• No results found

Wat volg is ʼn kort opsomming van wat in elke hoofstuk aan bod sal kom.

Die eerste hoofstuk dien as kaart vir die leser van hoe om hierdie betoog te benader. Die tema van die nomadiese subjektiwiteit en die uitbeelding daarvan in moderne Suid-Afrikaanse prosa word in hierdie inleidende hoofstuk opgestel as die onderwerp (sic) van die proefskrif.

Die eerste afdeling begin met hoofstuk 2 wat hoofsaaklik konsentreer op plato 12 in A

Thousand Plateaus: “Treatise on Nomadology: – The War Machine”. Hierdie hoofstuk

bespreek die proses van hoe die verteller in Strachan se ʼn Wêreld sonder grense beweeg as nomadiese subjek binne die oorlogmasjien. Hy word opgeneem in die oorlogmasjien van die Staat, die recces, en ondervind ʼn reeks de- en reterritorialisasies wat hom vanuit die kerngesin na die vryer en vloeiende bestaanswyse van die oorlogmasjien laat beweeg. Hierdie hoofstuk verduidelik die prosesse van die oorlogmasjien en gebruik ʼn voorlopige, vereenvoudigde beskrywing van die nomadiese subjek om hierdie bundel verhaal vir verhaal te analiseer as ʼn reeks plato’s wat die subjektiveringsprosesse van ʼn nomadiese subjek uitbeeld.

Omdat dit die eerste toepassing van skisoanalise op ʼn teks in hierdie studie is, sien ek hierdie hoofstuk tot ʼn mate as ʼn tweede inleidende hoofstuk, en word verskeie konsepte bekendgestel maar nie ten volle ontwikkel nie. Alhoewel die konsep van die oorlogmasjien in detail verduidelik word, dien die hoofstuk ook as ʼn eerste verkenning

van hoe omgegaan sal word met die tekste van Strachan, Breytenbach en Deleuze/Guattari in die verloop van die studie.

In die derde hoofstuk word veral gefokus op plato’s 3, 5 en 6 in A Thousand Plateaus wat onderskeidelik handel oor die verskillende tekenregimes en die konsep van die Liggaam sonder Organe. Die jakkalsjagter word geanaliseer vanuit die idee dat subjektivering ʼn deel van ʼn spesifieke semiotiek sowel as ʼn normaliseringsproses is en dat die hoofkarakter, Lenka, se subjektiwiteit ʼn veelvoudigheid word deur sigself te laat beweeg oor ʼn Liggaam sonder Organe. Die verskil tussen die Deleuziaanse tydskonsepte van Aion en Kronos kom ook ter sprake en dit word aangedui hoe die nomadiese subjek binne Aion beweeg.

Hoofstuk 4 fokus op die idees vervat in plato 2, “One or Several Wolves” en plato 10, “Becoming-Intense, Becoming-Animal, Becoming-Imperceptible ...”, wat ʼn nuwe lesing van Die werfbobbejaan moontlik maak. Die roman word in hierdie hoofstuk bespreek as ʼn uitbeelding van die voortdurende wordingsproses van die nomadiese subjek. Die hoofstuk fokus op ʼn karakter wat die teks ontsnap in ʼn wordende-onmerkbaarheid, ʼn karakter wat weier om ʼn gestratifiseerde subjek in die romanteks, sowel as die biografieteks wat die romanteks beskryf, te word. In hierdie hoofstuk word, behalwe die konsep van wording, ook die konsep van die konsistensievlak bespreek. Deleuze/Guattari se konseptualisering van die figuur van die towenaar en die dier en wordende-vrou van die subjek, die subjek as ʼn veelvoudigheid of trop, dien as basis vir die bespreking. Die dier en subjek as trop, die skrywer as towenaar, die verbande tussen wording, verraad en besmetting, die konsep van die anomalie, die ditheid of haeccity, die verskil tussen molêre en molekulêre bestaanswyses en die aard van die minderheid as bestaanswyse, word alles bespreek in hierdie hoofstuk om uiteindelik uit te kom by die kwessie van biografieskrywing as ʼn wording op sigself.

Afdeling 1, wat handel oor die werk van Strachan, eindig dus met die kwessie van skryf en taal. Juis hierdie aspekte vorm die kern van die tweede afdeling oor Breytenbach: hoe om te skryf om hierdie nomade op papier uit te beeld – of hoe om die strata aan te val op

papier. Die eerste afdeling sluit af met die bespreking van die skryf van ʼn fiktiewe biografie en die tweede afdeling behandel vervolgens Breytenbach se outobiografiese geskrifte.

Afdeling 2 begin met hoofstuk 5 wat fokus op die konsepte wat vervat is in plato 11, “Of the Refrain”, maar maak ook van talle ander bronne gebruik, waaronder die werk van James Olney, Beckett, Barthes, Derrida, De Man en Iain Chambers. Hierdie hoofstuk bou voort op die deurlopende vraag na die aard en bestaanswyse van die nomadiese subjektiwiteit in literêre tekste. In hierdie geval word Breytenbach se ʼn Seisoen in die

paradys en Dog Heart betrek in die bespreking van die nomadiese subjek se ervaring van

ʼn tuiste, in die leefwêreld sowel as die subjektiwiteit self as heenkome. ʼn Beduidende persentasie van die bespreking word gewy aan die kwessie van die skryf van ʼn outobiografie binne hierdie bepaalde verstaan van subjektiwiteit. Die werk van nie alleen Deleuze/Guattari nie, maar ook van Olney oor Beckett en die outobiografie van Barthes word hier betrek. Die bespreking begin met ʼn verduideliking van die konsep ‘refrein’ binne ʼn skisoanalitiese raamwerk. Die konsepte van die territorium, territoriale versamelings, milieus, melodiese landskappe, styl en ritmes word bespreek as deel van ʼn wyer netwerk of diagram van denkinstrumente wat deur middel van bepaalde konneksies ʼn diagram van die nomadiese subjek begin daarstel. Ook die konsep van styl word aangedui as ʼn konstituerende onderdeel van die proses van subjekvorming. Die self as ʼn bepaalde styl of stel gewoontes vorm ʼn belangrike tema in die hoofstuk. Deleuze se konseptualisering van herhaling en verskil word ook hier van belang. Die kwessie van die refrein as klankmetafoor vir die unieke tuiste- of territoriumskepping van die nomade bly egter die sentrum waarrondom hierdie hoofstuk wentel.

In die besinning oor outobiografie word die kwessie van outobiografie as genre, die Derridiaanse konseptualisering van die handtekening (via Derrida se lees van Nietzsche se Ecce Homo) en De Man se idee dat outobiografie eerder ʼn stylfiguur as genre is, in verband gebring met die outobiografiese werke van twee nomadiese skrywers, naamlik Beckett en Barthes. Ook Barthes se denke rondom fotografie word betrek wanneer die werk van Breytenbach aan bod kom en die foto voor in ʼn Seisoen in die paradys bespreek

word. Hoe Breytenbach sy territorium skryf, die kwessie van enige ‘Afrika-identiteit’, Breytenbach se bekende aanspraak op basterskap, die fabrikasie van ʼn eie geskiedenis en die voorlopigheid van sowel ʼn tuiste en ʼn identiteit word deur die verloop van die hoofstuk bygehaal. Uiteindelik stuur die hoofstuk in die rigting van die idee van die ‘groot refrein’ – die oopmaak van die subjek na die grensloosheid van veelvoudigheid wat Deleuze/Guattari die ‘kosmos’ noem. Die hoofstuk wys op ʼn spesifieke vorm van selfskrywing wat ʼn grensbestaan verbeeld, ʼn bestaan wat nooit gestratifiseer word nie. Hoofstuk 6 maak hoofsaaklik gebruik van die idees in plato’s 9 en 13 in A Thousand

Plateaus wat handel oor die werking van die Staatsaparatuur. Die werk van Foucault,

veral sy Discipline and Punish, vorm ook ʼn beduidende deel van die argument. Aan die hand van Breytenbach se The True Confessions of an Albino Terrorist en Return to

Paradise word die konsepte van rigiede en soepel gesegmenteerdheid, die taktieke van

mikro- en makropolitiek binne die Staataparatuur en die regimes van geweld binne die Staat bespreek. Die hoofstuk bied ook ʼn bondige opsomming van Deleuze/Guattari se unieke konseptualisering van die totstandkoming van die moderne Staat. ʼn Afdeling van die hoofstuk word verder gewy aan die onderwerpingstegnieke van die Staat wat die mens tot talige en dissiplinêre onderwerp wil vorm. Hier sal die werk van Foucault betrek word. Hierna word die wordende-minderheid as die bestaanskeuse van die nomadiese subjek bespreek, hoe die nomadiese subjek aan die Staat ontsnap deur sy subjektiwiteit so onmerkbaar en onklassifiseerbaar moontlik te maak. Naamgewing en klassifikasie, die kenbaarheid van die subjek, sowel as die konstantheid en analiseerbaarheid van die cartesiaanse ego word uitgewys as die vangsmeganismes van die Staat. Die selfskrywing as skulderkentenis aan die Staat word volgende bespreek. Hier word ook bepaalde tegnieke van weerstand bespreek: wyses hoe die self sigself kan skryf sonder om vir die Staat enige vatplek te bied. Die onderskeid tussen molêre en molekulêre magsentrums word gemaak, waarna die tronk as molekulêre magsentrum bespreek word. Ook hier sal swaar op die werk van Foucault gesteun word. Uiteindelik word Breytenbach se selfskrywinge gebruik om aan te dui hoe sy outobiografieë die mikrostrukture van mag beskryf en ontleed, sonder om daarin opgeneem te word.

Hoofstuk 7 bied ʼn sameknoping van al ses besprekings. Hierdie hoofstuk handel oor die skryfproses self. Daar sal gekyk word hoe die nomadiese self as skrywer met taal kan omgaan op ʼn nomadiese wyse. Die denkinstrumente van die risoom en die mineur- en majeur-aanwendings van taal word gebruik om Breytenbach se Woordwerk op ʼn skryftegniese vlak te ontleed. Veral plato 1 in A Thousand Plateaus, “Rhizome”, en Deleuze/Guattari se Kafka: Towards a Minor Literature, word hier gebruik, alhoewel die meeste van die konsepte, verbindings en tegnieke wat in die vorige hoofstukke bespreek is, weer hier bygehaal word. Wat is ʼn risoomboek?, is die vraag waarmee die hoofstuk open. Deleuze/Guattari se idee dat taal nie in die eerste plek kommunikatief is nie, maak die deur oop vir ʼn uitgebreide bespreking oor die skisoanaliste se aanspraak op die voorkeur van ʼn pragmatiese taalfilosofie waar enige dualiteit tussen intrinsieke en ekstrinsieke elemente van taal tot onsin gemaak word. Verder word die verwikkelde verhouding tussen inhoud en uitdrukking bespreek. Die verskille tussen mineur- en majeurletterkundes word verduidelik, waarna die politieke implikasies van beide skryfwyses bespreek word. Hierna word gefokus op die aard van die mineurletterkunde en meer spesifiek Woordwerk as voorbeeld hiervan. Vervolgens word die idee van die mineurletterkunde as ʼn rewolusionêre mag bespreek. Die laaste gedeelte van die studie is ʼn bespreking van die tegnieke wat Breytenbach in Woordwerk aanwend om in die mineurtoon taal te komponeer, hoe hierdie tegnieke binne taal dit moontlik maak vir letterkunde om soos die nomadiese subjek ook risoomagtig te word – ʼn veelvoudigheid binne ʼn verwikkelde kosmos waar konkrete verbindings met die werklikheid gemaak word en die boek, soos die self, in direkte kontak verkeer met dit buite sigself, juis omdat dit as ʼn kollektiewe montage funksioneer.

In die laaste hoofstuk dui ek aan dat die teorie van Deleuze/Guattari, alhoewel dit in hierdie proefskrif baie vereenvoudigd aangebied is, nie alleen subjektiwiteit anders verstaan as wat tot op hede in veral die Afrikaanse literêrteoretiese kringe opgelet is nie, maar dat hierdie skisoanalitiese verstaan van subjektiwiteit belangrike implikasies en moontlikhede inhou vir die lees en analiseer van tekste, en veral ook vir die skep van ʼn bepaalde, rewolusionêre vorm van letterkunde.

HOOFSTUK 2