• No results found

1.3. Die gesprek tussen die tekste

1.3.1. Die werkswyse met die twee literêre teksreekse

Die twee reekse prosatekste sal op ietwat verskillende wyses binne die betoog aangewend word. Strachan se trilogie sal gelees word as drie tekste wat elk sy eie geheel vorm maar ook mekaar informeer. Hierdie drie tekste sal in die eerste drie hoofstukke elk afsonderlik gelees word deur ʼn Deleuze/Guattariaanse bril. Ek wil in hierdie hoofstukke die tekste analiseer binne hierdie raamwerk om te wys hoe die hoofkarakter (naamloos in die eerste teks en bekend as Lenka in die laaste twee) gelees kan word as ʼn geslaagde narratiewe uitbeelding van ʼn nomadiese subjektiwiteit oor drie tekste heen. Hoofstukke 2 tot 4 sal dus ʼn verduideliking wees van die aard en bestaanswyse van die nomadiese subjektiwiteit soos dit verstaan word deur Deleuze/Guattari en hoe ek dit binne hierdie leeskonstruksie uitgebeeld sien in Strachan se tekste. Die tekste word nie alleen gebruik om die teorie te

verduidelik nie; die aanwending van hierdie teorie maak ook volgens my ʼn radikale nuwe lees van hierdie bekende werke moontlik.

In die tweede afdeling, waar Breytenbach se outobiografiese romans aan bod kom, is die werkwyse effens anders. In die eerste afdeling sal gepoog word om ʼn redelik uitgebreide analise van die subjektiveringsprosesse van die nomadiese hoofkarakter te bied wat ten doel het om ʼn nuwe leeskonstruksie van hierdie trilogie moontlik te maak. In die tweede afdeling sal egter slegs enkele spesifieke temas in elk van die tekste aangespreek word. Drie aspekte wat van belang is in die daarstel van ʼn Deleuze/Guattariaanse leeskonstruksie van ʼn nomadiese subjektiwiteit binne ʼn teks is, eerstens, die kwessie van outobiografie (hoe hierdie subjek oor sigself dink en skryf as ʼn radikale nomadiese veelvoudigheid), tweedens die kwessie van hoe die verskillende Staatsapparature die subjektiveringsprosesse en bestaanswyse van hierdie subjek beïnvloed en, laastens, die kwessie van taal, hoe hierdie nomadiese subjek taal sal gebruik in die kreatiewe skryfproses, of, anders gestel, hoe ʼn skrywer taal sal aanwend om ʼn karakter met ʼn nomadiese subjektiwiteit te skep. Soos aangedui is in die titels van die hoofstukke, word een tema per hoofstuk gekies en word hierdie tema bespreek aan die hand van een of twee van Breytenbach se tekste. Hier word dus geensins ʼn poging aangewend om die tekste in hul geheel te analiseer nie – slegs een tema wat sterk in die betrokke tekste na vore kom, word per hoofstuk uitgelig. Die rede hiervoor is tweërlei: in die eerste plek is Breytenbach se tekste veel oper geskryf as dié van Strachan, in die sin dat ʼn meer gedetailleerde analise van enige van hierdie tekste binne ʼn skisoanalitiese raamwerk die bestek van ʼn afsonderlike proefskrif in beslag sal neem. Tog voel ek ook dat die toepassing van die teorie op hierdie tekste, al is dit maar op ʼn enkele aspek van of tema uit elke teks, wel die weg wys na ʼn vernuwende lees van Breytenbach se hele oeuvre. Bloot weens die omvangrykheid van die studie het ek gekies om die ontsaglike korpus van studies wat reeds oor Breytenbach se oeuvre gepubliseer is nie by te haal in my bespreking nie. Dit sou gelei het tot omslagtige besprekings van die tekste waar talle onnodige herhalings van dieselfde inhoude vanuit verskillende teoretiese perspektiewe die loop van die argument sou kniehalter. Ek kies dus om in my besprekings van

Breytenbach ʼn nougesette fokus vanuit ʼn Deleuze/Guattariaanse perspektief te handhaaf. Waar ander kritici se werke sinvol bydra tot die bespreking is hulle wel ingesluit.

In die tweede plek voel ek dat alhoewel al die temas wat aan bod kom in hierdie proefskrif in elk van die Breytenbach-tekste (en inderdaad in sy hele oeuvre) aanwesig is, die proefskrif meer verstaanbaar en gestruktureerd sal wees binne ʼn werkswyse wat konsentreer op ʼn enkele tema wat in ʼn bepaalde teks miskien meer op die voorgrond is (byvoorbeeld die werking van die Staatapparatuur in The True Confessions of an Albino

Terrorist of die tema van tuisteskepping of territorialisering in Dog Heart). Dieselfde kan

gesê word van die behandeling van die Strachan-tekste: Alhoewel die inhoude van die oorlogmasjien, die Liggaam sonder Organe en die veelvoudige wordingsprosesse in al drie tekste raakgelees kan word, maak dit vir die strukturering van die betoog meer sin om die uitgebreide bespreking van hierdie verwikkelde en uiters ingewikkelde konsepte te koppel aan ʼn bepaalde teks en sodoende die leser stap vir stap te lei deur die betoog. Die hoofstukindeling is gestruktureer met die doel om te begin by die meer basiese konsepte sodat, soos die hoofstukke volg, die kennis wat in die eerste hoofstukke opgedoen is, die latere hoofstukke sal informeer. Om my analise van die eerste Strachan-teks te volg, is dit byvoorbeeld slegs nodig om die konsep van die oorlogmasjien en ʼn uiters vereenvoudigde definisie van die nomadiese subjek aan die leser te bied; die hoofstuk wat daarop volg wat handel oor die Liggaam sonder Organe, bou hierop voort. Die laaste hoofstuk in die proefskrif, wat handel oor die teks as risoom, vereis dan egter ʼn voorkennis van al ses vorige hoofstukke se besprekings van die onderskeie konsepte. Die teoretiese instrumente word dus stelselmatig meer, meer verwikkeld en meer ingewikkeld, soos die betoog voortbeweeg. Die konsepte en idees rondom die wese van die nomadiese subjektiwiteit stapel op met verloop van die betoog sodat die diagram wat getrek word met elke hoofstuk wyer en meer verwikkeld word.

Omdat die betoog dit vereis dat sekere konsepte wel gebruik moet word in bepaalde argumente voor hierdie konsepte volledig verduidelik is in die betoog self, het ek ʼn woordelys aan die einde van die proefskrif geplaas sodat die leser daarheen kan keer

sodra hy/sy begin swerwend voel. Die rede hoekom ek nie hierdie konsepte noodwendig volledig in die teks self wil verduidelik die eerste maal as hulle aan bod kom nie, is bloot dat Deleuze/Guattariaanse konsepte eerder gedemonstreer as gedefinieer moet word, en dat die betoog nie vlot sal verloop met lang onderbrekings nie. Elk van die ses hoofstukke (plato’s) wat die tekste bespreek, is op ʼn sekere vlak ook ʼn verduideliking of demonstrasie van ʼn enkele skisoanalitiese konsep. Die woordelys dien slegs om die leser se denke te rig, en hierdie inskrywings moet nie as volledige definisies gesien word nie.