• No results found

TEMA 3: BYDRAENDE RISIKOFAKTORE IN DIE WISSELWERKING TUSSEN DIE GESIN EN BURE AS MESOSISTEEM

Subtema 1 Afwesigheid van

4.5 TEMA 3: BYDRAENDE RISIKOFAKTORE IN DIE WISSELWERKING TUSSEN DIE GESIN EN BURE AS MESOSISTEEM

Louw en Kail (2007:27), Papalia en Feldman (2011:36) asook Thomlinson (2004:96-97) definieer die mesosisteem as die wisselwerking tussen twee of meer mikrosisteme. Volgens die outeurs het die verhoudings en sosiale netwerke wat daar tussen mikrosisteme soos die gesin en die bure bestaan ’n direkte uitwerking op die ontwikkeling van die kleuter. Thomlinson (2004:96-97) toon aan dat waar daar ’n swak of negatiewe wisselwerking tussen die gesin en die bure in die onmiddellike omgewing bestaan, dit ’n definitiewe invloed uitoefen op die kind se kwesbaarheid ten opsigte van seksuele misbruik.

Volgens die deelnemers wat aan die studie deelgeneem het, heers daar ’n gebrek aan ’n gees van ubuntu in die spesifieke gemeenskap. Die deelnemers was van mening dat hierdie afwesigheid van ubuntu die kwesbaarheid van die kleuters ten opsigte van seksuele misbruik verhoog aangesien daar ’n swak wisselwerking tussen die gesin en die bure op mesovlak in die gemeenskap bestaan. Hierdie bevindinge van die ondersoek word vervolgens in Subtema 1, naamlik “Afwesigheid van ubuntu”, aan die hand van narratiewe uit die transkripsies bespreek.

91

4.5.1 Tema 3: Subtema 1 – Afwesigheid van ubuntu

Uit die resultate van die studie blyk dit dat die deelnemers van mening was dat die inwoners in die spesifieke informele nedersetting nie mekaar bystaan nie. Volgens die deelnemers help bure nie meer vir mekaar wanneer hulle sien dat ’n gesin hulp benodig nie. Een deelnemer stel dit soos volg: “Daar is net nie meer ‘n gees van ubuntu nie waar dit ‘n gemeenskap neem om ‘n kind groot te maak nie, in die verlede sou almal gehelp het om die kind groot te maak maar nou wil niemand meer help nie, nie eers die familie nie, hulle het die gees van ubuntu verloor”. Bogenoemde bevindinge van die studie, soos deur die deelnemers uitgewys, sluit aan by Plummer en Njuguna (2009:527) se mening dat kulturele praktyke as buffer- of risikofaktore gesien kan word aangesien die wyse waarop die gemeenskap die kinders van daardie gemeenskap waardeer en koester in woorde asook in dade bepaal hoe kwesbaar die kinders vir seksuele misbruik is.

Die volgende kategorie is uit bogenoemde subtema geïdentifiseer, naamlik Neem nie medeverantwoordelikheid vir mekaar nie.

4.5.1.1 Kategorie 1: Neem nie medeverantwoordelikheid vir mekaar nie

Die ondersoek toon dat hoewel die meerderheid van die inwoners bewus is van kinders wat seksueel misbruik word, hulle nie optree nie. Die deelnemers meld dat bure geen poging sal aanwend om ’n kind te beveilig nie, maar die ouer sal blameer omdat die ouer nie die kind beveilig het nie. ‘n Ander deelnemer het gemeld: “Ons het ‘n kind hierdie week gevind wie sonder kos was vir ‘n lang tyd, sy was baie swak, ‘n klein meisie, sy is nou in ons sorg, almal het ons kom vertel dat die versorger nie na die kind omsien nie, sy was uitgesluit uit die huis, terwyl die vrou werk toe was, sy het nie die kind gewas nie, sy het nie die kind kos gegee nie, maar hulle het self niks omtrent die kind gedoen nie”. Hierdie veranderde apatiese ingesteldheid van gemeenskapslede teenoor mekaar, soos deur die deelnemers uitgewys, word ook deur Louw et al. (2007:366) en Van Niekerk (2006:103) bevestig, wat aandui dat die sosio-politieke geskiedenis van Suid-Afrika gesins- en familielewe afgebreek het. Die outeurs meld dat mense in agtergeblewe gemeenskappe daagliks geweld ervaar en afgestomp geraak het vir die nood van ander in ’n poging om emosioneel en sielkundig te oorleef.

In die spesifieke informele nedersetting blyk dit dus dat bure nie meer medeverantwoordelikheid vir mekaar se kinders neem nie deurdat hulle nie meer mekaar se kinders beveilig wanneer die ouers uithuisig is nie. Die meerderheid deelnemers het aangedui dat hulle nie meer by ander se probleme betrokke raak nie as gevolg van die wetteloosheid en gewelddadigheid in die gemeenskap. Soos een deelnemer dit gestel het: “Niemand het dit gerapporteer nie alhoewel

92

dit ‘n informele behuisings area is waar almal daarvan bewus was”. ’n Ander deelnemer het gemeld: “Dit is omdat hulle vrees ervaar dat hulle nie wil betrokke raak nie, omdat hulle vrees dat iemand iets slegs aan hulle kan terug doen”. Omdat die inwoners self onveilig voel en magteloos voel teen die geweld en misbruik in die gemeenskap ervaar hulle nie voldoende mag om te kan optree nie. Die bevindinge van hierdie studie sluit aan by studies wat deur Barolsky (2012:146) onderneem is en waar gevind is dat daar veral in die informele nedersettings waar oorbevolking aan die orde van die dag is ’n gees van onbetrokkenheid by mekaar se omstandighede heers. Volgens die outeur is dit omdat die inwoners in die informele nedersettings elkeen daagliks moet veg om te oorleef en in hul eie basiese behoeftes moet voorsien. Dit lei daartoe dat hulle afgunstig word op mekaar en dat hulle nie by mekaar se nood betrokke wil raak nie al is hulle duidelik bewus daarvan. Barolsky (2012:134) asook Pistorius et al. (2012:26) meld dat die gesinslewe van die kind wat misbruik word gekenmerk kan word as geïsoleerd en gefragmenteerd van die ander familielede, bure en gemeenskap.

Die bevindinge van hierdie studie toon duidelik dat daar ’n gebrekkige wisselwerking tussen die gesin en bure in hierdie gemeenskap bestaan. As gevolg van elke gesin se stryd om te oorleef, word hulle afgestomp ten opsigte van mekaar se laste en meld hulle nie meer misdaad aan wanneer dit teen nabygeleë bure gepleeg word nie. Hierdie apatiese ingesteldheid laat die kleuters kwesbaar aangesien gesinne nie meer op bure kan staatmaak om in te tree wanneer die ouers nie aanwesig is nie.

Die vierde hooftema wat deur die bevindinge uitgewys is, is Bydraende risikofaktore in die sosiale dienste as eksosisteem. Hierdie hooftema word vervolgens bespreek.

4.6 TEMA 4: BYDRAENDE RISIKOFAKTORE IN DIE SOSIALE DIENSTE AS