• No results found

SONDER ORGANE TE MAAK

3.2. Die Liggaam sonder Organe (LsO)

3.3.1. Linguistiek as die model vir semiotiek

Volgens Jonathan Culler (1978: xiii) het Freud, Saussure en Durkheim die sosiale wetenskappe ontvorm deur historiese en oorsaaklike verduidelikings te verwerp en eerder te fokus op die studie van interpersoonlike sisteme of norme wat deur die individu geassimileer is as die kultuur waarbinne hy leef. Dit was Freud wat dit eerste vir die Westerse mens duidelik gemaak het dat dit kultuur is wat die individu se belewing van identiteit moontlik maak. En dit was Saussure se Course in General Linguistics wat dit duidelik gemaak het hoe kommunikasie moontlik is omdat individue ʼn sisteem van kollektiewe norme assimileer wat hulle leefwêreld organiseer en wat as basis vir hul denke optree (Culler 1978: xi). Linguistiek was slegs ʼn onderdeel van semiologie; Saussure het semiologie gedefinieer as die algemene studie van tekens wat die verskillende sisteme van konvensie bestudeer wat aan menslike handelinge betekenis gee:

If we were to discover the true nature of language, he [Saussure] continued, we must consider it in relation to other systems of signs; and reciprocally, we shall shed new light on ritual, customs, and

Linguistiek kon optree as model vir die bestudering van ander tekensisteme, aangesien die meeste van die handelinge en objekte binne die studievelde van ander tekensisteme natuurlik of gegewe voorgekom het. Wanneer tekens as natuurlik ervaar word deur dié wat hulle gebruik, word dit gewoonlik aanvaar dat hierdie tekens intrinsieke betekenisse besit en dat hulle daarom geen verduideliking benodig nie. Deur linguistiek as die model vir semiologie te neem, het Saussure aangevoer, kan hierdie algemene denkfout vermy word. Linguistiek, die studie van ʼn eksplisiet konvensionele en arbitrêre teken- en betekeningsisteem, sou, volgens Saussure, die analis dwing om sy aandag te vestig op die konvensionele basis van ook die nie-linguistiese fenomene wat hy ondersoek (Culler 1978: xiv). Soos Sausure (1978: 68) self verklaar in sy Course:

[E]very means of expression used in society is based, in principle, on collective behavior or – what amounts to the same thing – on convention [...].

Signs that are wholly arbitrary realize better than the others the ideal of the semiological process, that is why language, the most complex and universal of all systems of expressions, is the most characteristic.

Culler (1975: 6) gaan sover om te sê dat dit nie verkeerd sou wees om aan te voer dat semiologie en strukturalisme identies is nie.

Die strukturalisme gee dus betekenis aan ʼn objek deur dit te verduidelik aan die hand van die posisie binne die sisteem wat dit onderskei van ander objekte en wat sodoende daaraan sy identiteit gee. Gevolglik was een van die belangrikste nalatenskappe van die strukturalisme die afwysing van die nosie van die subjek. Sodra die bewuste subjek ontneem word van sy rol as bron van betekenis, sodra betekenis verklaar word in terme van konvensionele sisteme wat buite die bewuste subjek bestaan, kan die self nie meer geïdentifiseer word met bewussyn nie. Die self word ‘opgelos’ soos sy funksies opgeneem word deur ʼn verskeidenheid onpersoonlike sisteme wat daardeur opereer. Weereens is taal hier die geval wat sigself die beste leen tot voorbeeld, omdat taalgebruik die primêre instansie van individualiteit is; dit lyk asof dit die een area is waar die bewuste subjek steeds die meester is. Maar, soos Heidegger aanvoer, is dit taal wat praat; die mens praat slegs in soverre hy op ʼn kunstige wyse gehoor gee aan taal. Die self word dus meer en meer gesien as ʼn konstruk, as die produk van verskeie sisteme van

konvensie. Die individuele subjek is nie meer die bron van betekenis nie; betekenis beweeg eerder deur die subjek (Culler 1975: 27-30).

Saussure onderskei twee taalaspekte, wat hy langue en parole noem. Robert Scholes (1974: 14) verduidelik die onderskeid tussen langue en parole deur aan te voer dat daar drie lae van linguistiese aktiwiteit bestaan: Langage is die term vir die algehele menslike potensiaal vir kommunikasie deur spraak, langue is die taalsisteem wat taalgebruikers gebruik om diskoers te genereer wat vir ander verstaanbaar is en parole is, eenvoudig gestel, alle individuele uitinge.21

Die basiese element van die taalsisteem is die teken, ʼn komplekse eenheid wat die klankbeeld en die konsep met mekaar verbind (Scholes 1974: 15). Die teken is die vereniging van die betekende (konsep) en die betekenaar (klankbeeld), beide eerder vorme as subtansies (Culler 1975: 18 en Scholes 1974: 15). Die arbitrêrheid van die teken word volgens Scholes (1974: 15) in die eerste plek duidelik wanneer opgelet word dat in byna elke teken die betekenaar, die klankbeeld, nie gedikteer word deur die betekende of konsep nie. Verder word die betekenaar, omdat dit ouditief is, ontvou in tyd: dit is ʼn lyn. En nie alleen is elke teken liniêr nie, maar is elke uiting selfs meer so (1974: 16). Die liniariteit van die teken maak juis kommunikasie moontlik; verbale uitinge moet gebed word in ʼn orde wat self ook betekenisvol is (1974: 17). Die taalsisteem moet dus ʼn verstaanbare sisteem wees vir kommunikasie om plaas te vind. Die liniariteit van die teken sal later in die bespreking van belang word wanneer die sintagmatiese en paradigmatiese asse in hierdie liniêre struktuur aan bod kom.

ʼn Ander aspek van die strukturalisme wat by die bespreking van Deleuze/Guattari se tekenregimes van belang sal word, is die kwessie van hoe daar in die filosofie gereageer is op die strukturalisme, hoe die aannames van strukturalisme tot hul logiese grenspunte gevoer is en toe gedekonstrueer is deur diegene soos Jacques Derrida.

Culler (1975: 243) wys op Derrida se idee dat die nosie van ʼn struktuur in die literatuurstudie ʼn teleologiese aard besit: die struktuur word gedetermineer deur ʼn bepaalde einddoel. Dit word herken as ʼn konfigurasie wat bydra tot hierdie einddoel. Derrida vra byvoorbeeld hoe enige georganiseerde geheel waargeneem kan word behalwe deur by die struktuur se eindpunt of doel te begin:

Unless one has postulated some transcendent ‘final cause’ or ultimate meaning for the work, one cannot discover its structure, for the structure is that by which the end is made present throughout the work (Culler 1975: 244).

Deur ʼn struktuur op ʼn teks af te dwing en dit binne daardie struktuur te analiseer, word die teks se beweegruimte ingekort. Hiermee bedoel ek dat sodanige strukture slegs interpretasies van die teks kan toelaat wat binne hierdie struktuur sou pas. Daar is dus sprake van ʼn toutologiese argumentasie in strukturalistiese analises.

Derrida voer verder aan dat die strukturalistiese taalfilosofie plaasgevind het binne wat hy noem ʼn metafisika van teenwoordigheid, ʼn metafisika van die logos wat voorrang bied aan die signifié:

[This metaphysics] sees the signifiant as a notation through which one passes in order to attain the thought (Culler 1975: 245).

Derrida wys op die metafisika van teenwoordigheid wat ʼn verlange na iets soos ʼn wêreld voor die sondeval impliseer, ʼn wêreld waar daar geen mediërende sisteem van taal en persepsie nodig is nie en waar alles slegs sal dui op sigself met geen afstand tussen vorm en betekenis nie. Interpretasie, volgens hierdie model, impliseer die teenwoordigmaking van die afwesige, van ʼn restourasie van ʼn oorspronklike teenwoordigheid wat die bron en waarheid is van die vorm onder bespreking (Culler 1975: 132).

Die strukturalistiese denkproses beweeg van die individuele uitspraak (parole) na die sisteem (langue). Dit word dus geïmpliseer dat die skryfsisteem en tekensisteem ʼn uitbeelding of weergawe is van spraak. Derrida voer egter aan dat skryf nie bloot die weergee van spraak is nie, maar in die eerste plek ʼn différance impliseer:

The written word is an object in its own right: different from meanings which it defers in a play of differences with no possitive terms (Culler 1975: 133).

Derrida sou aanvoer dat daar geen volle betekening (signification) bestaan behalwe dié van différance nie (Culler 1975: 20). Scholes (1982: 13-14) verstaan dekonstruksie as ʼn vorm van analise wat denkstrukture vermy en betekenis altyd desentreer of uitstel:

Your true deconstructivist sees interpretation as a perpetual exposure of blindness, just as your true Maoist sees the revolution as a perpetual decentering of the social structure.

Wat Derrida dus in wese doen, is om die linguistiek van Saussure tot by sy logiese uiterste te neem waar die betekenaar alleen na ander betekenaars verwys en betekening, die kontak met enige betekende, altyd voortdurend uitgestel word. Die semiotiek het dus ʼn beweging gemaak vanaf voorrang aan die betekende, die metafisika van teenwoordigheid, na ʼn bevoordeling van die betekenaar, die voortdurende proses van

différance.

Wat vervolgens hier aangebied sal word, is ʼn kort opsomming van in totaal vier teken- of semiotiese regimes wat Deleuze/Guattari eien, asof hulle onafhanklik sou funksioneer. Deleuze/Guattari waarsku egter teen so ʼn lesing:

Each semiotic is mixed and only functions as such; each one necessarily captures fragments of one or more other semiotics (2003b: 136).

Daar is geen algemene semiotiek of tekenregime nie (2003b: 136). En geen een tekensisteem figureer ooit alleen nie; die ander is ook altyd in ʼn mate teenwoordig.