• No results found

4.1 Evaluasie van Spangenberg se Skrifbeskouing

5.1.1 Samevatting en opsomming

Hoofstuk 1 behels ʼn oorsig oor die veld van navorsing wat onder andere insluit probleemstelling, sentrale navorsingsvraag, doelstellings, doelwitte tesame met die sentrale teoretiese argument en metodologie. In die daaropvolgende hoofstuk is Spangenberg se agtergrond kortliks bespreek, tesame met die faktore wat ʼn invloed gehad het op sy Skrifbeskouing. Die konklusie word gevorm dat verskeie buite-Bybelse gebeure wel Spangenberg se Skrifbeskouing beïnvloed het. Die twee wêreld- oorloë en die beleid van apartheid dien as voorbeelde hiervan.

Die grondliggende beginsels van Spangenberg se Skrifbeskouing, tesame met twee tipiese illustrasies van Spangenberg se Skrifbeskouing is bespreek. Die konklusie is gevorm dat Spangenberg se Skrifbeskouing grondliggend is vir sy teologiese standpunte oor ander sentrale leerstukke. Die feit dat Spangenberg Gereformeerde leerstellings bevraagteken, hang ten nouste saam met Spangenberg (2004a:1; 2004b:1; 2004c:1; 2004e:1; 2004h:3; 2004j:2; 2005a:2; 2007b:2; 2009c:54) se Skrifbeskouing. Die konsekwensies van Spangenberg se Skrifbeskouing ten opsigte van die tradisionele Gereformeerde belydenisse is bepaal. Hoofstuk 2 is afgesluit met ʼn opsomming van die vernaamste bevindinge oor Spangenberg se Skrifbeskouing.

In hoofstuk 3 word ʼn resente opsomming van die Gereformeerde Skrifbeskouing gegee. Die vernaamste kenmerke en eienskappe van God se Woord word ook kortliks aan die orde gestel. Die geldigheid van Gereformeerde leerstellings in ʼn postmoderne era word ondersoek. Daar is onder andere na die premoderne, moderne en postmoderne eras gekyk. Die gevolgtrekking is gemaak dat tradisionele leerstellings steeds relevant is in ʼn postmoderne era.

Hoofstuk 4 het die evaluering van Spangenberg se standpunte vanuit ʼn Gereformeerde oogpunt behels. Die opmerkings van onderskeidelik Doubell (2004:2) en Coetzee (1996:3-4) ten opsigte van Spangenberg se Skrifbeskouing is ook bespreek ten einde ʼn objektiewe en wetenskaplike gevolgtrekking te vorm. Die vernaamste verskille tussen die Skrifbeskouing van Spangenberg en die Gereformeerde Skrifbeskouing is deur middel van tabelle geïllustreer. Die konsekwensies van Spangenberg se Skrifbeskouing op tradisionele leerstellings word in tabelvorm opgesom.

ʼn Konklusie word gevorm dat Spangenberg se Skrifbeskouing onversoenbaar is met die Gereformeerde standpunte. Daar word ook gemeld dat dit die gesag van God se Woord bevraagteken. 5.2 Gevolgtrekking

5.2.1 Gevolgtrekking

Op grond van bogenoemde samevatting word die volgende gevolgtrekkings gevorm: (a) Die Skrifbeskouing van Spangenberg is in kontras met God se Woord, (b) Spangenberg se leerstellings is onversoenbaar met die Gereformeerde standpunt en (c) Spangenberg se Skrifbeskouing stroop die evangelieboodskap van enige inherente krag of waarde. Hierdie sienings word ook gerugsteun deur Van Wyk (2010:1-2). Daar is ook bevind dat (d) Gereformeerde leerstellings gegrond is op God se onfeilbare Woord en dat dit steeds geldig is in 'n postmoderne samelewing (Coetzee, 2006:9-10). Dit rugsteun ook die sentrale teologiese argumente, naamlik: "Die Skrifbeskouing van Spangenberg oor wesenlike aspekte is onversoenbaar met die tradisionele Reformatoriese standpunt". Ter opsomming gaan daar kortliks na elkeen van die bogenoemde bevindinge gekyk word:

a) Die Skrifbeskouing van Spangenberg is in kontras met God se Woord

Heyns (1978:29-34) verwys na die vernaamste eienskappe van die Bybel as gesagvol, betroubaar, genoegsaam en duidelik. Dit is duidelik dat Spangenberg nie die nodige waarde heg aan hierdie basiese eienskappe van die Bybel nie.

Waarom kan daar gesê word dat Spangenberg se Skrifbeskouing in kontras is met God se Woord? Die antwoord is eenvoudig. Spangenberg bevraagteken die basiese eienskappe van God se Woord soos saamgevat deur Heyns (1978), Boice (1986) en Breed et al. (2008:42).

Benewens bogenoemde bevraagteken Spangenberg (1998:28) ook die Goddelike inspirasie van die Bybel. Van Wyk (2010:10) som Spangenberg se benadering tot die Bybel as volg op:

"Soos Spangenberg die Bybel benader is dit niks meer as 'n gewone godsdienstige boek nie, wawyd oop vir elke moontlike vorm van kritiek."

Die vernaamste faktore wat gesag verleen aan die Bybel word nie deur Spangenberg (1998) erken nie. Goddelike inspirasie, profesie en openbarings is maar ʼn paar van die voorbeelde. Soos Van Wyk (2010:10) verklaar, gaan dit ten diepste oor Skrifverklaring en Skrifbeskouing. Is die Bybel die gesaghebbende en betroubare woord van God of is dit bloot geskrifte van mense wat met God in verhouding gestaan het?

Voorts is dit duidelik dat indien Spangenberg nie die eienskappe van die Bybel erken nie, sal dit bloot menslike geskrifte bly sonder enige noemenswaardige gesag. Die Gereformeerde teologie huldig die standpunt dat, ongeag wat teoloë soos Spangenberg van die gesag van die Skrif maak, die gesag van die Skrif in die Skrif self geleë is en met die Skrif gegee is (Boice, 1986: 47).

b) Spangenberg se Skrifbeskouing is onversoenbaar met die Gereformeerde standpunt

ʼn Literatuurstudie het getoon dat die Skrifbeskouing van Spangenberg onversoenbaar is met die Gereformeerde standpunt. Spangenberg (1998) bevraagteken die vertrekpunt van Gereformeerde leerstellings, naamlik die Bybel as God se onfeilbare Woord (Coetzee, 2010:2).

Coetzee (2006:9) beklemtoon die feit dat die Gereformeerde teologie saamhang met bepaalde sekerhede55. Dit is niks vreemds dat Spangenberg juis hierdie sekerhede bevraagteken nie. Die bevraagtekening van hierdie basiese vertrekpunte van Gereformeerde belydenisse gee daartoe aanleiding dat Spangenberg se Skrifbeskouing onversoenbaar is met die Gereformeerde standpunt. Op grond van bogenoemde studie kan die vraag gevra word: Het dit enige nut dat Gereformeerde teoloë hulle beywer om versoening te bewerkstellig tussen Spangenberg se standpunte en Gereformeerde belydenisse? Dit is ook duidelik dat die vraag veel verder strek as: "Is die Skrifbeskouing van Spangenberg versoenbaar met Gereformeerde belydenisse?"

c) Spangenberg stroop die evangelieboodskap van enige waarde en krag

Soos vroeëre hoofstukke aandui, is baie van Spangenberg se aantygings nie alleen gerig teen Gereformeerde leerstellings nie, maar direk teen die Evangelieboodskap van Jesus Christus56.

Volgens Spangenberg (2005a:2) was Jesus niks meer as ʼn gewone Joodse profeet en wysheidleermeester nie. Dit beteken dat Jesus gestroop word van sy uniekheid en Goddelikheid. Van Wyk (2010:9) stel die vraag "Wat moet 'n mens met so ʼn (verskraalde) Jesus doen"?

Hy gaan selfs verder deur te sê dat indien hy moet kies tussen Spangenberg se beeld van Jesus en Ghandi, hy heel waarskynlik vir Ghandi sal kies (Van Wyk, 2010:10). Dit is net weer eens ʼn bewys dat Spangenberg se beeld van Christus gestroop is van enige waarde of krag.

55

Hierdie sekerhede soos saamgevat deur Coetzee (2006) sal volledig bespreek word onder die hofie "Gereformeerde leerstellings gegrond op God se Woord, steeds geldig in 'n postmoderne era".

56 Dit sluit onder andere in die maagdelike geboorte van Christus, die bewering dat Christus 'n buite-egtelike

d) Is Gereformeerde leerstellings, wat gegrond is op die Bybel, steeds geldig in 'n postmoderne era?

Dit is ook duidelik dat Gereformeerde leerstellings steeds geldig is in ʼn postmoderne wêreldbeeld. Die Gereformeerde teologie berus volgens Coetzee (2010:9) op ʼn hele klomp bepaalde sekerhede. Coetzee (2010:9) som hierdie sekerhede as volg op:

 Die sekerheid dat daar net een God is, naamlik die Drie-enige God waarvan ons in die Bybel en die skepping leer.

 Die sekerheid dat die Bybel die Woord van God is wat deur mense op Skrif gestel is onder inspirasie van die Heilige Gees (Boice, 1986: 47).

 Die sekerheid dat Jesus die enigste en ware verlosser is.

 Die sekerheid dat die mens vanweë sy betrokkenheid by die sondeval, totaal verdorwe is en slegs deur die geloof in Jesus verlos kan word.

 Die sekerheid dat die Heilige Gees as Trooster, Pand en Waarborg aan ons gegee is om ons in die volle waarheid te lei (Joh 16:13).

 Die sekerheid dat die belydenisskrifte van die Gereformeerde Kerke die waarheid onder woorde bring omdat dit ooreenstem met God se Woord.

Coetzee (2010:10) som die geldigheid van Gereformeerde leerstellings binne konteks van ʼn postmoderne wêreldbeeld baie goed op met die volgende stelling:

"In die lig van hierdie sekerhede sê ons daarom dat ware geloof nooit deur onsekerheid gekenmerk kan word nie. Inteendeel, die ware geloof en sekerheid is sinonieme."

Hy verklaar ook dat Gereformeerde teologie nie op soek is na die waarheid nie. Dit het die waarheid (Coetzee, 2010:10). Bogenoemde, tesame met literatuur in die vorige hoofstukke, bewys die geldigheid van Gereformeerde leerstellings binne die konteks van ʼn postmoderne wêreldbeeld. 5.2.2 Finale konklusies ten opsigte van Spangenberg se Skrifbeskoulike vertrekpunte

Na afloop van hierdie studie is dit duidelik dat Spangenberg se Skrifbeskouing en die Gereformeerde Skrifbeskouing wesenlik van mekaar verskil. Hierdie konklusie word bereik na deeglike analise en evaluering van al Spangenberg se beskikbare publikasies tot op hede.

Navorsing het aangedui dat dit makliker sou gewees het om die verskille tussen die Gereformeerde Skrifbeskouing en die van Spangenberg uit te sonder as wat ooreenkomste uitgesonder kan word. Soos reeds genoem, is die gaping tussen die Gereformeerde Skrifbeskouing en dié van Spangenberg daagliks besig om te verbreed (Spangenberg, 2010:1).

Dit is duidelik dat weinig, indien enige, van die Gereformeerde dogmas nie beïnvloed word deur Spangenberg se Skrifbeskouing nie. Jesus se kruisdood, die sondeval, Jesus se maagdelike geboorte, Jesus se hellevaart en opstanding, die wederkoms en die betroubaarheid van God se Woord is maar ʼn paar hiervan.

Die opmerklike is egter dat die Skrifbeskouing van Spangenberg grondliggend is vir sy standpunte oor ander dogmas, tot so ʼn mate dat die uitkoms in die meeste gevalle lynreg in kontras staan met die Gereformeerde standpunt. Dit is voorts ook duidelik dat Spangenberg nie veel waarde heg aan belydenisgebondenheid nie; nie eers aan sy eie standpunte nie, die rede hiervoor is syns insiens omdat elke teoloog se Skrifbeskouing die vingermerke van sy tyd en omstandighede dra (Spangenberg, 2003:2). Aanvanklik het dit voorgekom asof Spangenberg ʼn aanval loods op die Gereformeerde teologie. In hierdie stadium is dit duidelik dat die omvang van Spangenberg se Skrifbeskouing veel verder strek. Die Skrifbeskouing van Spangenberg plaas nie net ʼn vraagteken bo Gereformeerde belydenisse nie, maar teen die Christendom in die geheel. Spangenberg (2010:1) is inderdaad soos hy dit noem, "besig om ʼn nuwe spiritualiteit te vorm".

Gereformeerde leerstellings se gesag word nie gekoppel aan omstandighede of tyd nie. Inteendeel, dit word direk gekoppel aan die gesag van die Skrif (Coetzee, 2010:12). Gereformeerde leerstellings hang saam met sekere bepaalde waarhede. Coetzee (2006:10) som dit baie goed op met die volgende stelling "Gereformeerde teologie is nie op soek na die waarheid nie, dit het die waarheid". Kortliks kom dit daarop neer dat Gereformeerde leerstellings steeds geldig is in ʼn postmoderne samelewing.

Wat betref die sentrale navorsingsvraag naamlik: "Hoe vergelyk die Skrifbeskouing van Spangenberg met die tradisionele Gereformeerde Skrifbeskouing?" is dit duidelik dat dit fundamenteel van mekaar verskil. Inderdaad kan die slotsom bereik word: Die Skrifbeskouing van Spangenberg ten opsigte van wesenlike aspekte is onversoenbaar met die Gereformeerde Skrifbeskouing.

Nie net is dit onversoenbaar met die Gereformeerde Skrifbeskouing nie, maar ook met die Bybel as die onfeilbare Woord van God.

5.3 Moontlike verdere velde van navorsing