• No results found

Die filosofiese onderbou van postmodernisme

3.3 Die versoenbaarheid van postmodernisme met die Gereformeerde leerstellings

3.3.1 Die filosofiese onderbou van postmodernisme

Ons kyk kortliks na die onderbou van postmodernisme.

Die volgende eienskappe is kenmerkend van die postmoderne filosofie:

Volgens Van Zyl (2008:7) is verskeie van die eienskappe in lyn met die Christelike beskouing, alhoewel die verbuiging hiervan probleme skep. In elkeen van die gevalle gaan ons kyk na die postmodernistiese filosofie, sowel as die onderliggende selfweerlegging wat in teenstelling is daarmee.

3.3.1.1 Relativisme (Van der Walt, 2007:550): Dit is die idee dat waarheid nie bepaal word deur die realiteit buite die waarnemer nie, maar deur ʼn groep of indiwidu. Hiervolgens is daar geen universele waarheid nie. Greer (2003:63) verwys na die term "centerlessness" wat dui daarop dat postmodernisme geen meganismes in plek het om te bepaal of 'n situasie reg of verkeerd is nie. Grenz (1996:40) skryf: "In a sense, postmoderns have no worldview. A denial of the reality of an unfined world as the object of our perception is at the heart of postmodernism". Grenz som dit goed op deur te sê dit is "in a sense" waar, want selfs die feit dat postmodernisme die moontlikheid van enige betroubare lewensvisie ontken, impliseer alreeds 'n visie.

Onderliggende selfweerlegging: Postmodernisme is van mening dat daar geen universeel-geldende waarheid bestaan nie (Van der Walt, 2007:552). Die vraag kan gevra word: Is hierdie slegs ʼn opinie of is dit ʼn universeel geldende waarheid? Is dit waar in alle omstandighede, vir alle tye?

Indien wel, dan is postmodernisme besig om aanspraak te maak op ʼn universele waarheid. Hulle standpunt is in teenstelling hiermee dat daar geen universele waarheid bestaan nie. In effek sê hulle "Dit is absoluut waar dat daar geen absolute waarhede bestaan nie". Bogenoemde stelling bring die selfweerleggende aard van hierdie filosofie duidelik na vore. Dit is maklik om te sê dat daar nie werklik iets soos reg en verkeerd bestaan nie, tensy die spreker self die slagoffer van onreg word.

3.3.1.2 Konstruktivisme (Van der Walt, 2007:550): Hierdie konsep impliseer dat indiwidue nie onafhanklik bestaan en geken kan word nie. Kultuur en indiwidualiteit word gebou deur die omgewing en die samelewing. Dit behels dat die mens nie ʼn onafhanklike indiwidu is nie, maar slegs ʼn samestelling van sy tyd of kultuur. Hierdie standpunt sluit aan by Spangenberg (2004b:2) se Skrifbeskouing oor die belangrikheid van taal en kultuur. Daar bestaan geen algemene menslikheid met algemene beginsels en eienskappe nie.

Elke indiwidu is geïsoleerd en sonder betekenis, aangesien hy ʼn skepsel is van sy eie kultuur. Geen mens kan voorts aanspraak maak op die waarheid nie, aangesien sy denke deur sy kultuur bepaal word.

Onderliggende selfweerlegging: As dit wel waar is dat alle kulture en indiwidualiteit gekonstrueer is, hoekom word hierdie denkers se idees dan as waarheid beskou? Volgens Van Zyl (2008:8) is dit logies dat hierdie idees slegs sosiale en kulturele konstruksies moet wees wat nie enige vorm van waarheid weerspieël nie. As konstruktivisme nie waar is nie, maar slegs ʼn sosiaal gekonstrueerde idee, ontstaan die vraag wat daarmee gemaak moet word.

3.3.1.3 Die absolute suspisie van taal (Greer, 2003:68): Aansluitend by die vorige punt is taal ook net ʼn sosiale konstruksie wat geen akkuraatheid weergee nie. Ondanks die feit dat verskillende tale dinge verskillend beskryf, kan daar geen betekenis aan taal gekoppel word nie.

Indien taal nie waarheid kommunikeer nie, het elke persoon sy eie narratief met ʼn onderliggende narratief wat dan die werklike betekenis bevat (Grenz, 1996:45). Dit behels dat geen teks op die oog af as waarheid beskou kan word voordat daar nie eers na die meta-narratief gekyk word nie.

Onderliggende selfweerlegging: Postmodernisme maak van taal gebruik om ʼn akkurate beskrywing te gee van die onvermoë van taal om dinge akkuraat te beskryf. Wanneer hulle die taal gebruik, buig hulle dit dat dit nie ʼn sosiale en kulturele konstruksie het nie. Van Zyl (2008:8) vra die vraag "Hoe kan hulle idees oor die werklikheid wat in taal uitgedruk word, geglo word as hulle self sê dat niks wat in taal uitgedruk word geglo kan word nie?" Hierdie voorbeeld illustreer die selfweersprekende aard van postmoderne filosofieë.

3.3.1.4 Mag as die belangrikste doel van optrede en taal: Volgens hierdie siening gebruik die huidige uitgesoekte groep hul idees en taal om ʼn status quo te handhaaf.

Hierdie sienswyse is afkomstig van die idees van Marx wat beweer dat alle optrede en besluite gegrond word op die motief van mag. Postmodernisme glo dat groepe wat voorheen benadeel is, nou bevoordeel en aangemoedig moet word. Die rol van vrouens in die kerk, sowel as aanvaarding van homoseksualisme, word sterk gepropageer. Dit kom neer daarop dat debat en denke ondergeskik is aan retoriek en propaganda (Van Zyl, 2008:8).

Onderliggende selfweerlegging: As dit wel so is dat alle idees en taal oor mag gaan, gaan postmodernisme se standpunte ook oor mag. As die huidige uitgesoekte groep mense probeer om ʼn status quo te handhaaf, probeer die postmoderne denkers nie maar presies dieselfde nie? Indien die postmoderniste self besig is met ʼn magspel, dan moet hulle idees teengestaan word eerder as aanvaar word.

3.3.1.5 Dekonstruksie: Hierdie konsep vloei direk uit die voorafgaande suspisie van taal en magspeletjies. Grenz (1996:148) verwys ook na Derrida se teorie dat dekonstruksie primêr te make het met taal.

Dekonstruksie verwys na die tegniek wat postmoderniste gebruik om by die werklike storie uit te kom. Hulle neem enige verhaal en poog dan om die onderliggende magspel raak te sien, om sodoende die werklike betekenis te ontmasker. Wanneer na God as manlike figuur in die Bybel verwys word, sal die meta-narratief waarskynlik dui op ʼn mans-gedomineerde wêreld waarin dit geskryf is (Van Zyl, 2008:9).

Onderliggende selfweerlegging: Indien ons dekonstruksie op die postmoderne skrywers se skryfwerk toepas, moet ons die werklike betekenis van die skrywe ontdek. Van Zyl (2008:9) benadruk die feit dat die postmoderniste self besig is met ʼn magspel, en dat hulle besig is om hulle eie saak te bevorder deur die toepassing van dekonstruksie op ander.

3.3.1.6 Verdraagsaamheid (Van Zyl, 2008:9): Verdraagsaamheid vorm die basis van die postmoderne sienswyses. Daar moet dus na alle indiwidue se sienings gekyk word en almal moet aanvaar word as net so waar soos alle ander sienings. Fick (2010:271) skryf: "Postmoderniste verwerp enige aanspraak op universele waarheid en tipeer dit as gewelddadige dwang deur magtige instellings op 'n indiwidu". Postmoderniste duld geen beoordeling van ʼn ander se sienings nie, aangesien niemand kan aanspraak maak op die volle waarheid nie. Die nadeel is egter dat hulle verdraagsaamheid nie beskou word as ʼn positiewe eienskap waardeur ander ruimte gegun word nie. Dit gaan hier eerder oor die feit dat geen waarheid objektief is nie, en geen waarde normatief is nie. Met ander woorde, verkeerde idees word nie meer verdra nie. Verdraagsaamheid soos die postmoderniste dit toepas, impliseer dat daar geen verkeerde idees meer is nie.

Onderliggende selfweerlegging: postmodernisme verkondig verdraagsaamheid en die aanvaarding van alle idees. Volgens Van Zyl (2008:9) bedoel hulle nie werklik alle idees nie, maar slegs die idees wat nie aanspraak maak op absolute waarheid nie. Ten spyte van die feit dat hulle verdraagsaamheid hoog aanslaan, word hulle self baie onverdraagsaam as Christene sê dat Jesus die enigste weg na die Vader is.

3.3.1.7 Pluralisme en multikulturaliteit (Grenz, 1996:14): Pluralisme in hierdie konteks verwys na die onversoenbaarheid tussen verskillende groepe. Elke mens is dus deel van ʼn groep en kan nie van groep verwissel of deel van ʼn groter groep word nie. Dit impliseer dat elke mens vasgevang is binne sy groep en dat niemand werklik reg of verkeerd kan wees nie aangesien groepe verskil. Volgens Fick (2010:271) lê postmodernisme baie klem op verhoudings binne 'n bepaalde gemeenskapsmilieu.

Elke groep het sy eie unieke perspektiewe en almal moet so aanvaar word. Indien dit wel so is dat alle kulture en waardes relatief is, kan ʼn mens nie een werklik ernstig opneem nie 35

.

Onderliggende selfweerlegging: postmoderniste sien hulself as een groot groep waarvan almal deel is, maar terselfdertyd beweer hulle dat geen so 'n groter groep bestaan nie.

3.3.1.8 Eklektisisme (Van Zyl, 2008:9): Dit verwys na ʼn meng-en-pas-benadering. Postmoderniste neem dele van enige denkrigting of godsdiens om hulle eie filosofie daarmee te vorm. Ek verwys na die volgende aanhaling van Grenz (1996:15) as een so 'n voorbeeld: "For example, a postmodern Christian may affirm both the classic doctrines of the church and such traditionally non-Christian ideas as reincarnation". Dit behels dat hulle soms teenstrydige denkrigtings of godsdienste versoen en die teenstrydighede as onbelangrik of belaglik afmaak.

Onderliggende selfweerlegging: postmoderniste tree volgens Van Zyl (2008:9) baie paternalisties op deur hulle aandrang op eklektisisme. Hulle steur hulle nie aan kenners van ʼn spesifieke veld of godsdiens se opinie oor onversoenbare filosofieë nie. Sonder die nodige kennis besluit postmoderniste dat hierdie kenners verkeerd is en ignoreer dan hulle besware. Voorts is dit duidelik waarom die postmoderne paradigma toenemende kritiek teen Gereformeerde leerstellings lewer. 3.2.2 Tabel ter illustrasie van positiewe en negatiewe eienskappe wat teenwoordig is in die postmodernistiese onderbou (Van Zyl, 2008:10):

Positiewe aspekte Negatiewe aspekte

1. Sonder ʼn persoonlike ontmoeting en kennis van God is alle rede onseker.

2. Mens is dikwels meer subjektief as wat hulle erken.

1. Postmodernisme weerspreek hulself deur logiese denke te gebruik om die waarde van logiese denke mee aan te val.

2. Postmodernisme oordryf die beperkinge van mag en taal (Grenz,1996:14) .

35

3. ʼn Mens se eie kultuur verblind hom dikwels vir die goeie eienskappe van ander kulture. 4. Mense is sosiale wesens en die sosiale

omgewing beïnvloed hulle denke en waardes direk.

5. Blinde geloof in die huidige stand van sake is nie goed nie.

6. Postmodernisme laat tradisionele gelowiges opnuut besin oor hulle norme en waardes. 7. Dit bevorder logiese redenasie en

objektiwiteit.

8. Waarheid word nie net vanselfsprekend aanvaar soos in die premoderne tyd nie.

3. Probleme wat verband hou met

wetenskaplike objektiwiteit word oordryf. 4. Probleme wat verband hou met interpretasie

en tale word oordryf.

5. Hulle ontken die bestaan van self en dít op sigself is foutief.

6. Om te beweer dat ander uitsluitend en onderdrukkend is en dan self so op te tree, is teenstrydig.

7. Hulle vervang waarheid met mag wat onderdrukking vir ander voorspel (Fick, 2010:271).

Baie van die negatiewe aspekte is ook teenwoordig in Spangenberg se Skrifbeskouing. Nommers 2, 3, 4 en 7 kan as die vernaamste voorbeelde uitgesonder word.

Bogenoemde tabel dui daarop dat daar wel ooreenkomste is tussen die Skrifbeskouing van Spangenberg en die postmodernistiese Skrifbeskouing. Die ooreenkomste is spesifiek ten opsigte van die volgende: Wetenskaplike bewyse is belangriker as God se Woord en die beklemtoning van die belangrikheid van taal, kultuur en gesag is eerder gesetel in die indiwidu as in God se Woord.

Van Zyl (2008:11) verwys na die volgende aanhaling van G.E. Veith:

"Postmodernism encourages selfishness without individuality; subjectivity without identity; license without freedom. For all of its talk about culture, postmodernism lacks culture...

Postmodernism stresses tolerance, pluralism, and multiculturalism, but in its dismissal of all beliefs, it trivializes all cultures that tolerate none. The contradictions of Postmodernism are the contradictions of attempting to live without God, who alone can redeem our humanness."

G. E. Veith se aanhaling som die postmodernistiese wêreldbeeld baie mooi op. Postmodernisme het baie te sê oor alles, maar tog dra dit in wese geen krag of outoriteit nie. Ter aansluiting hierby skryf Van der Walt (2007:562): "Postmodernisme mag nie kritiekloos as die nuutste mode deur Christene omhels word nie - sy relativisme stel alles op losse skroewe".