• No results found

1.2 Metodologie

1.2.3 Die moeder-dogterverhouding

Soos reeds vlugtig genoem in die voorafgaande beskrywings van Kristeva, Cixous en Irigaray se werk, is die verhouding met die moeder 'n sentrale gegewe in die oeuvres van dié drie Franse vroue, ofskoon daar verskille is in die wyse waarop hierdie verhouding in hul tekste neerslag vind. Die moeder-dogterverhouding is trouens nie 'n nuwe tema binne die feministiese diskoers nie. In The Mother/Daughter Plot (1989), wat ook as verwysingsraamwerk vir die doel van hierdie onderafdeling gebruik word, analiseer Marianne Hirsch transformasies van die moeder-dogterverhouding in die werke van 'n wye verskeidenheid vroulike outeurs. Sy vestig die aandag daarop dat Virginia Woolf reeds in 1929 in A Room of One's Own die stelling gemaak het: "We think back through our mothers if we are women" (Woolf 1977:72). Dié stelling het in latere jare 'n geweldig belangrike rol gespeel as vertrekpunt vir daardie feministe wat die daarstel van 'n vroulike literêre tradisie of 'n matrilineêre model as oogmerk gehad het (Hirsch 1989:126).

Dit is betekenisvol om daarop te let dat die moeder-dogterverhouding in die jare wat volg nie 'n onproblematiese gegewe binne die feminisme is nie. Vroueskrywers so uiteenlopend soos Nancy Friday in die populêre teks My Mother/My Self: A Daughter's Search for Identity (1977) en Marie Cardinal in haar roman The Words to Say It (1975) blameer die moeder vir die dogter se verontregting. In navolging van Freud, word moederhaat in hierdie tekste 'n voorvereiste vir vroulike bevryding en selfbeskikking.

In die jare sewentig is daar egter toenemend ook tekste deur vroueskrywers wat daardeur gekenmerk word dat dit op 'n soeke na die moeder gebaseer is. Showalter (1986:135) skryf soos volg hieroor:

Hating one's mother was the feminist enlightenment of the 50's and 60's; but it is only a metaphor for hating oneself. Female literature of the 70's goes beyond matrophobia to a courageously sustained quest for the mother.

Soos reeds aangetoon, is dit ook gedurende die sewentigerjare dat teorieë van seksuele verskil begin posvat het. Volgens Hirsch (1989:135) kan die verskynsel deels daaraan toegeskryf word dat die bedreiging wat oorloë en kernwapens in Europa, sowel as in die VSA ingehou het, 'n alternatief genoodsaak het vir dit wat as manlike destruktiwiteit beskou is. Die vroulike was maar een van baie vorme van die "ander" wat as sodanige alternatief aangegryp kon word. Die vroulike was verwyderd van Westerse fallogosentrisme en het die potensiaal gehad om die manlike, rasionele, outoritêre subjek te dekonstrueer. Die ruimte van "andersheid" ("otherness"), gelokaliseer in die vroulike, is die pre-Oedipale ruimte van moeder-dogterspieëling, wat as plaasvervanging dien vir die skeuring tussen self en wêreld wat geïmpliseer word deur die destruktiwiteit van oorlog. Gedurende hierdie tydperk tree daar in Amerika, sowel as in Frankryk, vroue na vore wat die nut insien van die psigoanalise as instrument vir 'n nuwe blik op seksuele verskil, vir 'n model van vroulike subjekvorming en van vroulike spesifisiteit.

So, byvoorbeeld, pas Kaja Silverman (1988:101-140) die Freudiaanse model van die Oedipuskompleks aan vir die vroulike subjek. Volgens haar betree die jong meisie, ná die Oedipale fase, 'n "negatiewe Oedipuskompleks" waartydens sy die moeder begeer en die vader as kompetisie beskou. Hierdie fase is "negatief" in die sin dat die moeder-dogterverhouding as 'n intense liefdesverhouding byna glad nie gestalte vind binne die heersende patriargale kultuur nie – kulturele geskiedenis, byvoorbeeld, was nog altyd 'n verhaal van vaders en seuns. Die bewuswording van seksuele verskille (wat Freud die kastra-siekompleks noem) noop die meisie om die negatiewe Oedipuskompleks te verlaat en die "positiewe" fase te betree waartydens sy die vader begeer en 'n aversie in die moeder ontwikkel. Silverman voer aan dat heteroseksuele vroulike begeerte gestruktureer word na analogie van 'n homoseksuele begeerte vir die moeder. Die moeder-dogterverhouding is, volgens haar, dus veel meer kompleks as wat erken word deur die psigoanalise, aangesien die

moeder die objek van begeerte, maar terselfdertyd die objek van identifikasie vir die dogter is. Volgens Silverman vorm die negatiewe Oedipuskompleks die libidinale basis vir die feminisme en behoort vroue meer inspirasie uit hierdie onbewuste bron te put.

Ook Nancy Chodorow (1978:95-125) tree in gesprek met Freud, maar, anders as vir Silverman, is die basis van vroulike subjektiwiteit vir haar nie in die Oedipale fase geleë nie, maar wel in die pre-Oedipale fase. Sy (1978:115) skryf: "[T]he continuity of preoedipal issues in women's lives suggests that a girl does not give up this preoedipal relationship completely, but rather builds whatever happens later upon this preoedipal base". Dit is die moeder-dogterband en nie 'n falliese leemte nie, konneksie en nie kastrasie nie, wat vroulike subjektiwiteit bepaal. Nabyheid aan die moeder, en nie onwrikbare trou aan die vader nie, definieer vir Chodorow die proses van vroue se ontwikkeling binne kulturele verband.

In The Mother/Daughter Plot (1989) tree Hirsch self ook toe tot die gesprek as sy die moederfiguur, Jocasta, in die Oedipus-verhaal op die voorgrond plaas. So skryf Hirsch (1989:4):

Jocasta is represented by silence, negation, damnation, suicide. The story of her desire, the account of her guilt, the rationale for her complicity with a brutal husband, the materiality of the body which gave birth to a child she could not keep and which then conceived with that child other children – this story cannot be filled in because we have no framework within which to do it from her

perspective.

Wat betekenisvol is vir die doel van hierdie studie, is dat Hirsch (1989:132), wanneer sy in

The Mother/Daughter Plot na die psigoanalitiese feministe in Frankryk verwys, die drie

Franse vroue, Kristeva, Cixous en Irigaray in gedagte het. Volgens Hirsch (1989:133) neem die psigoanalitiese feministe, waarby sy hierdie drie vroue insluit, as vertrekpunt die forma-tiewe invloed van die pre-Oedipale fase en die vroulike ouer se dominansie tydens dié fase. Die siening dat daar 'n unieke band tussen moeder en babadogter bestaan, lei telkens tot 'n herlees van die tradisionele psigoanalitiese bronne. Die gevolg is 'n herdefinisie van subjektiwiteit as iets anders as outonomie en skeiding, of verdeeldheid en vervreemding. Subjektiwiteit wat ingebed word in nabyheid, bied 'n prentjie van volgehoue moeder-dogterverstrengeling. Die resultaat is 'n taalteorie wat gebaseer is, nie op leemte nie, maar op 'n soort oorvloed – op die mite van 'n moedertaal wat die bestaan van die moontlikheid

bevestig, of ten minste suggereer, om iets buite die patriargale orde ("Name of the Father") te konstrueer. Hierdie skrywers vind die oorsprong van 'n nuwe volwassenheid in die pre-Oedipale moeder-dogterband en -konflik. Hier vind hulle ook die potensiaal vir transformasie en ondermyning van patriargale strukture en veronderstellings. Vir Freud word verbeelding en fantasie gemotiveer deur verlies en die verlange na vryheid van familiale beperkinge. Wat feministiese teoretici en sommige feministiese skrywers van die jare sewentig betref, word die verbeelding juis aangevuur deur 'n verlange na simbiotiese eenheid met die moeder of deur 'n stryd teen identifikasie met haar, wat steeds 'n diepgaande en volgehoue nabyheid aan haar verraai. In hierdie tekste figureer die pre-Oedipale domein as 'n magtige mitiese ruimte, wat nie onherroeplik verlore is nie, maar voortdurend teenwoordig is, omdat dit teruggevind kan word in verhoudings tussen vroue onderling. Omdat dié verhoudings presimbolies en prekultureel van aard is, dui dit op 'n alternatief vir die patriargie en die logos – 'n wêreld van gedeelde vroulike kennis en ervaring, waarin die subjek/objek-dualisme en magsverhoudinge uitgedaag en herdefinieer word.

Hirsch (1989:133-134) wys daarop dat, terwyl die letterkunde in die eerste helfte van die twintigste eeu die verpligte heteroseksualiteit van diskoers onderskryf, die feministiese tekste van die sewentigerjare die rol van die man onderbeklemtoon – die teruggryp na die pre-Oedipale fase as basis vir volwasse persoonlikheidsvorming, die fokus op die moeder-dogterband en -stryd, en die viering van die verhoudings tussen vroue en onderlinge versorging, plaas mans in 'n onderskikte posisie. Dit is die verbintenis met die moeder wat emosionele gewig dra en nie die wending na vader of eggenoot nie. Vir Irigaray (1981b:20-21) funksioneer die vader as struikelblok, as die antagonis wat volgehoue kontak tussen moeder en kind onmoontlik maak en wie se wet die moeder se liggaam tot verbode terrein vir die kind verklaar. Irigaray identifiseer die knip van die naelstring, en nie kastrasie nie, as die kind se oorspronklike trauma: die vader en sy naam ("nom") funksioneer bloot om die letsel wat gelaat word ("nombril") te bedek – hierdie letsel is die eerste teken van subjekvorming en 'n lewenslange herinnering aan die eerste traumatiese skeuring met die moeder.

Daar is reeds te kenne gegee dat die moeder-dogterverhouding nie sonder kompleksiteite is nie. Volgens Adrienne Rich (1977: 235) beskou talle dogters hul moeders as die draers van kompromie en selfhaat, as diegene deur wie die beperkinge en degradering van die vroulike bestaan op hul dogters afgedwing is. Dit is makliker om die moeder te haat en te verwerp as om die magte wat op haar inspeel raak te sien. Waar moederhaat oorgaan tot matrofobie, kan dit ook wees dat daar 'n onderliggende aantrekkingskrag tussen dogter en moeder bestaan, 'n

vrees dat as 'n mens nie op jou hoede is nie, jy dalk totaal met haar sal identifiseer. Matrofobie is dan ook nie die vrees vir jou moeder of die vrees vir moederskap nie, maar die vrees dat jy jou moeder sal word. Dit is duidelik dat die moeder hier in die posisie van gevreesde ander geplaas word; sy word die objek van haar dogter se ontluikende subjektiwiteit. As sodanig word die moeder nie as subjek erken nie, maar word sy haar self ontneem in die belang van die instandhouding van die dogter se subjektiwiteit.

In Irigaray se twee kort tekste "When Our Lips Speak Together" (oorspronklik in Engels vertaal in 1980) en "And the One Doesn't Stir without the Other" (1981) word die skuif van moeder, nie na vader of man nie, maar na suster, vroulike minnaar of vriendin uitgebeeld as 'n soort kompromis. In die eerste artikel word vroulike stilte en negatiwiteit vervang met parler

femme wat die verkenning van 'n ander, spesifiek vroulike taal behels en gedefinieer kan word

by wyse van die aard van die uiting (spreek tot vroue/praat met vroue), eerder as die vorm van die uiting (wat of hoe 'n mens praat). Die vroulike labia praat saam in 'n dialoog tussen vroulike minnaars of in 'n monoloog deur 'n dubbele subjek ("I/you"), en deur taal word 'n ander liggaam en 'n ander seksualiteit tot stand gebring. Die moeder is egter nie eksplisiet teenwoordig in hierdie viering van pluraliteit en kontinuïteit van vroulike subjektiwiteit, in hierdie eksperiment met dialoog en gemeenskaplikheid nie. Irigaray (1980:209) skep 'n ruimte buite die gesin, buite die strukture van patriargale instellings waarin die moeder geïmpliseer word:

I love you who are neither mother (forgive me, mother, I prefer a woman) nor sister. Neither daughter nor son. I love you – and where I love you, what do I care about the lineage of our fathers and their desire for reproductions of men? Or their genealogical institutions? What need have I for husband or wife, for family, persona, role, function? Let's leave all those to men's reproductive laws. I love you: Your body, here and now. I/you touch you/me; that's quite enough for us to feel alive (Irigaray 1985h:209).

In die ander artikel is daar 'n terugkeer na die familie en 'n verduideliking van die moeder se weglating uit die eerste teks. Hier rig die dogter haar pleitend tot die moeder wat vasgevang is in 'n rol waarvoor sy nie die teks geskryf het nie. Die dogter/spreker smeek om vrylating uit die spieël van eendersheid waarin sy haar eie beeld versmelt sien met dié van haar moeder.

Die kompleksiteit van die moeder-dogterverhouding word deur Irigaray (1981a:67) belig as die dogter/spreker enersyds die moeder se oordadige sorg as versmorend ervaar en andersyds eensaam agtergelaat word deur die moeder se ysige afwesigheid as subjek van die dialoog:

But we have never, never spoken to each other. And such an abyss now separates us that I never leave you whole, for I am always held back in your womb. Shrouded in shadow. Captives of our confinement. And the one doesn't stir without the other. But we do not move together. When the one comes into the world, the other goes underground. When the one carries life, the other dies. And what I wanted from you, Mother, was this: that in giving me life, you still remain alive.

Die kontras tussen die twee tekste is opvallend. Terwyl daar in die eerste aanhaling 'n viering van 'n dubbele self is wat slegs kan praat wanneer die subjek/objek-skeiding oorkom word, is die posisies van spreker en aangesprokene in die tweede aanhaling pynlik geskei van mekaar. Dogter en moeder is van mekaar geskei en vir ewig vasgevang deur die instelling, die funksie en die rol van moederskap. Irigaray se tekste suggereer dat die fantasie van gemeen-skaplikheid slegs buite die tradisionele struktuur van die familie kan bestaan. Die verhaal van die dogter wat verstrengel is in identifikasie met haar moeder en die voortdurende stryd daarteen, wat toenemend afstand doen van vader, broer en manlike minnaar, is slegs onproblematies in die verbintenis met haar suster of vroulike minnaar. Hirsch (1989:137-138) skryf oor eersgenoemde teks, "When Our Lips Speak Together", dat dié verhaal gesitueer is in die preverbale domein van die pre-Oedipale fase, toeganklik vir die skrywende onbewuste, nie deur herinnering nie, maar deur fantasie en projeksie.

Volgens Braidotti (1991:259-260) is Irigaray se moeder-dogterverhouding die prototipe van die konflik, sowel as die passievolle band wat vroue aan mekaar verbind. Kompetisie en jaloesie, asook passie en erkenning vorm deel van vroulike subjektiwiteit en dit dui alles op die moeder-dogterband. In aansluiting by wat Braidotti "radical feminism" noem, beskou Irigaray die vader, en nie die kind nie, as die een wat van vroue slawe maak. Sy beskryf 'n moeder-dogterverhouding wat die status van vroue revolusionêr maak, want dit word die prototipe van 'n nuwe verhouding tussen vroue, vroue wat aktiewe subjekte van hul eie geskiedenis geword het. Om die moeder aan te spreek as vrou, is reeds om die mure van die voorvaders wat deur die patriargale sisteem opgerig is, af te breek en om die gemeenskap van vroue buite-om die beperkinge van ouderdom en gesinsrolle te bevestig.

Volgens Freud is dogters veronderstel om hul moeders te verwerp en sodoende toegang tot die domein van die Wet van die Vader te kry. Braidotti (1991:260) wys daarop dat hierdie verwerping, wat aangebied word asof dit onvermydelik en noodsaaklik is, vir Irigaray gebaseer is op twee denkfoute. Eerstens is die psigoanalise misleidend, deurdat die dogter nooit werklik toegelaat of erken kan word deur die vader nie, en altyd as minderwaardig en gekastreer beskou sal word. Tweedens is 'n breuk met die moeder vir die dogter emosioneel en fisiek onmoontlik, aangesien beide in die eerste instansie vroue is. Elke vrou, of sy daarvan hou of nie, bestaan in haar kultuur as 'n potensiële moeder. Hierdie gedeelde reproduktiewe kapasiteit, wat verdraai is tot universele oorsaak van vroulike onderdrukking, beteken dat die moeder-dogterverhouding nooit werklik verbreek kan word nie. In die lig van hierdie analise redeneer Irigaray dat die enigste revolusionêre opsie vir moeders en dogters is om die onderdrukkende logika wat hul gevange hou, te identifiseer en dan te verwerp. Volgens Braidotti (1991:260) het die moeder-dogterpaar deur Irigaray se toedoen 'n inspirasie vir fundamentele skuiwe in vroue se verhouding tot die simboliese orde geword. Om die oorspronklike, strukturerende belang van die verhouding tot die moeder te erken, is vir haar die eerste tree in die rigting van 'n nuwe vertikale verhouding wat vroue onderling moet ontwikkel. Vertikaal dui hier op 'n kwalitatiewe onderskeid of differensie tussen vroue wat daartoe aanleiding gee dat hul onderlinge verhoudings geartikuleer en tot uitdrukking gebring kan word; horisontaal dui op 'n kwantitatiewe beskouing van vroue as almal "eenders" wat die vervaging van onderlinge verskille impliseer en 'n gebrek aan representasies van die verhoudings tussen vroue tot gevolg het (Whitford 1991:87).

Dit is opvallend dat wanneer die moeder-dogterverhouding ter sprake gebring word, soos ook hierbo die geval is, die meeste feministiese skrywers en akademici vanuit die perspektief van die dogter praat. Die prototipiese feministiese stem is, in 'n groot mate, die stem van die dogter wat daarna streef om te vlug van 'n oorbeskermende of afkeurende moeder, ten einde 'n verbintenis aan te gaan met haar susters in 'n verhouding van wedersydse sorg en ondersteuning as gelykes. Susters kan moederlik wees teenoor mekaar, sonder om toe te laat dat hul liggame binnegedring word deur mans en sonder die fisieke implikasies van swangerskap, geboorte en laktasie. Susters is beter moeders deurdat hulle beter versorg en meer aanmoediging tot selfstandigheid gee. Deurdat hulle as wedersydse surrogaatmoeders optree, vervang susters moeders. Volgens Hirsch (1989:163-164) belig die ideaal van susterskap en surrogaatmoederskap wel die funksie van moederskap, maar verwerp dit die

werklike moeder en maak haar onsigbaar. Die effek hiervan was dat feministiese teoretisering verwyderd geraak het van moeders se verhale en ervarings, en dat die moederlike binne die feminisme onderdruk is.

Die redes vir hierdie onderdrukking word soos volg deur Hirsch (1989:165-166) uiteengesit: In die eerste plek is daar die persepsie dat moederskap 'n patriargale konstruksie is. Tweedens is daar in feministiese denke dikwels ongemak met die gebrek aan mag wat toegeskryf word aan en dikwels deel is van moederskap. Die feministiese diskoers plaas 'n hoë premie op beheer – vroue se beheer oor hul liggame, oor hul regstatus, hul salarisse en die keuse van hul lewenstyl. Niks is meer bedreigend vir die swaar verdiende en steeds brose vryheid en beheer, as die kwesbaarhede en afhanklikhede wat met moederskap gepaard gaan nie. 'n Derde rede vir die onderdrukking van die moederlike binne die feminisme is die vrees vir of ongemak met die vroulike liggaam wat steeds aanwesig is by vroue binne feministiese kringe. Niks verstrengel vroue meer in hul liggame as swangerskap, geboorte, laktasie, miskraam of onvrugbaarheid nie. Die meeste feministe gaan met groot omsigtigheid te werk om identifikasie met biologie te vermy en nie van essensialisme beskuldig te word nie. Vierdens kan die skeiding tussen die feministiese diskoers en dié van moederskap toegeskryf word aan feministe se ambivalensie oor mag en outoriteit. Hirsch (1989:167) wys daarop dat, tensy die feminisme kan begin om moederskap te politiseer en vroulike mag in die algemeen wyer te laat uitkring, vrese en projeksies sal voortleef.

Dat die feminisme in die VSA wel reeds 'n begin gemaak het om na die stories van moeders te luister en 'n ruimte te skep waarin moeders hierdie stories kan artikuleer, blyk uit die outobiografie van Robin Morgan, redakteur van Sisterhood is Powerful (1970) (een van die mees invloedryke bloemlesings van die U.S. Women's Liberation Movement). Sy (1978:8) beskryf die voortdurende konflik wat sy gedurende die beweging se eerste jare ervaar het tussen feministiese politiek aan die een kant en die ervaring van moederskap aan die ander soos volg:

Since the patriarchy commanded women to be mothers (the thesis), we had to rebel with our own polarity and declare motherhood a reactionary cabal (antithesis). Today a new synthesis has emerged; the concept of mother-right,