• No results found

Naas die prominente temas in Cussons se oeuvre wat herhaaldelik in resensies uitgesonder word en waarvan enkeles hierbo genoem is, hanteer sy ook ander gegewens wat nie nood-wendig sentraal staan in haar werk nie, maar wat nie buite rekening gelaat kan word by die ondersoek na die konstruksie van die vroulike subjek in haar poësie nie. Die moeder-dogterverhouding is sodanige tematiese gegewe wat nie dadelik opval met die lees van Cussons se gedigte nie, maar wat wel, dikwels implisiet, deur haar hanteer word. Dié gedigte kom dan ook later in die hoofstuk ter sprake, maar daar sal vir die doel van hierdie subafdeling gefokus word op haar taalbeskouing, asook die wyse waarop sy taal in haar poësie hanteer, ten einde bepaalde afleidings oor die vroulike subjek se verhouding tot die semiotiese fase te maak. Soos reeds vroeër aangetoon, verwys die semiotiese fase in Kristeva se werk na die pre-Oedipale verhouding tot die moeder se liggaam, terwyl toetrede tot die simboliese fase gepaardgaan met skeiding van die moeder se liggaam en die totstandkoming van subjektiwiteit. Uit die verhouding waarin die vroulike subjek haar (bewustelik of onbewustelik) ten opsigte van die semiotiese fase bevind, sou daar bepaalde afleidings oor die verhouding tot die moeder se liggaam gemaak kon word.

Soos reeds aangetoon, probeer Kristeva die simboliese element van taal wat geleë is in die grammatika en sintaksis omverwerp deur gebruik te maak van klanke wat nie op konvensionele wyse grammatikaal gestruktureer is nie en skommelende ritmes wat herinner aan die wyse waarop 'n moeder haar baba sus. Op soortgelyke wyse maak Cussons ruim gebruik van "woordspel, patroonvorming, herhaling, sintaktiese maneuvers [en] elke moontlike vorm van taalmanipulasie" (Grové 1990:12) en oortree sy as 't ware dikwels die reëls van konvensionele taalgebruik. Daar sou aangevoer kon word dat poëtiese taalgebruik, soos Kristeva (1984:24) ook beweer, in die algemeen meer semiotiese elemente bevat as byvoorbeeld wetenskaplike geskrifte wat oorhel na die simboliese, en dat die taalmanipulasie wat aan Cussons toegeskryf word, ook sou kon geld vir ander digters. Kristeva self beweer egter dat die twee modaliteite altyd saam in taal aanwesig is en dat die dialektiese verhouding tussen die semiotiese en die simboliese die soort diskoers (bv. narratief, teorie, poësie) bepaal. Hierdie argument impliseer dat die twee modaliteite ook in die poësie in 'n dialektiese

ver-houding tot mekaar staan, en dat die poësie van een digter byvoorbeeld meer semiotiese elemente sou kon bevat as dié van 'n ander, en selfs dat gedigte van dieselfde digter van mekaar sou kon verskil wat betref die verhouding waarin die semiotiese en die simboliese tot mekaar staan.

Dat Cussons op 'n unieke wyse omgaan met taal wat nie net afwyk van tradisionele taal-gebruik nie, maar ook die konvensies van poësie oorskry, val sedert haar debuutbundel op en bereik as 't ware 'n hoogtepunt met die verskyning van haar elfde bundel, Die knetterende

woord. In dié bundel is daar, soos die titel verraai, by uitstek 'n taalbewustheid. Van Zyl

(1990:16) beklemtoon die prominensie wat taal in hierdie bundel geniet deur dit te beskryf as "'n beleë, rykgeskakeerde […] verkenning van menswees en woord". Die titel van die bundel is ontleen aan die gedig "Vir julle, 'n brief" (p.69) waarin die spreker te kenne gee: "Die knetterende woord [is die] aangesteekte woord, of / brandende – min of meer" (r.2-3). Cloete (1990a:15) skryf dan ook oor die gedigte in die bundel dat "'n bewustheid van die krag van die taal" daaruit blyk. Ook Grové (1990:12) wys daarop dat die woord in die Cussons-oeuvre, maar veral in Die knetterende woord, nie 'n passiewe houer van betekenis is nie, maar "eerder die dinamiese ontdekker of skepper daarvan". Van Zyl (1990:16) identifiseer 'n aantal gedigte waarin daar spesifiek "'n geboeidheid met die wisselwerking tussen woord en waarneming" is. Dié tipe taalgedigte word gekenmerk deur 'n "uitdieping van woorde deur aksente, sametrekkings en ander gedrongenheidmaatreëls" (Scholtz 1990:10). Naas die taalbewustheid in hierdie bundel, kom die onbewuste as "ondertaalse bron waaruit [die poësie] ontspring" (Gouws 1990:44) ook tot 'n groter mate as in enige van Cussons se vroeëre bundels aan bod. Die verband wat in Die knetterende woord tussen taal en die onbewuste gelê word, maak dit binne die konteks van hierdie studie wat, onder andere, gemoeid is met die rol van die onbewuste in die konstruksie van subjektiwiteit, 'n besonder interessante bundel om van nader te beskou. Hoewel gedigte uit vroeëre bundels, waar van toepassing, in die bespreking hieronder sal figureer, sal daar vir die doel van dié subafdeling hoofsaaklik op gedigte uit Die

knetterende woord gefokus word, aangesien die taalbeskouing onderliggend aan die

Cussons-oeuvre as 't ware in die laaste bundel van haar Cussons-oeuvre onthul word. Die gedig, "Tale" (p.43), word dan ook beskryf as "een van die hoogtepunte met betrekking tot taal- en idee-ontginning in Cussons se hele oeuvre" (Van Zyl 1990:16):

Tale

Tale ooreis jy om taal te omvat wat klink in klank van tong en voet voet ingedagte gedagte begeleidend op gedroomde plaveisel van ou stede agter herinnering herinnering vooruit tong ingedagte gedagte begeleidend tot spits skrik se altyd-geweet

– betrapte bedrog van was en sal wees! – in springende talende talende springende eie omhelsende Is-heid ontmoet.

In die gedig "Eenvoudig" (p.40) uit die bundel Die heilige modder lui die slotreëls: "woorde wil nie oopgevlek nie / maar eenvoudig belewe word" waarmee gesuggereer word dat woorde nie bloot as konstituente van 'n taalsisteem en as objekte van linguistiese studie beskou moet word nie, maar dat dit as 't ware met die liggaam beleef moet word. Die eerste twee reëls van die gedig, "Tale", hierbo, sluit aan by dié gedagte wat ook herinner aan 'n kerngegewe in Kristeva se werk, naamlik dat taal nie 'n sisteem is wat maklik "omvat" (r.1) kan word nie, maar 'n proses is van nimmereindigende betekening wat spraak en diskoers insluit (Kristeva 1980a:27). Met die frase "wat klink in die klank van tong en voet" (r.2) word dan ook gesuggereer dat taal as 't ware gebeur daar waar dit gepraat word. Hierdie gedagte veronderstel 'n sprekende subjek wat nie verwar moet word met die Cartesiaanse ego, wat 'n afgeronde, onveranderlike, samehangende eenheid veronderstel nie. Binne die Westerse filosofiese tradisie wat gebaseer is op die metafisika van teenwoordigheid ("metaphysics of presence"), word die subjek, as transendentale ego, beskou as die een enkele oorsprong van 'n taaluiting. In die werk van Kristeva word die sprekende subjek bepaal deur verskillende, selfs teenstrydige impulse wat liggaamlike, verdronge herinneringe uit die presimboliese fase insluit en word dit verder in verband gebring met verdeeldheid, gedesentraliseerdheid en gedifferensieerdheid (Moi 1994:152). By Cixous veronderstel die sprekende subjek alle moontlike subjekposisies, tot so 'n mate dat sy in La Venue à l'écriture (1977) na haarself verwys as 'n vroulike meervoud ("feminine plural") (Moi 1994:116).

Dat die titel van die gedig "Tale" juis meervoud aandui, terwyl daar nie in die res van die gedig van verskillende tale sprake is nie, suggereer dat dit in hierdie gedig nie om 'n eng begrip van taal gaan nie, maar juis om 'n proses van betekening wat sluiting teenwerk en veelheid van betekenis tot gevolg het, sodat meerdere "tale", soos voortgebring deur die gedesentraliseerde, meervoudige, sprekende subjek, in 'n enkele teks hoorbaar is. Reeds in die openingsreël word die inherente teenstrydigheid (vgl. verdeeldheid, gedesentraliseerdheid,

gedifferensieerdheid) belig, dat taal/tale "ooreis" moet word om taal te beskryf. Taal is dus nie adekwaat om taal te omskryf nie. Gouws (1990:44) praat van "die nuwe taal [wat] aan-geleer word" binne dié spesifieke bundelkonteks ten einde die poësie in die bundel te ontsluit, waarmee hy nie verwys na die feit dat dié bundel "een van die min meertalige bundels in die Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedenis" (Van Zyl 1990:16) is nie. In Die knetterende woord word veelheid van betekenis wel letterlik vergestalt deurdat daar, naas die gedigte in Afrikaans, ook 'n hele paar in Engels, sommige in Spaans en in die gedig "Pour un jeune

homme gai" (p.21) 'n ineenvloeiing van Afrikaans en Frans is. Hoewel die taalverskeidenheid

die gedagte van 'n samehangende geheel teenwerk, is dit betekenisvol dat "Tale" juis wil suggereer dat daar selfs in 'n enkele taal meerdere tale opgesluit lê.

Een van die wyses waarop die gedagte van meervoudigheid in die teks versterk word, is die deurlopende gebruik van herhaling. Enersyds word die sintaksis op dié wyse versteur en só ook die konvensionele samehang en struktuur wat tot die simboliese orde behoort; andersyds dra die herhaling van spesifieke woorde en frases klankmatig by tot die betekenis daarvan. So is dit opvallend dat reël 3 en 6 identies is, met die enigste verskil dat die woord "voet" in die derde reël met die woord "tong" in die sesde reël vervang word, waardeur te kenne gegee word dat die "ingedagte gedagte" deur beide tong en voet begelei word. Hierdie twee reëls eggo as 't ware die gedagte wat reeds in die tweede reël aangetref word dat taal "klink in klank van tong en voet" wat weer aansluit by die idee dat taal nie slegs voortgebring word na aanleiding van rasionele denkprosesse wat in die brein plaasvind nie, maar dat dit 'n liggaamlike komponent bevat. Die belangrikheid van spraak (dít wat De Saussure langage noem) wat verstaan word as die som van al die verskynsels – fisies, fisiologies en psigologies – wat betrokke is by die totstandkoming van verbale aktiwiteit, word hierdeur belig. Soos reeds aangetoon, gaan dit in hierdie gedig nie om die taalsisteem (langue) nie, maar om die manifestasie van taal as klank en ritme wat onderskeidelik deur "tong" en "voet" vergestalt word en waardeur die "ingedagte gedagte" tot uiting gebring of begelei word. Die suggestie is dat taal nie voorafgegaan word deur 'n bewuste gedagte of 'n gestruktureerde denkproses nie, maar dat die gedagte deur die byna onwillekeurige of ingedagte gebruik van taal voorafgegaan word. Die geantisipeerde chronologiese volgorde van rasionele denke wat oorgaan in artikulasie word omvergewerp deurdat die ingedagte gebruik van taal die gedagte laat ontstaan. Dit gaan hier dus om 'n gedagte wat nie doelbewus bedink word nie, maar eerder onwillekeurig die denke binnedring. Hierdie soort "ingedagte gedagte" funksioneer nie in die eerste plek op 'n bewustelike vlak nie, maar syfer eerder vanuit die dieptes van die

onbewuste deur na die oppervlak van die bewuste gedagtewêreld wanneer 'n mens dagdroom, of dan, ingedagte is. Die inkanterende woorde "ingedagte gedagte" het 'n mymerende toon en herinner aan die wyse waarop 'n mens byna onsamehangend begin praat wanneer jy in gedagte versonke raak.

Die aandag wat gevestig word op die klank- en ritmekomponent van taal deur die herhaalde verwysings na "tong" (r.2 en r.6) en "voet" (r.2 en r.3), herinner aan Kristeva se siening (waaroor daar reeds vroeër uitgewei is) dat die klank- en ritmekomponent van taal in verband gebring kan word met die semiotiese of die presimboliese fase van eenheid met die moeder se liggaam en wat ook 'n noue verband met die onbewuste het. Die gedagte dat taal 'n liggaamlike komponent bevat, herinner aan Cixous se beskouing van écriture féminine as die (be)skrywing van die vroulike liggaam. Sy (1986b:251) skryf oor die wyse waarop die vrou haarself uitdruk in taal: "She physically materializes what she's thinking; she signifies it with her body". Volgens haar is hierdie liggaamlikheid van die taaluitinge van vroue herleibaar tot die verhouding met die moeder wie se stem in hul werk resoneer. Hoewel daar nie in hierdie gedig eksplisiet verwys word na die vroulike liggaam nie, is dit duidelik dat die vroulike spreker-digter wat in die gedig aan die woord is, wel 'n eksplisiete liggaamsbewustheid het en dit in verband bring met die aard van taal.

Die "gedroomde plaveisel van ou stede" waarna daar in reël 4 verwys word, roep letterlik 'n wandeling in die keisteenstraatjies van Middeleeuse stede voor die gees en hou as sodanig direk verband met die verwysing na die "voet" (r.3) wat ingedagte die gedagte begelei. Die konkreetheid (gesuggereer deur die verwysing na "plaveisel") en liggaamlikheid van taal word dus hierdeur verder belig. Die frase roep ook assosiasies met die onbewuste op, nie net omdat daar van 'n "gedroomde" wêreld sprake is nie, maar ook omdat "plaveisel" iets van 'n gefragmenteerde geheel suggereer. Die gedagte sluit aan by Kristeva se siening dat die sprekende subjek nie 'n Cartesiaanse transendentale ego is nie, maar gesplete of gefragmenteerd is. Dat die subjek nie 'n samehangende, afgeronde eenheid vorm nie, is – soos reeds vroeër aangetoon – gebaseer op die psigoanalitiese ontdekking van die onbewuste. Die gefragmenteerde sintaksis wat deurgaans in die gedig aangetref word, versterk dié gedagte verder.

In reël 5 sê die spreker dat sy "agter herinnering herinnering vooruit" stap. Die herhaling van die woord "herinnering" illustreer as 't ware wat dit beteken om iets weer, vir 'n tweede maal, voor die gees te roep. Die betekenis van die woorde "agter" en "vooruit" word ook tipografies

uitgebeeld deurdat die woord "agter" eerste gelees word en dus reeds in die verlede is wanneer die res van die reël gelees word, terwyl die woord "vooruit" laaste in die reël staan en dus met die lees van die eerste drie woorde van die frase, in die toekoms is. Die spreker loop as 't ware agter haar herinneringe aan waardeur gesuggereer word dat sy terugdink aan die verlede. Haar herinneringe loop haar dus in 'n sekere sin "vooruit" in dié opsig dat haar gedagtegang daardeur bepaal word en sy haar dus deur haar herinneringe laat lei. 'n Ander interpretasie sou kon wees dat sy haar herinner aan dinge wat agter haar lê, maar ook op paradoksale wyse 'n toekomsblik verkry, byna asof sy haar herinner aan dinge wat nog moet kom. Die suggestie hier sou weer eens kon wees dat die spreker nie gebonde is aan die chronologiese verloop van tyd nie. Hierdie gedagte vind aansluiting by Kristeva (1986d:191) se siening dat liniêre tyd manlik bepaald is en vroulike subjektiwiteit in verband gebring kan word met ander tydsvorme wat sy sikliese tyd (herhaling) en monumentale tyd (ewigheid) noem.

Dat Cussons bewus is van die denkprosesse wat willekeurig, maar dikwels ook onwillekeurig, 'n rol speel in die skryf van haar poësie, blyk uit gesprekke oor haar werk. Sy sê in 'n onderhoud dat sy "ongedwonge en spontaan en op die ingewing van die oomblik [skryf]. [W]anneer sy aktief besig is, skryf sy aggressief en stort haar woorde amper sonder nadenke op papier uit" (Wessels 1988:45). In 'n ander onderhoud sê Cussons oor die stimulus wat die skryfproses ontketen: "[D]it gaan ondergronds, dit gaan af in jou persoonlike onbewuste […] en kom sommer skielik op 'n dag te voorskyn. [D]aar is soveel misterie in die hele skeppingsproses" (Le Roux 1988:6).

Hoewel dit nie in "Tale" eksplisiet om die skeppingsproses gaan nie (soos wel die geval is by ander Cussons-gedigte), speel denkprosesse tog 'n bepalende rol in die gedig. Dit is asof die spreker op reis deur haar eie gedagtewêreld is en daar progressie plaasvind van die verwysing in reël 4 na "gedroomde plaveisel" waar "droom" op 'n onwillekeurige denkproses dui waarvan die oorsprong in die onbewuste lê, na "herinnering" (r.5), "ingedagte" (r.6), "gedagte" (r.6) en uiteindelik na die "spits skrik se altyd-geweet" (7). Die suggestie sou kon wees dat die spreker skielik tot die besef kom dat sy nog altyd oor 'n bepaalde soort kennis beskik het, maar dat dit vanuit die onbewuste na die oppervlak van die bewussyn moes deurdring. Die "spits skrik" herinner aan wat Cloete (1990a:15) noem "die element van die

plotselinge, die eensklapse of vinnige" wat in verskeie verse in Die knetterende woord

wees" (r.8) beskik wat ook aansluit by die gedagte dat haar denke in die verlede, sowel as in die toekoms lê. Daar is egter 'n soort kontradiksie opgesluit in die gedagte dat dit wat sy altyd geweet het, "bedrog" (r.8) is. Dit uitdrukking in die volksmond "wat was en sal wees" dui normaalweg op daardie dinge wat vas, waar en onveranderlik is. Deurdat daar na hierdie dinge as "bedrog" verwys word, gee die spreker te kenne dat sy tot die besef gekom het dat dié dinge vervlietend en fluktuerend van aard is. Die gedagte dat dit wat was, altyd sal wees, word onthul as 'n leuen. Die bedrog waarvan hier sprake is, kan egter ook weer verwys na die "bedrieglikheid" van taal self – ook taal en betekenis is nie vas en onveranderlik nie, maar werk voortdurend sluiting teen. Die verwysing na "betrapte bedrog" (r.8) beklemtoon die gedagte dat hierdie insig aanvanklik vir haar verborge was, en dat sy byna toevallig, terwyl sy "op [die] gedroomde plaveisel van ou stede" agter haar herinneringe aangeloop het, daarop afgekom het. Die ontdekkingsreis wat onderneem word in die gedig is nie vooraf beplan of deurdink nie, maar is as 't ware 'n reis na die onbewuste wat verrassende gewaarwordinge na vore bring.

Dit wil voorkom asof die kennis waaroor dit hier gaan, nie empiries van aard is nie, maar eerder die "spitse kaalvoetkennis" is, waarvan daar in "'n Kleindorpse fragment" (p.12) uit die bundel Plektrum sprake is. Hierdie gedagte word versterk deurdat "kaalvoetkennis" hier die verwysing na "[tale] … / wat klink in klank van tong en voet" vooruitloop. "Voet" het hier assosiasies met eenvoud en kinderlikheid (in "'n Kleindorpse fragment" gaan dit juis om die ervaringswêreld van 'n kind) en dit lyk dus asof die insig waartoe die spreker in die gedig kom, iets anders as "kopkennis" is. Die woord "voet" het ook ander assosiasies wat betekenisvol is binne die konteks van die gedig. Daar word byvoorbeeld in die Middeleeue van 'n pelgrim vertel wat in sy voet gewond is. Die verteller beweer dan "it is his 'conversation' that is hurt – his conduct or capacity to 'walk' properly" (Ferber 2001:150). Die verband wat hier gelê word tussen die pelgrim se voet en sy vermoë om homself uit te druk in taal, kan herlei word na die metafoor van die lewe as 'n pad of 'n reis. Ferber (2001:151) wys daarop dat daar in die Griekse letterkunde 'n metafoor bestaan wat poësie self as 'n pad voorstel. Homer se Hymn to Hermes verwys na "the bright path of song" en oor Pindarus word daar geskryf: "he has found the praiseworthy path of words" (Ferber 2001:151). Dié gedagte word teruggevind in die gedig as daar verwys word na die "gedroomde plaveisel van ou stede" waarop die spreker se gedagtes gelei word.

Die gedig "Tale" sou as 'n alternatief gelees kon word vir die "murderous logic" (Braidotti 1991:240) wat volgens Cixous tot die patriargale orde behoort. Soos reeds vroeër aangetoon, berus fallogosentriese denke, volgens Cixous en Irigaray, op hiërargiese opposisies, en onderliggend hieraan is die man/vrou-tweedeling wat tradisioneel 'n noue verband toon met die opposisie, aktiwiteit/passiwiteit. Cixous (1986d: 92) skryf: "In the extreme the world of 'being' can function to the exclusion of the mother. […] Either the woman is passive; or she doesn't exist". In die gedig word bepaalde binêre opposisies opgehef, byvoorbeeld rasioneel/irrasioneel, feit/fiksie en bewuste/onbewuste. In "Japanse skildery op sy" (p.9) uit

Plektrum word gesê "die feit is van die droom deurgloei" (r.3) en in "Tale" gaan dit juis ook

oor die besef dat dit wat deur die eeue heen as onwrikbaar, vas en waar beskou is, as 't ware "bedrog" (r.8) is. Soos reeds vroeër van Irigaray gesê is, lyk dit nie asof Cussons in hierdie gedig iets probeer vaslê nie, maar eerder asof sy die denke van die leser in beweging wil