• No results found

Die moeder (natuur)-dogterverhouding met die man as implisiete gegewe op

gegewe op die agtergrond

In skrille kontras met die gedigte waarin die tradisionele man-vrouverhouding uitgebeeld word as 'n konteks waarbinne die vroulike subjek aan bande gelê word, is daar gedigte in Rousseau se oeuvre waarin die vrou in haar verhouding tot die natuur uitgebeeld word wat 'n

ander beeld van haar daarstel. Teen die agtergrond van hierdie afdeling word daar ook weer aanvanklik gekyk na gedigte uit die bundel Taxa. Hoewel die vroulike subjek in hierdie gedigte dikwels steeds binne die konteks van haar huis of tuin aangetref word en die teenwoordigheid van die man soms gesuggereer word, is hy nie 'n eksplisiete gegewe binne dié gedigte nie en wil dit voorkom asof die moeder (natuur)-dogterverhouding 'n ander dinamika het as in die gedigte wat in die voorafgaande afdeling bespreek is, ten spyte daarvan dat die bundelkonteks dieselfde is. Ten slotte word daar in dié afdeling ook kortliks gekyk na die moeder (natuur)-dogterverhouding soos wat dit manifesteer, spesifiek in gedigte wat oor die aarde se verval handel, juis omdat hierdie gegewe sentraal staan in die oeuvre. Die seleksie van gedigte wat hanteer word, kom uit Rousseau se latere bundels, naamlik

Kwiksilwersirkel, Heuningsteen en 'n Onbekende jaartal. Die ondergang van die aarde of die

vernietiging van die natuur as tematiese gegewe binne die Rousseau-oeuvre regverdig 'n volledige studie en verleen sigself veral tot 'n ekofeministiese lesing. Binne die beperkte omvang van hierdie afdeling word daar egter nie gepoog om 'n omvattende analise van dié interessante gegewe te doen nie, maar slegs om bepaalde aspekte te belig waar dit op die verhouding tussen "moeder natuur"/"moeder aarde" en die vrou as "haar" dogter betrekking het.

'n Gedig waarin die vrou in verhouding tot die natuur uitgebeeld word sonder die eksplisiete teenwoordigheid van die man, is "Die huisvrou" (p.16) uit die bundel Taxa. Die titel van die gedig laat die vermoede ontstaan dat dit hier om 'n stereotipe beeld van die vrou in die tradisionele rol van tuisteskepper gaan. Die vrou in die gedig word ook binne die bekende ruimte van die kombuis aangetref. Dit is egter reeds uit die staanspoor duidelik dat die inhoud van die gedig kontrasteer met die verwagting wat deur die titel by die leser geskep word.

Die huisvrou

Die huisvrou loop deur die tuin

met haar skêr: die lemme blits en knip. Dan dra sy die drag damaskusrose na die spoelkombuis, waar sy die broos rafelpunte van die stengels kneus, die vaatbundels tretter en versteur en alles in 'n erdebeker skik. Tussen spykers ingedruk, geruk uit hul vertroude lig en landskap, wortelloos, die vloei van hulle sap

Sy neem die heel blomkoolkop. Haar mes gly deur die parenchiem van stronk, blom-aggregaat en steel. Sy dissekteer die weefsel, verdeel die wit, verwikkelde infloressensie in dwergboompies waarmee sy speel 'n oomblik lank, half ingedagte, voor sy die lewe in hul blus

met water van honderd grade Celsius. Sy neem die vis en kap sy stert af, smak dit op die droogplank neer: 'n fyngeribde, silwer waaiertjie. Dan kap haar kapmes die kop af en krap dit opsy: kru afvalstof.

Die dooie oog is soos 'n muntstuk dof. Sy blik bly strak op haar gesig

vanuit die koue bladaluminiumgesig. Sy neem die hartjie van die lammertjie en kloof dit oop: linker- en regter- hartkamers lê voor haar oog ontbloot, weerloos en onteer. Haar lem stoot teen tussenwande waar die slagaarbloed nog lig en dun soos rooi ink klewe. Met 'n snel haal sny sy deur die verwese myterklep. Soos 'n chirurg bedrewe, Terwyl daar êrens in haar wese, onsigbaar vir almal, sel met sel saamsmelt en splits tot nuwe lewe.

Die eerste vier strofes van die gedig word gewy aan die beskrywing van die alledaagse take waarmee die vrou haar in die privaatheid van haar huis en tuin besig hou. Viljoen (2001:55) wys daarop dat hierdie bekende handelinge egter vanuit 'n vervreemdende perspektief beskryf word. In die eerste strofe word die stereotipe prentjie van 'n huisvrou met haar arms vol blomme wat sy pas in haar eie tuin gepluk het en dan met groot sorg rangskik, verwring deurdat die vrou se handelinge in destruktiewe terme beskryf word. Haar skêr se "lemme blits en knip" (r.2), sy "kneus" (r.5) die stingels van die damaskusrose en druk hulle "tussen spykers" (r.8) in 'n erdebeker in. In die tweede strofe word die kombuis getransformeer tot 'n laboratorium (Viljoen 2001:55) waarin die alledaagse taak van blomkool gaarmaak in wetenskaplike terme beskryf word. Haar handelinge bly steeds destruktief as "[h]aar mes gly" (r.13) deur die stronk, blom en steel, sy die weefsel "dissekteer" (r.15) en uiteindelik "die lewe in hul blus" (r.19). Die derde strofe is 'n beskrywing van die gewelddadige wyse waarop die vrou 'n vis voorberei vir die gaarmaakproses. Sy "kap" (r.21) sy stert af, "smak dit op die

droogplank neer" (r.22), "kap […] die kop af / en krap dit opsy" (r.24-25). In die vierde strofe kloof sy 'n skaaphart oop, "[h]aar lem stoot / teen tussenwande (r.32-33) en sy sny "[m]et 'n snel haal" (r.35) deur die myterklep. Die kombuis word in hierdie strofe as 't ware 'n operasiesaal en sy word die "chirurg bedrewe" (r.36). Viljoen (2001:55) wys daarop dat die beskrywing van die private ruimte van die kombuis in terme van ruimtes wat normaalweg met die openbare sfeer geassosieer word en tradisioneel met die man in verband gebring word (vergelyk die laboratorium en die operasiesaal) 'n manier is waarop Rousseau die konvensionele betekenisse en waardes ondermyn wat aan die vroulike ruimte van die kombuis geheg word. Ook haar destruktiewe optrede staan in skrille kontras met die stereotipe beeld van die huisvrou as tuisteskepper en versorger van die gesin. Hierdie kontras word verskerp as dit uit die laaste strofe blyk dat die vrou swanger is – terwyl haar handelinge in die teken van vernietiging en selfs die dood staan, is dit ironies dat nuwe lewe in haar tot stand kom. Hoewel die beeld van die tradisionele huisvrou, soos die titel van die gedig suggereer, nie gehandhaaf word in die gedig nie, is die vrou se optrede ook nie soos dié van die man wat in Rousseau se ander gedigte aangetref word nie. In die vorige afdeling is daar aangetoon hoe die man in haar gedigte telkens die een is wat struktureer en vorm gee, en op hierdie wyse die natuur in bedwang probeer bring. In "Die huisvrou" tree die vrou egter deurlopend gewelddadig op. Anders as die man wat bou, in stand hou en tot stand bring in "Korsmos 2" en "Die laer", en die boek wat uitmekaargeval het, herbind in "Beswering", is die vrou in "Die huisvrou" daarop uit om te vernietig. Dit is opvallend dat haar aksies nie lukraak is nie. Daar is niks toevalligs aan die wyse waarop sy te werk gaan nie. Sy tree berekend op en sonder om te aarsel (vergelyk die wyse waarop haar skêr se lemme "blits en knip" [r.2], hoe haar mes sekuur "gly" [r.13] deur die blomkoolkop, die manier waarop sy die vis se stert en daarna die kop met haar kapmes afkap [r.21-24] en die "snel haal" [r.35] waarmee sy deur die klep van die hart sny). Die vasberadenheid en selfvertroue waarmee sy optree, staan in skrille kontras met die gelatenheid wat in die voorafgaande gedigte deurskemer as haar lewe saam met die man beskryf word. Dit is ironies dat die vrou die ruimte van die kombuis wat tradisioneel dié ruimte is waar sy ingeperk word deur konvensionele opvattings van vrouwees, vir haarself toe-eien as die domein waar sy juis nié die stereotipe rol van die versorgende huisvrou inneem nie. Sy vereenselwig haar egter ook nie met die tradisionele subjekposisie van die man as die een wat orde uit die chaos tot stand bring nie; inteendeel, sy tree gewelddadig en destruktief op en bring verwoesting en uiteindelik selfs die dood (vergelyk die damaskusrose wat "[t]ussen spykers ingedruk" [r.8] wegkwyn, omdat "die vloei van hulle sap / belemmer"

[r.10-11] is, die wyse waarop die vrou "die lewe in [die dwergboompies van die blomkool] blus" [r.19], die "dooie oog" [r.26] van die vis nadat die vrou die kop afgekap het en die wyse waarop sy die hart van die lammertjie oopkloof [r.30] en dit verder dissekteer).

Dit is betekenisvol dat die vrou 'n skêr en 'n mes kies as haar toerusting, aangesien dit uitsluitlik aangewend kan word om te verdeel en uitmekaar te haal. Die moontlikheid van struktureer en vorm gee, bestaan dus nie vir haar, soos vir die man wat met hamer, tang en skroewe (vergelyk "Korsmos 2"), en gutsbeitel, afskuinsmes en veerpasser (vergelyk "Beswering") te werk gaan nie. Dit is met die eerste oogopslag ironies dat die vrou juis 'n mes kies om haar handelinge van dié van die man te onderskei, aangesien 'n mes ook as 'n falliese simbool beskou sou kon word en die gebruik daarvan identifikasie met die man sou kon suggereer. Dit is egter opvallend dat die vrou nooit die mes of skêr gebruik om mee te steek nie. Die woord "steek" wat, onder andere, beteken om te "stoot met iets puntigs" (Nasionale woordeboek 1987) word ook as 'n slengwoord gebruik om na geslagsomgang te verwys. By die vrou se handelinge val die klem eerder op die vermoë van die "lemme" (wat reeds in die tweede reël van die gedig eksplisiet genoem word) om te sny. Dit is deur te knip, te verdeel, te kap, opsy te krap, oop te kloof en te sny dat sy haar van die man onderskei. Net soos die ruimte van die kombuis in die gedig gestroop word van die tradisionele waarde wat normaalweg daaraan toegeken word, verkry die mes binne dié konteks ook in die hande van die vrou 'n ander betekeniswaarde as dié van falliese simbool. Binne die raamwerk van dié studie sou daar selfs beweer kon word dat die vrou se sny-aksies op implisiete wyse assosiasies met die vroulike geslag oproep. Volgens Freud (1931b:273) ontstaan die vrees vir kastrasie in die jong seun as hy by die aanskoue van die vroulike geslag die afleiding maak dat die penis afgesny is. Meany (1993:40) verwys ook na die vroulike geslag as "the wound of castration". Ook Paglia (1990:48) verwys na die visuele ooreenkoms tussen die vroulike geslagsorgaan en 'n meswond. Sy vestig die aandag daarop dat die slengwoorde "slash" en "gash" gebruik word om na die vroulike geslag te verwys. In sy studie oor seksuele fiksie verwys Charney (1990:18) daarna dat die vroulike geslag dikwels as "hole", "gap" en "slit" beskryf word. Die meswonde wat in die gedig neerslag kry, sou dus as simbolies vir die vroulike geslag beskou kon word.

Daar sou beweer kon word dat die vrou in die gedig besig is om die vroulike kondisie, soos wat dit in die patriargie aangetref word, op haar omgewing oor te dra. Met die bekende ruimte van die kombuis as agtergrond, speel sy as 't ware haar eie kastrasie en ontmagtiging

na te boots, sou in verband gebring kon word met Irigaray (1985c:76) se beskouing van mimesis as 'n manier waarop vroue die patriargale orde kan ondermyn. Sy voer aan dat dit onmoontlik is om die patriargale orde omver te werp deur die simboliese betekenisse wat aan vroue toegeken word, te probeer omkeer of ontken. Whitford (1991:70) beaam dié siening as sy in aansluiting by Irigaray beweer dat "one cannot simply step outside phallogocentrism, simply reverse the symbolism". Hoewel Irigaray, wanneer sy dit oor mimesis het, hoofsaaklik die wyse in gedagte het waarop vroue met taal omgaan, sou haar siening oor hierdie potensieel ondermynende strategie ook op die handelinge van die vrou in die onderhawige Rousseau-gedig van toepassing gemaak kon word. Irigaray (1985c:76) skryf:

One must assume the feminine role deliberately. Which means already to convert a form of subordination into an affirmation, and thus to begin to thwart it. […] To play with mimesis is thus, for a woman, to try to recover the place of her exploitation […] without allowing herself to be simply reduced to it. It means to resubmit herself – inasmuch as she is on the side of the "perceptible", of "matter" – to "ideas", in particular to ideas about herself, that are elaborated in / by a masculine logic, but so as to make "visible", by an effect of […] repetition, what was supposed to remain invisible.

Die berekende en doelgerigte wyse waarop die vrou in die gedig haar take in die kombuis uitvoer, is reeds vroeër belig. Daar sou beweer kon word dat sy op byna aggressiewe wyse die tradisionele rol van die vrou vir haarself toe-eien. In die wyse waarop sy die stereotipe take uitvoer wat sigself normaalweg in die kombuis voltrek, is daar reeds 'n vorm van verset te bespeur deurdat sy nie meer die onderdanige huisvrou is nie, maar selfgeldend optree. Die mimesis waarom dit hier gaan, is egter nie beperk tot die berekende vertolking van die vroulike rol in die kombuis nie, maar sluit ook die visuele uitbeelding van die ontmagtiging van die vrou in, soos dit in elke strofe gestalte kry wanneer die vrou haar skêr of mes gebruik om te knip, te kap, te sny of oop te kloof. Die vrou se weerloosheid binne die patriargale bestel word as 't ware blootgelê deurdat dit oorgedra word op die damaskusrose, die vis en die hart van die lammertjie. In die eerste strofe word daar dan ook verwys na "die broos / rafelpunte van die stengels" (r.4-5), terwyl die vis se stert in strofe 3 beskryf word as "'n fyngeribde, silwer waaiertjie (r.23), wat 'n broosheid aan die andersins byna makabere toneel verleen. Dit is verder opvallend dat die verkleiningsvorme in strofe vier gebruik word om na die "hartjie van die lammertjie" (r.29) te verwys, wat aansluit by die gedagte dat die hartkamers "weerloos en onteer" (r.32) voor haar oog ontbloot lê. In die bekende dinge

waarmee die vrou haar in die kombuis besig hou, word die attribute herkenbaar wat normaalweg met die "gekastreerde" of ontmagtigde vrou geassosieer sou word. Deur haar handelinge maak sy, om Irigaray se woorde te gebruik, dit wat onsigbaar is, sigbaar – in hierdie geval die vroulike kondisie binne die patriargale bestel.

Die vrou in die gedig mimeer ook nie net die vroulike kondisie nie, maar onthul deur haar aksies, soos reeds hierbo aangetoon, ook die vroulike geslag. Omdat dit in die gedig in die eerste instansie oor die vrou se kap- en sny-aksies gaan wat eksplisiete assosiasies met kastrasie het, lyk dit asof die beeld van die vroulike geslag wat voor die gees geroep word, ooreenstem met Freud se siening daarvan as die leemte wat gelaat word nadat kastrasie plaasgevind het. Irigaray (1993:405) skryf hieroor:

Woman's castration is defined ... as her having nothing. In her having nothing penile, in seeing that she has No Thing. Nothing like man.

Die vrou word dus gedefinieer in terme van iets wat ontbreek en die vroulike geslagsorgaan word beskou as "sexual void" (Iragaray 1993:405). Die teendeel is egter ook moontlik van die toneel wat sigself in die gedig uitspeel, naamlik dat die vrou in die gedig, deur middel van mimesis, hierdie niksheid of leemte (die vroulike geslag wat by uitstek beskou word as dit wat onsigbaar is) sigbaar maak en dat haar handelinge, ofskoon op implisiete wyse, 'n bevestiging ("affirmation") van die vroulike liggaam is.

Dit is betekenisvol binne die konteks van hierdie studie wat gemoeid is met die konstruksie van die vroulike subjek en die rol wat die moeder-dogterverhouding (in hierdie subafdeling spesifiek die moeder (natuur)-dogterverhouding) hierin speel, dat daar 'n verband gelê kan word tussen mimesis en die reproduktiewe vermoë van die vrou. Irigaray (1985c:77) skryf hieroor:

Is not the "first" stake in mimesis that of re-producing (from) nature? Of giving it form in order to approriate it for oneself? As guardians of "nature", are not women the ones who maintain, thus who make possible, the resource of mimesis? […] Re-semblance cannot do without red blood. Mother-matter-nature must go on forever nourishing speculation.

Die moeder (natuur)-dogterverhouding, of wat Irigaray noem, die vrou se "reproducing (from) nature", kry op verskillende wyses gestalte in die Rousseau-gedig. Aan die een kant is daar die laaste strofe van die gedig waaruit dit blyk dat die vrou swanger is (vergelyk "Terwyl daar êrens in haar wese, / […] sel met sel / saamsmelt en splits tot nuwe lewe"). Hierdie gegewe staan in skrille kontras met die voorafgaande vier strofes wat staan in die teken van vernietiging en die dood. Dit mag wees dat daar met dié verrassend ironiese slotstrofe gesuggereer wil word dat die vrou in die gedig, ten spyte van haar pogings van verset teen die tradisionele rol wat aan haar toegeken word deur die patriargale bestel waarin sy haar bevind, nie aan haar verbondenheid met die natuur en haar rol as moeder en versorger kan ontsnap nie. Die bloed waarvan daar in die voorlaaste strofe sprake is wat "lig en dun soos rooi ink klewe" (r.34) sou dan, vanweë die assosiasies wat daardeur opgeroep word met menstruele bloed, as 'n vooruitwysing gelees kon word na die vrou se biologiese verbondenheid met die natuur wat blyk uit die slot. Dit is dan ook inderdaad so dat die beeld van die vrou wat in die laaste strofe van die gedig aangetref word, verband hou met die tradisionele siening van "moeder natuur" as die een wat lewe voortbring en onderhou.

Die vrou in die gedig se "re-producing (from) nature" of "re-semblance" is egter nie net beperk tot haar swangerskap nie. Binne die konteks van die Rousseau-oeuvre, kan die vrou se handelinge soos wat dit deurgaans in die gedig aangetref word (met ander woorde reeds vanaf die eerste strofe) beskou word as 'n nabootsing van "moeder natuur". Die siening van "moeder natuur" in die Rousseau-oeuvre is nie beperk tot die tradisionele beskouing daarvan as die bron van alle lewe nie, maar beklemtoon juis die paradokse wat in die aard van "moeder natuur" opgesluit lê. Soos vroeër aangetoon, is daar talle gedigte waarin die natuur as destruktief beleef word en waarin die vernietigende magte in die natuur voorop staan (vergelyk weer "Dzouadzi" [p.23] en "Die vleisvark" [p.36] uit Taxa; "Verstilling" [p.12] en "Vraat" [p.47] uit Kwiksilwersirkel en "Voorgevoel" [p.35] uit die bundel Heuningsteen). Die vrou se destruktiewe optrede in "Die huisvrou" sou dus beskou kon word as die nabootsing of "re-semblance" van die geweld wat in die natuur aangetref word.

Indien daar teen die agtergrond van die gedig-analises uit die voorafgaande afdeling met hierdie interpretasie van "Die huisvrou" volstaan sou word, is die indruk wat geskep word dat dit in die Rousseau-oeuvre, onder andere, gaan om die binêre opposisie manlike "beskaafdheid" (dit is hy wat struktureer en vorm gee) teenoor vroulike "natuurlikheid" (sy boots "moeder natuur" na). 'n Verdere afleiding sou kon wees dat die vroulike "natuurlikheid" gestalte kry in 'n moeder (natuur)-dogterverhouding wat hoofsaaklik daarop

berus dat die dogter, of die vrou in die gedig, met "moeder natuur" identifiseer deurdat sy enersyds vernietigend optree, maar andersyds ook die gewer van nuwe lewe is. Ook die moeder (natuur)-dogterverhouding berus dus oënskynlik op 'n dualisme deurdat twee opponerende eienskappe van "moeder natuur" op die vrou oorgedra word. Dit lyk dus asof die binêre denksisteem wat, soos reeds aangedui in Hoofstuk 1, volgens Cixous en Irigaray onderliggend is aan die taal van die patriargale bestel, in bogenoemde gedigte van Rousseau in stand gehou word.

By die nadere bestudering van die Rousseau-oeuvre, en veral met spesifieke verwysing na die