• No results found

Identifisering van risikofaktore wat bydra tot seksuele misbruik van kleuters in 'n informele nedersetting in Buffalo City

N/A
N/A
Protected

Academic year: 2021

Share "Identifisering van risikofaktore wat bydra tot seksuele misbruik van kleuters in 'n informele nedersetting in Buffalo City"

Copied!
162
0
0

Bezig met laden.... (Bekijk nu de volledige tekst)

Hele tekst

(1)

i

Identifisering van risikofaktore wat

bydra tot seksuele misbruik van

kleuters in 'n informele nedersetting in

Buffalo City

PS Nel

23290420

Verhandeling voorgelê vir die graad

Magister

in

Maatskaplike

Werk

aan die Potchefstroomkampus van die

Noordwes-Universiteit

Studieleier:

Dr C van Wyk

Medestudieleier:

(2)

ii VERKLARING

Hiermee verklaar ek dat Identifisering van risikofaktore wat bydra tot seksuele misbruik van kleuters in ‘n informele nedersetting in Buffalo City my eie, oorspronklike werk is, dat ek die alleenouteur daarvan is (behalwe in die mate uitdruklik anders aangedui), dat reproduksie en publikasie daarvan deur die Noordwes-Universiteit nie derdepartyregte sal skend nie, dat ek dit nie vantevore, in die geheel of gedeeltelik, ter verkryging van enige kwalifikasie aangebied het nie en dat alle bronne wat ek gebruik of aangehaal het, aangedui en erken is by wyse van volledige bronverwysings.

___________________________________________

HANDTEKENING DATUM: 2013-04-29

(3)

iii VERKLARING VAN TAALVERSORGER

29 Oktober 2012

Hiermee verklaar ek, Amanda Matthee, dat ek die taal- en tegniese versorging van die verhandeling van PS Nel, getitel Identifisering van risikofaktore wat bydra tot seksuele misbruik van kleuters in ‘n informele nedersetting in Buffalo City, behartig het.

Amanda Matthee

BA, Nagraagde Diploma in Vertaalkunde, Honneurs (cum laude), MA (cum laude) (Stellenbosch)

T 021 979 5050 M 082 570 3895

(4)

iv DANKBETUIGINGS

Ek dra graag my opregte dank oor aan die volgende persone en instansies:

• Dr. Carlien van Wyk, my studieleier, vir haar kundige leiding, motivering en ondersteuning wat bygedra het tot die voltooiing van hierdie studie

• Prof. Retha Bloem en al die personeel by die Sentrum vir Kinder-, Jeug- en Familiestudies aan die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, Noordwes-Universiteit, vir die entoesiasme waarmee hulle Gestalt Spelterapie aan die studente oordra

• Die organisasie wat hulp verleen het tydens die uitvoer van die ondersoek

• My man, Gert, vir sy volgehoue ondersteuning, motivering en geloof in my. Ek waardeer dit ongelooflik baie. Sy hulp en standvastigheid het my gehelp om hierdie studie te voltooi.

• My kinders, Marloné en Richard, wat baie moes opoffer. Dankie aan Marloné vir haar aanmoediging om hierdie droom te verwesenlik. Dankie aan Richard, en jammer oor al die afskeep-tye en wegneemetes.

• My moeder, MC Lombard, vir haar ondersteuning en die voorbeeld wat sy gestel het deur op ’n laat ouderdom verder te gaan studeer

• My vriende vir al hul aanmoediging en ondersteuning

• Amanda Matthee wat die taalversorging van hierdie verhandeling behartig het

• Helena en Jeanette Crous vir die noukeurige en volledige transkribering van al die digitale klankopnames

(5)

v OPSOMMING

Seksuele misbruik van kinders is ’n realiteit wat daagliks in gemeenskappe voorkom. In een spesifieke informele nedersetting in Buffalo City, waar die navorser voorheen as maatskaplike werker diens gelewer het, toon statistiek dat dit veral kleuters is wat die kwesbaarste is vir seksuele misbruik. Die sosio-ekonomiese omstandighede van die ouers lei daartoe dat daar nie voldoende beskerming vir hul kleuters is nie, wat uiteindelik die kinders kwesbaar laat vir seksuele misbruik. Navorsing toon dat daar binne elke gemeenskap bydraende risiko- en bufferfaktore aanwesig is ten opsigte van die seksuele misbruik van kinders. Die doel van hierdie studie was om ‘n beskrywende, kwalitatiewe ontwerp te gebruik om die risikofaktore wat bydra tot seksuele misbruik van kleuters in die spesifieke informele nedersetting in Buffalo City te verken en te beskryf. Die navorsingsvraag vir die studie lui soos volg: ”Wat is die risikofaktore wat bydra tot seksuele misbruik van kleuters in 'n spesifieke informele nedersetting in Buffalo City?”

Semi-gestruktureerde een-tot-een onderhoude is benut om met 16 deelnemers onderhoude te voer. ’n Doelgerigte, nie-waarskynlikheidsteekproeftrekking is gebruik om ouers of versorgers van kleuters wat seksueel misbruik is asook gemeenskapsleiers in die nedersetting te selekteer sodat onderhoude met hulle gevoer kon word. ’n Gedetailleerde beeld is van die deelnemers verkry ten opsigte van hul persepsie van wat bydraende risikofaktore is wat hul kleuters kwesbaar laat vir seksuele misbruik. Die onderhoude is aan die hand van ’n onderhoudskedule gevoer, wat na aanleiding van ’n literatuurstudie saamgestel en daarna getoets is. Daar is van onderhoudvoering, waarneming, refleksies en veldnotas gebruik gemaak as wyses van data-insameling. Al die data wat deur middel van bogenoemde metodes ingesamel is, is in ag geneem tydens die analise. Vir die doeleindes van data-analise is die onderhoude getranskribeer, waarna dit aan die hand van Creswell (2009) se stappe geanaliseer is.

Die ekologiese sisteemperspektief het gedien as die teoretiese raamwerk vir hierdie studie en vyf temas is in hierdie konteks geïdentifiseer. Die temas is in subtemas en kategorieë verdeel en aan die hand van toepaslike narratiewe bespreek, waarna die bevindinge ook met bestaande literatuur gekontroleer en geverifieer is. Die resultate kan soos volg saamgevat word:

i. By die kleuter as individu is bevind dat wanneer die kleuter sonder voldoende toesig alleen tuis gelaat word en daar nie na behore in dié kind se basiese behoeftes voorsien word nie, dit as risikofaktore bydra tot die kwesbaarheid van die kleuter vir seksuele misbruik.

(6)

vi

ii. Op die mikrosistemiese vlak is ontoereikende ouerskap as ’n bydraende risikofaktor geïdentifiseer.

iii. Die onbetrokkenheid van bure as gevolg van die afwesigheid van ubuntu is as bydraende risikofaktor op die mesovlak uitgewys.

iv. Onvoldoende programme deur die sosiale diensleweringsorganisasies aan kleuters is op die eksosistemiese vlak as bydraende risikofaktor geïdentifiseer.

v. Armoede en onvoldoende infrastruktuur is as bydraende risikofaktore vanuit die gemeenskap as makrosisteem uitgewys.

Sleutelterme: Seksuele misbruik, Kleuter, Risikofaktore, Bufferfaktore, Ekologiese sisteemperspektief, Voorkomingsgerigte dienslewering

(7)

vii SUMMARY

Sexual abuse of children is a reality that occurs in communities on a daily basis. In a specific informal settlement in Buffalo City, where the researcher has previously worked as social worker, statistics showed that children in their early childhood are the most vulnerable to sexual abuse. The parents' socio-economic circumstances lead to inadequate protection and security for their minor children, making them vulnerable to sexual abuse. Research shows that each community has specific risk and protection factors in respect of sexual abuse. The aim of this study was to explore and describe through a descriptive, qualitative design the risk factors that contribute to sexual abuse of children in a particular informal settlement in Buffalo City. The research question for the study reads as follows: What are the risk factors that contribute to sexual abuse of children in a particular informal settlement in Buffalo City?

Sixteen participants were interviewed by means of semi-structured one-on-one interviews. Purposeful, non-probability sampling was used to select parents or caregivers of children who were sexually abused as well as community leaders in the community to participate in the interviewing. Detailed reflections were obtained from participants of their perceptions of contributing risk factors that left the children vulnerable. These interviews were conducted with the use of an interview schedule that was compiled in accordance with a literature study and thereafter tested. The methods that were use to capture data were interviewing, observations, reflections and fieldnotes. The interviews were transcribed for the purposes of data analysis and were analysed according to the steps of Creswell (2009).

The ecological system perspective has served as the theoretical framework for this study, and five themes were identified in this context. These themes were divided into sub-themes and categories, and were discussed with relevant narratives. The narratives were obtained from the transcripts. Finally, the findings were checked and verified against existing literature. The results can be summarised as follows:

i. According to the findings, risk factors that contribute to the preschool child as an individual being vulnerable to sexual abuse is leaving the child alone at home without adequate supervision or the inability of parents or caregivers to provide adequately for the child’s basic needs.

ii. Inadequate parenting was identified as a contributing risk factor on micro level.

iii. Apathy among neighbours due to the absence of ubuntu was a contributing risk factor on meso level.

iv. Inadequate programmes by social service organisations to preschool children were contributing risk factors on the eco systemic level.

(8)

viii

v. Finally, poverty and inadequate infrastructure were contributing risk factors within the community as macro system.

Keywords: Sexual abuse, Preschool child, Risk factors, Protection factors, Ecological system perspective, Prevention-oriented services

(9)

ix INHOUD

HOOFSTUK 1 1

ALGEMENE INLEIDING TOT STUDIE 1

1.1 INLEIDING 1

1.2 RASIONAAL VIR STUDIE EN PROBLEEMFORMULERING 1

1.2.1 Rasionaal 2

1.2.2 Probleemformulering 6

1.3 NAVORSINGSVRAAG 7

1.4 DOELSTELLING EN DOELWITTE VAN DIE STUDIE 8

1.4.1 Doelstelling 8 1.4.2 Doelwitte 8 1.5 NAVORSINGSMETODOLOGIE 8 1.5.1 Navorsingsbenadering en -ontwerp 9 1.5.2 Steekproefneming 10 1.5.2.1 Populasie 10 1.5.2.2 Steekproefnemingsmetode 10 1.5.2.3 Steekproefgrootte 11 1.5.3 Data-insameling 11

1.5.3.1 Metodes van data-insameling 11

1.5.4 Data-analise 13

1.6 ETIESE ASPEKTE 14

1.6.1 Ingeligte toestemming 15

1.6.2 Potensiële risiko en ongemaklikheid 16

1.6.3 Potensiële voordele van deelname 16

1.6.4 Vertroulikheid en privaatheid 16

1.6.5 Deelname en onttrekking van navorsingstudie 17

1.6.6 Bevoegdheid van navorsers 18

1.6.7 Stoor van data 18

(10)

x

1.7.1 Ekologiese sisteemperspektief 18

1.7.2 Die kleuter 19

1.7.3 Seksuele misbruik van kinders 19

1.7.4 Risikofaktore 19

1.8 HOOFSTUKINDELING 20

(11)

xi

HOOFSTUK 2 22

LITERATUURSTUDIE OOR DIE RISIKO- EN BUFFERFAKTORE AANWESIG BY 22 DIE SEKSUELE MISBRUIK VAN KLEUTERS VANUIT

DIE EKOLOGIESE SISTEEMPERSPEKTIEF

2.1 INLEIDING 22 2.2 EKOLOGIESE SISTEEMPERSPEKTIEF 22 2.2.1 Mikrosisteem 23 2.2.2 Mesosisteem 24 2.2.3 Eksosisteem 24 2.2.4 Makrosisteem 24

2.3 ONTWIKKELINGSFASE VAN DIE KLEUTER 26

2.3.1 Die kleuter 26

2.3.2 Oorsig van die ontwikkelingsfase van ’n kleuter 26

2.3.2.1 Die fisiese ontwikkeling van die kleuter 28

2.3.2.2 Die kognitiewe ontwikkeling van die kleuter 28

2.3.2.3 Die psigososiale ontwikkeling van die kleuter 30

2.3.3 Redes waarom kleuters kwesbaar is vir seksuele misbruik 32

2.4 SEKSUELE MISBRUIK VAN KINDERS 32

2.4.1 Definiëring van seksuele misbruik van kinders 33

2.4.2 Voorkoms van seksuele misbruik 33

2.4.2.1 Gerapporteerde gevalle van seksuele misbruik van kinders 34

2.4.3 Tipes sekuele misbruik 35

2.4.3.1 Seksuele misbruik sonder fisiese kontak 36

2.4.3.2 Seksuele misbruik met fisiese kontak 36

2.4.3.3 Seksuele misbruik van ’n kind deur pornografie 36

2.4.3.4 Intrafamiliêre seksuele misbruik 36

2.4.3.5 Ekstrafamiliêre seksuele misbruik 37

2.4.4 Fases in die seksuele misbruik van die kind 37

2.4.5 Aanwysers van moontlike seksuele misbruik 39

2.4.5.1 Seksuele simptome 40

2.4.5.2 Onderliggende simptome 40

(12)

xii

2.5 RISIKO- EN BUFFERFAKTORE IN DIE GEMEENSKAP 41

2.5.1 Risikofaktore ten opsigte van seksuele misbruik van kinders 42

2.5.1.1 Risikofaktore op gesinsvlak 43

2.5.1.2 Risikofaktore op gemeenskapsvlak 44

2.5.1.3 Risiko- en bufferfaktore wat bydra tot die kwesbaarheid van die kind vir

seksuele misbruik 45

2.6 VOORKOMINGSGERIGTE DIENSLEWERING 47

2.6.1 Benaderings ten opsigte van voorkomingsgerigte programme 50

2.6.1.1 Universele voorkomingsgerigte intervensie 50

2.6.1.2 Geselekteerde voorkomingsgerigte intervensie 51

2.6.1.3 Aangeduide voorkomingsgerigte intervensies 51

(13)

xiii

HOOFSTUK 3 52

NAVORSINGSMETODOLOGIE 52

3.1 INLEIDING 52

3.2 NAVORSINGSPROSEDURE EN WERKWYSE 52

3.2.1 Fase 1: Seleksie van ’n navorsbare onderwerp 54

3.2.1.1 Stap 1: Identifiseer die navorsingsprobleem 54

3.2.2 Fase 2: Formele formulerings 55

3.2.2.1 Stap 2: Assesseer die toepaslikheid van die navorsingsbenadering 55 3.2.2.2 Stap 3: Formuleer die navorsingsprobleem, -vraag, doelstelling en doelwitte 57

3.2.2.3 Stap 4: Stel ’n navorsingsvoorstel op 58

3.2.2.4 Stap 5: Skenk oorweging aan etiese implikasies van die studie 59

3.2.3 Fase 3: Beplanning 59

3.2.3.1 Stap 6: Oorweeg die plek van ’n literatuurstudie in die navorsing 59

3.2.3.2 Stap 7: Selekteer ’n navorsingsontwerp 61

3.2.3.3 Stap 8: Selekteer metodes vir data-insameling en data-ontleding 61

3.2.3.4 Stap 9: Ontwikkel die steekproef 61

3.2.4 Fase 4: Implementering 65

3.2.4.1 Stap 10: Bepaal die toepaslikheid van die elemente van ’n loodsstudie 65 3.2.4.2 Stap 11: Samel data in en onderneem ’n literatuurstudie 66

3.2.5 Fase 5: Interpretasie en aanbieding 69

3.2.5.1 Stap 12: Verwerk en ontleed data en verifieer resultate 69 3.2.5.2 Stap 13: Beplan narratiewe en skryf die navorsingsverslag 74

(14)

xiv

HOOFSTUK 4 76

RESULTATE VAN EMPIRIESE STUDIE 76

4.1 INLEIDING 76

4.2 BEVINDINGE VAN DIE STUDIE: TEMAS 76

4.3 TEMA 1: BYDRAENDE RISIKOFAKTORE TEN OPSIGTE VAN DIE KLEUTER

AS INDIVIDU 78

4.3.1 Tema 1: Subtema 1 – Onvoldoende supervisie vir die kleuter 78 4.3.1.1 Kategorie 1: Kleuters word sonder toesig gelaat 79 4.3.1.2 Kategorie 2: Kleuters word in die sorg van ander jeugdiges gelaat 80 4.3.2 Tema 1: Subtema 2 – Onvoldoende voorsiening in basiese behoeftes

van die kleuter 81

4.3.2.1 Kategorie 1: Voedingsnood 81

4.3.2.2 Kategorie 2: Persoonlike veiligheid 82

4.3.2.3 Kategorie 3: Emosionele behoeftes van die kind 83

4.4 TEMA 2: BYDRAENDE RISIKOFAKTORE IN DIE GESIN AS MIKROSISTEEM 84

4.4.1 Tema 2: Subtema 1 – Ontoereikende ouerskap 85

4.4.1.1 Kategorie 1: Onverantwoordelike gedrag van die ouers 85 4.4.1.2 Kategorie 2: Misbruik van kinderondersteuningstoelaag 86

4.4.1.3 Kategorie 3: Swak ouerskapvaardighede 87

4.4.1.4 Kategorie 4: Enkelouerskap 89

4.4.1.5 Kategorie 5: Afwesigheid van vaderfiguur 89

4.5 TEMA 3: BYDRAENDE RISIKOFAKTORE IN DIE WISSELWERKING TUSSEN

DIE GESIN EN BURE AS MESOSISTEEM 90

4.5.1 Tema 3: Subtema 1 – Afwesigheid van ubuntu 91

4.5.1.1 Kategorie 1: Neem nie medeverantwoordelikheid vir mekaar nie 91

4.6 TEMA 4: BYDRAENDE RISIKOFAKTORE IN DIE SOSIALE DIENSTE AS

EKSOSISTEEM 92

4.6.1 Tema 4: Subtema 1 – Onvoldoende programme vir kleuters in die

gemeenskap 93

4.6.1.1 Kategorie 1: Geen toesig middae na skool 93

(15)

xv

4.7 TEMA 5: BYDRAENDE RISIKOFAKTORE IN DIE GEMEENSKAP AS

MAKROSISTEEM 96

4.7.1 Tema 5: Subtema 1 – Armoede 96

4.7.1.1 Kategorie 1: Werkloosheid 97

4.7.1.2 Kategorie 2: Alkohol- en dwelmisbruik 98

4.7.2 Tema 5: Subtema 2 – Onvoldoende infrastuktuur 99

4.7.2.1 Kategorie 1: Tekort aan voldoende behuising 100

4.7.2.2 Kategorie 2: Tekort aan water- en sanitasiegeriewe 101

(16)

xvi

HOOFSTUK 5 104

GEVOLGTREKKINGS EN AANBEVELINGS 104

5.1 INLEIDING 104

5.2 BEREIKING VAN DOELSTELLING EN DOELWITTE IN DIE STUDIE 104

5.3 OORSIG VAN DIE NAVORSINGSPROSES 105

5.4 GEVOLGTREKKINGS TEN OPSIGTE VAN DIE STUDIE 106

5.4.1 Bydraende risikofaktore ten opsigte van die kleuter as individu 106 5.4.2 Bydraende risikofaktore in die gesin as mikrosisteem 107 5.4.3 Bydraende risikofaktore in die wisselwerking tussen die gesin en die bure as

mesosisteem 108

5.4.4 Bydraende risikofaktore in sosiale dienste as eksosisteem 108 5.4.5 Bydraende risikofaktore in die gemeenskap as makrosisteem 109

5.5 AANBEVELINGS TEN OPSIGTE VAN DIE STUDIE 110

5.5.1 Aanbevelings ten opsigte van die praktyk 110

5.5.2 Aanbevelings ten opsigte van opleiding 111

5.5.3 Aanbevelings ten opsigte van verdere navorsing 112

5.6 BEPERKINGE VAN DIE STUDIE 112

5.7 SAMEVATTING 113

(17)

xvii

LYS VAN BYLAES 127

Bylae A: Toestemming van wyksraadslid 127

Bylae B: Toestemming van gesinnsorgorganisasie 128

Bylae C: Voorbeeld van toestemmingsvorm vir deelnemers 129

Bylae D: Semi-gestruktureerde onderhoudskedule vir die semi-gestruktureerde

een-tot-een onderhoude 132

(18)

xviii LYS VAN TABELLE

Tabel 2.1: Kognitiewe begrippe wat deur kleuters ontwikkel word 29

Tabel 2.2: Fases in die verandering van die kleuter se self-definisie 31

Tabel 2.3: Gerapporteerde gevalle van misdaad teen kinders jonger as 18 jaar 34

Tabel 2.4: Risiko- en bufferfaktore wat bydra tot die seksuele misbruik van kinders 45

Tabel 3.1: Kenmerkende stappe in die kwalitatiewe navorsingsproses 53

Tabel 3.2: Verskille tussen kwalitatiewe en kwantitatiewe navorsingsbenaderings 56

(19)

xix LYS VAN FIGURE

Figuur 2.1: Bronfenbrenner se Ekologiese Sisteemperspektief 25

Figuur 2.2: Gerapporteerde gevalle tot ouderdom 12 jaar in spesifieke informele

nedersetting in Buffalo City 36

Figuur 3.1: Data-analise in kwalitatiewe navorsing volgens Creswell se stappe 70

Figuur 4.1: Bronfenbrenner se ekologiese sisteemperspektief soos toegepas en

(20)

1 HOOFSTUK 1

ALGEMENE INLEIDING TOT STUDIE

1.1 INLEIDING

Pogings om aandag te skenk aan die seksuele misbruik van kinders en om gemeenskappe betrokke te kry by die beveiliging van jong kinders is nie ’n nuwe verskynsel nie. Dit is ’n probleem wat reeds vir dekades nagevors word. Tog is dit ’n probleem wat daagliks in gemeenskappe voorkom (De Koker, 2010:2; Neutze et al., 2010:213; Richter et al., 2004:2; Roos, 2005:11; Spies, 2006:44; Van Der Schyff, 2009:1; Van Wyk, 2010:7).

Ook in die Buffalo City-metropool (Oos-Londen, King William's Town en Bisho) word die onderskeie gemeenskappe met die probleem gekonfronteer. Uit statistiek wat verkry is van die Eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe (GKS) in die Buffalo City-metropool tesame met verskeie nuusberigte (Boya, 2012:6; Mukhuthu, 2012:2; Nkonkobe et al. 2012:1) wat in die plaaslike koerante verskyn het, was dit duidelik dat die groter gemeenskap van Buffalo City daagliks met die probleem van seksuele misbruik van kinders gekonfronteer word. Die statistiek ten opsigte van seksuele misbruik van kinders in die Buffalo City-metropool het veral getoon dat kinders in hul vroeë kinderjare die kwesbaarste in hierdie gemeenskap is.

Nader (2007:22), Plummer en Njuguna (2009:524), Ramírez et al. (2011:1022), Roux (2011:16) asook Van den Heever (2007:54) meld dat navorsing getoon het dat risiko- en bufferfaktore ten opsigte van seksuele misbruik binne elke gemeenskap voorkom. Ramírez et al. (2011:1022) beklemtoon die belangrikheid van die bestudering van die voorkoms van risikofaktore wat met die seksuele misbruik van kinders verband hou om sodoende programme daar te stel wat help om hierdie ernstige openbare gesondheidsprobleem te voorkom en te behandel. Volgens die outeurs bied die ekologiese sisteemperspektief 'n raamwerk om die voorkoms van seksuele misbruik van kinders te verstaan en die risiko- en bufferfaktore in die gemeenskap te identifiseer aangesien dit op al die verskillende vlakke aandag skenk aan die tendens. Na aanleiding van bogenoemde fokus hierdie studie dus om aan die hand van die ekologiese sisteemperspektief die risikofaktore bydraend tot seksuele misbruik van kleuters in ’n spesifieke nedersetting in Buffalo City te identifiseer, te verken en te beskryf.

1.2 RASIONAAL VIR STUDIE EN PROBLEEMFORMULERING

Die rasionaal vir hierdie studie asook die probleemformulering word vervolgens breedvoerig aan die hand van gepaste literatuur bespreek.

(21)

2 1.2.1 Rasionaal

Volgens Maree en Van der Westhuizen (2007:28) het die rasionaal ten doel om aan te toon waarom die navorser die studie as belangrik ag en hoe die navorser belangstelling in die bepaalde onderwerp ontwikkel het. Hoewel navorsing toon dat die aantal slagoffers van seksuele misbruik jaarliks wêreldwyd toeneem, kan die werklike omvang van seksuele misbruik van kinders egter nie presies bepaal word nie omdat dit ’n privaat en verskuilde misdaad is (Pipe et al., 2007:5; Pretorius et al., 2011:1; Richter et al., 2004:176; Smith, 2008:vii; UNICEF, 2010:4; Van Niekerk, 2006:101). Volgens statistiek van die United Nations Children’s Fund het die geraamde aantal kinders wat jaarliks wêreldwyd seksueel misbruik word van 1.8 miljoen tot 223 miljoen vanaf die jaar 2000 tot 2009 toegeneem (UNICEF, 2010:4). Statistiek verkry uit die 2010/2011-jaarverslag van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (2011:11) toon ook dat seksuele misdaad teen kinders onder die ouderdom van 18 jaar steeds met 2.6% toegeneem het vir die tydperk 2009/2010 tot 2010/2011. Volgens bogenoemde verslag van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het die totale getal aanmeldings van seksuele misdaad teen kinders onder die ouderdom van 18 jaar vir die afgelope vyf jaar vanaf 25 428 tot 28 128 gestyg (SAPD, 2011:12). Statistiek wat verkry is by die Eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe (GKS) in die Buffalo City-metropool (Oos-Londen, King William's Town en Bisho) toon aan dat 657 gevalle van seksuele misdaad teen kinders van 2007 tot 2010 in die groter gebied van Buffalo City-metropool by die kantore van die GKS aangemeld is. Altesaam 52% van die aanmeldings hou verband met kinders tot en met die ouderdom van 12 jaar. In een bepaalde informele nedersetting in Buffalo City toon die statistiek verkry van die GKS dat die meeste slagoffers uit die groep kinders tussen die ouderdom van vier en ses jaar (36%) kom. Uit die navorser se eie ondervinding as maatskaplike werker wat in dié spesifieke informele nedersetting in Buffalo City diens gelewer het en uit gesprekke met Von Solms (2011) wat in dié spesifieke informele nedersetting diens lewer, het dit duidelik geblyk dat seksuele misbruik van kleuters in hierdie informele nedersetting wel ’n realiteit is. Dit is in hierdie bepaalde informele nedersetting waar die studie onderneem is.

Uit bogenoemde statistiek blyk dit dat kleuters of kinders in hul vroeë ontwikkelingsjare baie kwesbaar is vir seksuele misbruik. Newman en Newman (2009:25) klassifiseer kleuters as kinders tussen vier en ses jaar oud. Volgens Van Wyk (2010:66) teiken seksuele misdadigers juis kinders in bogenoemde ontwikkelingsfase aangesien dié kinders ’n beperkte kennis en begrip het van wat met hulle gebeur. Du Plooy (2007:37) dui ook aan dat vanuit Maslow se behoeftehiëragie ’n kleuter ’n behoefte aan bepaalde aspekte het, naamlik ’n behoefte aan veiligheid, liefde, aanvaarding en duidelike grense. Indien die ouers of versorgers nie in bogenoemde voorsien nie kan die leemte aan hierdie behoeftes die kleuter ook meer kwesbaar laat en ’n slagoffer van seksuele misbruik maak (Richter et al., 2004:76). Wanneer Van Wyk

(22)

3

(2010:66) se standpunt met dié van Townsend en Dawes (2004:55) vergelyk word, blyk dit duidelik dat die meeste slagoffers hul eerste kontakmaking met seksuele misbruik op ’n jong ouderdom gehad het.

Uit die navorser se betrokkenheid by die spesifieke informele nedersetting is ’n tendens waargeneem wat deur die statistiek asook deur Von Solms (2011) bevestig is, naamlik dat die kinders in hul vroeë ontwikkelingsfases die kwesbaarste is vir seksuele misbruik. Volgens Von Solms (2011), hoof van ’n gesinsorgorganisasie wat diens lewer in bogenoemde informele nedersetting, blyk dit dat die meerderheid van kinders in die informele nedersetting wat seksueel misbruik word uit hul ouers se sorg verwyder word. Deur die identifisering van die risikofaktore wat bydra tot die seksuele misbruik van die kleuters in die spesifieke informele nedersetting kan die verwydering van hierdie kleuters uit hul ouers of versorgers se sorg derhalwe voorkom word.

Ontwikkelingsgerigte beleidsdokumente soos die Geïntegreerde Diensleweringsmodel vir Verbeterde Maatskaplike Dienste (Department of Social Development, 2006:29) en die Witskrif vir Welsyn (Ministry for Welfare and Population Development, 1997:64) toon ook dat maatskaplikewerkdienste se belangrikste klem op voorkomende dienste moet val, waarna vroeë intervensie en laastens statutêre dienste gelewer behoort te word. Volgens Von Solms (2011) is hul fokus as gesinsorgorganisasie op die kind en die beskerming van die kind gerig. Wanneer seksuele misbruik van ’n kind dus by die organisasie aangemeld word, is dit die organisasie se eerste doelwit om deur middel van ’n risiko-assessering te bepaal of die kind uit die onmidddellike omgewing verwyder behoort te word al dan nie. Von Solms (2011) se standpunt word bevestig deur studies wat deur Arad en Wozner (2001:229), Connell (2007:573) asook Kimberlin et al. (2009:471) onderneem is en waar bevind is dat die belangrikste oogmerk van enige gesinsorgorganisasie die beskerming van die kind se welstand is. Volgens Kimberlin et al. (2009:471) en Matthias (2010:57) het gesinsorgorganisasies soos die Christelike Maatskaplike Raad (CMR), Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV) en Kindersorg dit ten doel om tesame met die beskerming van die welstand van die kind ook te sorg dat die kind binne sy eie gesinsverband in ’n permanente plasing bly.

Uit studies wat deur Strydom (2008:228) ten opsigte van gesinsinstandhoudingsdienste onderneem is, blyk dit dat 70% van die kinders wat seksueel of andersins mishandel is uit hul ouers se sorg verwyder moes word ter beskerming van die kind. Uit bogenoemde blyk dit dus duidelik dat dit ’n realiteit is dat kinders wat seksueel misbruik word in die meerderheid van gevalle uit hul ouers of versorgers se sorg verwyder word ter beskerming van die kind. Dit is dus van kardinale belang dat daar aandag geskenk moet word aan die bydraende risikofaktore om beter voorkomingsgerigte dienste in die gemeenskappe te lewer wat sodoende kan

(23)

4

voorkom dat kleuters uit hul ouers of versorgers se sorg verwyder word as gevolg van seksuele misbruik.

Volgens Strydom (2008:228) is daar ’n sterk verband tussen ’n hoë vlak van armoede en die voorkoms van kindermishandeling, wat seksuele misbruik insluit. Die realiteit van die sosio-ekonomiese omstandighede van gesinne wat in informele nedersettings in Suid-Afrika woonagtig is, dwing die gesinsorgorganisasies om, wanneer seksuele misbruik van kinders aangemeld word, in die meeste gevalle die kinders in substituutsorg te plaas om hul veiligheid te beskerm. Weens die ouers se sosio-ekonomiese situasie is daar nie genoeg beskerming en veiligheid vir hul kleuters nie, en dit lei daartoe dat hul kinders kwesbaar is vir seksuele misbruik (Richter et al., 2004:71). Die feit dat die kinders bedags meestal sonder ouerlike toesig by die huis is of in ander minderjarige kinders se sorg gelaat word, maak hulle slagoffers van seksuele misdadigers wat in die informele nedersettings rondgeweeg (Richter et al., 2004:458). Uit gesprekvoering met Von Solms (2011) word die bevindings van Richards et al. (2007:380-383) bevestig, naamlik dat daar ’n agteruitgang in Buffalo City is en dat die inwoners se sosio-ekomoniese omstandighede verswak het wat werkloosheid, armoede en misdaad laat toeneem het. Laasgenoemde outeurs meld dat hulle die gehalte van lewe in informele nedersettings in Suid-Afrika nagevors het en bevind het dat tussen 80% en 90% van die inwoners in die gebiede van Buffalo City en Durban ervaar dat hul ekonomiese omstandighede verswak het.

Soos reeds genoem, bevind studies deur Roux (2011:16) en Van den Heever (2007:54) dat daar in elke gemeenskap bepaalde risiko- en bufferfaktore ten opsigte van seksuele misbruik aanwesig is. Volgens Maree (2008:56) is riskofaktore daardie eienskappe in die omgewing wat die moontlikheid van misdadige wangedrag verhoog. Daarteenoor is bufferfaktore die eienskappe wat die gevolg of uitwerking van risikofaktore buffer of bemiddel. In studies wat reeds gedoen is ten opsigte van risikofaktore wat bydra tot seksuele misbruik van kinders is bevind dat armoede, werkloosheid, geweld, onvoldoende behuising, sosiale isolasie, swak ouerskapstyle en afhanklikheidsvormende middels aspekte is wat kinders vir seksuele misbruik kwesbaar maak (Maree, 2008:57-62; Richter et al., 2004:63; Van den Heever, 2007:37-43). Bufferfaktore ten opsigte van die seksuele misbruik van kleuters kan die volgende faktore insluit: die ouer of versorger se opvoedingsvlak, sterk gesinsbande met positiewe kommunikasiekanale asook gesinsisteme wat toeganklik vir buite-invloede en beheer van die kind is (Plummer & Njuguna, 2009:526).

Vir die doeleindes van hierdie studie het die navorser egter net gefokus op die identifisering van die risikofaktore wat bydra dat kleuters in die spesifieke informele nedersetting kwesbaar is vir seksuele misbruik. Die bevindings van die studie sal aan die gesinsorgorganisasies wat daar diens lewer bekend gemaak word sodat toekomstige programme in die nedersetting meer

(24)

5

voorkomingsgerig ontwikkel kan word om sodoende die kleuters beter te kan beskerm teen seksuele misbruik.

Richter et al. (2004:465) meld in hul studie dat daar weg beweeg moet word van reaktiewe dienslewering wat al die verantwoordelikheid vir die beskerming en beveiliging van die kind op die skouers van die polisie, howe en gesinsorgorganisasies plaas na ’n voorkomende wyse van dienslewering. Dié outeurs meld dat dienslewering, wetgewing en die ondersteuning van die gemeenskap voorkomingsgerig behoort te wees om sodoende die kind se veiligheid en welstand te beskerm en te bevorder. In ’n studie wat deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) onderneem is, toon Makoae et al. (2009:vi) dat die Suid-Afrikaanse regering hom ondubbelsinnig verbind het tot die beskerming en ontwikkeling van die kind se welstand deur wetgewing en dienste. Tog bevind die studie dat wetgewing en dienste in die verlede hoofsaaklik op die beskerming van die kind gefokus het, maar dat weining aandag gegee is aan die voorkoming van misdrywe teen die kind. In navorsing wat deur Strydom (2008:298) onderneem is, word ook tot die gevolgtrekking gekom dat die klem van dienslewering deur gesinsorgorganisasies steeds by statutêre dienslewering lê en dat voorkomende dienste nie voldoende aandag kry nie, soos deur die ontwikkelingsgerigte beleidsdokumente (Ministry for Welfare and Population Development, 1997:67; Department of Social Development, 2006:29) voorgestel word nie. O’Donnell et al. (2008:329) toon aan dat, indien daar ’n werklike verbintenis deur die regering is om die kind se welstand te beskerm, moet so ’n verbintenis begin deur die gesinne en kinders te ondersteun voor hulle die punt bereik waar die kinders misbruik word.

Soos reeds gemeld, het hierdie studie slegs gefokus op die identifisering van risikofaktore wat bydra tot die seksuele misbruik van kleuters. Dit ontken geensins die belangrikheid van die bufferfaktore nie aangesien voorkomingsgerigte dienslewering deur gesinsorgorganisasies slegs kan slaag indien die positiewe eienskappe van die gemeenskap, soos veerkragtigheid, benutting van hulpbronne en die opvoedingsvlak van die gemeenskapslede, benut word (Thomlinson, 2004:95). Dit is dan ook die doel van die Groenskrif wat in 2011 deur die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling (2011:5) uitgereik is om die gesin as eenheid te versterk in Suid-Afrika. Bogenoemde beleidsdokument plaas veral klem op al die bufferfaktore in die gesin en die gemeenskap wat kan bydra om die gesin as eenheid te versterk (Department of Social Development, 2011:9).

Die studie is aan die hand van die Ekologiese Sisteemperspektief ondersoek. Bronfenbrenner (1979:iv) en Visagie (2011:21) meld dat die ekologiese sisteemperspektief ’n verlenging van Lewin se veldteorie is. Volgens Bronfenbrenner (1979:3) asook Van Breda (2012:58) plaas die ekologiese sisteemperspektief egter meer klem op hoe die omgewing waarbinne die individu

(25)

6

woon die individu se ontwikkeling op ’n deurlopende basis beïnvloed. Fraser (2004:5) asook Kruger en Spies (2006:160) sluit by Bronfenbrenner (1979:3) aan en meld dat dié perspektief die ontwikkeling van die individu binne sy konteks bestudeer. Die ekologie van menslike ontwikkeling bestaan uit ’n voortdurende, gemeenskaplike akkommodering tussen die ontwikkelende mens en die veranderende strukture in die persoon se onmiddellike omgewing (Cattanach, 2007:431). Louw en Reyneke (2011:218) meld dat die verskillende strukture in die ekologiese omgewing in mekaar pas en met mekaar verband hou, net soos ’n stel Russiese poppe in mekaar pas en met mekaar verband hou. Die ekologiese omgewing bestaan uit ’n mikro-, meso-, ekso- en makrosisteem. Volgens die ekologiese sisteemperspektief kan menslike gedrag en interpersoonlike verhoudings slegs begryp en geanaliseer word vanuit ’n perspektief wat al vier bogenoemde vlakke insluit (Louw & Reyneke, 2011:218; Spies, 2006:160). Bronfenbrenner en Morris (2006:796) bevestig bogenoemde outeurs se standpunt deur te meld dat daar interaksie tussen al vier vlakke plaasvind. Duerden en Witt (2010:109) brei hierop uit en noem dat elkeen van hierdie lae of vlakke in die omgewing ’n impak op die individu se ontwikkeling het. In dié verband het die gesin as mikrosisteem, die wisselwerking tussen die gesin en die bure as mesosisteem, die beskikbaarheid van sosiale dienslewering as eksosisteem en die sosiale invloede in die gemeenskap op makrosistemiese vlak ’n definitiewe invloed op die ontwikkeling van die kleuter. Dit is om hierdie rede dat dit belangrik is om die verskillende bydraende risikofaktore binne elkeen van hierdie vier vlakke ten opsigte van die seksuele misbruik van die kleuter te identifiseer.

1.2.2 Probleemformulering

Babbie en Mouton (2001:79) asook Leedy en Ormrod (2010:44) meld dat ’n goed geformuleerde navorsingsprobleem dadelik vir die leser ’n aanduiding sal gee wat die doel of rede vir die studie is, asook wat spesifiek nagevors gaan word. Volgens Fouché en Delport (2011a:108) moet die navorser tydens die probleemformulering die spesifieke probleem afbaken en akademies interessant genoeg definieer sodat die leser presies sal verstaan wat die voorgestelde navorsing insluit en wat uitgelaat word. Daar moet dus ’n spesifieke fokus wees wat nagevors word. Met inagneming van bogenoemde kriteria asook die voorafgaande gedeelte as verduideliking van die rasionaal van die studie word die navorsingsprobleem soos volg geformuleer:

Navorsing toon dat seksuele misbruik van kinders steeds ’n probleem is wat daagliks in gemeenskappe voorkom en dat die aantal slagoffers van seksuele misbruik jaarliks wêreldwyd toeneem. Uit statistiek blyk dit dat die groter gemeenskap van Buffalo City ook daagliks met die probleem van seksuele misbruik van kinders gekonfronteer word en dat veral die kinders in die vroeë kinderjare (kleuters) die kwesbaarste in hierdie gemeenskap is. Uit die navorser se eie

(26)

7

ondervinding as maatskaplike werker wat in ’n spesifieke informele nedersetting in Buffalo City diens gelewer het en uit gesprekke met belanghebbendes blyk dit duidelik dat seksuele misbruik van kleuters in dié spesifieke informele nedersetting ’n realiteit is.

Kleuters is kwesbaar vir seksuele misbruik aangesien hul ouers soms nie voldoende beskerming en veiligheid vir hul kinders kan verseker nie as gevolg van die ouers se sosio-ekonomiese omstandighede. Studies het bevind dat daar binne elke gemeenskap faktore is wat die kwesbaarheid van kinders vir seksuele misbruik verhoog of verlaag. Indien die bydraende risikofaktore wat kleuters binne ’n bepaalde gemeenskap meer kwesbaar maak vir seksuele misbruik bekend is aan die organisasies wat binne daardie gemeenskap diens lewer, kan voorkomingsprogramme daarvolgens beplan en geïmplementeer word om sodoende die seksuele misbruik van kleuters teen te werk.

1.3 NAVORSINGSVRAAG

Volgens Fouché en De Vos (2011a:89) moet die navorsingsvraag die “wat” van die studie beantwoord, dus ‘Wat is dit aangaande hierdie onderwerp wat ek wil bepaal?’ Brink et al. (2012:54) meld dat die navorsingsvraag net soos in die geval van die navorsingsprobleem uit vele bronne mag ontstaan, naamlik deur die persoonlike ondervinding van die navorser, kwessies wat as belangrik geag word deur ’n gemeenskap of ’n organisasie, en kliniese situasies ten opsigte van die onderwerp in literatuur of teorieë. Volgens die outeurs beweeg die navorser normaalweg vanaf ’n wye onderwerpsveld na die ontwikkeling van ’n stel spesifieke vrae. Botma et al. (2010:92) en Whittaker (2009:5) sluit by bogenoemde outeurs aan deur te meld dat die navorsingsvraag binne die raamwerk en omvang van die navorsingsprobleem gestruktureer word. Leedy en Ormrod (2010:56) meld vervolgens dat die navorsingsvraag leiding verskaf oor die aard van data wat die navorser moet insamel asook hoe die data geanaliseer en geïnterpreteer moet word. Volgens die outeurs is ’n navorsingsvraag in wese dieselfde as ’n verwysingspunt vir ’n landmeter omdat dit aan die navorser ’n punt of posisie gee ten opsigte waarvan die navorser die navorsingsprobleem kan inisieer. Hierdie verwysingspunt dien ook as 'n kontrolepunt waarteen die bevindinge wat deur die data na vore gekom het, getoets kan word. Laastens, nadat die data ingesamel en geanaliseer is, moet die navorser uiteindelik die vraag kan vra: “Hoe beantwoord die bevindinge die navorsingsvraag?”

Die navorsingsvraag vir dié studie lui vervolgens soos volg:

Wat is die risikofaktore wat bydra tot seksuele misbruik van kleuters in 'n spesifieke informele nedersetting in Buffalo City?

(27)

8

1.4 DOELSTELLING EN DOELWITTE VAN DIE STUDIE

Wanneer Fouché en De Vos (2011a:94) se standpunt oor doelstellings en doelwitte met dié van Botma et al. (2010:185) vergelyk word, blyk dit dat die term doelstelling die breër en meer abstrakte voorstelling impliseer van die oogmerk wat die navorser deur die studie wil bereik. Creswell (2009:112) sluit by bogenoemde standpunt aan deur aan te dui dat die “doelstelling” die sentrale beherende idee van die studie vorm. Botma et al. (2010:185) brei hierop uit deur te meld dat die “doelstelling” van 'n studie beskrywend, verkennend en/of verklarend van aard kan wees. Volgens Fouché en De Vos (2011a:94) dui die “doelwitte” meer op die konkrete, meetbare en vinnig bereikbare stappe wat die navorser volg om die oogmerk van die studie te bereik. Volgens laasgenoemde outeurs moet hierdie stappe deur die navorser een vir een op grondvlak bereik word binne 'n bepaalde tydvlak.

Vir die doeleindes van hierdie studie word die volgende doelstelling en doelwitte voorgehou:

1.4.1 Doelstelling

Om deur die benutting van ’n beskrywende, kwalitatiewe ontwerp te verken en te beskryf wat die risikofaktore is wat bydra tot seksuele misbruik van kleuters in ’n spesifieke informele nedersetting in Buffalo City.

1.4.2 Doelwitte

Die doelwitte van die ondersoek is om:

• Die risikofaktore bydraend tot die seksuele misbruik van kleuters in ’n spesifieke informele nedersetting in Buffalo City, te identifiseer.

• Die wyse waarop die risikofaktore bydra tot die seksuele misbruik van kleuters in ’n spesifieke informele nedersetting in Buffalo City te verken en te beskryf.

1.5 NAVORSINGSMETODOLOGIE

Die navorsingsmetodologie wat vir hierdie studie gevolg is, word vervolgens bespreek deurdat die navorsingsbenadering en -ontwerp wat vir hierdie studie gevolg is eers oorsigtelik verduidelik word. Daarna word ’n oorsig gegee van die steekproefnemingsmetode wat die navorser tydens die studie benut het. Laastens word ’n oorsig gegee van die werkwyse wat gevolg is om data in te samel en te analiseer. Al bogenoemde aspekte word oorsigtelik aan die hand van literatuur bespreek. Die volledige bespreking van die navorsingsmetodologie sal in Hoofstuk 3 geskied.

(28)

9 1.5.1 Navorsingsbenadering en -ontwerp

Fouché en Delport (2011b:63) meld dat daar twee bekende en erkende benaderings tot navorsing is wat tans benut word, naamlik ’n kwalitatiewe en ’n kwantitatiewe benadering. Die outeurs meld dat hierdie twee metodologiese paradigmas indringend van mekaar verskil en dat dit derhalwe elke voornemende navorser se plig is om te bepaal watter een van hierdie twee benaderings, of ’n gekombineerde kwalitatiewe/kwantitatiewe benadering, die toepaslikste vir die studie sal wees.

In hierdie studie is van ’n kwalitatiewe benadering gebruik gemaak aangesien die navorser, soos deur Botma et al. (2010:82) asook Leedy en Ormrod (2010:94) aangedui is, gepoog het om die verskynsel in sy geheel te verstaan. Die navorser maak ook van ’n kwalitatiewe benadering gebruik om, soos Creswell (2009:16) meld, 'n instrument in die navorsingsproses te wees wat intiem betrokke is by die insameling van data. Hierdeur kon die deelnemers se gedrag beter waargeneem word tydens die insameling van die data. Soos deur Botma et al. (2010:82) aangedui is, het die navorser in hierdie studie ook gebruik gemaak van ander instrumente wat in die kwalitatiewe benadering as metodes van data-insameling benut word – soos onderhoudvoering, waarneming, refleksies en veldnotas. Babbie en Mouton (2001:270), Creswell (2009:232) asook Fouché en Schurink (2011:308) omskryf kwalitatiewe navorsing as navorsing wat ten doel het om individue en/of groepe se belewenis van hul eie omstandighede te verken en te bestudeer asook hoe hulle betekenis heg aan sekere vraagstukke in hul omgewing.

Vir die doeleindes van hierdie studie het die navorser van ’n beskrywende kwalitatiewe navorsingsontwerp gebruik gemaak. Die beskrywende kwalitatiewe ontwerp, soos beskryf deur Sandelowski (2010:78), verskaf beskrywende kwalitatiewe bevindinge wat nader aan die suiwer bewustheid is soos deur die deelnemers verskaf en minder staat maak op die navorser se eie interpretasies van die data. Botma et al. (2010:194) is, net soos Sandelowski (2010:78), ook van mening dat navorsers wat van 'n beskrywende kwalitatiewe studie gebruik maak, verkies om nie 'n interpreterende diepte aan hul data te verleen nie, maar om ’n omvattende opsomming van 'n verskynsel of gebeure in die alledaagse lewe te gee. Vir die doeleindes van hierdie studie het die navorser op dié ontwerp besluit om sodoende die bydraende risikofaktore soos geïdentifiseer deur die deelnemers te verken en te beskryf. Brink et al. (2012:127) sluit by bogenoemde outeurs aan deur te meld dat die egtheid van die bevindinge deur beskrywende kwalitatiewe studies vasgelê word deur die konteksryke en betekenisvolle of digte beskrywings wat hierdie ontwerp bied.

(29)

10 1.5.2 Steekproefneming

Vervolgens sal die populasies waaruit die steekproef vir hierdie studie geneem is tesame met die metode en grootte van die steekproef oorsigtelik bespreek word.

1.5.2.1 Populasie

Die populasie is volgens Botma et al. (2010:200), Brink et al. (2012:131), Durrheim en Painter (2006:133) asook Whittaker (2009:71) die totale moontlike groep mense waaruit die steekproef geneem kan word en wat oor die gedefinieerde eienskappe beskik wat noodsaaklik is vir die studie. Soos deur Creswell (2009:175) aangedui is, het die navorser in hierdie studie interaktief opgetree met persone in hul eie konteks om sodoende die kwessie of probleem wat ondersoek gaan word te identifiseer – soos deur hierdie persone ervaar. Vir die doel van hierdie navorsing was die populasie vir die studie dus die groep mense verteenwoordigend van die spesifieke informele nedersetting in Buffalo City. Daar is gebruik gemaak van twee populasies vir die insameling van data, naamlik:

Die ouers of versorgers van kleuters (tussen die ouderdom van vier tot ses jaar) in ‘n spesifieke informele nedersetting in Buffalo City wie se kinders in die afgelope vyf jaar seksueel misbruik is, en

Die gemeenskapsleiers in dieselfde informele nedersetting waar die navorsing onderneem is.

1.5.2.2 Steekproefnemingsmetode

Die navorser het, soos deur Brink et al. (2012:139) aangedui, van ’n nie-waarskynlikheidsteekproef in die studie gebruik gemaak. Volgens die outeurs vereis dié vorm van steekproefneming dat die navorser op die korrekte keuse van deelnemers sal besluit. Dit is nodig aangesien individue wat die beste insig in die bepaalde fenomeen of probleem het en wat daartoe in staat sal wees om die nuanses die beste te verwoord en te verduidelik by die studie ingesluit behoort te word. In die lig van bogenoemde het die navorser besluit om die ouers of versorgers van kleuters wat die afgelope vyf jaar in die spesifieke informele nedersetting seksueel misbruik is tesame met die tweede populasie, wat uit gemeenskapsleiers in die nedersetting bestaan het, by die studie in te sluit. Brink et al. (2012:139) meld ook dat een van die metodes wat tydens ’n nie-waarskynlikheidsteekproef gebruik word die doelgerigte steekproefneming is. In doelgerigte steekproeftrekking word die deelnemers geselekteer op grond van spesifieke eienskappe waaraan hulle voldoen en wat vir die studie benodig word (Nieuwenhuis, 2007a:79).

(30)

11 1.5.2.3 Steekproefgrootte

Volgens Strydom en Delport (2011:391) asook Whittaker (2009:9) is daar nie in kwalitatiewe navorsing ’n duidelike gedefinieerde reël ten opsigte van die grootte van die steekproef nie. Tog moet daar gepoog word om data in te samel tot dataversadiging bereik is. Kelly (2006a:372) omskryf dataversadiging as die punt tydens die data-insameling wanneer geen nuwe inligting meer geïdentifiseer kan word nie. ’n Spesifieke steekproefgrootte vir die twee populasies kon nie by aanvang van die navorsingstudie bepaal word nie. Die aantal deelnemers wat by albei populasies ingesluit was, het af gehang van wanneer die inligting wat ingesamel is die versadigingspunt bereik het. Daar is met agt ouers of versorgers en agt gemeenskapsleiers onderhoude gevoer tot dataversadiging bereik is.

1.5.3 Data-insameling

Leedy en Ormrod (2010:145) verklaar dat die navorser in kwalitatiewe navorsing alle vorme van data-insameling – soos onderhoudvoering, waarneming, refleksies en veldnotas – moet gebruik in ’n poging om die navorsingsvraag te beantwoord. Vervolgens sal die metodes wat tydens hierdie studie in die data-insamelingsproses benut is oorsigtelik bespreek word terwyl dit in Hoofstuk 3 breedvoerig beskryf sal word.

1.5.3.1. Metodes van data-insameling

Onderhoude

Volgens Greeff (2011:342) en Kelly (2006b:297) is onderhoudvoering die algemeenste wyse van data-insameling in kwalitatiewe navorsing aangesien die navorser deur onderhoudvoering die geleentheid kry om betekenis aan die inligting te gee soos vanuit die respondente se belewenis van hul leefwêreld verkry. Die navorser het deur middel van onderhoudvoering betekenis aan die inligting geheg soos vanuit die ouers of versorgers en gemeenskapsleiers se belewenis van wat risikofaktore binne die nedersetting is wat die kleuters kwesbaar maak vir seksuele misbruik. Semi-gestruktureerde een-tot-een onderhoude is met 16 deelnemers gevoer.

Waarneming

Volgens Brink et al. (2012:150) en Creswell (2009:181) is waarneming ’n data-insamelingstegniek wat benut word om data ten opsigte van gedrag en gebeurlikhede in te samel. Volgens die outeurs moet daar presies rekord gehou word van wat die navorser

(31)

12

waarneem. Vir die doel van hierdie studie is nie-verbale gedrag van die deelnemers waargeneem en aangeteken soos dit tydens die onderhoudvoering sigbaar geword het.

Refleksies

Die navorser moet ook volgens Schurink et al. (2011:406) rekord hou van sy/haar persoonlike spekulasies of aannames ten opsigte van die navorsingsproses. In hierdie studie het die navorser derhalwe aantekeninge gemaak van moontlike temas wat tydens die onderhoudvoering na vore getree het asook probleme wat ondervind is tydens die insameling van die data.

Veldnotas

Brink et al. (2012:158) noem dat veldnotas gereeld gebruik word as die wyse van rekordhouding wanneer waarneming en refleksies as metodes van data-insameling gebruik word. Schurink et al. (2011:406) sluit by bogenoemde aan en meld dat die navorser veldnotas moet maak van temas wat tydens die onderhoudvoering gereeld na vore tree en ook van knelpunte wat die navorser ervaar het tydens die data-insameling. Tydens en ná die onderhoudvoering met die deelnemers het die navorser veldnotas gemaak van wat alles waargeneem is – soos die deelnemers se nie-verbale gedrag en situasies of gebeurlikhede wat daar plaasgevind het. Veldnotas het volgens Creswell (2009:181) ten doel om beskrywend van aard te wees, die demografiese inligting weer te gee asook om refleksief te wees deur die navorser se denke en gevoelens weer te gee.

Hulpmiddels

Volgens Niewenhuis (2007a:92) word klank- of video-opnames dikwels gebruik om aanvullend tot die onderhoude te dien om data wat dalk tydens die onderhoudvoering verlore kon gaan vas te vang. In dié navorsing het die navorser met die toestemming van die deelnemers van digitale klankopnames gebruik gemaak wat, soos Kelly (2006b:302) aandui, getranskribeer is om meer volledig bestudeer te kon word na afloop van die onderhoudvoering.

Kristallisasie

Om die vertrouenswaardigheid van die data wat ingesamel is te verhoog, is daar van kristallisasie gebruik gemaak soos beskryf word deur Shagoury (2011:297). Maree en Van der Westhuizen (2007:40) bevestig Shagoury (2011:297) se siening dat die gebruik van kristallisasie die resultate van die navorsing meer geloofwaardig en betroubaar maak omdat

(32)

13

daar van ’n verskeidenheid metodes van data-insameling gebruik gemaak word wat help dat die navorser die data ryker kan beskryf en betroubaarder bevindinge kan maak. Die navorser het in hierdie studie van onderhoudvoering, waarneming, refleksies en veldnotas gebruik gemaak om die rykste moontlike databasis te kon opbou wat die betroubaarste bevindinge tot gevolg kon hê.

1.5.4 Data-analise

Brink et al. (2012:193) meld dat die data in kwalitatiewe navorsing nie-numeries is en gewoonlik in die vorm van geskrewe woorde of klank- en beeldmateriaal weergegee word. Volgens die outeurs het die bestudering van teks en nie nommers nie tot gevolg dat massiewe hoeveelhede data ontleed moet word. Soos deur Leedy en Ormrod (2010:152) gemeld het die navorser ook in die studie begin met ’n groot databasis van inligting wat deur middel van induktiewe redenering, sortering en kategorisering geleidelik afgewerk is tot 'n klein stel abstrakte en onderliggende temas.

Vir die doeleindes van hierdie studie is daar besluit om Creswell (2009:185-190) se stappe vir die ontleding van die data te benut. Die model het ten doel om die navorser te help om sin en betekenis te heg aan die data wat ingesamel is (Creswell, 2009:185).

Stap 1: Onverwerkte data word georganiseer en vir analise voorberei.

Stap 2: Al die ingesamelde inligting word deurgelees en daar word gepoog om ’n algemene mening te vorm.

Stap 3: Die ingesamelde data word breedvoerig ontleed deur van kodering gebruik te maak.

Stap 4: Kategorieë en temas word geïdentifiseer.

Stap 5: ’n Beskrywing word gegee van die temas wat ook die subtemas en kategorieë insluit.

Stap 6: Die data word geïnterpreteer. Dit sluit in ’n uiteensetting van al die lesse wat in die uitvoering van die studie geleer is.

Tydens die analisering van die kwalitatiewe data deur middel van ’n proses van sifting van betekenisvol teenoor onbeduidend word betekenisvolle patrone/kategorieë geïdentifiseer. Dit het tot gevolg gehad dat ’n raamwerk gekonstrueer kon word om die essensie te kommunikeer van dit wat die data gelewer het (Schurink et al., 2011:397).

(33)

14

’n Literatuurkontrole is ná afhandeling van die data-analise uitgevoer, soos deur Creswell (2009:27) uiteengesit is, om bestaande literatuur te vergelyk met die temas en kategorieë wat in die studie ontwikkel is.

Creswell (2009:190) meld dat die geldigheid en akkuraatheid van die data deurlopend getoets moet word tydens die insameling van die data.

Vertrouenswaardigheid

Die vertrouenswaardigheidstrategie wat in die studie gebruik is, berus op Lincoln en Guba (in Schurink et al., 2011:415) se vier konstrukte wat vertrouenswaardigheid verseker, naamlik die geloofwaardigheid, oordraagbaarheid, vertroubaarheid en bevestigbaarheid van die data. Hierdie vier konstrukte word breedvoering in Hoofstuk 3 bespreek. Botma et al. (2010:231) meld dat die geloofwaardigheid en bevestigbaarheid van die navorsing gekontroleer word deur die akkuraatheid van die bevindinge te toets deur die gebruik van prosedures soos kristallisasie. Nieuwenhuis (2007a:79) dui aan dat saturasie of dataversadiging tot oordraagbaarheid bydra terwyl die stapsgewyse replisering en kodering, soos deur Creswell (2009:189) beskryf, die vertroubaarheid van die studie verseker.

1.6 ETIESE ASPEKTE

Volgens Strydom (2011:114) bestaan daar twee basiese kategorieë van etiese verantwoordelikheid, naamlik verantwoordelikheid teenoor mense wat aan die navorsing deelneem en verantwoordelikheid teenoor die wetenskap om die inligting bekom uit die navorsing so akkuraat en eerlik as moontlik weer te gee. Volgens Botma et al. (2010:56) moet die navorser goed vertroud wees met die etiese beginsels van die uitvoer van navorsing met betrekking tot die mens. Die outeurs meld ook dat die navorser die versekering moet kan gee dat die navorsing wat onderneem word nie skadelik sal wees vir die deelnemers nie en dat ongevoelige en indringende vrae vermy sal word wat die deelnemers se outonomie ondermyn. Die navorser het in hierdie studie gepoog om die riglyne ten opsigte van die etiese aspekte deurgaans na te kom, soos beskryf deur Babbie en Mouton (2001:520), Creswell (2009:89) asook Strydom (2011:115). Hierdie nakoming het ingesluit dat etiese toestemming by die Noordwes-Universiteit verkry moes word alvorens daar met die navorsing begin kon word. 'n Etieknommer is toegeken, naamlik NWU_00060-12-A1. Die Sentrum vir Kinder-, Jeug- en Familiestudies, Fakulteit Gesondheidswetenskappe, Noordwes-Universiteit, waar die navorser/student geregistreer is, het spesifieke fokusareas vir navorsing. Hierdie studie val onder Subprojek 2: Die ontwikkeling van ondersteuningstrategieë om die kwaliteit van lewe en

(34)

15

welsyn van kinders, die jeug en gesinne te verbeter. Die tema waaronder die studie val is Tema 2.2: Ondersteuning in konteks van trauma en lewensstres.

1.6.1 Ingeligte toestemming

Die navorser moes eerstens toestemming van die wyksraadslid in die spesifieke informele nedersetting verkry voordat toegang tot die inwoners van die nedersetting bekom kon word. ’n Onderhoud is met die wyksraadslid gereël waartydens die rasionaal, doelstelling en doelwitte vir die studie asook werkwyse verduidelik is. Nadat die beoogde navorsing deur die wyksraadslid aan die wyksraad tydens ’n vergadering voorgelê is, is toestemming verleen vir die studie om voortgesit te word (sien Bylae A).

Vervolgens moes die navorser die plaaslike gesinsorgorganisasie wat diens lewer in die nedersetting nader om die organisasie se ondersteuning te verkry vir die uitvoering van die ondersoek. Die samewerking van organisasie was om verskeie redes belangrik vir die uitvoering van die studie. Samewerking met die organisasie was eerstens noodsaaklik om ’n naamlys te kon opstel met kontakbesonderhede van ouers of versorgers wat aan die kriteria voldoen het. Dit was ook belangrik aangesien die navorser een van die organisasie se personeellede wat in die nedersetting woonagtig was, wou nader om as tolk op te tree in gevalle waar die deelnemers nie Engels of Afrikaans magtig was nie. Die wyksraadslid asook die gesinsorgorganisasasie het dié personeellid wat as tolk gebruik sou word aangewys as die geskikste persoon om as tussenganger tussen die navorser en die voornemende deelnemers op te tree. Toestemming moes derhalwe ook daarvoor van die organisasie verkry word. Laastens het die navorser ’n sentrale perseel benodig waar die onderhoude gevoer kon word. Die organisasie se kantore was sentraal geleë en geskik vir die onderhoudvoering aangesien dit die vertroulikheid van die deelnemers sou verhoog. Ingeligte toestemming is van die organisasie ontvang (sien Bylae B).

Nadat die voornemende deelnemende ouers of versorgers met die hulp van die tussenganger gemotiveer is om aan die studie deel te neem, is ingeligte toestemming van die ouers of versorgers ontvang. Die navorser het voor die aanvang van elke onderhoud eers die rasionaal, doelstelling en doelwitte van die studie asook die werkwyse breedvoerig aan elke ouer of versorger verduidelik tesame met die etiese implikasies van die studie. Die navorser het ook toestemming verkry om ’n digitale klankopnemer tydens die onderhoudvoering te gebruik. Deelnemers het voldoende inligting oor die studie ontvang wat hulle in staat gestel het om te besluit of hulle vrywillig aan die studie wil deelneem (sien Bylae C).

(35)

16 1.6.2 Potensiële risiko en ongemaklikheid

Botma et al. (2010:277) asook Leedy en Ormrod (2010:101) meld dat die navorser daarteen moet waak om die deelnemers aan onnodige fisiese en psigologiese ongemak bloot te stel. Brink et al. (2012:68) brei hierop uit en meld dat navorsing nooit mag geskied ten die koste van die individuele mens nie. Aangesien die ouers of versorgers van die kinders moontlik reeds aan trauma blootgestel gestel is in die verlede as gevolg van die seksuele misbruik van hul kleuter kon die onderhoude met die navorser weer tot sekondêre trauma lei. Die ouers of versorgers moes dus bewus gemaak word van hierdie moontlikheid en van die hulp wat beskikbaar was indien dit wel sou gebeur. Hoewel die deelnemers geen finansiële vergoeding ontvang het vir deelname aan die navorsing nie was ondersteuning tog beskikbaar indien die vrae tot moontlike ongemak kon lei deurdat hulle na die plaaslike maatskaplike werker in die spesifieke informele nedersetting verwys kon word. Een deelnemer is vir verdere ondersteuning na die plaaslike organisasie verwys.

1.6.3 Potensiële voordele van deelname

Botma et al. (2010:294) en Brink et al. (2012:43) meld dat die voordele van deelname aan ’n navorsingstudie verbeterde dienslewering aan die gemeenskap as geheel kan inhou as gevolg van die navorsing. Hoewel die deelnemers geen finansiële voordeel uit hul deelname aan die navorsing kon ontvang nie, het die navorser gehoop dat die bevindinge van die studie in ag geneem sal word in toekomstige voorkomingsgerigte dienste wat deur die gesinsorgorganisasies in die informele nedersetting gelewer sal word. Bogenoemde insluiting van inligting is moontlik aangesien die navorser die inligting verkry uit die navorsing aan die plaaslike gesinsorgorganisasies deur gegee het.

1.6.4 Vertroulikheid en privaatheid

Botma et al. (2010:17), Creswell (2009:91) asook Whittaker (2009:111) meld dat die sleutelbegrip in die navorser se bevindinge moet wees om die vertroulikheid en identiteit van die deelnemers te beskerm. Die navorser het tydens die navorsing vertroulikheid verseker deur alle identifiserende inligting ten opsigte van die deelnemers as vertroulik te hanteer. In die navorsingsverslag is daar net oor die algemeen na die deelnemers verwys sonder om die identiteit van enige deelnemer spesifiek bekend te maak.

Aangesien daar ook van die dienste van ’n tussenganger, tolk, onafhanklike koördineerder en transkribeerder gebruik gemaak is, is daar ook van hierdie persone verwag om die inhoud van die onderhoude as vertroulik te hanteer. Elkeen sal vervolgens bespreek word.

(36)

17

Volgens Kelly (2006b:292) is die gebruik van ’n tussenganger belangrik vir die deelnemers om ’n positiewe ingesteldheid teenoor die studie te kan vorm. Soos reeds in 1.6.1 gemeld, is ’n geskikte tussenganger uitgewys deur die organisasie wat in die spesifieke informele nedersetting diens lewer en deur die wyksraadslid. Hierdie persoon is tydens ’n onderhoud breedvoerig oor die doel van die studie ingelig. Aangesien die persoon vooraf met elkeen van die ouers of versorgers kontak moes maak om hulle te motiveer om aan die studie deel te neem, was dit nodig dat die persoon ’n verklaring moes onderteken dat die deelnemers se inligting as vertroulik gehanteer sou word.

Daar is van die dienste van ’n tolk gebruik gemaak wat voor die aanvang van die empiriese studie geïdentifiseer is. Die gebruik van ’n tolk was nodig aangesien die deelnemers meestal isiXhosa gepraat het en nie Afrikaans of Engels magtig was nie. Die navorser wou nie hierdie deelnemers uitsluit by die studie nie. ’n Geskikte tolk is verkry van die plaaslike gesinsorgorganisasie in die spesifieke informele nedersetting wat reeds van ’n isiXhosa-sprekende maatskaplike hulpwerker gebruik maak. Die persoon staan die maatskaplike werker by tydens onderhoudvoering met die gemeenskapslede. Die tolk is voor die aanvang van die onderhoudvoering by ’n opleidingsessie oor die navorsing betrek en het ’n onderneming van vertroulikheid onderteken.

Om die vertrouenswaardigheid van die studie te verhoog, is die transkripsies ook aan ’n onafhanklike kodeerder verskaf om die temas, subtemas en kategorieë te verifieer. Die persoon het ’n verklaring onderteken om die inhoud as vertroulik te hanteer.

Laastens is die dienste van twee transkribeerders gebruik om al die klankopnames te transkribeer wat van die onderhoude gemaak is. Hierdie transkripsies is tydens data-analise in die koderingsproses gebruik. Hierdie twee persone het dus verklarings onderteken om die inligting oor die onderhoude as konfidensieel te hanteer.

1.6.5 Deelname en onttrekking van navorsingstudie

Volgens Botma et al. (2010:6) en Creswell (2009:89) moet deelnemers die geleentheid gebied word om uit vrye wil self te besluit om aan navorsing deel te neem en moet hulle die geleentheid gebied word om te eniger tyd te onttrek indien hulle dit so verlang. Die deelnemers wat aan die navorsing deelgeneem het, het dit uit vrye wil gedoen en kon te eniger tyd onttrek sonder enige nadelige gevolge. Indien hulle ongemak ervaar het om ’n vraag te beantwoord, kon hulle die vraag onbeantwoord laat. Geen deelnemer het egter tydens die empiriese studie versoek om van die onderhoudvoering te onttrek nie. Die navorser kon te eniger tyd tydens die navorsing die deelnemers van die navorsing onttrek indien dit geblyk het noodsaaklik te wees.

(37)

18 1.6.6 Bevoegdheid van navorsers

Die navorser wat hierdie studie uitgevoer het, is ’n gekwalifiseerde maatskaplike werker wat self aan ’n etiese kode van die beroep onderworpe is. Die studie is onder leiding van ’n studieleier uitgevoer en, soos Creswell (2009:89) meld, is die kontakbesonderhede van die navorser aan die deelnemers bekend gemaak sodat daar met die navorser in verbinding getree kon word indien verlang. Indien die deelnemers enige vrae ten opsigte van die navorsing gehad het, kon die navorser of die studieleier gekontak word. Die kantoor se telefoonnommer is verskaf.

1.6.7 Stoor van data

Die digitale klankopnames is slegs deur die navorser gebruik en sal vir ’n tydperk van drie jaar op ’n digitale kompakskyf by die Noordwes-Universiteit gestoor word voordat dit vernietig word.

1.7 DEFINISIES VAN VERNAAMSTE KONSEPTE

Aangesien konsepte soos die ekologiese sisteemperspektief, die ontwikkeling van die kleuter, seksuele misbruik van die kind en risikofaktore in hierdie studie van toepassing is, word hierdie konsepte vervolgens oorsigtelik bespreek.

1.7.1 Ekologiese sisteemperspektief

Volgens die ekologiese sisteemperspektief wat deur Bronfenbrenner ontwikkel is, is die ekologie van die menslike ontwikkeling ’n progressiewe, gemeenskaplike akkommodering tussen die ontwikkelende individu en die veranderende strukture in die individu se onmiddellike omgewing waar die individu woon (Cattanach, 2007:431). Die ekologiese sisteemperspektief plaas volgens Bronfenbrenner en Morris (2006:796) klem op hoe die omgewing waarin die individu woon op ’n deurlopende basis die individu se ontwikkeling beïnvloed. Volgens Kruger en Spies (2006:160) is hierdie akkommoderende ingesteldheid die gevolg van die interaksie wat tussen die individu en die omgewing plaasvind. Die verhoudings tussen die mens en die verskillende instellings in die persoon se onmiddellike omgewing beïnvloed die ontwikkeling van die individu, maar die individu se ontwikkeling word ook beïnvloed deur die groter konteks waarbinne hierdie instellings funksioneer en waarvan die instellings deel vorm (Cattanach, 2007:431). Vir hierdie studie word die ekologiese sisteemperspektief dus voorgehou as die progressiewe gemeenskaplike interaksie wat daar tussen die ontwikkelende individu en die omgewing plaasvind en deurlopend ’n uitwerking op die ontwikkeling van die individu uitoefen vanuit al die verskillende instellings in die omgewing.

Referenties

GERELATEERDE DOCUMENTEN

Tevens zou het kunnen dat er wel een verschil in afname van craving na tDCS tijdens AAT-training in vergelijking met AAT-training en (placebo-tDCS) aanwezig is, maar dat dit

The period of 1995 to 2005 was one of substantial change of governance in the German higher education system. The objectives of the reform aimed at building entrepreneurial

Figure 3: SEM images of the successfully microfabricated hair sensor arrays and an exploded design view of a single hair sensor showing: (1) highly conductive silicon bulk (bottom

Om hierdie eise suksesvol te kan hanteer, behoort onderwyskandidate wat oor die gewenste persoonseienskappe vir doeltreffende onderwys beskik, tot die onderwys toe te

Die oudi ti ewe perseptuele tekorte wat bestaan het, is na die toepassing van .die hulpverleningsprogram oorko~ In heelparty van die ouditiewe funksies het die

Data, as presented in the figures, are expressed as group means k standard deviation (SD) between individual mice. The Control Group values are indicated in purple,

Wanneer Petrus homself aan die lesers bekendstel as slaaf van Jesus Christus, bring hy daarmee 'n besondere aspek van sy verhouding tot Jesus Christus na vore:

Dit blyk dus dat die apostel wil veroorsaak dat die lesers die dinge wat hy in die opsomming van sy leer uiteengesit het, weer uit die geheue oproep en opnuut