• No results found

SONDER ORGANE TE MAAK

3.2. Die Liggaam sonder Organe (LsO)

3.3.2. Die betekenende regime

Deleuze/Guattari (2003b: 112) se bespreking van die vier regimes in A Thousand

Plateaus begin met die betekenende regime. Hulle verklaar dat daar ʼn algemene en

eenvoudige formule vir die betekenende regime van die teken is: elke teken wys heen na ʼn ander teken, en slegs na ʼn ander teken, ad infinitum. Dit is die regime van différance. Op hierdie logiese grenspunt van die strukturalisme word die nosie van die teken sinneloos. Want wat behou word, is nie die teken se verhouding met ʼn stand van sake nie, of met enige enititeit waarna dit moontlik kan verwys nie, maar alleen die formele verhouding tussen teken en teken in soverre dit ʼn betekenende ketting vorm. Die grensloosheid van betekening (signification) vervang die teken. Alle tekens is tekens van tekens. Die wêreld begin beteken voor enige-een weet wat dit beteken; die betekende

word gegee sonder dat dit kenbaar is. Dit maak nie saak wat dit beteken (means) nie, dit dui (signify) steeds aan. Dit be-teken. Die teken wat verwys na ander tekens het ʼn vreemde impotensie en onsekerheid; magtig is hierdie betekenaar wat die ketting konstitueer.

Die eindelose liniêre ketting van betekening bring dus, volgens my lesing van Deleuze/Guattari, die betekenaar na vore as die konstituerende beginsel van betekenisskepping en gevolglik vorm die betekenaar ʼn nuwe sentrum van betekenis, alhoewel dit ʼn heel ander tipe sentrum as dié binne die metafisika van die teenwoordige betekende is.

Die betekenaar as sentrum van betekenis kom volgens Deleuze/Guattari (2003b: 114) as volg tot stand: die betekenende regime het nie alleen die taak om die tekens wat vanuit alle rigtings ontspring in sirkels te organiseer nie, dit moet ook voortdurend die uitbreiding van die sirkels en spirale verseker, dit moet ook ander betekenaars van sentrums voorsien om die entropie inherent aan die sisteem teen te werk en te verseker dat die sirkels en spirale blom, dat hulle die bestaandes aanvul en die oues vervang. Die interpreterende priester, die siener, is een van die teken (wat Deleuze/Guattari die despoot-god noem) se burokrate. Die betekenende regime is dié van interpretasie, en dus die sisteem van die priester en die siener, maar ook, sê Deleuze/Guattari, een van misleiding. Dit sal later in die bespreking duidelik word hoe die subjektiveringsisteem hierteenoor die sisteem van verloëning is. In die betekenende regime kom ʼn spesifieke vorm van misleiding na vore, wat Deleuze/Guattari noem die misleiding van die priester: interpretasie word aangewend tot in oneindigheid en, soos Nietzsche reeds aan die wêreld gewys het, kom interpretasie dus nooit iets teë om te interpreteer wat nie reeds ʼn interpretasie is nie. Dit is sinneloos om aan te voer dat interpretasie of kommunikasie getransendeer kan word deur die produksie van die betekenaar, want beide interpretasie en kommunikasie dien alleenlik die doel om die betekenaar te produseer en te reproduseer. In der waarheid is betekenis en interpretasie, volgens Deleuze/Guattari, die mens se fundamentele neurose (2003b: 114).

Daar is nie te veel te sê omtrent die sentrum van betekening, of die Betekenaar in Persoon (Deleuze/Guattari sien die betekenaar as ʼn persoon, ʼn magsentrum, ʼn god of despoot) nie. Deleuze/Guattari se skuif om in hierdie argument te beweeg na die betekenaar as sentrum van betekening is dus, soos in die bostaande bespreking duidelik geword het, ʼn reaksie op denkers soos Barthes en Derrida wat teen die transendentale betekende reageer deur te wys op die oneindige reeks van betekenaars waarvan enige vaste betekenis of betekening voortdurend uitgestel word. Deleuze/Guattari se implisiete argument is volgens my dat hierdie voorkeur aan die betekenaar ook ʼn sentrum van betekening tot gevolg het, ʼn sinnelose sentrum wat alleen verdere betekenaars produseer. Die skisoanalise reageer dus ook teen wat ek wil noem hierdie tweede ‘Derridiaanse sentrum’.

Die betekenaar as sentrum van betekening is ʼn suiwer abstraksie en ʼn suiwer beginsel. Met ander woorde: dit is niks, verklaar Deleuze/Guattari (2003b: 114-115). Volgens Nietzsche (1990: 47) is die ‘hoogste’ konsepte, die mees algemene konsepte, ook die leegste. Woorde wat alles omvat, verwys na niks.

Soos hierbo ook reeds genoem is, neem die Betekenaar volgens Deleuze/Guattari altyd die gesig van ʼn persoon aan. Taal gaan altyd gepaard met gesigskenmerke, gesigtelikheid (faciality). Die gesig kristalliseer alle pleonastisiteite, dit stuur en ontvang, bevry en vang betekenende tekens. Die priester administreer die gesig van die god. In Deleuze/Guattariaanse terminologie is die gesig, of gesigtelikheid, die substansie van uitdrukking in die betekenende regime. Met ander woorde, die gesig is die ‘ikoon’, die reterritorialisasie van die betekenende sisteem. Uitdrukkings (die woordspel met gesigtelike uitdrukking en taalkundige uitdrukking is hier bedoeld) flikker oor die gesig en lei die interpretasie van die luisteraar (Bonta & Protevi 2004: 84-85). Die gesig of liggaam van die despoot of god het altyd iets soos ʼn teenliggaam: die liggaam van die gemartelde. In ʼn radikale sin is die een wat gemartel word, die een wat sy gesig verloor, wat ʼn wordende-dier binnegaan, ʼn wordende-molekulêr waarvan die as in die wind gestrooi word. Dit is die wordende-dier van die sondebok. Die sondebok word aangekla

van alles boos, alles wat die betekenende tekens teenstaan. Die sondebok se anus staan teenoor die gesig van die despoot of god. Enigiets wat dreig om die sisteem oop te breek, om ʼn ontvlugtingslyn uit die sisteem op vlug te stel, word vermoor of self op vlug gestel. Enigiets wat die onmatigheid van die betekenaar oorskry of onderdeur die betekenaar beweeg, word gemerk met ʼn negatiewe waarde: Jou enigste keuse, verklaar Deleuze/Guattari, is tussen die agterent van die (sonde)bok en die gesig van die despoot of god (2003b: 115-116).

Alhoewel hierdie bespreking nie sal fokus op die betekenende regime nie, en die aandag sal rus op Lenka se figurasie as subjek binne die subjektiveringsregime, kan hier wel kortliks die volgende opgemerk word: Die jakkalsjagter as romanteks is ooglopend ʼn sisteem van tekens, wat heenwys na ander tekens, met die gesig van die Groot Betekenaar in die sentrum, die allerleegste van konsepte. Soos sal duidelik word in die bespreking van die sisteem van subjektivering soos dit in die roman aangetref word, is die teks hiperbewus van sigself as ʼn ewiguitkringende spiraal van tekens wat altyd heenwys na nog tekens en daarbinne word enige finale interpretasie, enige finale konsep van Lenka as subjek, ʼn absurditeit.

Die Strachan-teks se selfbewustheid as ʼn betekenende sisteem van tekens word duidelik as bloot gelet word op ʼn paar basiese temas in die teks. Reeds die titel impliseer die figuur van die sondebok. Daar word jag gemaak op die jakkals en die hond wat verantwoordelik gehou word vir die dood van plaasdiere, die wilde jakkals of hond as die sondebok wat die getemde plaasdiere vermoor. Dan, ter uitbreiding hiervan, is daar Hendrik, die vaderfiguur wat die honde straf, hulle martel deur hulle vasgebind te hou en langdurig te slaan. Laastens ook die hooffiguur van Lenka wat as sondebok die kenbare moet verlaat omdat hy ook ‘gesondig’ het. Die sonde waarvan hier gepraat word, is die sonde van die eksistensiële (anti-)held, van Camus se Meursault en Sartre se Roquentin, die sonde van ʼn vlug van interpretasie. Soos in die geval van die Bybelse sondebok is die straf van die sondebok om verban te word uit die stad en na die woestyn gestuur te word. En, soos in die vorige hoofstuk duidelik geword het, is die woestyn juis die ruimte van die nomadiese subjek. Dit kan dus hier aangevoer word dat die sondebok in die oplegging

van sy straf die nomadiese ruimte betree. Lenka verlaat sy bekende strata of ruimtes en tree die ‘woestyn’ van sy nomadedom binne. Deur ʼn finale interpretasie van die teks doelbewus onmoontlik te maak, deur betekenis te verloën, maak die teks verder sigself ook tot sondebok; die hoofkarakter is die gesiglose, die enigste gesig dié van ʼn uitdagende, grynsende Strachan op die buiteblad. Strachan die despoot? Maar sy gesig is op die agtergrond en op die voorgrond is die negatiewe afdruk van die jakkals, die jakkals sonder oë en mond, leeg van binne, die jakkals sonder organe. ʼn Vroeë waarskuwing dan: hierdie is ʼn tekslandskap ontdaan van enige despoot, dit is ʼn landskap van die jakkals, die jakkals as sondebok, as nomade ...

Wat betref die betekenende regime sal bogenoemde opmerkings voldoen en dien dit ook as ʼn inleiding tot die meer komplekse konsep van die nabetekenende regime, die regime van subjektivering. Volledigheidshalwe wil ek vlugtig verwys na twee verdere semiotiese sisteme wat Deleuze/Guattari onderskei: die voorbetekenende regime en teenbetekenende regime.