• No results found

DIE EKOLOGIESE SISTEEMPERSPEKTIEF

2.6 VOORKOMINGSGERIGTE DIENSLEWERING

2.6.1 Benaderings ten opsigte van voorkomingsgerigte programme

Volgens Williams et al. (2004:229) word daar tans van drie moontlike benaderings gebruik gemaak om voorkomingsgerigte programme te implementeer, naamlik:

2.6.1.1 Universele voorkomingsgerigte intervensie

Williams et al. (2004:229) meld dat die universele voorkomingsgerigte intervensie gerig is op 'n hele bevolkingsgroep wat dieselfde problamatiek ervaar. Volgens die outeurs is die vorm van intervensie wenslik aangesien hierdie tipe intervensie meer kostedoeltreffend is. Verder meld die outeurs dat hierdie vorm van voorkomingsgerigte intervensie goed is vir almal in die gemeenskap aangesien risikofaktore soos armoede, problematiese wetgewing en waardes, swak gesinsbestuurpraktyke en ondoeltreffende ouerskapsvaardighede deur ’n breë benadering aangespreek kan word en verminder kan word. Volgens die outeurs verbeter programme wat op opleiding in ouerskap en sosiale vaardighede gerig is universele beskermende of bufferfaktore sonder om 'n spesifieke groep in die gemeenskap te teiken. Die outeurs meld laastens dat programme en beleid wat op armoedeverligting gerig is en wat tot beter polisiëringstrategieë en die ontwikkeling van doeltreffender opvoedkundige stelsels lei as universele voorsorgmaatreëls beskou moet word.

51

2.6.1.2 Geselekteerde voorkomingsgerigte intervensie

Volgens Williams et al. (2004:229) is geselekteerde voorkomingsgerigte intervensies gefokus op individue en groepe wat reeds in hoë-risiko gemeenskappe is en wie se blootstelling aan die risikofaktore reeds hoër as normaal is. Volgens die outeurs het hierdie programme ook uiteindelik ten doel om risiko’s te verminder en bufferfaktore te verhoog.

2.6.1.3 Aangeduide voorkomingsgerigte intervensies

Williams et al. (2004:229) is van mening dat die aangeduide voorkomingsgerigte intervensie op hoë-risiko individue fokus wat ’n vatbaarheid openbaar om misdadige gedrag te openbaar, maar wat nog nie tot misdadige gedrag oorgegaan het nie. Volgens die outeurs is aangeduide voorkomingsgerigte intervensies in die verlede “vroeë intervensies” genoem.

Die hoofoorsaak van universele, geselekteerde en aangeduide voorkomingsgerigte intervensies is die geïdentifiseerde risikofaktore wat in die gemeenskap geïdentifiseer is en deur voorkomingsgerigte dienslewering aangespreek moet word. Deur die benutting van bogenoemde drie benaderings in voorkomingsgerigte programme, naamlik universele voorkomingsgerigte intervensie, geselekteerde voorkomingsgerigte intervensie en aangeduide voorkomingsgerigte intervensie, kan verskillende groepe in die spesifieke informele nedersetting geteiken word om aandag te skenk aan die vraagstuk van seksuele misbruik van kleuters.

2.7 SAMEVATTING

In hierdie hoofstuk is aandag geskenk aan ’n literatuurstudie ten opsigte van al die hoofkonsepte wat met hierdie navorsing verband hou. Daar is gefokus op die ekologiese sisteemperspektief wat as teoretiese raamwerk vir die studie dien waarna die ontwikkelingsfase van ’n kleuter bespreek is. Die begrip seksuele misbruik van kinders is breedvoerig bespreek. Vervolgens is die risiko- en bufferfaktore wat betrokke is by die seksuele misbruik van kinders vanuit die ekologiese sisteemperspektief bespreek. Laastens is voorkomingsgerigte dienslewering bespreek as wyse om seksuele misbruik van kleuters op makrovlak in die gemeenskap aan te spreek.

In die volgende hoofstuk word die navorsingsmetodologie wat in die studie toegepas is breedvoerig aan die hand van literatuur bespreek.

52 HOOFSTUK 3

NAVORSINGSMETODOLOGIE

3.1 INLEIDING

In die vorige hoofstuk is ’n literatuurstudie onderneem om die verskillende hoofkonsepte wat in hierdie ondersoek van belang is breedvoerig aan die hand van gepaste literatuur te bespreek. In Hoofstuk 1 is oorsigtelik na die navorsingsmetodologie verwys. In hierdie hoofstuk word ’n volledige beskrywing aangebied ten opsigte van die navorsingsprosedure en werkwyse wat die navorser in die spesifieke studie gevolg het. In dié verband sal die kenmerkende stappe van die kwalitatiewe navorsingsproses, soos deur Fouché en Delport (2011b:70) uiteengesit is, breedvoerig bespreek word soos dit in hierdie navorsing toegepas is.

3.2 NAVORSINGSPROSEDURE EN WERKWYSE

Die proses wat tydens die navorsing gevolg word, kan volgens Leedy en Ormrod (2010:7) met ’n spiraal vergelyk word aangesien dit met ’n probleem begin en met ’n oplossing van die probleem eindig. Brink et al. (2012:52) brei verder hierop uit deur aan te dui dat die navorsing wel met ’n probleem begin maar dat die probleem óf opgelos óf net aangespreek kan word deur die studie. In hierdie studie is die probleem, naamlik die bydraende risikofaktore wat kleuters in die spesifieke informele nedersetting kwesbaar maak vir seksuele misbruik, verken en beskryf.

Navorsers in kwalitatiewe navorsing betree die navorsingsproses sonder voorbedagte idees of opvattings en is bereid om hulself te verdiep in die kompleksiteit van die situasie en interaksie met die deelnemers (Leedy & Ormrod, 2010:95). Volgens die outeurs ontwikkel kategorieë in kwalitatiewe navorsing vanuit die data wat lei tot konteks-gebonde inligting aangesien die temas wat uit die data ontwikkel, help om die verskynsel wat nagevors word na vore te bring. Die navorser het hierdie studie aan die hand van ’n kwalitatiewe navorsingsproses gedoen om sodoende ’n geheelbeeld te kon ontwikkel van wat die ouers of versorgers van kleuters en die gemeenskapsleiers in die spesifieke informele nedersetting as bydraende risikofaktore bestempel het en wat kleuters kwesbaar laat vir seksuele misbruik.

Fouché en Delport (2011b:70) gebruik ’n model waarin hulle vyf fases met stappe by elkeen beskryf. Die outeurs meld egter dat die navorser self moet bepaal watter stappe nodig is vir die uitvoering van die studie wat onderneem word. Die model vir die navorsingsproses soos deur Fouché en Delport (2011b:70) gebruik, bestaan uit die seleksie van ’n navorsbare onderwerp, die formele formulerings, die beplanning, die implementering en die interpretasie en aanbieding.

53

Die metode en prosedures wat vir hierdie studie benut is, is aan die hand van Fouché en Delport (2011b:70) se kenmerkende stappe van die kwalitatiewe navorsingsproses gedoen.

Tabel 3.1 gee vervolgens ’n uiteensetting van hierdie kenmerkende stappe in kwalitatiewe navorsing.

Tabel 3.1: Kenmerkende stappe in die kwalitatiewe navorsingsproses

Bron: Aangepas uit Fouché en Delport (2011b:70).

’n Bespreking en verduideliking van die verloop van hierdie navorsingsprojek word vervolgens aan die hand van bogenoemde stappe in die navorsingsproses aangebied.

Kenmerkende stappe in die kwalitatiewe navorsingsproses Fase 1: Seleksie van ’n navorsbare onderwerp Stap 1: Identifiseer die navorsingsprobleem