• No results found

SONDER ORGANE TE MAAK

3.2. Die Liggaam sonder Organe (LsO)

3.2.2. Die organisme

Om die aard van die organisme te bespreek, moet weereens teruggekeer word na Artaud, die profeet van die LsO. Volgens Deleuze/Guattari (2003b: 158) is daar ʼn verband tussen Artaud se Heliogabalus en Spinoza se oeuvre, in die sin dat daar in beide aangedui word dat anargie en eenheid een en dieselfde ding is. Hier word volgens Deleuze/Guattari nie verwys na die eenheid van die Een nie, maar die eenheid wat alleen in ʼn veelvoudigheid bereik kan word. Die werk van Artaud, Heliogabalus (1933), ʼn gefiksionaliseerde biografie van die derde-eeuse Romeinse keiser, beskryf die veelvoudigheid van ʼn nomadiese subjek, die veelvoudigheid van versmelting op die konsistensievlak. Dit is ʼn uitbeelding van bestaanwyses as geproduseerde intensiteite, vibrasies, asemteue:

A strange rhythm punctuates the cruelty of Heliogabalus; this initiate does everything with art and everything in pairs. I mean that he does everything on two levels. Each of his gestures is double-edged. Order, Disorder Unity, Anarchy Poetry, Dissonance Rhythm, Discord Grandeur, Childishness Generosity, Cruelty

From the top of the newly erected towers of his temple of the Pythian god, he throws wheat and male members.

He feeds a castrated people (Artaud 1988: 326-327).

Hierdie werk wys vir Deleuze/Guattari (2003b: 158) op die onmoontlikheid om die wêreld van gekroonde anargie (die subtitel van die werk is The Anarchist Crowned) of nomadiese distribusies te bereik indien daar nie verder as die organe gegaan word nie. Dit is nie moontlik om te funksioneer as ʼn nomadiese subjek as jy geslote bly binne die organisme, of binne die stratum wat vloeiinge blokkeer en hulle anker in die wêreld nie. Soos Artaud (1988: 328) dit stel:

Everywhere amplitude, excess, abundance, immoderateness. The purest generosity and pity, which come to counterbalance a spasmodic cruelty.

Vir Heliogabalus is daar geen rus nie, hy vlug voortdurend tussen die twee pole, hy vlug voor sy eie organisme, hy wil homself meer as een maak, veelvoudig. Hy is die ‘frenetiese individualis’ (Artaud 1988: 332) in ʼn toestand van ‘poëtiese anargie’ (Artaud 1988: 331), maar altyd binne die veelvoudigheid van anargie:

Because from hour to hour, from dish to dish, from house to house, and from orientation to orientation, Heliogabalus is in constant movement (1988: 330).

Alhoewel ʼn vergelyking tussen die twee figure nie op alle vlakke toelaatbaar is nie, kan dit tog hier aangedui word dat daar ʼn ooreenkoms tussen Heliogabalus en Strachan se Lenka is. Lenka is ook op vlug voor sy eie konstitusie as organisme, as subjek: hy maak homself veelvoudig. Die teks vermenigvuldig hom totdat hy nie meer alleen Lenka is nie, nie meer alleen ʼn man, nie meer alleen ʼn mens is nie. Soos die jakkals bly hy uiteindelik ontwykend, word hy jakkals en jakkalsjagter. Juis hierin lê die karakter se ontwykendheid, in die skynbare paradoks dat hy die een is wat homself jag, maar dat hy ook in gelyke mate die een is op wie jag gemaak word. Hy is prooi sowel as jagter, en meer as dit is hy ook in ʼn radikale sin die jagproses self.

Bogenoemde opmerking oor Die jakkalsjagter, dat die teks jag maak op die ontwykende identiteit van Lenka, dat Lenka homself, sy self, jag, is reeds deur ander kritici gemaak. Hans Ester (1991) wys byvoorbeeld op die ontwykendheid van die karakter. Tom Gouws (1990) wys op die “psigoseksuele soeke na geestelike individuasie” in die teks, en H.P. van Coller (vgl. 1991,1994, 1999) en J.P. Smuts (1993: 44) lê klem op die psigologiese

en spesifiek Freudiaanse individuasieproses wat in die teks raakgelees sou kon word. Ook J.C Kannemeyer (2005: 653) wys op die “onsekerheid oor ʼn duidelike identiteit” wat die teks uitbeeld. Heilna du Plooy (1993: 58) sien weer in die teks die “noodsaak van ʼn karakter om sy eie verhaal te ken”. Die denkinstrumente van Deleuze/Guattari wat in hierdie hoofstuk aangebied word, maak dit vir my moontlik om my lesing van die teks in ʼn ander en nuwe rigting te stuur.

Voordat daar op die romanteks gefokus kan word, is daar egter nog enkele aspekte van die LsO wat uitgelig moet word. Dit word duidelik dat die LsO nie die teenoorgestelde van die organe is nie. Die organe is nie sy vyande nie. Die vyand is die organisme. Die LsO is nie gekant teen die organe nie, maar teen die organisasie van die organe, wat die organisme genoem word. Deleuze/Guattari ontken nie dat in Artaud se werk ʼn stryd met die organe opgemerk kan word nie, maar volgens hulle is dit waarteen hy in werklikheid gekant is, die organisme. In hierdie konteks haal Deleuze/Guattari (2003b: 158) ʼn vertaling van Artaud se ‘The body is the body’ aan:

The body is the body. Alone it stands. And in no need of organs. Organism it never is. Organisms are the enemies of the body.

In To Have Done with the Judgment of God, stel hy dit meer poëties:

the internal nothingness of my self

which is night, nothingness, thoughtlessness,

but which is explosive affirmation that there is something to make room for:

my body (Artaud 1988: 565).

Die vyand is dus die organiese organisasie van die organe. Die oordeel van God, die sisteem van die oordeel van God, die teologiese sisteem, dit alles is presies hoe God (Hy-wat-ʼn-organisme-maak) opereer. Daar is ʼn organisasie van die organisme omdat Hy nie

die LsO kan verdra nie, omdat Hy dit agtervolg en uitmekaarskeur sodat Hy eerste kan wees, en die organisme eerste kan besit. Die organisme is dus altyd alreeds juis dit: die oordeel van God (Deleuze & Guattari 2003b: 158-159).

Die organisme is hoegenaamd nie die liggaam, die LsO nie; dit is eerder ʼn stratum op die LsO, met ander woorde ʼn fenomeen van akkumulasie, stolling en sedimentasie wat, om bruikbare arbeid uit die LsO te trek, daarop vorms, funksies, verbande, dominante en gehiërargiseerde organisasies en georganiseerde transendensies afdwing. Die strata is boeie en knypers. Die strata is martelinstrumente (2003b: 159).

Deleuze/Guattari wys op ʼn konkrete voorbeeld waar ʼn organisme die liggaam van ʼn ystersmid oorval deur die masjinistiese versameling wat dit stratifiseer. Om hierdie stratifikasie te illustreer, haal Deleuze/Guattari (2003b: 41) aan uit Marcel Griaule se

Dieu d’eau waarin, volgens Deleuze/Guattari, beskryf word hoe die organisasie van ʼn

organisme as’t ware die smid oorval:

The shock of the hammer and the anvil broke his arms and legs at the elbows and knees, which until that moment he had not possessed. In this way, he received the articulations specific to the new human form that was to spread across the earth, a form dedicated to work. … His arm became folded with a view to work.

Ons word voortdurend gestratifiseer. Maar wie is hierdie ‘ons’, aangesien die subjek net soveel as die organisme behoort aan en tot ʼn stratum? Die antwoord is dat die LsO juis daardie gletseragtige realiteit is waarop die opdrifsels, sedimentasies, stollings, vouinge en teruglope wat ʼn organisme – en so ook betekening en die subjek – komponeer, beweeg (2003b: 159).

Die Liggaam sonder Organe gil: ‘Hulle het van my ʼn organisme gemaak!’ ‘Hulle het my verkeerd gevou!’ ‘Hulle het my liggaam gesteel!’ Die oordeel van God ontwortel dit van sy immanensie en maak daarvan ʼn organisme, ʼn betekening (signification), ʼn subjek. Dit is die LsO wat gestratifiseer word. Dit swaai tussen twee pole, tussen die oppervlaktes van stratifikasie waarin dit teruggevou is en waarop dit wag op die oordeel aan die een kant, en die konsistensievlak waarin dit ontplooi en oopgemaak word vir eksperimentasie

aan die ander kant. Die LsO is ʼn grens wat nooit bereik word nie, aangesien dit altyd tussen strata bestaan, en omdat daar agter elke stratum, daarin gegiet, altyd nog ʼn stratum is. Talle strata en nie alleen ʼn organisme nie, is nodig vir die maak van die Oordeel van God. Daar is ʼn voortdurende en gewelddadige stryd tussen die konsistensievlak, wat die LsO bevry, wat oor die strata beweeg en hulle aftakel, en die oppervlaktes van stratifikasie wat dit blokkeer en laat terugvou (2003b: 159).

Die drie strata wat hier van belang is, is die drie wat die liggaam die meeste bind: die organisme (as ʼn oppervlak), betekening (as ʼn hoek van betekening en interpretasie) en subjektivering (as ʼn punt). Jy sal georganiseer word, jy sal ʼn organisme word, jy sal jou liggaam artikuleer – anders is jy karakterloos. Jy sal betekende en betekenaar wees, interpreteerder en geïnterpreteerde – anders is jy bloot ʼn pervert. Jy sal ʼn subjek wees, vasgespyker aan die kruis van die self, ʼn subjek van die uiting teruggevou tot ʼn subjek van die stelling – anders is jy net ʼn boemelaar (2003b: 159).

Lenka se outsiderskap, ʼn tema wat dikwels in besprekings van die teks opgemerk word, is ten nouste verbind met hierdie oproep om ʼn organisme te word. As gekyk sou word na klassieke werke uit die Eksistenialistiese beweging, miskien veral Camus se L’Etranger (1942) en Sartre se La Nausée (1938), sal dieselfde oproep gehoor word, en so ook dieselfde verontagsaming daarvan. Hierdie weiering om gehoor te gee aan die oproep om ʼn organisme te wees, om ʼn interpreteerbare en interpreterende subjek te wees, is juis wat die nomadiese subjek na buite skuif, na ʼn posisie van outsiderskap. Die radikale karakterloosheid van Lenka, sy weiering om as eenduidige karakter geartikuleer te word in die teks, is juis die sentrale problematiek in hierdie bespreking.

Deleuze/Guattari (2003B: 2003b: 159) voer verder aan dat die LsO disartikulasie van die strata as geheel bring, dat dit eksperimentering as die operasie op die konsistensievlak (sonder enige betekenaar – moet nooit interpreteer nie!) bring en nomadisme as die beweging daaroor (hou aan beweeg, selfs op die plek, moet nooit stop nie, ʼn beweginglose reis, ʼn proses van desubjektivering).

Dit het uit die bostaande bespreking geblyk hoe die beelde van die LsO, die strata en die organisme op verwikkelde wyses ineenpas. Reeds aan die begin van die bespreking is dit genoem dat die drie strata wat die mens die meeste bind, die organisme, betekening en subjektivering is. Aangesien die beeld van die organisme reeds bespreek is, sal daar vervolgens gefokus word op die ander twee belangrike strata, dié van betekening en subjektivering. Ook is dit reeds genoem dat Deleuze/Guattari subjektivering as ʼn deel van ʼn betekeningsregime of semiotiek sien en dus word hierdie twee strata as een verwikkelde onderwerp hanteer in die volgende afdeling.

3.3. Ek is ʼn regime

Deleuze/Guattari se benaming vir ʼn tekensisteem of semiotiek is ʼn tekenregime, om sodoende onmiddellik die konnotasie van mag en magsuitoefening binne enige semiotiek duidelik uit te lig. Voordat ek hul onderskeid tussen die vier bekendste tekenregimes verduidelik, sal dit ter wille van kontekstualisering en duidelikheid sin maak om eers enkele opmerkings te maak oor die basiese ontstaan en beginsels van semiotiek, en spesifiek die linguistiese basis daarvan.