• No results found

1.2 Metodologie

1.2.2 Franse feminisme

1.2.2.2 Julia Kristeva

Julia Kristeva is in 1941 in Bulgarye gebore. Sy word groot in 'n burgerlike gesin en as gevolg van haar eenvoudige agtergrond word sy verhinder om astronomie en natuurkunde te studeer. Sy word joernalis en begeef haar op die gebied van die literatuurwetenskap (Brügmann 1982:18). Kristeva se Bulgaarse agtergrond word deur David Spurr uitgesonder as een van die bepalende faktore in die ontwikkeling van haar taalbeskouing. Hy (1993:196) skryf: "In such places it is possible to live both in and beyond the West, knowing the boundaries of its language, and looking southward or eastward as if toward regions of the unthought" (1993:196). In die lig van hierdie stelling is dit betekenisvol dat Kristeva inderdaad in haar werk op die marginale en die heterogene fokus as dit wat die sentrale strukture van die tradisionele linguistiek kan omverwerp (Moi 1994:161). In 1966 kry sy 'n beurs om haar studie in Parys voort te sit. Sy vestig haar in Parys en word 'n professor in die linguistiek aan die Universiteit van Parys. Haar Oos-Europese agtergrond, tesame met die feit dat sy 'n grondige kennis van Marxistiese teorie gehad het en boonop ook vlot was in Russies, het haar ideaal geposisioneer om haar te verdiep in die werk van die Russiese formaliste en, veral ook belangrik, die Russiese teoretikus Mikhail Bakhtin. Moi (1986:2) skryf:

This double heritage, at once Marxist and Formalist, enabled her to make the most of the structuralist impulses she met with in Paris, giving her the confidence and context necessary not only to learn from them but to appropriate and transform them for her own particular project.

In 1970 gee Roland Barthes 'n entoesiatiese oorsig oor Kristeva se vroeë werk onder die opskrif L'étrangère wat naastenby vertaal kan word as "die vreemde vrou". Hierdie titel verwys in die eerste plek na Kristeva se Bulgaarse agtergrond, maar sinspeel ook op die ondermynende impak van haar werk. Barthes skryf (vertaalde aanhaling in Moi 1994:150):

Julia Kristeva changes the place of things. […] [S]he always destroys the latest preconception, the one we thought we could be comforted by, the one of which we could be proud. […] [S]he subverts authority, the authority of monologic science.

Hoewel die semiotiek van De Saussure en Peirce die basis van haar tekenteorie vorm, verwerp sy, in navolging van Bakhtin, wat taal as 'n sosiale aktiwiteit beskou, die gedagte dat die linguistiek slegs gemoeid behoort te wees met taal as 'n sisteem. De Saussure (1983:9-15) maak 'n onderskeid tussen taalspraak (langage), taal as 'n sisteem (langue) en die individuele taaluiting (parole). Volgens hom is langue en parole die samestellende komponente van

langage, wat as 't ware verstaan kan word as die som van al die verskynsels – fisies,

fisiologies en psigologies – wat betrokke is by die totstandkoming van verbale aktiwiteit. Hierdie spraak (langage) kan, volgens De Saussure, nie die objek van studie vir die linguistiek wees nie, en die individuele taaluiting (parole) ook nie. Taal as 'n definieerbare sisteem (langue) word as die vertrekpunt vir die linguistiek beskou. Hy (1983:9) skryf soos volg hieroor: "The linguist must take the study of linguistic structure as his primary concern, and relate all other manifestations of language to it".

In reaksie hierop verwerp Bakhtin/Voloshinov10 in sy bestudering van die aard van diskoers, die gedagte dat alle manifestasies van taal herlei behoort te word na 'n taalsisteem, alvorens dit die objek van linguistieke studie kan wees. Sy kritiek word soos volg deur Morris (1994:4) omskryf:

Any such abstract or 'monologic' perception of what are often termed 'living utterances' is seen as unable to account for the two most fundamental aspects of language: its active creative capacity and the always evaluative nature of meaning. This ever-present evaluative element in discourse makes concern with context absolutely essential.

10

As gevolg van die politieke en sosiale onrus in Rusland gedurende die twintigerjare en daarna, is die meeste van Bakhtin se werk eers jare nadat dit geskryf is, gepubliseer, sommige selfs eers na sy dood, terwyl ander tekste weer verlore geraak het. In 1973 is daar skielik beweer dat tekste wat in die twintigerjare geskryf is en onderteken is deur persone wat lank reeds oorlede is, grootliks die werk van Bakhtin was. 'n Gerespekteerde Russiese taalkundige, V.V. Ivanov, het beweer dat al die betekenisvolle geskrifte wat deur Bakhtin se tydgenote V.N. Voloshinov en P.N. Medvedev onderteken is, in der waarheid Bakhtin se werk was. Tot op hede is hierdie onsekerhede en dispute nog onopgelos (Morris 1994:1-2).

Volgens Bakhtin/Voloshinov genereer elke taaluiting 'n respons by die toehoorder, al sou die respons nie hardop geartikuleer word nie. Elke aanvanklike taaluiting antisipeer die respons by die toehoorder en neem dit reeds in ag. Die aanvanklike taaluiting word egter nie slegs gevorm in antisipasie op die toekomstige respons nie, maar ook as antwoord op alle relevante taaluitings wat dit voorafgegaan het. Die inherente interaktiewe of dialogiese aard van diskoers is verantwoordelik vir die voortdurende generering van betekenis (Morris 1994:5). In hierdie verband skryf Bakhtin/Voloshinov (1994:33-35):

[W]hat is important for the speaker about a linguistic form is not that it is a stable and always self-equivalent signal, but that it is an always changeable and adaptable sign. [T]he understander […] also is attuned to the linguistic form not as a fixed, self-identical signal, but as a changeable and adaptable sign. […] Any true understanding is dialogic in nature. […] Meaning is the effect of interaction between speaker and listener.

Ook Kristeva se vertrekpunt is nie 'n monologiese taalsisteem nie. Sy beskou juis die taaluitinge van die mens as die belangrikste element van die totstandkoming van taalstrukture. In haar opstel "The Ethics of Linguistics" (1980) tree sy in gesprek met die moderne linguistiek oor die wyse waarop taal gekonseptualiseer word. Sy verwerp De Saussure se

langue as objek van die linguistiek ten gunste van die "sprekende subjek" ("speaking

subject"). Op hierdie wyse probeer sy die klem verskuif van 'n gefassineerdheid met taal as 'n monologiese, homogene struktuur na 'n belangstelling in taal as 'n heterogene proses. Dié verskuiwing kan egter slegs plaasvind indien die "sprekende subjek" nie met 'n soort transendentale of Kartesiaanse ego verwar word nie (Moi 1994:152). In haar tese oor die "sprekende subjek" verwerk sy, onder andere, een van die belangrikste ontdekkings van die psigoanalise, naamlik die bestaan van die onbewuste. Die "sprekende subjek" is dus nie 'n afgeronde, onveranderlike, samehangende eenheid nie, maar word bepaal deur verskillende, selfs teenstrydige impulse; liggaamlike, verdronge herinneringe en maatskaplike invloede (Brügmann 1982:18). Moi (1994:152) skryf: "Without the divided, decentred, over-determined and differential notion of the subject […] Kristevan semiotics is unthinkable". Kristeva (1980a:24) beskou die "sprekende subjek" as die plek of posisie, nie net van taalstruktuur en die voortdurende transformasie daarvan nie, maar ook van die verlies daaraan. Taal is dus vir haar 'n komplekse proses van betekening, eerder as 'n monologiese sisteem. Sy (1980a:27) skryf: "[T]here is also speech, discourse, and within them, a causality

Uit haar doktorale proefskrif Revolution in Poetic Language (La Révolution du language

poé-tique), wat sy in 1974 in Parys publiseer, blyk die invloed van Lacan se denke op Kristeva se

taalbeskouing as sy die onderskeid wat hy maak tussen die simboliese orde en die imaginêre as 't ware vertaal na 'n onderskeid tussen, wat sy noem, die "simboliese" en die "semiotiese" (Moi 1985:161). Die simboliese word geassosieer met die vader, die domein van Lacan se "Law of the Father"; die semiotiese word verbind met die moeder (Moi 1994:165).

Die simboliese element van taal is te vinde in die grammatika of die sintaksis, terwyl die semiotiese verstaan word as dié deel van die totstandkoming van taal wat nog nie grammatikaal gestruktureerd is nie en uit die klank- en ritmekomponent van taal bestaan. Volgens Burke (1985:111) assosieer Kristeva die semiotiese met dié stadium in 'n kind se ontwikkeling wanneer die wêreld deur middel van die moeder se liggaam beleef word. Burke (1985:111) skryf: "The semiotic [...] is in close alliance with the unconscious and expresses itself as the organization of instinctual drives through the resources of rhythm, intonation, gesture, and melody". Hierdie nimmereindigende instinktiewe drange of impulse word saamgevat in wat Kristeva die chora noem. Die chora is nie 'n posisie of 'n teken nie, maar word deur Kristeva (1984:25) omskryf as "an essentially mobile and extremely provisional articulation constituted by movements and their ephemeral stases. [...] Neither model nor copy, the chora [...] is analogous only to vocal or kinetic rhythm." Ter illustrasie verwys sy na die sagte klanke en skommelende ritmes wat 'n moeder teenoor haar kind gebruik wanneer sy haar aan die slaap sus.

Dit word telkens benadruk dat beide die simboliese en die semiotiese altyd saam in taal aanwesig is. In verskillende tekste kan die een egter groter prominensie kry as die ander. Hieroor skryf Kristeva (1984:24):

These two modalities are inseparable within the signifying process that constitutes language, and the dialectic between them determines the type of discourse (narrative, metalanguage, theory, poetry, etc.) involved; in other words, so called "natural"11 language allows for different modes of articulation of the semiotic and the symbolic.

11

Kristeva plaas "natuurlike" taal teenoor nieverbale betekeningsisteme (soos musiek) wat, volgens haar, uitsluitlik op die basis van die semiotiese gekonstrueer is. Sy gee egter toe dat uitsluiting of eksklusiwiteit relatief is, juis vanweë die dialektiese aard van die twee modaliteite van die proses van betekening waardeur die subjek tot stand kom. Sy (1984:24) skryf: "Because the subject is always both semiotic and symbolic, no signifying system he produces can be either ‘exclusively' semiotic or ‘exclusively' symbolic".

'n Poëtiese teks, byvoorbeeld, sou dus meer semiotiese elemente bevat, soos 'n spel met klank en ritmes, terwyl 'n wetenskaplike teks weer meer na die simboliese sou oorhel. Kristeva (1984:29) fokus in haar analises hoofsaaklik op die werke van avant-garde skrywers, omdat sy in hierdie tekste voorstellings aantref van "the semiotic rhythm within language". Met verwysing na Mallarmé praat sy (1984:30) van "the 'mysterious' functioning of literature as a rhythm made intelligible by syntax", waardeur sy ook kommentaar lewer op die wisselwerking tussen die semiotiese en die simboliese. Volgens Kristeva is dit die manifestasies van die semiotiese – ritme, stiltes, hiate in die teks, die kondensasie van verskillende diskoerse in dieselfde teks – wat die simboliese orde omverwerp. Die dryfkrag onderliggend aan hierdie ondermynende praktyke noem sy jouissance, wat dui op totaliteit van genieting – seksueel, spiritueel, fisiek en konseptueel. Jouissance kan nie tot uitdrukking kom binne die simboliese of taalkundige reëls nie. Kristeva (1986a:165) skryf soos volg hieroor:

All these modifications in the linguistic fabric are the sign of a force that has not been grasped by the linguistic or ideological system. This signification renewed, "infinitized" by the rhythm in a text, this precisely is (sexual) pleasure (la jouissance).

Kristeva het die feministiese teorie beïnvloed deur haar noukeurige analise van die manier waarop die vroulike in die Westerse samelewing gemanipuleer word ten einde die patriargale denksisteem in stand te hou. Sy benadruk dat hierdie praktyk onlosmaaklik verbonde is aan die verontagsaming van die rol van die Moeder en moeders. In haar essay "Stabat Mater" (oorspronklik gepubliseer onder die titel "L'Héréthique de l'amour" ["Love's Heretical Ethics"] in 1977) analiseer Kristeva die simboliese funksie van die Maagd Maria as argetipe van die moeder. Aan die hand van die analise lewer sy ook kommentaar op die konseptuele en sosiale beperkinge waaraan "moederskap" binne die Westerse kultuur onderwerp word, grootliks vanweë 'n wanbegrip van die kompleksiteite wat met die ervaring van moederskap gepaard gaan (Burke 1990:113). Hieroor skryf Kristeva (1986b:179):

There might doubtless be a way to approach the dark area that motherhood constitutes for a woman; one needs to listen, more carefully than ever, to what mothers are saying today, through their economic difficulties and, beyond the guilt that a too existentialist feminism handed down, through their discomforts, insomnias, joys, angers, desires, pains and pleasures …

Naas haar poging om die "flesh, language and jouissance" (Kristeva 1986b:185) van vroue en moeders hoorbaar te maak, plaas Kristeva ook 'n sterk klem op die semiotiese band en die allesomvattende verhouding met die moeder. Om te praat, om taal te besig, is vir Kristeva (soos vir Lacan) die implisiete erkenning van die Wet van die Vader en van 'n verdeeldheid, 'n gemis. Elke taaluiting gaan noodwendig gepaard met 'n gesublimeerde liggaamlike verlange (Buikema 1995:100-101). In "Women's Time" (1986) word die verhouding met die moeder, nadat die band van semiotiese eenheid met die moeder verbreek is, simbolies van die radikale verlies aan heelheid, die splitsing van die subjek, wat die prys is wat betaal word vir die verwerwing van taal. Kristeva beskou die fallus dus nie soos Lacan as verteenwoordigend van hierdie verlies of leemte nie (Braidotti 1991: 237).

Volgens Kristeva kan die vrou getransformeer word tot 'n revolusionêre subjek deurdat sy 'n positiewe posisie inneem teenoor die semiotiese of die pre-Oedipale verhouding tot die moeder se liggaam wat, in Lacan se taal, ook die presimboliese orde genoem sou kon word. Sy beskou die simboliese stilte van die vrou as die basis van die kapitalistiese samelewing. Sy neem 'n politieke besluit om dié stilte te valoriseer deur dit in verband te bring met pre-simboliese prosesse en die onbewuste. Die moontlikheid van 'n ware revolusie in die struk-ture van menslike – en veral vroulike – subjektiwiteit, berus, volgens Kristeva, op die toe-eiening van die krag van die moeder, ten koste van dominansie deur die fallus (Braidotti 1991:229-230).

Deurdat sy die terme van die sosiale kontrak in die verhouding met die moeder aanvaar, kan Kristeva as 'n ortodokse aanhanger van Lacan beskou word; in die beroep wat sy op vroue doen om die terme waarvolgens hulle deelneem aan die sosio-simboliese orde te heroorweeg, bevind sy haar egter midde-in die feministiese revolusie wat die ondermyning van die simboliese orde ten doel het (Braidotti 1991:237-238). Om saam te vat, kan gesê word dat, vir Kristeva, vroulike spesifisiteit geleë is in die sterk verhouding met die semiotiese wat gelyk gestel kan word aan die presimboliese orde. Die semiotiese verteenwoordig die moontlikheid van radikale ondermyning van die simboliese orde. Die vroulike word dus verhef in dié mate dat dit die moontlikheid vergestalt om die simboliese ketting van die heersende kulturele orde omver te werp (Braidotti 1991:231).

By die ondersoek na die konstruksie van die vroulike subjek binne die konteks van hierdie studie, sal daar aandag gegee word aan, onder andere, die maniere waarop die vier geselekteerde Afrikaanse vrouedigters met taal omgaan in hul poësie en waar van toepassing,

sal hul taalhantering in verband gebring word met Kristeva se beskouing van die semiotiese as dié komponent van taal wat onlosmaaklik aan die moeder verbind is en die potensiaal het om die simboliese orde, asook die Wet van die Vader wat dit in stand hou, te ondermyn.