• No results found

DIE EKOLOGIESE SISTEEMPERSPEKTIEF

2.4 SEKSUELE MISBRUIK VAN KINDERS

2.4.4 Fases in die seksuele misbruik van die kind

Spies (2006:45) meld dat seksuele misbruik van kinders net so uniek in die definisie van die daad is as wat die traumatiese ervaring van die daad is deurdat dit dikwels 'n subtiele proses is wat nie noodwendig gewelddadige dwang insluit nie. Barnett et al. (2005:100) brei hierop uit en meld dat die interaksie tussen die volwassene en die kind aanvanklik onskuldig mag wees met weinig kontak. Sodra die misdadiger egter daarin geslaag het om ’n vertrouensverhouding met die kind op te bou, kan die gebeure ’n seksuele aard aanneem en uiteindelik op omgang uitloop. Berliner (2011:220) verklaar dat hierdie proses die kind verwar aangesien baie kinderslagoffers nie die verhouding met die misdadiger aanvanklik as traumaties en mishandelend ervaar het nie en dus nie die gebeurtenis altyd as traumaties kan beskryf nie. Barnett et al. (2005:107) vind dus dat die slagoffers die hulpverlening tydens bekendmaking soms as sekondêre trauma beleef aangesien die hulpverleners tydens die bekendmaking soms die kind traumatiseer of belas met hul eie persoonlike menings of emosies. Spies (2006:46) meld dat vyf fases verloop in die proses van seksuele misbruik van kinders. Hierdie fases sal vervolgens bespreek word aangesien dit belangrik blyk te wees in hierdie studie om te verstaan op watter wyse die misdadiger die kleuter aanlok om uiteindelik die kleuter seksueel te misbruik in die spesifieke informele nedersetting waar die studie onderneem is.

2.4.4.1 Fase van betrokkenheid

Hierdie stadium vind plaas by die aanvang van die misbruik waar die misdadiger toegang verkry tot die kind. Die misdadigers speel op kinders se behoefte aan menslike kontak en liefde, hul behoefte aan volwasse goedkeuring, hul genot van spel en hul belangstelling in materiële

38

beloning (Spies, 2006:46; Van Wyk, 2010:28). Kruger en Spies (2006:159) meld dat veral kleuters in hul bepaalde ontwikkelingsfase ’n groot behoefte aan aandag en kontak het, en dus meer vatbaar is vir die aandag van die misdadiger wat in hierdie behoefte voorsien. Barnett et al. (2005:100), Berliner (2011:220) asook Pretorius en Pistorius (2012:12) brei hierop uit en meld dat die vermeende misdadiger se doel in hierdie fase is om ’n emosionele band met die kind te vorm wat sal poog om die kind se inhibisies te verlaag ter voorbereiding op die seksuele misbruik.

2.4.4.2 Fase van seksuele interaksie

Die misdadiger betrek in hierdie stadium die kind by seksuele kontak wat ontoepaslik vir die kind se ouderdom is. Hierdie misbruik kan wissel van die besigtiging en betasting van 'n kind tot uiteindelik seksuele omgang met die kind (Barnett et al., 2005:100; Spies, 2006:47). Aangesien die kleuter eers in die bepaalde ontwikkelingsfase konsepte soos skuldgevoel, skaamte en trots begin ontwikkel, toon die kleuter nie die nodige begrip om te verstaan dat die betasting en seksuele omgang onvanpaste gedrag deur die misdadiger is nie (Papalia & Feldman, 2011:285).

2.4.4.3 Fase van geheimhouding

Die misdadiger se doelwit in hierdie stadium is om voortgesette toegang tot die kind te verseker om sodoende seksuele kontak te behou. Misdadigers sal dus hul mag oor die kind probeer behou deur te koop, te dreig of die kind emosioneel af te pers (Berliner, 2011:220). Barnett et al. (2005:101) sluit hierby aan en meld dat die slagoffers ook vrees kan ervaar aangesien hulle besef dat hulle nie die seksuele misbruik openbaar kan maak sonder dat daar verliese op verskillende vlakke in hul lewe sal plaasvind nie. Roos (2005:75) meld vervolgens dat die slagoffers, wat lief kan wees vir die misdadigers, soms bang is hulle verloor die toegeneentheid van die misdadigers as hulle die misbruik sou bekend maak of kontak met die misdadigers sou weier. Volgens Spies (2006:47) ervaar die slagoffers dikwels dat hulle gefouteer het, en hulle vrees verwerping deur hul families en die verwydering van hulself of die misdadiger uit die gesin. Die outeur meld dat hierdie vrees wat by die slagoffer ingeskerp is ten doel het om die slagoffer onder die beheer van die misbruiker te hou. Geldard en Geldard (2008:263) beklemtoon dat geheimhouding die dinamiek in seksuele misbruik is wat die slagoffers in vrees en stilte hou en wat daartoe lei dat die pyn en onaangenaamheid van die seksuele misbruik voortgebou word.

39 2.4.4.4 Fase van openbaarmaking

Pretorius (2012:98) meld dat openbaarmaking nie ’n vinnige proses is nie, maar iets is wat oor ’n tydperk plaasvind. Volgens die outeur gebeur dit soms dat die slagoffer nog te jonk is en nie oor die nodige woordeskat beskik om te kan vertel wat gebeur nie. Ferrara (2002:175) en Van Wyk (2010:65) sluit hierby aan en meld dat die kleuter seksuele misbruik alleenlik kan openbaar en aanmeld indien die kleuter oor die nodige woordeskat beskik, maar aangesien talle kleuters nog nie oor die nodige woordeskat beskik nie gaan die misbruik ongesiens verby. Spies (2006:47) brei hierop uit en meld dat openbaarmaking in sommige gevalle per toeval kan plaasvind omdat ’n derde party dit waargeneem het. In ander gevalle is dit die kinders self wat die seksuele misbruik bekend maak omdat hulle ’n ontwikkelingsfase betree waarin hulle begin besef dat die gedrag van die misdadiger onvanpas is. Volgens Pretorius (2012:99) kan dit ook gebeur dat die kind dit net eenmalig openbaar en daarna nie weer nie omdat die kind skuldgevoelens en gevoelens van skaamte mag ervaar om deel van die aksie te kon wees. Geldard en Geldard (2008:128) sluit hierby aan en meld dat die kinders soms medepligtig voel en daarom hierdie gevoelens van skuld en skaamte ervaar. Barnett et al. (2005:101) meld egter dat dit presies die reaksie is wat die misdadiger poog om by die kind te ontlok in ’n poging om die kind te weerhou om die misbruik bekend te maak.

2.4.4.5 Fase van onderdrukking

Die finale of onderdrukkingsfase vind plaas wanneer mense na aan die slagoffer die slagoffer aanmoedig of verplig om die bewerings te herroep of te vergeet as gevolg van hul eie afkeer van die kwessie, uit vrees vir die skandaal of stigma wat met die misbruik geassossieer word of uit vrees vir die gevolge van die bekendmaking (Pretorius, 2012:97; Spies, 2006:49). Volgens Spies (2006:49) ervaar die slagoffer dieselfde vorm van magteloosheid tydens hierdie fase as wat die slagoffer tydens die misbruik proses ervaar het.

Vervolgens word die verskillende indikatore bespreek wat ’n aanduiding is dat moontlike seksuele misbruik plaasvind.