• No results found

Evaluasie van Spangenberg se Skrifbeskouing vanuit Gereformeerde dogmatiek

4.1 Evaluasie van Spangenberg se Skrifbeskouing

4.1.7 Evaluasie van Spangenberg se Skrifbeskouing vanuit Gereformeerde dogmatiek

Die Gereformeerde Skrifbeskouing huldig die standpunt dat die Bybel God se geskrewe Woord is, ewig en altyd-geldend, deur die Heilige Gees geïnspireer, tydgerig, maar nie tydgebonde nie (Breed et

al., 2008:42). Hierbenewens ook dat die Woord gesagvol, betroubaar, genoegsaam en duidelik is

(Heyns, 1978: 30).

Anders as Spangenberg handhaaf die Gereformeerde dogmatiek die standpunt dat die Bybel die onfeilbare Woord van God is (Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 3). Dit impliseer ook dat die Bybel ewige waarhede kommunikeer (Coetzee, 2010:2).

Dit is duidelik dat Spangenberg juis hierdie basiese vertrekpunte van die Gereformeerde dogmatiek van die hand wys. In teenstelling met die Gereformeerde dogmatiek handhaaf Spangenberg (1998:1- 132) die standpunt dat die Bybel menslik, feilbaar, nie absoluut, tydgebonde sowel as kultuursensitief is.

Die doel van hierdie studie is deels om die geldigheid van Spangenberg se Skrifbeskouing in ʼn postmoderne era te ondersoek.

Die wêreld rondom ons beleef, soos Spangenberg (1998:5) dit noem, ʼn paradigmaverandering. Die vraag kan egter gevra word waar staan die Kerk en die Bybel te midde van hierdie veranderinge? Spangenberg skaar hom aan die kant van hierdie veranderinge en gepaardgaande aanpassings. In die proses relativeer hy God se Woord om sodoende aan te pas by ʼn postmoderne wêreldsisteem.

Dit is duidelik dat Spangenberg nie ag slaan op die volgende uitsprake van God se Woord nie:

 2 Pet 1:21: "want geen profesie is ooit deur die wil van ʼn mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek."

Spangenberg (1998:114) verwys telkens na die woorde van profete as mensewoorde. Hy verklaar alhoewel profesieë in die Bybel staan, dat dit nie noodwendig die Woord van God is nie. Reymond (1998:39), in teenstelling met Spangenberg, skryf die volgende oor 2 Pet 1:21 "This means at the very least that what they spoke did not originate in them but was given to them by God".

 2 Tim 3:16: "Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus."

2 Tim 3:16 verwys volgens Spangenberg (1998:114) nie na die hele Bybel nie, maar net ʼn deel daarvan. Hy erken wel dat sekere gedeeltes van die Ou Testament van God afkomstig was.

Reymond (1998:34) is van mening dat Paulus in 2 Tim 3:16 nie net na die Ou Testament verwys het nie, maar ook na die Nuwe Testament.

 Heb 4:12: "Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ʼn beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart."

Spangenberg (2004e:2) verklaar dat predikante nie na nie die Bybel as God se Woord moet verwys nie. Uit Heb 4:12 blyk egter dat die Bybel dit self doen.

 1 Pet 1:23: "want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly. Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ʼn blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is."

God se Woord sal altyd relevant, kragtig, genoegsaam en betroubaar wees, ongeag die omstandighede (Heyns, 1978:32). Spangenberg (1998:114) bevraagteken egter die absolute waarheid van God se Woord, tesame met die geldigheid daarvan in ʼn postmoderne samelewing.

 Joh 14:6: "Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie."

Die gesag van God se Woord is opgesluit in die heil wat Christus bewerkstellig het (Heyns, 1978:32). Jesus se verlossingswerk staan dus onlosmaaklik van God se Woord. Benewens dit verklaar God ook self dat Jesus die vleeswording van die Woord is (Joh. 1:1). Spangenberg (2005a:1) daarenteen ontken beide die verlossende werk van Christus, sowel as die gesag van die Woord.

Uit bogenoemde blyk dit duidelik dat Spangenberg veel meer as net die Gereformeerde belydenisse bevraagteken. Hy bevraagteken ook die gesag van God se Woord. In Openbaring 22:18 waarsku Johannes ons egter teen die volgende:

 Openb 22:18: "Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is."

Per slot van sake bly dit elke ware interpreteerder se verantwoordelikheid hoe hy God se Woord vertolk.

Die geskiedenis het ons geleer dat die wêreld altyd die keuse bied, verander of verouder (Hoffman, 2005:1). Een ding staan vas, en dit is dat geen wêreldse sisteem ooit die gesag van God se Woord kan verander nie (Heyns, 1978:29).

Heyns (1978:36) het reeds sowat dertig jaar gelede gewaarsku dat God se Woord nie aan die hand van buite-Bybelse gebeure verklaar kan word nie. Die evaluasie van Spangenberg se Skrifbeskouing word hiermee deur die navorser afgesluit met die volgende waarskuwing van Heyns (1978:36):

"Hier word die moderne mens met sy besonderhede deur wetenskap en tegniek-bepaalde selfkennis die sleutel waarmee die Skrifboodskap ontsluit word. Die Skrif word nie deur die Skrif self verklaar nie, maar vanuit ʼn buite-Bybelse grootheid, naamlik die gees van die tyd. Die gevaar van volslae subjektiwisme en verinnerliking van die ganse heilsgebeure lê voor die hand."

4.1.8 Gevolgtrekking

By wyse van bevindinge kan die volgende gevolgtrekkings gemaak word oor Spangenberg se Skrifbeskouing:

 Die Skrifbeskouing van Spangenberg kan nie as wetenskaplik, objektief en gebalanseerd aanvaar word nie. Die rede hiervoor is dat Spangenberg alleenlik diegene aanhaal wat sy standpunt ondersteun.

 Spangenberg interpreteer die Woord van God aan die hand van buite-Bybelse gebeure.

 Spangenberg ontken die gesag van God se Woord.

 Hy ontken ook die Gereformeerde belydenisse wat gegrond is op God se Woord as ewige waarheid.

 Spangenberg se Skrifbeskouing is onversoenbaar met die Gereformeerde Skrifbeskouing. Inderwaarheid het die studie bewys dat die gaping van versoenbaarheid daagliks vergroot. Die gevolgtrekking kan dus gemaak word dat Spangenberg se Skrifbeskouing onversoenbaar is met die Gereformeerde standpunt. Spangenberg se Skrifbeskouing is ook in kontras met die bepalings van God se Woord self.

Coetzee (1996:8) stel dit baie duidelik "Die kerk wat ʼn Skrifbeskouing soos die van Spangenberg en die ander teoloë na wie verwys is, akkommodeer, het uiteindelik geen boodskap meer vir hierdie wêreld nie".54

Coetzee (1996:9) benadruk ook dat die geroepe bedienaar van die Woord die een en twintigste eeu met al sy uitdagings slegs tegemoet kan gaan indien hy staan op die onwankelbaarheid van God se Woord. Jesus se groot opdrag, naamlik: "Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het" (Matt. 28:19), lê voor die voete van elke bedienaar van God se Woord. Daarom ook die nodigheid tot belydenisgebondenheid aan ʼn suiwer belydenis, geplant op die ewige, onwankelbare rots, Jesus Christus.

Hoofstuk 5

Samevatting en gevolgtrekkings

5.1 Samevatting