• No results found

Tekste wat daarop dui dat tradisionele leerstellings steeds behoort te geld in ʼn postmoderne era

3.4 Tradisionele leerstellings steeds geldig in ʼn postmoderne era

3.4.2 Tekste wat daarop dui dat tradisionele leerstellings steeds behoort te geld in ʼn postmoderne era

Volgens Durand (2005:3) het die postmoderniste ʼn allergiese afkeer van universele aansprake en absolute ideale, waardes en doelstellinge.

Wat voorop staan is kontingensie, veranderlikheid, partikularisme, diskontinuïteit en diversiteit. D'Assonville (19981:19) verwys daarna dat die Apostoliese Geloofsbelydenis reeds Ambrosius, Rufinus en Origenes se werke verdiskonteer het (4de eeu). Ons kan aanvaar dat baie van die Gereformeerde leerstellings hulle grondslag gevind het in die premoderne en moderne era (Coetzee, 2010:5).

Die postmoderniste se afkeer in die premoderne werkwyses beteken dan noodwendig ʼn afkeer aan die dogmas wat tydens daardie era ontstaan het. Een van die belangrikste redes waarom die postmodernisme tradisionele Gereformeerde leerstellings verwerp, is omdat hulle nie enige gesagvolle bron of norm buite hulleself aanvaar nie.

Die Skrif waarsku ons duidelik dat daar ʼn tyd sal kom wanneer mense nie meer die gesonde leer sal aanvaar nie. Postmodernisme buig en diskrediteer die Skrif in so ʼn mate dat dit feitlik kragteloos is. Die volgende aanhaling uit 2 Tim 4:3 gee ʼn akkurate beskrywing van die postmodernistiese stand:

 "want daar sal ʼn tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ʼn menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels".

Van Zyl (2008:3) benadruk die feit dat die postmodernistiese siening (soos ook vroeër aangedui) selfweerleggend is. Uit bogenoemde studie is dit duidelik dat die postmoderniste se antwoord beide "ja" en "nee" is. Daar is geen onderskeid meer tussen reg en verkeerd nie, wat "ja" is vir die een, kan "nee" wees vir die ander en albei partye kan steeds reg wees. Volgens Paulus het ons ʼn duidelike "ja" in Christus. Die vorming van tradisionele dogmas oor die eeue heen is duidelik uiteengesit (D'Assonville, 1981:1-83). Daar is geen grys areas of relativering van beginsels nie. Vir alles is daar ʼn duidelike reg of verkeerd, met ʼn logiese verduideliking van hoe die gevolgtrekking gevorm is.

 "So waar as God getrou is—ons woord tot julle was nie ja en nee nie! Want die Seun van God, Jesus Christus, wat deur ons onder julle verkondig is, deur my en Silvánus en Timotheus, was nie ja en nee nie, maar was ja in Hom." 2 Kor 1:18

Postmoderniste is van mening dat alle waarheid verbonde is aan die indiwidu se kultuur en sosiale tradisie (Du Toit, 2007:1). Die gevolg hiervan is dat die waarheid kan wissel van geslag tot geslag. Dit wat aanvaarbaar was in die premoderne tydperk kan onaanvaarbaar wees vandag.

Die vraag is egter: As Jesus dieselfde is gister en vandag tot in alle ewigheid hoe kan dit waarvoor Hy staan dan verander van geslag tot geslag? In die boek Dogmatiek (1978) geskryf deur J.A. Heyns is daar ʼn duidelike uiteensetting van tradisionele leerstellings. Hierdie leerstellings is in ooreenstemming met die feit dat Jesus gister, vandag en tot in alle ewigheid dieselfde is40.

 "Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid." Heb. 13:8

God maak verskeie aansprake met betrekking tot die waarheid. Joh. 14:6 is een so ʼn aanspraak waar Jesus verklaar "Ek is die weg die waarheid en die lewe". Joh. 17:6 praat van "die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie". Joh. 15:16 verklaar dat die "Gees van die waarheid uitgaan vanaf die Vader". Absolute waarheid bestaan by God en as die mens dit ontken, het ons God ook gerelativeer (Du Toit, 2007:7).

Dit is presies wat postmodernisme doen. Hulle ontneem die betekenis van God se Woord en gebruik dit alleenlik as ʼn kapstok vir hulle eie ideologieë. Spangenberg (1998:108) ontneem net soos postmoderniste ook die betekenis van God se Woord deur te beweer dat dit slegs mensewerk is. Openbaring 22:19 gee ʼn duidelike waarskuwing oor God se Woord en ons hantering daarvan.

 "En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is."

Die feit dat postmoderniste alle mense se gelowe wil akkommodeer en insluit, moet volgens Du Toit (2007:10) nie verwar word met God se liefde vir die wêreld nie. God se liefde is nie inklusief in die sin dat alle mense outomaties gered gaan word nie.

Dit behels alleenlik dat die opsie van redding beskikbaar is vir die ganse mensdom. Du Toit (2007:10) benadruk die feit dat liefde vir die wêreld nie ʼn kompromie moet aangaan t.o.v. die werk van God se Gees nie. Liefde is nie daar om vir mense te sê wat hulle wil hoor nie; inteendeel, God se Woord (1 Kor. 13:5) leer ons dat liefde hand aan hand stap met die waarheid.

40 Daar is wel gevalle waar Gereformeerde sienings verander het, onder andere die apartheidsbeleid, die siening

ten opsigte van homoseksualiteit, ens. Hierdie veranderings bevraagteken egter steeds nie die geldigheid van Gereformeerde leerstellings nie. Daar is 'n baie duidelike verskil tussen etiese kwessies en norme wat kan verander. Die kernleerstukke soos die Drie-eenheid, verlossing deur Christus, gesag van die Skrif, ens. staan egter onveranderd.

Met betrekking tot tradisionele leerstellings is daar steeds ʼn duidelike reg en verkeerd. Die liefde van God word soos ʼn lyn regdeur al die leerstellings getrek sonder enige kompromie (Heyns, 1978:3- 420).

 "Die liefde is lankmoedig en vriendelik; die liefde is nie jaloers nie; die liefde praat nie groot nie, is nie opgeblase nie, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie, reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid." 1 Kor. 13:5

Du Toit (2007:11) verwys na die postmoderne samelewing as een waar almal kan doen net wat hulle wil sonder dat daar werklik 'n reg of verkeerd bestaan. Die gevolg hiervan is dat daar geen reëls of gewete meer oor is nie.

Indien ʼn mens die bestaan van sonde ontken, dan maak dit Jesus se kruisdood waardeloos. Reformatoriese leerstellings erken die werklikheid van die sondeval, sowel as die gevolge daarvan op die mensdom (Heyns, 1979:164-200).

 "Daarom dan, terwyl ons so ʼn groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het." Heb. 12:1, 2

Op grond van bogenoemde is dit duidelik dat Gereformeerde leerstellings steeds geld in ʼn postmodernistiese samelewing.

Volgens Coetzee (2010:12) word die gesag van die belydenis direk gekoppel aan die gesag van die Skrif. ʼn Postmodernistiese samelewing kan wel die manier wat die Skrif aangebied word affekteer, maar geensins die koherente waarheid daarvan nie41.