• No results found

Die Bybel is ewig en altyd-geldend

3.1 Die Gereformeerde Skrifbeskouing

3.1.1 Belangrikste elemente van God se Woord

3.1.1.2 Die Bybel is ewig en altyd-geldend

a) God se gesagvolle openbaring vir alle tye

Hierdie belydenis behels die erkenning dat God se Woord bedoel is om ʼn openbaring te bring vir alle mense te alle tye, plekke en omstandighede. Die belydenis erken dat die Bybel gesag het en wel die openbaring van God se wil is. Die Bybel moet gebruik word as maatstaf vir jou standpunt oor God, jou verhouding met God, jou leefstyl, sowel as jou verhouding met ander mense en met die skepping. b) Selfgetuienis

Die werklikheid dat die Bybel altyd-geldend is, kan nie deur eksterne getuienis bewys word nie. Dit is die inhoud van die Skrif self wat die mens oortuig van sy gesag wanneer die Heilige Gees die Woord openbaar aan die mens deur hierdie geskrifte.

Die Heilige Gees werk ten nouste saam met en deur die Skrif en dit is Hy wat die mens bewus maak van die gesag van die Skrif (Joh. 16:12-15; 1 Kor. 2:10-14; 2 Kor. 3:14-18).

c) Die skopus en aard van die Bybel

Die feit dat die Bybel ewig en altyd-geldend is, beteken nie dat dit op alles in die lewe altyd ʼn kits- oplossing sal bied nie. God bied ʼn drieledige openbaring in sy Woord:

 God bied eerstens ʼn openbaring oor Homself. Dit behels wie God is en wat Hy doen, bv. God, Here, Skepper, Regeerder, ens.

 Tweedens bied God ʼn openbaring van die wyse waarop Hy verlossing bewerk het deur Jesus Christus.

 Derdens bied God ʼn openbaring van hoe Hy as God gedien en geëer moet word. Die verloste se hele lewe moet getuig van sy herstelde verhouding met God.

d) Skopus van die Bybel en samelewingskonvensies

Die Bybel is nie bedoel om die samelewingstrukture te herskep of te herstruktureer nie, maar om die harte van mense te verander en na God te draai.

Omdat die Bybel die ewige en altyd-geldende Woord van God is, is dit ook kronologies beskou eerstens gefokus op die lewensomstandighede waarbinne die eerste lesers hulle bevind het, asook op die problematiek en die historiese kwessies waarmee hulle geworstel het (Breed et al., 2008:39). God het aan die eerste lesers deur die menslike skrywers bekend gemaak hoe hulle as verlostes hulle lewe moes leef te midde van die destydse omstandighede.

Tesame hiermee het God bekend gemaak watter geloofsperspektief hulle moes hê teenoor die probleme van hulle tyd. God het ook bekend gemaak watter optrede vir Hom verwerplik en wat in oorstemming met sy wil is. Hierdie aanname geld volgens Breed et al. (2008:40) ook vir die samelewingskonvensies. In sy Woord gee God te kenne watter samelewingskonvensies Hy goedkeur en watter Hy verwerp. God doen dit direk (bv. by die afkeur aan menseoffers en homoseksualiteit) of indirek (bv. deur die afkeur aan onbillike praktyke) en soms ook deur ʼn duidelike korrektief op die samelewingskonvensies te stel (bv. die huwelik). Breed et al. (2008:40) benadruk die feit dat hierdie openbaring van God oor watter optrede en perspektiewe volgens sy wil is, altyd geld, ongeag die samelewingskonvensie.

God verander die samelewingskonvensies deur mense se harte te verander en na Hom te draai. ʼn Voorbeeld van waar ʼn samelewingskonvensie hervorm is, is slawerny. God gebruik die mense wat Hom dien en Hom in waarheid aanbid om die samelewing te verander. Volgens Breed et al. (2008:40) vind hierdie verandering van die samelewing somtyds spoedig plaas, maar soms gebeur dit met die verloop van duisende jare.

e) Hermeneutiese implikasies

In die belydenis dat die Bybel ewig en altyd-geldend is, is dit nodig om ʼn duidelike onderskeid te tref tussen wat in die Bybel staan en die leser se verklaring daarvan, sowel as die interpretasies wat daaraan geheg word. Dit wat God in die Bybel openbaar, staan onveranderd. Die onderskeie lesers se verklarings daarvan moet altyd in die Woord gekontroleer word.

Daar rus dus ʼn verantwoordelikheid op die leser om seker te maak dat hy of sy die Bybel reg vertolk. Volgens Breed et al. (2008:40) behels hierdie kontrole die volgende aspekte:

 Skrifgetroue navorsers kan nie optree asof hulle die eerstes is wat onder leiding van die Heilige Gees die Skrif interpreteer en bestudeer nie.

 Hulle moet ander begaafde persone of hulle werke raadpleeg, wat self die leiding van die Gees gesoek het, om hulle eie verklarings daaraan te toets.

 Skrifgetroue Bybelnavorsers volhard in hulle studie van die Woord in ʼn poging om te bepaal of daar nie dalk ander dele van die Bybel is wat lig werp op die sake waarmee hulle worstel nie. Dit moet gepaard gaan met voortdurende gebed en wag op die leiding van die Heilige Gees.

 Skrifgetroue Bybelnavorsers maak voortdurend erns met die Skrifbeginsels wat vir suiwer Skrifverklaring noodsaaklik is.

 Die Skrifgetroue Bybelnavorser steun op die belydenis vir die geldigheid van sy eksegese.

Breed et al.(2008:40) beklemtoon die belangrikheid van die volgende wanneer Skrifgetroue Bybel- navorsers die Skrif interpreteer:

 Die interpreteerder se eie voorveronderstellings moet baie duidelik en logies gestel word.

 ʼn Skrifgetroue verklaarder van God se Woord moet erken dat hy in ʼn bepaalde tradisie staan en dat sy Bybeluitleg deur daardie tradisie beïnvloed gaan word.

 Daar moet in gedagte gehou word dat elke onderdeel van die Bybel in ʼn bepaalde tyd geskryf is. Voorts is dit ook so ingeklee dat dit eerstens gerig is op daardie tydsomstandighede.

 'n Skrifgetroue verklaarder van die Woord moet rekening hou met sy eie tyd en die probleme wat daarmee gepaard gaan, asook met die feit dat dit bydra dat hy die Woord op ʼn sekere manier lees. Die Bybel is ook bedoel vir die huidige tyd en omstandighede, daarom moet hy in staat wees om die Skrif se lig op die huidige tydsomstandighede te laat skyn.

Volgens Breed et al. (2008:41) moet Bybelverklaarders nie sonder meer gesag aan hulle verklaring en hermeneuse gee nie.

Bybelverklaarders is ook bewus daarvan dat hulle nooit in hierdie bedeling God se openbaring in die Bybel volledig sal verstaan nie (ook ten opsigte van leefstylsake). Hulle benadruk egter die feit dat daar ten opsigte van die wyse waarop God verlossing bewerk, geen twyfel is oor hoe gelowiges die Bybel moet verstaan nie (Reymond, 1998:87). Twyfel verwys in hierdie verband meer spesifiek na gedragsvoorskrifte, veral wanneer hierdie voorskrifte ingebed is in bepaalde fasette van die tradisie van die samelewing waarbinne die betrokke openbaring gegee is (Breed et al., 2008:41).

Met bogenoemde in gedagte is dit des te meer noodsaaklik dat die Bybelverklaarder totaal en al staatmaak op die leiding van die Heilige Gees. Christus het immers in sy Woord belowe dat die Gees van die Waarheid op pad is en dat Hy ons in die volle waarheid sal lei (Joh. 16:13).