiese welstand, en andersyds spirituele welstand is (Sarkova et al., 2013:153).

 Eiewaarde

Die idee van ʼn selfwaarde is baie vaag en word soms dieselfde as selfbesef gesien, wat hand aan hand met selfvertroue en respek vir die self gaan (Ferkany, 2009: 263). Ferkany (2009:266) is van mening dat ʼn persoon se selfagting interafhanklik van selfbesef, selfvertroue, en erkenning asook selfrespek is. Volgens die outeur is selfrespek wanneer die mens sy morele status as ʼn persoon erken en ʼn persoon se selfwaarde is dus ʼn werking van die bogenoemde kenmerke en hou met die manier waarop die persoon hom/haarself evalueer verband. Die verlies aan eiewaarde/selfbeeld hou volgens May (1950:179) weer dikwels met ʼn aspek soos angs verband.

111

Vir die beradene om oor die verlede en vorige ervaringe te praat, skep geleentheid vir ʼn hoopvolle toekoms vir hom/haarself (Frost, 2003:2007). Die aksie van vertelling kan die emosioneel verwonde beradene help om weer heel te word en in die proses ook weer selfvertroue te bou. Die handhawing van interpersoonlike verhoudings, om weer eiewaarde te ontdek en die hantering van toekomstige seer, is ook van belang (Frost, 2003:204). Die komponente binne die voorgestelde model binne hierdie studie oorvleuel soms met mekaar en is meestal interafhanklik van mekaar soos ook in ʼn mate deur Frost (2003:204) bevestig.

 Selfbewuswording

Selfbewuswording word bereik deur die ondervraging en gesprekvoering tussen die berader en beradene. Die voorgestelde model (sal in detail in hoofstuk 6 bespreek word) gee riglyne vir ondervraging wat in die proses van eksternalisering, selfbewuswording versterk.

Volgens Mackewn (1997:113) is bewuswording om kennis te neem, te erken en in kontak met die psigiese, fisiese, emosionele en spirituele dele van die self te wees. Om hiervan bewus te raak impliseer om te groei. Selfbewuswording is ook wanneer persone betekenis in hul ervarings vind en ook hulself en hul behoeftes verstaan. Om die self te kan reguleer en betekenis daaraan te koppel, is verder deel van selfbewuswording. Mense wat van hulself bewus is, is ook meer daartoe geneig om eerlik met hulself te wees en is ook meer vaardig om hul doelwitte, waardes en drome te verstaan (Coleman et al., 2002:55).

Selfbewuswording sluit verder ook aspekte soos emosionele intelligensie, doelwitte en toekomsperspektief asook hanteringsvaardighede, waarop vervolgens kortliks gefokus word, in.

 Emosionele intelligensie

Emosionele intelligensie verwys na die kapasiteit om jou eie en ander se emosies te identifiseer, te verstaan, uit te druk en te bestuur (Mayer & Salovey, 1997:i). Een van die fasette van emosionele intelligensie is die kapasiteit van die individu om

112

emosies in ander te kan erken (DeBusk & Austin, 2011:764). Emosionele persepsie is ʼn betekenisvolle vaardigheid wat die vaardigheid van die individu is om sy sosiale omgewing te kan waarneem (DeBusk & Austin, 2011:764).

Coleman et al. (2004:131) se studie het getoon dat enige program wat uitgevoer word en wat groei en emosionele intelligensie bevorder, is wenslik en van groot waarde. Selfkennis en om van die self bewus te wees, is van die basiese hoekstene van emosionele intelligensie (Coleman et al., 2002:55). Emosionele intelligensie kan verder as die vermoë om van emosionele ervaringe bewus te wees en dit aan ander te kan kommunikeer beskryf word. Hierdie proses het dan weer ʼn effek op verhoudings en dit beïnvloed ook weer die wyse waarop individue hulself sien (Kennedy-Moore & Watson, 2000:301).

Wanneer beradenes in kontak met hulle emosionele ervaringe is, word daar op gedagtes en gevoelens na binne gefokus wat die geleentheid bied om hul gevoelens te evalueer en nuwe betekenis daaraan te gee (Kennedy-Moore, 2001:195). In hierdie opsig is kognitiewe gedragsterapie dus baie toepaslik.

Die hantering van emosies kan ʼn individu se welstand bevorder indien die nodige insig versterk word (Kennedy-Moore, 2001:198). Om emosies korrek te kan uitdruk en bestuur bevorder ook selfaanvaarding en sosiale verhoudings (Kennedy- Moore, 2001:205). Balans is baie belangrik as dit by emosionele gedrag kom en daarom is balans ʼn belangrike vaardigheid om oor te beskik (Kennedy-Moore & Watson, 2000:301).

Mentorskap deur ʼn volwasse persoon speel ʼn deurslaggewende rol met betrekking tot jongmense aangesien hulle emosionele sterkte benodig om sterk, ondersteunende vriendskappe te vorm en dit kan deur die rol van ʼn volwasse begeleier versterk word (Stanton-Salazar & Spina, 2005:413). Hierdie komponent is met ander woorde ook interafhanklik van die ander komponente, soos verhoudings, in die voorgestelde model. Berading en emosionele mentorskap speel dus ook ʼn baie belangrike rol in die bevordering van emosionele groei.

113

ʼn Studie wat deur (Kotsou et al., 2011:827) gedoen is, het aangetoon dat emosionele intelligensie wel later aangeleer kan word en dat dit volhoubaar vir ten minste een jaar kan wees. Die studie het ook bewys dat daar definitiewe voordele daarin opgesluit is om emosioneel intelligent te wees en dat dit die betrokke persoon se funksionering en verhoudings positief kan bevorder. Dit korreleer ook met die persoon se algemene welstand asook ʼn hoër selfbesef (Schutte et al., 2002:781) en dit wil verder ook voorkom asof persone met hoë emosionele intelligensie stresvolle lewensituasies beter hanteer (Mikolajczak et al., 2008:1364). Samevattend kan gestel word dat emosionele intelligensie besonder betekenisvol vir geestesgesondheid, wat verhoudingskwaliteit, sosiale aanpassing asook fisieke gesondheid insluit, is (Kotsou et al., 2011:833).

 Doelwitte en toekomsperspektief

Om oor ʼn doelwit te beskik, skep ʼn gevoel dat jy betekenis het om te lewe. Dit skep die gevoel dat die lewe meer is as net iets om te oorleef (Frankl, 1984:98). Dit is ʼn belangrike kenmerk van die menslike denkrigting en gedrag om oor toekomsoriëntasie te beskik (Seginer & Shoyer, 2012). Die sielkunde beklemtoon die belang van toekomsoriëntasie vir psigologiese welstand (Nurmi & Salmelo- Aro, 2002:409). Studies het ook getoon dat doelwitte met die mens se psigologiese welstand verband hou (Yamagichi & Halberstadt, 2012:7).

 Hanteringsvaardighede

Groei vind deur middel van hanteringsvaardighede plaas (Mishara & Ystgaard, 2006:112). Hanteringsvaardighede verwys na kognitiewe en gedragspogings wat gebruik word om eksterne en interne verwagtinge en konflik te bemeester, te verdra en te verminder (Folkman & Lazarus, 1980:223).

Balans word as ʼn vaardigheid beskou. Balans is ʼn belangrike komponent in funksionering, soos in ʼn studie rakende leierskap bewys. Die effektiwiteit van die deelnemers was grootliks deur die handhawing van interpersoonlike verhoudings en ook die vaardigheid om emosies te reguleer beïnvloed. Om jouself goed te ken

114

en van jouself bewus te wees, is in hierdie studie as ʼn belangrike komponent vir leierskap uitgewys en dit sluit by die vooraf gemelde komponente aan (Pienaar, 2009:139).

Hanteringsvaardighede is bronne wat individue in staat stel om stressors effektief te hanteer en vervolgens minder simptome daarvan te ervaar as daar blootstelling daaraan was. Die volgende word byvoorbeeld as terreine beskou waarop ʼn persoon, met betrekking tot hanteringsbronne, toegerus kan wees: kognitief-sosiaal, emosioneel, spiritueel/filosofies en fisies (Kaplin & Saccuzzo, 2009:476). Hierdie aspekte en terreine is dus van belang wanneer verhoudings met ander ter sprake is. Humor word ook as ʼn hanteringsvaardigheid beskou en dit is ook ʼn aspek wat effektief tydens berading hanteer kan word (Camilo, 2008:197). Volgens Frankl (1984:63) is humor van groot waarde vir oorlewing en selfhandhawing.