• No results found

DIE EKOLOGIESE SISTEEMPERSPEKTIEF

2.2 EKOLOGIESE SISTEEMPERSPEKTIEF

Die ekologiese sisteemperspektief is deur Bronfenbrenner ontwikkel en dit plaas klem op die ontwikkeling van die kind binne sy konteks (Fraser, 2004:5; Kruger & Spies, 2006:160). Bronfenbrenner en Morris (2006:793) verklaar dat ontwikkeling in die ekologiese sisteemperspektief as die verskynsel van kontinuïteit gedefinieer word. Volgens die outeurs bring die kontinuïteit verandering mee in die psigologiese eienskappe van die mens as individu en as groepe. Volgens Cattanach (2007:431) is die ekologie van die menslike ontwikkeling ’n progressiewe, gemeenskaplike akkommodering tussen die ontwikkelende individu en die veranderende strukture in die onmiddellike omgewing waar die individu woon. Hierdie akkommoderende ingesteldheid vind volgens Fraser (2004:6) asook Kruger en Spies (2006:160) plaas as gevolg van die interaksie wat daar tussen die individu en die omgewing is. Die ontwikkeling van die individu word beïnvloed deur die verhoudings tussen die mens en die verskillende instellings in die persoon se onmiddellike omgewing, maar ook deur die groter konteks waarbinne hierdie instellings funksioneer en waarvan hierdie instellings deel vorm

23

(Cattanach, 2007:431). Hierdie siening word ondersteun deur Duerden en Witt (2010:109) wat aandui dat die individu en die omgewing voortdurend ’n invloed op mekaar uitoefen terwyl albei in die proses voortdurend bedag is op hoe hulle mekaar voorheen beïnvloed het. Kruger en Spies (2006:160) dui verder aan dat die omgewing ’n komplekse stel sisteme binne ander sisteme is. Fraser (2004:6) ondersteun hierdie stelling deur aan te dui dat die sisteme as ’n geheel beskou kan word waar al die verskillende dele in ’n onmidddellike verhouding tot mekaar staan en op mekaar reageer. Die mens is onlosmaaklik deel van sy omgewing en kan nie afsonderlik daarvan bestudeer word nie (Galloway, 2006:49; Joyce & Sills, 2001:24).

Volgens Bronfenbrenner en Morris (2006:796) plaas die ekologiese sisteemperspektief klem op hoe die omgewing waarbinne die individu woon die individu se ontwikkeling op ’n deurlopende basis beïnvloed. Bronfenbrenner (1979:3) asook Louw en Reyneke (2011:218) meld dat die verskillende strukture in die ekologiese omgewing in mekaar pas en met mekaar verband hou. Volgens die outeurs bestaan die ekologiese omgewing uit mikro-, meso-, ekso- en makrosisteme.

Bronfenbrenner en Morris (2006:796) dui aan dat daar wisselwerking tussen al vier hierdie sisteme plaasvind van die klein mikrosisteme tot die meer globale makrosisteme. Elkeen van hierdie vier sisteme word vervolgens bespreek.

2.2.1 Mikrosisteem

Bronfenbrenner en Morris (2006:796) meld dat die mikrosisteem ’n patroon van daaglikse aktiwiteite, rolle en interpersoonlike verhoudings is wat direk deur die ontwikkelende individu ervaar word. Richman et al. (2004:146) meld voorts dat alle verhoudings op die mikrosistemiese vlak mekaar wedersyds beïnvloed. Kruger en Spies (2006:161) dui aan dat voorbeelde van die mikrosisteem die huis (met ouers en sibbe), die skool (met onderwysers en portuurgroep) en die werkplek (met kollegas) is. Dit is in hierdie vlak dat daar volgens Van Wyk (2011:107) kommunikasie tussen die verskillende gesinslede plaasvind. Die outeur dui ook aan dat die individu alle gebeure in hierdie vlak vanuit die individu se eie verwysingsraamwerk interpreteer, naamlik wat die invloed op die individu is en ook hoe dit met die individu verband hou – soos die individu se behoefte aan kos en veiligheid. Kruger en Spies (2006:161) meld egter ook dat dit noodsaaklik is om te verstaan dat daar verskeie mikrosisteme vir elke individu is en dat hierdie sisteme vermeerder soos die individu ontwikkel. Van Wyk (2011:107) meld dat voorbeelde van die uitbreiding van hierdie sisteme die huwelik, geboortes, egskeidings en ook die dood is. In hierdie studie vorm die gesin van die kleuter, asook die crèches en preprimêre skool waar sommige kleuters soggens versorg word deel van die mikrosisteme.

24 2.2.2 Mesosisteem

Volgens Kruger en Spies (2006:161) is die mesosisteem die wisselwerking tussen twee of meer mikrosisteme waarbinne die ontwikkelende individu aktief deelneem (vir die kind sal dit byvoorbeeld die verhoudings by die huis, skool of met die bure wees; vir volwassenes sal dit verhoudings by die huis, werk en sosiale instellings wees). Richman et al. (2004:146) brei hierop uit en meld dat die mesosisteem beskryf kan word as ’n sisteem van mikrosisteme en verwys na die interaksie tussen die individu met die verskillende mikrosisteme waaraan die individu deelneem. Die kwaliteit van gesinslewe wat die kind byvoorbeeld tuis ervaar het ’n invloed op die kind se prestasie by die skool en hoe die kind met selfvertroue in die portuurgroep op tree. In die spesifieke informele nedersetting waar die studie onderneem is, is daar veral gelet op die verhouding tussen die kleuter se gesin met die bure in die onmiddellike omgewing en hoe dit ’n uitwerking op die kleuter se ontwikkeling gehad het.

2.2.3 Eksosisteem

Bronfenbrenner (1979:25) definieer die eksosisteem as die buite-sisteem. Dit bestaan uit een of meer instellings waarby die ontwikkelende individu nie direk as ’n aktiewe deelnemer betrokke is nie. ’n Voorbeeld hiervan is ’n ouer se werksomstandighede wat die ouer se gedrag by die huis kan beïnvloed en dus ook ’n invloed op die kwaliteit van die individu se ouerlike vaardighede kan beïnvloed (Cattanach, 2007:431; Kruger & Spies, 2006:162). Bronfenbrenner (1979:25) asook Richman et al. (2004:146) verklaar verder dat die eksosisteem persone insluit wat belangrike rolspelers in die individu se ontwikkeling kan wees. Bronfenbrenner (1979:25) meld ook dat die velde van die rolspelers, hoewel hulle nie direk by die individu betrokke nie, tog ’n invloed op die individu kan uitoefen. In hierdie studie het die organisasies wat diens lewer aan die kleuter en die gesin in die spesifieke informele nedersetting deel van die eksosisteem uitgemaak.

2.2.4 Makrosisteem

Cattanach (2007:431) meld dat die makrosisteem die kultuur en samelewing verteenwoordig waarbinne die individu gebore is. Volgens Bronfenbrenner en Morris (2006:796) kan die makrosisteem aangedui word as die samelewingsbloudruk vir ’n bepaalde kultuur of subkultuur en verteenwoordig dit instellings soos die regering, media en ekonomie. Dit verwys na die sosiale instellings in die samelewing of subkultuur waarbinne die individu funksioneer (Kruger & Spies, 2006:162). Volgens Cattanach (2007:431) vorm die makrosisteem die kenmerkende patroon van die mikro-, meso- en eksosisteme – soos die betrokke kultuur se geloofsingesteldheid, gewoontes en lewenstyl. Kruger en Spies (2006:162) meld dat dit in die

25 Mikrosisteem Mesosisteem Eksosisteem Makrosisteem Kleuter

makrosisteemvlak is waar kinders waardes en norme ten opsigte van geslag, ras en seksuele orïentasie internaliseer.

In Figuur 2.1 word die ekologiese sisteemperspektief grafies voorgestel.

Figuur 2.1: Bronfenbrenner se ekologiese sisteemperspektief

Bron: Aangepas uit Louw en Kail (2007:28).

Volgens Kruger en Spies (2006:160) is die omgewing self ’n komplekse stel sisteme binne-in sisteme soos deur Figuur 2.1 uitgebeeld word. In die middelpunt van die figuur is die individu, met fisiese en persoonlike eienskappe (Duerden & Witt, 2010:109). Die omgewing omring die individu. In die grafiese voorstelling (Figuur 2.1) word dit as ’n reeks konsentriese lae uitgebeeld wat onderling met mekaar verband hou. Elkeen van hierdie lae in die omgewing het ’n impak op die ontwikkeling van die individu. Volgens Fraser (2004:6) ontstaan daar bepaalde patrone uit wederkerige kousaliteit. Gedrag word dus vanuit die ekologiese sisteemperspektief beskou as 'n funksie van dinamiese interaksies tussen elemente vanuit die hele sisteem en die sisteem se transaksies met die omliggende ekologie.

26

In hierdie studie het die navorser gepoog om te bepaal watter patrone in die verlede uit die wederkerige kousaliteit ontstaan het tydens die transaksies wat tussen die kleuter as individu en al die ander sisteme op mikro-, meso-, ekso- en makrovlak plaasgevind het. Die laag wat die naaste aan die individu geleë is, het die grootste direkte impak op die individu se ontwikkeling terwyl die invloed van die verste laag ‘n meer indirekte impak op die individu se ontwikkeling het (Visagie, 2011:22).

Aangesien daar in hierdie studie gefokus word op die kwesbaarheid van kleuters ten opsigte van seksuele misbruik, word daar vervolgens aandag geskenk aan die ontwikkelingsfase van die kleuter.