• No results found

SONDER ORGANE TE MAAK

3.2. Die Liggaam sonder Organe (LsO)

3.3.4. Die nabetekenende regime

ʼn Laaste en vierde tekenregime wat bespreek moet word, die belangrikste vir hierdie bespreking, is die nabetekenende regime. Dit word gekenmerk deur ʼn unieke prosedure wat subjektivering genoem word.

Alvorens hierdie bespreking van die subjektiveringsregime geskied, wil ek herhaal dat Deleuze/Guattari nie voorgee om ʼn geskiedenisles aan te bied as hulle die vier regimes onderskei nie. Daar is talle tekensisteme, hulle kies vier op ʼn arbitrêre wyse om ʼn filosofiese argument te voltrek. Hierdie sisteme kan met enige menslike groepering in verband gebring word. Alle tekensisteme oorvleuel met mekaar, word deur geen mens of

groep bedink nie en in sekere oomblikke in tyd blyk dit bloot so te wees dat een sisteem ʼn relatiewe dominansie oor ander het. Elk van die vier tydperke word dan deur Deleuze/Guattari gebruik ter illustrasie van die diagramme van hierdie sisteme. Meer as dit mag nie gesê word nie (vgl. Deleuze & Guattari 2003b: 119,121).

Deleuze/Guattari (2003b: 121) onderskei die betekenende regime van die nabetekenende regime deur te wys op spesifieke eienskappe van beide regimes. Hulle maak ʼn onderskeid tussen die betekenende, paranoïese, despotiese regime en die nabetekenende, passiebelade (passional), subjektiewe, outoritêre regime. Beide hierdie regimes is volgens die skisoanalise gegrond op delusies, maar tog is dit belangrik om die twee van mekaar te onderskei. Outoritêr is nie dieselfde as despoties nie, passiebelaai is nie paranoïes nie, en subjektief is nie betekenend nie. Hoe word hierdie tweede regime onderskei van die regime van betekenende tekens wat reeds omskryf is? In die eerste plek ontkoppel ʼn teken of groep tekens sigself van die sirkulêre netwerk van tekens wat die betekenende regime uitmaak, en begin hierdie teken of groep tekens op hul eie baan opereer. Dit begin loop in ʼn reguit lyn, asof dit afgestuur word in ʼn smal, oop gang. In die eersgenoemde regime het die sisteem ʼn ontvlugtingslyn (line of flight) of deterritorialisasie gemerk wat die spesifieke indeks van sy gedeterritorialiseerde tekens oorskry, maar in dié geval is dit gebrandmerk met ʼn negatiewe waarde en het dit hierdie ontvlugtingslyn, hierdie sondebok in die gang afgejaag na die woestyn. Met ander woorde: in die betekenende regime is tekens wat nie deel uitmaak van die sirkulêre netwerk(e) van tekens wat voortdurend nog tekens produseer en altyd slegs na ander tekens verwys nie, losgemaak of ‘verban’ uit hierdie netwerk in die sin dat hierdie teken sy betekeningswaarde, sy betekenis as teken verloor. In die nabetekenende regime lyk dit of die ontvlugtingslyn ʼn positiewe waarde verkry, asof dit bewoon word deur ʼn mens wat daarin sy bestemming (destiny) sien. Anders gestel, in die nabetekende regime verkry die teken wat sigself ontkoppel aan die (geslote) netwerk van tekens ʼn positiewe waarde en word subjektiwiteit geproduseer juis op hierdie ontvlugtingslyn van die teken uit die sirkulêre netwerk. Kortliks: die nabetekenende regime opereer deur die liniêre en temporale opeenvolgings van eindige prosesse, in plaas van die gelyktydigheid van sirkels in oneindige uitbreiding binne die betekenende regime (2003b: 120).

Deleuze/Guattari se konspetualisering van die nabetekenende regime moet gesien word as ʼn stel hermeneutiese sleutels wat ek gebruik om Die jakkalsjagter te lees. Dit is ʼn stel idees wat hulle postuleer om ʼn ander denkwyse oor subjektiwiteit moontlik te maak, en om bestaande denke daaroor te versteur en te ontwrig. Hulle gebruik bepaalde beelde om hierdie regime van subjektivering te konseptualiseer, byvoorbeeld sekere Bybelse narratiewe en ʼn uiters idiosinkratiese gebruik van Descartes se idee van die cogito. Hierdie beelde en hul aanwending daarvan om hul skisoanalitiese konsepte aan te bied, word op ʼn dekladerende wyse aangewend en die idiosinkratiese aard daarvan word alleenlik gelegitimeer in die mate wat dit die teks ontsluit en ʼn nuwe konseptualisering van die proses van subjektivering moontlik maak. Soos reeds in die inleidende hoofstuk gemeld is, sien Deleuze/Guattari hul teorie as ʼn stel instrumente waarvan die geslaagdheid daarvan slegs afhang van die bruikbaarheid daarvan. Vir my doeleindes is hul konseptualisering van die subjektiveringsregime uiters bruikbaar.

Hul uiters abstrakte konseptualisering van die nabetekenende regime, word dus vervolgens deur Deleuze/Guattari verder verduidelik deur gebruik te maak van bekende voorbeelde uit die Bybelse geskiedenis.

Deleuze/Guattari (2003b: 122) verduidelik eerstens die funksionering van die nabetekenende regime deur die Bybelse geskiedenis van die Jode as voorbeeld te gebruik. ʼn Groep tekens maak sigself los van die Egiptiese imperiale netwerk waarvan dit deel was en beweeg weg op ʼn lyn van ontvlugting, die woestyn in. Sodoende word die mees outoritêre van subjektiwiteite (Jahwe) opgestel teenoor die despotiese betekenende regime van die Farao; die mees passiebelaaide en mins interpretatiewe delusies (Jahwe) teenoor die interpretatiewe paranoïese delusie (Farao). Die Jode kies om hul eie sondebok te wees. Hulle kies om die ‘Lam’ te word22.

22 Vir die volledige uiteensetting van hoe die skrywers die Bybelse geskiedenis van die Jode gebruik om as voorbeeld te dien vir al vier die bespreekte semiologiese sisteme, sien A Thousand Plateaus (2003b: 122-124).

Dit is reeds verduidelik hoe Deleuze/Guattari die Betekenaar konseptualiseer binne die betekenende regime. In die nabetekenende regime ondergaan die gesig van die god ʼn dramatiese transformasie. Die god (lees: sentrum van betekening) draai sy gesig weg, omdat dit deur niemand gesien mag word nie, en die subjek, in sy waaragtige vrees vir die god, draai ook sy gesig weg van die god. Die gedraaide gesigte, gesien in profiel, vervang die vooraansig van die luisterryke gesig van die Betekenaar. Dit is die dubbele wegdraai wat die positiewe ontvlugtingslyn verwesenlik. Dit sal ook duidelik word dat hierdie wegdraai van die gesigte juis die punt van subjektivering is. Die tweede Bybelse voorbeeld wat Deleuze/Guattari noem, het juis te make met hierdie wegdraai van die gesigte van mekaar. Deleuze/Guattari wys in hierdie verband na die figuur van Kain: hy wat sy gesig wegdraai van die god wat sy gesig wegdraai, volg reeds hierdie deterritorialisasie, beskerm deur ʼn teken wat hom toelaat om die dood vry te spring – die Kainsmerk. Die Joodse god het die opgeskorte vonnis uitgedink, die menslike bestaan binne hierdie semiotiek is in wese ʼn opgeskorte vonnis, ʼn oneindige uitgesteldheid. Die mens bly voortleef onder die uitgestelde straf, hy bly skuldig, maar die straf vind nooit plaas nie. Die nabetekenende sisteem is dus ʼn totaal ander sisteem as die betekenende sisteem wat deur misleiding die gesig van die betekenaar tot lewe roep, die interpretasie van die siener en die uitstel van die subjek. In die nabetekende sisteem vind ons die regime van verloëning, universele verloëning, waarin die mens voortdurend sy god (die betekenaar) verloën, net soos sy god hom ook verloën.

ʼn Laaste Bybelse voorbeeld wat Deleuze/Guattari aanwend, is dié van die profeet Moses. Selfs die profeet, anders as die priester en siener, is ʼn verraaier, maar volbring die goddelike opdrag selfs beter as wat enige getroue priester sou kon (2003b: 123). Moses het gehakkel; die profeet weet nie hoe om te praat nie, die god plaas die woorde in sy mond: dit is woordinbrenging, ʼn nuwe vorm van semiofagie (letterlik: om die teken te eet). Anders as die siener interpreteer die profeet niks, sy delusie is aktief, eerder as ideaal of verbeeld, sy verhouding tot die god is passiebelaai en outoritêr, eerder as despoties en betekenend. Die verhouding tot die god is dus een wat met passie belaai is en wat totaal oorgegee is aan die outoriteit van die god; daar vind gevolglik geen interpretasie plaas nie, maar slegs die onbevraagtekende oorgawe aan die woorde/tekens

wat die god in die spreker se mond plaas. Dit is die gesigtelikheid self wat die ontvlugtingslyn organiseer, in die glurende konfrontasie tussen twee aangesigte wat verstrak en dan in profiel wegdraai. Verraad het die idée fixe geword, die obsessie, wat die misleiding van die paranoïese en histeriese vervang. Hier is sprake van ʼn outoritêre, passiebelaaide verraad teenoor despotiese paranoïese misleiding (2003b: 124-125). Terloops, soos reeds vermeld in die vorige hoofstuk, is verraad ook een van die kerneienskappe van die oorlogmasjien.

In die nabetekenende regime is daar nie meer ʼn sentrum van betekenis wat gebind is aan uitdyende sirkels of spirale nie. Daar is nou ʼn punt van subjektivering wat konstituerend is van die vertrekpunt van die lyn. Daar is nie meer ʼn betekenaar-betekende-verhouding nie, maar ʼn subjek van uiting wat voortspruit uit die subjektiveringspunt, asook ʼn subjek

van die stelling in ʼn determineerbare verhouding met die eerste subjek (2003b:127). Soos

die teken, die beginsel van die betekenende regime, bestaan uit die ineenvouing van die betekenaar en die betekende, so bestaan die beginsel van die nabetekende regime, die subjek, dus ook uit ʼn ineenvouing of verdubbeling van twee eenhede.

3.3.4.1. Cogito ergo sum

Om die onderskeid tussen die twee subjekte, of liewer, die verdubbelde subjek, duideliker te maak, stel Deleuze/Guattari (2003b: 128) ook ʼn idiosinkratiese verstaan voor van die Cartesiaanse grondbeginsel: Ek dink daarom is ek. Die cogito, die bewussyn, die ‘Ek dink’, is volgens hulle die subjek van die uiting wat sy eie gebruik reflekteer en sigself baar deur ʼn lyn van deterritorialisasie te volg. Die subjek van die stelling is die eenheid van liggaam en gees, van gevoel, wat gewaarborg word deur die cogito en op sy beurt sorg vir die nodige reterritorialisasie. Die cogito is ʼn handeling wat voortdurend hervat moet word uit vrees vir die verraderlike god, Descartes se “evil Genius.” Wanneer Descartes sê dat hy kan aflei dat ‘Ek dink daarom is ek,’ maar nie ‘Ek stap daarom is ek’ nie, wys hy op die onderskeid tussen die twee subjekte.

Volgens Deleuze/Guattari (2003b: 130) is die eerste ‘ek’ in Descartes se grondbeginsel van ‘Ek dink daarom is ek’ die subjek van die uiting – dit verwys na die persoon wat

uiter. Dit is die leë, nie-referensiële teken. Dit is die Ek wat voorkom in proposisies soos ‘Ek dink’, ‘Ek glo’, ‘Ek neem aan.’ Die tweede ‘ek’ in Descartes se grondbeginsel is die subjek van die stelling. Hier wys die Ek op ʼn toestand waar die Ek eweneens met ʼn Hy of Sy vervang kan word (‘Ek ly’, ‘Ek loop’, ‘Ek voel’, ‘Ek haal asem’). Hierdie subjek is egter nie ʼn geval van die werking van linguistiek nie; ʼn subjek is nooit die voorwaarde of moontlikheid van taal of die oorsaak van die stelling nie. Daar is geen enkele subjek nie, alleen kollektiewe montages van uiting. Subjektivering is slegs een so ʼn montage en wys eerder op ʼn tekenregime as op ʼn kondisie binne taal.

Om saam te vat: die punt van subjektivering is die oorsprong van die passiebelaaide lyn van die nabetekenende regime. Die subjektiveringspunt kan enige-iets wees. Dit moet slegs voldoen aan die volgende eienskappe van die subjektiewe semiotiek: die dubbele wegkeer, verraad en ʼn bestaan onder ʼn opgeskorte vonnis.

Betekenis bring eenvormigheid na die substansie van die uiting. Die subjek van die uiting vou terug in die subjek van die stelling tot so ʼn mate dat die subjek van die stelling die subjek van uiting hervoorsien van genoeg substansie vir ʼn volgende handeling. Hierdie terugvouing, hierdie verhouding, is ook dié van die geesteswerklikheid (mental reality) tot die dominante werklikheid. Daar is nie eens meer ʼn behoefte aan ʼn transendentale sentrum van mag nie, mag is nou immanent en versmelt met die ‘werklike’; dit geskied deur normalisering. Hierdie verdubbeling van die subjek laat dit voorkom asof die verdubbelde subjek in sy een vorm die oorsaak was vir die stellings waarvan dit, in sy ander vorm, deel van was. Dit is die paradoks van die wetgewende subjek wat die betekenende despoot vervang: hoe meer jy die stellings van die dominante werklikheid gehoorsaam, hoe meer is jy in beheer as subjek van uiting in die geesteswerklikheid, aangesien jy, op die ou end, net jouself gehoorsaam. Jy is die een in beheer, in jou hoedanigheid as rasionele wese. ʼn Nuwe vorm van slawerny is uitgevind, naamlik om ʼn slaaf aan jouself (jou self) te wees, of aan ‘suiwere Rede’, of aan die cogito; dit alles is een (2003b: 129-130).

Vervolgens sal daar vlugtig gekyk word na hoe die proses van normalisering, wat hierbo aangedui is as die plaasvervanger van ʼn transendentale sentrum van mag, die subjek laat konformeer tot die dominante werklikheid en spesifiek hoe die karakter Lenka op hierdie normaliseringsprosesse reageer.

3.3.4.2. Die normalisering van Lenka

Deleuze/Guattari (2003b: 129) voer aan dat die verskillende vorme van opvoeding of ‘normalisering’ (die strukture in die leefwêreld wat die individu oplei en dissiplineer) wat op ʼn individu afgedwing word, hom forseer na verskeie punte van subjektivering. Hierdie punte van subjektivering beweeg altyd na ʼn hoër, edeler subjektivering wat nader is aan konformering met die voorgestelde ideaal. Vanuit die punt van subjektivering ontspring daar dan die subjek van die uiting as ʼn funksie van die geesteswerklikheid soos gedetermineer op daardie punt. Vanuit die subjek van die uiting ontspring daar op sy beurt die subjek van die stelling, met ander woorde, ʼn subjek gebind aan die stellings ooreenkomstig met ʼn dominante werklikheid. Wat die nabetekenende passionale lyn ʼn lyn van subjektivering maak, is die konstitusie, die verdubbeling van die twee subjekte, en die terugvouing van die een in die ander. Die subjek van uiting vou terug in die subjek van die stelling.

Lenka, die skolier binne die program van normalisering op laerskool, bekommer sy moeder omdat hy nie die stellings van die Staat, die dominante werklikheid van ʼn Apartheidstaat sy eie maak nie:

As Lenka tog maar net sal aanpas, het sy gedink (66)23.

Die juffrou is die instrument wat die klas rig op die stellings van die Staat, wat hulle verskeie moontlike punte van subjektivering bied deur die loop van die roman:

Onthou, ons koop nie by die Jode of Indiërs nie; ons ondersteun ons eie mense (67).

Lenka, reeds met sy naamgewing as outsider opgestel deur sy vreemde naam vir “ʼn eienaardige kind” (56), vertoon van jongs af ʼn onwilligheid tot subjektivering:

Hoekom teken jy nie, Lenka? (68)

23 Waar bladsynommers in hierdie hoofstuk sonder enige verdere verwysings aangegee word, verwys dit na

Lenka blyk die enigste van sy klasmaats te wees wat nie hierdie stellings aanvaar as die werklikheid en homself, sy subjek van uiting, daarin vou nie. Die meeste leerlinge word gevang deur die Staatstrata:

[D]ie juffrou het vertel van Jan van Riebeeck, die Groot Trek en die Engelse Oorlog.

Die Here was aan die Voortrekkers se kant en hulle kon die swart barbare verslaan. Die juffrou se lippe het styf geword toe sy vertel hoe dapper die Boere teen die Engelse geveg het, en van haar pa wat op Spioenkop was.

By die inry buite die dorp het die mense hul asems ingehou terwyl die Kavaliers – ʼn honderd berede Boere in swart klere – die vyand uitoorlê. Die volgende dag het die kinders op stokke oor die speelgrond gejaag terwyl hulle uit die saal met hul vingers op die Engelse skiet.

“Wat ʼn lewendige klomp!” het die juffrou gesug (80-81).

Hierdie stellings van die Staat, die subjek van die stelling binne die normaliseringsproses, doen meer as om net die bewussyn van die individu te stratifiseer, dit reguleer ook sy beweging in die werklikheid:

Elke oggend is die skool met godsdiens geopen. Maandae was daar vlaghysing en dan het hulle Die Stem gesing. Sondae het hulle kerk toe gegaan (96).

Wanneer Lenka in die klas sit as laerskoolleerling en hoor hoe die sywurms in die skoenboks op die vensterbank lewendig deur miere opgeëet word, vind een van die mees dramatiese tonele in die romanteks plaas. Lenka, as nomadiese subjek, is uiters sensitief vir die lot van sywurms, asof hy letterlik hulle pyn voel, nie net hoor nie. Dit is duidelik dat Lenka, die outsider, die onwillige subjek, homself sien in daardie skoenboks, as ʼn veelvoudigheid, ʼn trop wat verslind word deur die skool. Dit is insiggewend dat sywurms ʼn lewe van voortdurende metamorfoses leef en dat hulle ook as kunstenaars, as spinners van interessante patrone, gelees kan word. Hierteenoor word die luiaard in die Bybel aangesê om na die mier te gaan kyk om te sien hoe ʼn gehoorsame, vlytige mens behoort op te tree. Verder is dit interessant dat miere ook in rye stap met ʼn koningin, ʼn duidelike magsentrum, aan die toppunt van hul hiërargie. Lenka die nomade gee dus dieselfde geluidlose gil as die LsO: ‘Hulle maak my tot organisme, die miertroepe eet my liggaam!’

Die veelvoudigheid wat bedreig word, roep uit:

ʼn Duisend klein stemmetjies het die lug gevul (82).

Lenka is hier ʼn wordende-dier, hy verloor sy asem as mens en word sywurm, hy voel die bedreiging op sy eie liggaam aan:

Fyn hulpkreetjies het deur die klaskamer geklink. Die kinders het verskrik om die doos saamgedrom. Binne-in het die sywurms hul lywe magteloos rondgewriemel terwyl die miere hulle opvreet (82).

Soos duidelik sal word in die res van die bespreking, vind die subjektivering van Lenka wel plaas, maar altyd as iets tydelik; hy word nooit volkome gestratifiseer binne die dominante werklikheid nie en behou voortdurend sy nomadiese wese.

Om Lenka se bestaan as nomadiese subjek soos dit verbeeld word in Die jakkalsjagter te bestudeer, wil ek terugkeer na die verdubbelde subjek, die subjek van uiting en die subjek van die stelling, en wil ek probeer aantoon hoe die voortdurende proses van subjektivering soos Deleuze/Guattari dit in hul konseptualisering van die nabetekende regime beskryf, in die romanteks raakgelees kan word binne ʼn skisoanalitiese lesing.