• No results found

GEVOLGTREKKINGS EN AANBEVELINGS

5.5 AANBEVELINGS TEN OPSIGTE VAN DIE STUDIE

Aanbevelings word in hierdie studie ten opsigte van die praktyk, opleiding en verdere navorsing gemaak. Daar word eerstens na aanbevelings ten opsigte van die praktyk gekyk.

5.5.1 Aanbevelings ten opsigte van die praktyk

In die praktyk word aanbevelings gemaak wat moontlik deur die gesinsorgorganisasies wat in die spesifieke nedersetting in Buffalo City diens lewer, gebruik kan word in hul toekomstige voorkomingsgerigte diensleweringsprogramme wat in dié nedersetting ontwikkel sal word.

Die volgende aanbevelings word gemaak:

• Bied lewensvaardigheidsprogramme oor seksuele misbruik en persoonlike veiligheid aan vir die kleuters in die spesifieke informele nedersetting. Só kan die kleuters die taal en vaardighede aanleer om hulself beter teen potensiële seksuele misdadigers te beskerm.

• Bied programme oor ouerskapsvaardighede vir die ouers en versorgers in die nedersetting aan sodat hulle kan leer hoe om toereikend vir hul kinders te sorg en hoe om in hul kinders se basiese behoeftes te voorsien. Dit sal as voorkoming dien teen die seksuele misbruik van kleuters aangesien die kleuters dan nie na onbekende potensiële misdadigers sal uitreik ter vervulling van hul basiese behoeftes nie.

• Vorm selfhelpgroepe in die nedersetting sodat gesinne wat onafhanklik en selfversorgend funksioneer ander disfunksionele gesinne kan ondersteun. Só kan ouers leiding ontvang om meer toereikende ouers te word wat hul kleuters doeltreffend teen seksuele misbruik kan beskerm.

• Bied programme oor finansiële bestuur aan die ouers en versorgers in die nedersetting sodat die ouers leiding kan ontvang oor hoe om hul beskikbare fondse oordeelkundig aan te wend. Die ouers moet leiding ontvang om ’n begroting op te stel wat ook in hul kleuters se basiese behoeftes kan voorsien.

111

• Verleen ondersteuning aan enkelouers deur die gesinsorgorganisasies in die nedersetting sodat die enkelouers hul aansien in die nedersetting kan verhoog en meer respek by die gemeenskapslede kan afdwing.

• Tree deur die gesinsorgorganisasies by die gemeenskapsforumvergaderings in gesprek met die gemeenskapslede oor die hervestiging van ’n ubuntu-ingesteldheid in die spesifieke informele nedersetting. Die gemeenskapslede moet weer gemotiveer word om ’n ingesteldheid van medeverantwoordelikheid vir mekaar se gesinne te ontwikkel wat die seksuele misbruik van die kleuters in die nedersetting sal teenwerk.

• Vestig ’n versorgingsprogram in die nedersetting wat op dieselfde wyse funksioneer as die bestaande een wat vir die tieners ontwikkel is. Enige kleuter moet by die versorgingsprogram kan inskakel om gratis versorging en voeding te ontvang terwyl die ouers bedags weg is en die kleuter alleen tuis gelaat word.

• Stel programme in die nedersetting bekend om die gemeenskaplede bewus te maak van die gevaar van alkohol- en dwelmmisbruik en van die gevolge wat dit vir die kleuters inhou ten opsigte van seksuele misbruik wat daaruit mag voortspruit.

• Werk deur die gesinsorgorganisasies om met die gemeenskapsleiers in gesprek te tree oor die gebrekkige infrastruktuur wat veroorsaak dat daar nie voldoende behuisings, water- en sanitasiegeriewe aan die gemeenskapslede beskikbaar is nie Voer gesprekke met die gemeenskapsleiers om hul aandag daarop te vestig dat die gebrekkige infrastuktuur ’n rol in die seksuele misbruik van die kleuter speel.

• Stel hierdie aanbevelings beskikbaar aan die gesinsorgorganisasies wat in die spesifieke informele nedersetting diens lewer sodat hulle dit in die samestelling van toekomstige voorkomingsprogramme in dié gemeenskap kan gebruik.

5.5.2 Aanbevelings ten opsigte van opleiding

Die volgende aanbevelings word oor die ontwikkeling van voorkomingsgerigte diensleweringsprogramme gemaak:

• Skenk deur die opleiding van studente in maatskaplike werk aandag aan die ontwikkeling van voorkomingsgerigte diensleweringsprogramme sodat voornemende maatskaplike werkers die nodige vaardighede en hulpmiddels tot hul beskikking sal hê om voorkomingsprogramme te ontwikkel vir vraagstukke soos armoede, alkohol- en dwelmmisbruik, seksuele misbruik van kinders, wanbesteding van beskikbare fondse deur ouers, ontoereikende ouerskap en lewensvaardigheidsprogramme vir kinders.

• Skenk deur die opleiding van studente in maatskaplike werk aandag aan die identifisering van bydraende risiko- en bufferfaktore in ’n gemeenskap vanuit die ekologiese sisteemperspektief sodat voornemende maatskaplike werkers beter toegerus sal wees om

112

voorkomingsgerigte programme te ontwikkel op al die vlakke in die gemeenskap wanneer hierdie werkers in die praktyk staan.

5.5.3 Aanbevelings ten opsigte van verdere navorsing

Die volgende aanbevelings word gemaak om die vraagstuk van seksuele misbruik in die spesifieke informele nedersetting verder te ondersoek:

• Onderneem verdere navorsing oor die bydraende risikofaktore wat kleuters kwesbaar maak vir seksuele misbruik. Die ondersoek moet ook klem lê op die redes waarom ouers en versorgers ’n ontoereikenheid openbaar om hul ouerskapverantwoordelikhede behoorlik na te kom.

• Onderneem navorsing om uit te vind waarom die ingesteldheid van ubuntu in informele nedersettings afneem aangesien die afwesigheid daarvan die kinders van die gemeenskappe kwesbaar laat vir misbruik.

• Onderneem navorsing in die spesifieke informele nedersetting om te bepaal hoe lewensvatbaarheid dit sal wees om lewensvaardigheidsprogramme vir die kleutergroep in die gemeenskap te ontwikkel. Hierdie program moet soortgelyk wees aan die suksesvolle program vir tieners in die gemeenskap.

• ’n Verder aanbeveling is dat daar ook van ander navorsingsontwerpe en navorsingsmetodes gebruik gemaak kan word om hierdie problematiek verder te ondersoek.

Daar word vervolgens aandag geskenk aan die beperkings van die studie soos dit aan die lig gekom het tydens die ondersoek, die ontleding van die data en die skryf van die verslag.