• No results found

Tema 1: Subtema 2 – Onvoldoende voorsiening in basiese behoeftes van die kleuter

Subtema 1 Afwesigheid van

4.3 TEMA 1: BYDRAENDE RISIKOFAKTORE TEN OPSIGTE VAN DIE KLEUTER AS INDIVIDU

4.3.2 Tema 1: Subtema 2 – Onvoldoende voorsiening in basiese behoeftes van die kleuter

Die kategorieë wat in Subtema 2 uitgelig is, is Voedingsnood, Persoonlike veiligheid en Emosionele behoeftes van die kleuter. Die eerste kategorie, naamlik Voedingsnood, word vervolgens bespreek.

4.3.2.1 Kategorie 1: Voedingsnood

Uit die resultate van die ondersoek blyk dit dat die deelnemers van mening is dat die ouers eerder hul bestaande beskikbare fondse sal aanwend om alkohol en dwelms aan te skaf as om in die kinders se voedselnood te voorsien. Een deelnemer het dit soos volg gestel: “Hulle misbruik die kinders se toelaag (om alkohol te koop) en die kind is koud en honger en kry nooit nuwe klere en tog het sy toegang tot die toelaag”. ‘n Ander deelnemer het genoem dat sy weet dat solank sy vir die kleuters kos gee hulle op die strate sal bly want die kleuters weet iemand sal vir hulle kos gee. Hierdie bevindinge van die ondersoek stem ooreen met ’n studie wat deur Jensen (2012:79) gedoen is en waar bevind is dat ouers eerder alkohol sal aanskaf met beskikbare fondse as om in die kinders se voedselbehoefte te voorsien. Dit het tot gevolg dat ’n aantal kinders honger gelaat word.

82

Volgens die deelnemers is daar ook geen voedingskema in plek vir hierdie kwesbare groep kleuters wat in die strate sonder toesig rondbeweeg op soek na kos nie. Die deelnemers meld dat sommige van die kinders honger is aangesien hulle uitgesluit word uit hul huise wanneer die ouers werk toe gaan. Sommige van die ouers is van mening is dat dit veiliger is indien almal in die gemeenskap die kind kan sien eerder as om die kind in die huis alleen te laat waar die kind meer kwesbaar blyk te wees vir seksuele misbruik. Een van die deelnemers het die volgende opmerking in hierdie verband gemaak: ”Die kind is veiliger want ander kan haar sien, maar sy is blootgestel aan hierdie mans. Wat dan gebeur is dat die kinders soms nie kos het nie en dan vir hierdie groter mans vir geld vra om kos te koop. Die groter mans sal die geld gee, maar iets in ruil wil hê”. ’n Ander deelnemer het byvoorbeeld genoem dat die kinders wat in die strate rond slender niks kos kry nie want die voedingskema het in duie gestort. Nog ’n deelnemer het die volgende in dié verband gemeld: “As jy die heeldag niks geëet het nie en jy weet daar is nie kos by die huis, so alles in ag genome is dit armoede, dit is hongersnood”. Hierdie bevinding ten opsigte van onvoldoende voorsiening in die kleuters se basiese behoefte sluit aan by Louw en Louw (2007:153) asook Van Niekerk (2006:103) se siening dat talle kinders in Suid-Afrika daagliks kwesbaar is vir seksuele misbruik in hul poging om in hul basiese behoeftes te voorsien.

Hierdie voedingsnood van die kleuters wie se ouers bestaande fondse ontvang om in die kleuters se voedselnood te voorsien maar dit vir eie gewin misbruik, veroorsaak dat hierdie groep kinders kwesbaar gelaat word vir seksuele misbruik aangesien hulle uitgelewer is aan die gemeenskap om in hul voedingsnood te voorsien. Die afwesigheid van ’n voedingskema in die gemeenskap wat daagliks voeding aan alle kleuters in die gemeenskap voorsien terwyl die ouers uithuisig is om werk te bekom, verhoog verder dié groep kinders se kwesbaarheid aangesien hulle in die strate rondbeweeg op soek na kos en sodoende deur vermeende misdadigers uitgebuit word.

Die tweede kategorie van Subtema 2, naamlik Persoonlike veiligheid, word vervolgens aan die hand van narratiewe bespreek.

4.3.2.2 Kategorie 2: Persoonlike veiligheid

Die bevindinge van hierdie studie dui aan dat die deelnemers ook van mening is dat die ouers gereeld hul kleuters waarsku om nie geld of kos van die volwasse ouer mans in die gemeenskap te aanvaar nie. Die kinders luister in die meerderheid van gevalle egter nie na hul ouers nie. Een deelnemer het byvoorbeeld gemeld dat die kinders nie na die ouers luister nie en dat die ouers gereeld vir die kinders sê om nie geld van die mans te neem nie. Volgens die deelnemer besef die kinders nie die gevaar nie. ’n Ander deelnemer het weer die volgende

83

opmerking gemaak: “Dit is omdat hierdie kind nie die gevaar ken nie, die kind wil die ding hê wat die man haar gee, miskien gee die man vir haar geld om lekkers te koop, so die kind is nie bewus van die gevaar nie”. Soos deur die bevindinge van hierdie studie uitgewys, meld Van Wyk (2010:66) ook dat kleuters dikwels die prooi word van die misdadigers van seksuele misbruik omdat die kleuters so ’n beperkte kennis en begrip het van dit wat met hulle gebeur. Louw et al. (2007:376) en Pistorius et al. (2012:30) meld dat die meerderheid van kinders in die informele nedersettings in Suid-Afrika grootword met ’n siening dat geweld en seksuele misbruik ’n normale verloop in die daaglikse gebeure van die gesin is omdat hulle so gereeld daaraan bloot gestel word.

As gevolg van die kleuters se ontwikkelingsfase toon hulle nie die nodige insig om te begryp watter gevaar hul dade inhou nie. Hulle verstaan dus nog nie dat om in die strate rond te beweeg sonder toesig hulle kwesbaar laat vir seksuele misbruik nie, al sou hul ouers hulle daarteen gewaarsku het. Ander is weer so gewoond aan die geweld in die gemeenskap dat hulle as gevolg daarvan nie meer bedag is om hulself daarteen te beskerm nie.

Die derde kategorie wat vervolgens in hierdie subtema bespreek word, is die Emosionele behoeftes van die kind. Hierdie kategorie word vervolgens bespreek.

4.3.2.3 Kategorie 3: Emosionele behoeftes van die kind

Uit die resultate van die ondersoek blyk dit dat die deelnemers van mening is dat talle kinders sonder die emosionele koestering van hul ouers moet leef. Een deelnemer het dit soos volg gestel: "Jy kan duidelik die kind sien, sy (die moeder) het hom amper weggedruk asof sy nie geïnteresseerd in hom was nie en die seuntjie se skoene het nie gepas nie, hy het 'n dun klein baadjie aangehad dit was ‘n koue dag en die moeder was nie bekommerd nie". ’n Ander deelnemer het weer gemeld dat die kinders getraumatiseer is. Die kinders lewe in chaos en moet laste dra wat geen kind veronderstel is om te doen nie. Die bevindinge van hierdie ondersoek stem ooreen met Barnett (2005:109) wat meld dat waar kinders emosioneel verwaarloos word hulle ’n verhewe behoefte aan aandag en erkenning openbaar wat hulle meer kwesbaar laat vir seksuele misbruik. Studies deur Laaksonen et al. (2011:488) toon verder dat waar daar ’n beperkte vermoë by ouers is om die nodige toesig en ondersteuning aan hul kinders te verleen, dit ’n leemte skep wat die kinders meer kwesbaar maak vir seksuele misbruik. Volgens die outeurs is emosioneel verwaarloosde kinders meer geneig om slagoffers te word van misdadigers wat aan die kinders die nodige ondersteuning en erkenning verskaf tydens die vroeë fases van seksuele misbruik. Spies (2006:75) brei hierop uit deur te meld dat kinders koestering en warmte tuis by hul ouers moet ontvang anders sal hulle alternatiewe bronne soek om hul behoeftes te bevredig. Volgens die outeur kan kleuters as gevolg van hul

84

kognitiewe vermoëns nie onderskei tussen gesonde en ongesonde bronne van koestering en versorging nie en dit laat hulle kwesbaar vir seksuele misbruik.

Pistorius et al. (2012:29) sluit by hierdie bevinding aan en dui aan dat ouers wat onder die broodlyn leef meer daarop ingestel is om skuiling en kos aan hul kinders te verskaf as om in hul kinders se emosionele behoeftes te voorsien. Pretorius en Pistorius (2012:13) meld in hierdie verband dat die proses van gereedmaking vir seksuele misbruik (in Engels word die term grooming gebruik) ’n reeks aksies behels wat die misdadiger doelbewus onderneem om die kind te bevriend en ’n emosionele band met die kind te vorm en sodoende die kind se inhibisies te verlaag ter voorbereiding vir die seksuele misbruik. Pistorius et al. (2012:36) sluit hierby aan en meld dat kinders met ouers wat ’n onbetrokke ouerstyl gebruik, geneig is om deur misdadigers in die gemeenskap misbruik te word aangesien die kinders ondersteuning en aanvaarding elders gaan soek.

Aandag en koestering is belangrik vir die gesonde ontwikkeling van die kleuter. Wanneer ouers dus nie hul kleuters koester nie omdat daar net in die kinders se fisiese behoeftes voorsien word soos deur Pistorius et al. (2012:29) van melding gemaak word, skep dit ‘n leemte in terme van emosionele versorging, wat kleuters kwesbaar maak vir seksuele misbruik. Die gebrek aan aandag en koestering tuis maak dus kleuters meer kwesbaar vir seksuele misbruik.

Die volgende hooftema wat duidelik deur die meerderheid van deelnemers uitgewys is, was Bydraende risikofaktore in die gesin as mikrosisteem. Dit word vervolgens bespreek.