• No results found

DIE OORLOGMASJIEN IN ’N WÊRELD SONDER GRENSE (1984)

2.2. Die oorlogmasjien

Die hoofstuk sal aandui hoe die hoofkarakter funksioneer as ʼn nomadiese subjektiwiteit binne die oorlogmasjien, beide konsepte binne Deleuze/Guattari se radikale anti-Oedipale, anti-Cartesiaanse en post-Nietzscheaanse verstaan van subjektiwiteit as ʼn voortdurend wordende veelvoudigheid.

Die oorlogmasjien is ʼn konsep wat in sy clichématige, alledaagse gebruikswyse sentraal staan in ʼn Wêreld sonder grense, aangesien dit wat die verhaal uitbeeld, juis die oorlogsmasjien van die Suid-Afrikaanse weermag is en deurdat die hoofkarakter self ook gesien kan word as ʼn oorlogmasjien. Pienaar (1985) stel dit byvoorbeeld as volg in ʼn resensie:

In the end the main character becomes so complete a war machine that he can’t turn himself off.

Die WAT (2000: 635) bied drie inskrywings onder die lemma ‘oorlogsmasjien’. Die spelling ‘oorlogmasjien’ word as ʼn tweede, minder algemene spelling aangegee. Ek verkies om die term ‘war machine’ te vertaal met oorlogmasjien, sonder die ‘s’, wanneer ek verwys na Deleuze/Guattari se aanwending van die term, omdat ‘oorlogsmasjien’ dit laat klink asof dit ʼn masjien is in diens van oorlog, waar ‘oorlogmasjien’ dit laat blyk dat die masjien oorlog as funksie het. Die verskil is klein, maar uiters belangrik wanneer die komplekse konsep van Deleuze/Guattari van nader beskou word. In hulle konseptualisering van die oorlogmasjien staan hierdie masjien allermins in diens van oorlog. Meer oor hierdie onderskeid later in die bespreking.

Die eerste inskrywing van ‘oorlogsmasjien’ in die WAT (2000: 635) lees as volg:

Magtige en onstuitbare militêre slaankrag soos vergestalt in die effektiewe en doeltreffende organisasie van beskermingsmagte en oorlogstuig; ook, funksionering hiervan.

Die tweede sluit hierby aan:

Iem. of iets wat op ʼn wyse soortgelyk aan dié van ʼn oorlogsmasjien funksioneer en wat oor ʼn hoë mate van krag, invloed, sterkte, uithouvermoë, e.d. beskik wat daaraan herinner.

Die derde inskrywing lê effens verwyderd van die eerste twee:

Enigeen van verskeie soorte masjiene wat tydens oorlogvoering as wapens gebruik word.

Veral die eerste twee beskrywings van die konsep ‘oorlogsmasjien’ wys daarop dat die verkenningskommando’s in die destydse SAW, die ‘recces’, as ʼn oorlogsmasjien gesien kan word en dat elk van hierdie soldate ook afsonderlik as ʼn oorlogsmasjien bestempel kan word, soos Pienaar hierbo byvoorbeeld na die hoofkarakter in die Strachan-teks verwys.

Wanneer Deleuze/Guattari se omskrywing van hul filosofiese konsep, die oorlogmasjien, verduidelik word, soos dit veral in die twaalfde plato in A Thousand Plateaus, ‘1227: Treatise on Nomadology: – The War Machine’ (2003b: 351-423), aangebied word, sal dit vir die leser algaande duidelik word hoe die ‘werklike’ oorlogsmasjien wat in die bundel kortverhale beskryf word, op metaforiese vlak gelees, ook ʼn nommerpas beskrywing is van die Deleuze/Guattariaanse oorlogmasjien. Die recces is ʼn baie spesifieke tipe oorlogsmasjien wat op ʼn unieke wyse funksioneer binne die groter militêre institusie. Hulle funksioneer veel meer soos primitiewe nomadiese stamme wat in woestyne rondgetrek het en guerrila-aanvalle geloods het op die ommuurde stadstate, as wat die geval is met ʼn moderne weermag waarvan die funksionering pas binne die WAT-beskrywing van die oorlogsmasjien. Hierdie tipe kryger wat gevind word in guerillagroepe, nomadiese volke en die elite-afdelings van moderne weermagte, soos die recces, die Amerikaanse Special Forces en Britse SAS, is die tipe kryger wat Deleuze/Guattari in gedagte het as hulle hul konsep van die oorlogmasjien ontwikkel. Waarop hul aanwending van die konsep in wese neerkom, is dat die nomadiese subjektiwiteit, volgens hulle, op ʼn bepaalde vlak funksioneer soos ʼn lid van hierdie bogenoemde oorlogsmasjiene. Deur dus te let op hoe die karakter in die bundel

funksioneer binne sy bepaalde ‘recce-oorlogsmasjien’, kan die leser heelwat te wete kom oor die skisoanalitiese konsepte van die nomadiese subjektiwiteit en die oorlogmasjien. Voordat Deleuze/Guattari se oorlogmasjien beskryf word, wil ek eers enkele aspekte van die recces se opleiding en operasionele tegnieke uitlig, sodat, wanneer Deleuze/Guattari se oorlogmasjien aan bod kom, dit sal blyk waarom ek hierdie skisoanalitiese konsep saam met ʼn Wêreld sonder grense wil lees.

In Paul Els se We Fear Naught but God, The Story of the South African Special

Forces – “The Recces” (2000: 62), som hy die aard van die recce-operateur as volg op: Reconnaissance soldiers – known as operators – were trained to act as individuals or in both small and large groups, deep in enemy territory, with little support. The operator’s mission was to gather covert strategic and tactical intelligence information about enemy activities in various areas. Stealth and the ability to blend into the surrounding terrain were essential elements of the operator’s repertoire.

The ability to observe silently, harass the enemy, destroy selected targets, and participate in special combat operations – all of these behind the enemy lines – were special skills the operator acquired.

Verder wys Els (2000: 62) daarop dat talle operasies deur slegs die spanleiers en nie deur enige hooggeplaaste militêre amptenaar beplan is nie, om te verseker dat die uitvoering daarvan in algehele geheimhouding geskied:

This is in direct opposition to other military operations that need to be authorized at the highest levels.

Uit hierdie enkele feite oor die funksionering van die recces word dit dus reeds duidelik dat hierdie kommando’s op ʼn radikaal ander wyse gefunksioneer het as die res van die militêre institusie.

Verder was die recce-rekruut volgens Els (2000: 63-68) ʼn uitsonderlike tipe persoon wat aan streng eise moes voldoen. Uit die eerste 700 aansoeke is daar byvoorbeeld slegs 45 gekeur (2000: 63). Die soldate is gekies vir beide hul fisiese en intellektuele vermoë:

Every effort was made to avoid selecting roughnecks or ‘muscle-bound morons’ but Recces were expected to be very fit indeed. They also needed more than average intelligence in order to carry out their missions (2000: 63).

Deel van die strawwe opleiding was ʼn gesimuleerde oorlogsgevangene-scenario. Dit was dus nodig vir hierdie soldate om hul ervaring van vrees te kon beheer, om beheer te kon uitoefen oor affekte wat gewoonlik as prerefleksief gesien word:

We’re looking at persons who may be called upon to face great fear. To survive they have to control that fear (2000: 65).

Die rekrute het ook lang tye in die veld deurgebring. Vir drie weke lank is onder andere meer as 500km afgelê deur bos- en bergterrein, terwyl oorlewingstegnieke, navigasietegnieke en spoorsnytegnieke ook aangeleer is (2000: 66):

The men spent so much of their time out in the bush that they developed a special affinity with nature (2000: 67).

Nie alleen moes hulle ʼn noue band met die natuurlike leefwêreld ontwikkel nie, maar ook moes hulle hul intellek ontwikkel. Die intellektuele vermoë van die soldate is onder andere getoets deur hulle “mind-boggling puzzles” te laat oplos na langdurige slaapdeprivasie of lang marse (2000: 68). Die doel van die opleiding was volgens Els (2000: 68) om die soldate op fisiese en sielkundige vlakke af te breek en dan weer op te bou.

Op operasionele gebied was die recces soms in ambigue situasies. Hulle is byvoorbeeld opgelei in verskeie infiltrasietegnieke en soms is hulle opdrag gegee om basisse van die SAW te infiltreer om die sekuriteit en die wagte van hierdie afdelings te toets. Hulle het dit egter volgens Els (2000: 70) so gereeld reggekry om hierdie ‘vriendelike’ basisse te infiltreer dat die operasies gestaak is omdat sommige afdelings skaam begin voel het oor hul eie onvermoë tot verdediging en sekuriteit. Verder is die recces, wanneer hulle in vyandelike gebied beweeg het, voorsien van die kamoeflering en uniforms van hul vyand, Fapla of Swapo (2000: 76-77). Hierdie tipe optrede is uiters ongewoon en moreel verdag in amptelike oorlogvoering.

Laastens kan dit ook opgelet word dat elke operateur sy eie toerusting en wapens kon kies om saam te neem op die sending (2000: 77). Die recce-kommando’s het dus besonder strawwe opleiding ondergaan juis omdat hulle soms buite die reëls van

gebruiklike oorlogvoering beweeg het, en ook omdat daar ʼn groter individuele vryheid van beweging aan elke operateur gebied is. Die implikasie is dus dat nie enige soldaat opgewasse is om hierdie mate van vryheid te kan hanteer in ʼn oorlogsituasie nie.

Dit sal in die bespreking van Deleuze/Guattari se konsep van die oorlogmasjien duidelik word hoe hierdie eienskappe van die recce-oorlogsmasjien aansluit by ʼn Deleuze/Guattariaanse oorlogmasjien

Die metafoor of eerder denkinstrument van die oorlogmasjien is een van die seminale operasionele begrippe in die skisoanalise. Die bedoeling is om dit hier in te voer op ʼn wyse wat dien as inleiding tot die Deleuze/Guattariaanse skryf- en denkstyl. Terselfdertyd wil dit ook ʼn eerste verkenning bied van hoe die nomadiese subjektiwiteit funksioneer, soos dit raakgelees word in Strachan se debuutteks. ʼn Deurlopende tema van die teksbespreking sal ook wees dat hierdie verstaan van subjektiwiteit as iets nomadies en as deel van ʼn oorlogmasjien, juis ʼn filosofiese aanval is op die klassieke psigoanalitiese en Cartesiaanse verstaan van subjektiwiteit.

2.2.1. Die oorlogmasjien in A Thousand Plateaus

Die oorlogmasjien is een van die konsepte wat Deleuze/Guattari losmaak van clichématige gebruik om daarvan ʼn radikaal nuwe komplekse filosofiese konsep te maak. In die eerste plek is die oorlogmasjien glad nie soos ʼn weermag nie. Volgens die skisoanaliste (2003b: 352) funksioneer oorlog buite die Staat. Oorlog word nie beheer deur die Staatapparatuur nie. Die Staat bestaan volgens Deleuze/Guattari uit twee onversoenbare pole. Aan die een kant kan die Staat oor ʼn geweld beskik wat nie deur oorlog gekanaliseer word nie, in die sin dat dit gebruik maak van ʼn sisteem van polisiëring. Binne hierdie geweldsregime opereer die Staat deur middel van ʼn gevangeneskap, dit konfiskeer en bind, om sodoende alle stryd en geveg te voorkom – tronkbewaarders, dus, in plaas van krygers. Aan die ander kant kan die Staat ʼn weermag verkry. Hierdie Staatsweermag funksioneer op ʼn spesifieke wyse wat ʼn juridiese integrasie en ʼn strukturele organisasie van die militêre funksie veronderstel. Die Staatsweermag funksioneer dus deur die voortdurende segmentering en organisasie van

oorlog. Dit sal duidelik word dat die oorlogmasjien nie reduseerbaar is tot enige van die bogenoemde pole van die Staatapparatuur nie. Die oorlogmasjien beweeg buite die soewereiniteit van die Staat en gaan sy wet vooraf: dit kom van elders.

Die twee pole van die Staat en die derde mag, die oorlogmasjien, word eerstens deur Deleuze/Guattari (2003b: 351-352) verduidelik deur figure uit die Indo-Europese mitologie as beeldmateriaal te gebruik. Indra, die god van die kryger, is in opposisie tot Varuna, die despoot, en Mitra, die wetgewer. Indra kan nie vereenvoudig word tot een van die ander twee nie, nog minder is hy ʼn derde van hulle soort. Hy is ʼn suiwer en onmeetbare veelvoudigheid, sê Deleuze/Guattari. Hy is die mag van metamorfose. Hy bring ʼn furor af op die soewereiniteit, ʼn vlugheid teenoor swaartekrag, ʼn geheim-sinnigheid teenoor die publieke, ʼn mag teenoor soewereiniteit, ʼn masjien teenoor die apparatuur. Die geregtigheid van Indra is van ʼn ander soort as dié van die despoot of die wetgewer. Indra is by tye wreed op ondenkbare wyses, en soms openbaar hy ʼn onmeetbare deernis. Hy sien alles in terme van wording (becoming). Hy kies ʼn bestaan van wordings bo dié van die binêre distribusies tussen toestande.

Volgens Deleuze/Guattari (2003b: 351-352) is die oorlogmasjien in elke opsig van ʼn ander spesie, van ʼn ander aard, van ʼn ander oorsprong as die Staatapparatuur11. Dit moet egter reeds hier gemeld word dat die oorlogmasjien nie in volslae opposisie teenoor die Staat bestaan nie. Die oorlogmasjien vul eerder ʼn grensposisie, soos hierbo genoem is, ʼn posisie tussen die despoot en die wetgewer. Dit sal met die verloop van die bespreking duidelik word dat algehele deterritorialisasies buite die Staat fataal mag wees. Die oorlogmasjien funksioneer (gewoonlik) nie volgens so ʼn algehele deterritorialisasie nie, dit maak slegs momentele ontvlugtingslyne uit die Staat moontlik. Die Staat en die oorlogmasjien impliseer mekaar; die een kan nie funksioneer sonder die bestaan van die ander nie.

11 Vir ʼn gedetailleerde uiteensetting van die formulering van die Staatapparatuur in Deleuze/ Guattariaanse terme, sien hoofstuk 6.

Tweedens word die verskil tussen die funksionering van die Staat en die funksionering van die oorlogmasjien verduidelik deur die verskil tussen twee bordspele as voorbeeld te gebruik (2003b: 352-353). Volgens die skisoanaliste is skaak die spel van die Staat. Skaakstukke is gekodeer, het elk ʼn intrinsieke identiteit en ʼn reeks eienskappe waaruit hul bewegings, situasie en konfrontasie ontspring. Skaakstukke funksioneer struktureel.

Go, hierteenoor, is die spel van die oorlogmasjien. Die beskrywing van die spel go op die

webtuiste van die American Go Association (2006: www.usgo.org/resources/ whatisgo.asp) dien as ʼn bondige definisie en dui ook op die aspekte van die spel waarin Deleuze/Guattari eienskappe van hul konsep, die oorlogmasjien, raaksien. Volgens die webtuiste is go ʼn bordspel wat rondom 4000 jaar gelede in China ontstaan het. Die spel is ook bekend as baduk, wei ch’i, en igo. In die Ooste, veral in Japan, Korea, China en Taiwan, is go veel gewilder as wat sy teenhanger, skaak, in die Weste is. Die spelreëls word as volg beskryf:

Two players alternate in placing black and white stones on a large (19x19 line) ruled board, with the aim of surrounding territory. Stones are never moved, and only removed if they are completely surrounded. The game rewards patience and balance over aggression and greed; the balance of influence and territory may shift many times in the course of a game, and a strong player must be prepared to be flexible but resolute. [...]

Like the Eastern martial arts, Go can teach concentration, balance, and discipline. One cannot disguise one’s personality on the Go board.

Die estetiese aspek van die spel word ook benadruk:

The game combines beauty and intellectual challenge. It can be played on a traditional, carved wooden board, with black and white stones made from slate and clamshell, or on a paper board with plastic stones. In either case, the patterns formed by the black and white stones are visually striking and can exercise an almost hypnotic attraction as one “sees” more and more in the constantly evolving positions.

Volgens die webtuiste is ‘goeie vorm’ (‘Good shape’) die grootste kompliment wat ʼn mens aan ʼn beurt in go kan gee.

Volgens Deleuze/Guattari (2003b: 352-353) funksioneer go soos die oorlogmasjien juis omdat go-stukke naamloos en kollektief is. Hier is sprake van ʼn derdepersoonsfunksie: ‘Dit beweeg.’ Hulle is elemente van ʼn nie-gesubjektiveerde masjienmontage met geen

intrinsieke eienskappe nie, alleen situasionele eienskappe. Die go-stuk het alleen ekstrinsieke verhoudinge met nebulas en konstellasies waarvolgens hulle die funksies vervul van invoeging, van situering, begrensing, omringing, breking; die hele milieu is een van uiterlikheid.

Die skaak-oorlog is gekodifiseer, geïnstitusionaliseer, gereguleer, met ʼn voorste en agterste linie, met gevegte. Die go-oorlog is, soos die oorlogmasjien, sonder gevegslinies, sonder konfrontasies of terugtrekkings (retreats), selfs sonder gevegte. Go is suiwer strategie, waar skaak semiologie is:

In Go, it is a question of arraying oneself in an open space, of holding space, of maintaining the possibility of springing up at any point: the movement is not from one point to another, but becomes perpetual, without aim or destination, without departure or arrival (Deleuze & Guattari 2003b: 353).

Die gelyke ruimte van go word deur Deleuze/Guattari gestel teenoor die gegroefde ruimte van skaak. Met ‘gegroefde ruimte’ word hier bedoel dat die bewegings oor die ruimte van die skaakbord gestruktureerd is en onderhewig is aan sekere beweegreëls van spesifieke, onderskeibare speelstukke. Die verskil is in wese dat skaak die ruimte kodifiseer en dekodifiseer, waar go die ruimte territorialiseer en deterritorialiseer.

Tussen die despotiese Staat (Varuna) en die wetgewende Staat (Mitra) spring die oorlogmasjien op, vanuit die buitekant. Tussen die twee koppe van die Staat, tussen die twee uitdrukkings van die Apparatuur, spring dit op terwyl dit beweeg tussen die twee. Dit beweeg soos weerlig, slegs ʼn flits waarin dit sy onherleibaarheid proklameer (2003b: 353-355). Die oorlogmasjien bestaan dus in ʼn beweeglike spanning tussen die Staat en dit wat buite die Staat beweeg. Die oorlogmasjien beweeg altyd op die grens van die Staat. Deleuze/Guattari (2003b:376-377) gebruik die konsep van die oorlogmasjien as ʼn manier om ʼn denkwyse te ontwikkel, ʼn denkwyse wat van denke ʼn oorlogmasjien sal maak. Binne hierdie denke word die verhouding met die buitekant, die leefwêreld, nie gemedieer deur enige innerlikheid soos ʼn bewussyn of siel nie. Hierdie denke is gewelddadig in hul aksies en onderbroke in hul verskynings. Dit is ʼn denke van die buitekant, ʼn denkwyse wat ʼn direkte en onmiddellike verhouding met die wêreld

moontlik maak. Dit is ʼn denke wat begin opereer soos ʼn guerillavegter, omdat dit nie die deurtrapte roetes van die gevestigde denkstrukture hoef te volg nie.

Die nomadiese denke van Deleuze/Guattari skaar sigself nie by ʼn universele denkende subjek nie, maar sien subjektiwiteit as ʼn radikale veelvoudigheid wat voortdurende transformasies ondergaan. Nomadiese denke begrond sigself nie in ʼn allesoorkoepelende totaliteit nie, maar word ontvou in ʼn horisonlose milieu wat ʼn gelyke, gladde ruimte is, ʼn steppe, ʼn woestyn, ʼn see (2003b: 379). Die nomadiese oorlogmasjien volg ʼn vloeibare weg. Wordinge (becomings) werp die oorlogmasjien verder buite die gegroefde grense van subjektiwiteit wat so onderdrukkend en stiptelik omskryf word deur die Staatapparatuur.

Die vraag ontstaan nou hoe die oorlogmasjien inpas in die denkarsenaal van wat die skisoanaliste Nomadologie noem. Eerstens kan gesê word dat ʼn nomadiese bestaan noodwendig die voorwaardes vir die bestaan van die oorlogmasjien tot stand bring. Die een impliseer die ander. Deleuze/Guattari (2003b: 380) wys hier op die nomadiese volke wat in woestyne hul bestaan maak, ʼn bestaan buite die gestruktureerde, gegroefde of erkende roetes en ommuurde stede van die Staat. Die nomade volg gebruiklike paaie na oases, tydelike tuistes en vergaderpunte:

But the question is what in nomad life is a principle and what is only a consequence. To begin with, although the points determine paths, they are strictly subordinated to the paths they determine, the reverse of what happens with the sedentary. The water point is reached only in order to be left behind; every point is a relay and exist only as a relay. A path is always between two points, but the in-between has taken on all the consistency and enjoys both an autonomy and a direction of its own. The life of the nomad is the intermezzo.

Dit word uit hierdie beskrywing duidelik hoe die bestaanswyse van die nomade (en ook die nomadiese subjektiwiteit) die bestaanswyse van die oorlogmasjien is.

Die oorlogmasjien is die ontdekking van die nomade (2003b: 380). Dit ontplooi ʼn denke en begeerte wat fundamenteel verskil van die Staatapparatuur, waaronder ook die psigoanalitiese apparatuur tel. Die oorlogmasjien is vir Deleuze/Guattari (2003b:

229-230) ʼn montage van kreatiewe kragte wat hoegenaamd nie oorlog as sy objek het nie; dit konsitueer eerder ʼn transformatiewe energie. Die oorlogmasjien kan gelees word as die manifestasie van die potensiële energie van die nomadiese subjektiwiteit.

Die Staat het ʼn sug na vasgestelde paaie in goedomskrewe rigtings wat spoed beperk, sirkulasie reguleer en die relatiewe bewegings van subjekte en objekte in detail meet (2003b: 386). Die oorlogmasjien is die konstitusie van ʼn gladde, ongegroefde ruimte wat deur die nomadiese subjek beset word. Die nomadiese subjek is die subjek wat bewus is daarvan dat dit voortdurend wordinge ondergaan, die ewige andersword, die meer- en minderwording van die self, sonder om te wil klou aan enige mitiese innerlikheid. Die oorlogmasjien bekragtig die mateloosheid van subjektiwiteit en vestig sigself in hierdie