• No results found

Die man as die bewaker van die patriargie, die vrou en moeder (natuur) – 'n

Die gedigte wat vir die doel van hierdie onderafdeling geselekteer word vir analise, is in die eerste plek geïdentifiseer op grond van tematiese oorwegings: die man-vrouverhouding moet gestalte kry in die gedigte en die natuurgegewe moet ook tot 'n mindere of meerdere mate in die gedigte figureer. Die motivering vir hierdie keuse van gedigte is geleë in die hipotese dat die moeder (natuur)-dogterverhouding in die Rousseau-oeuvre in gedigte waarin die man teenwoordig is en in 'n bepaalde verhouding – gewoonlik die huwelik – met die vrou staan, 'n ander dinamika het as wanneer die man afwesig is of sy teenwoordigheid verswyg word. Die moeder (natuur)-dogterverhouding, sonder die eksplisiete aanwesigheid van die man, word ook hanteer in die onderafdeling wat hierop volg. Die vraag wat noodwendig binne die konteks van hierdie studie gevra moet word in aansluiting by die genoemde hipotese, is of die

konstruksie van die vroulike subjek hoegenaamd beïnvloed word deur die man se teenwoordigheid al dan nie, en in watter mate die vroulike subjek wat in die betrokke gedigte gekonstrueer word as subversief beskou sou kon word.

Soos reeds aangetoon is die natuurgegewe deurgaans baie prominent in die Rousseau-oeuvre. Die man-vrouverhouding kom ook geredelik aan bod (vergelyk "Foedraal" [p.17] en "Erkenning" [p.19] uit Kwiksilwersirkel; "Spil" [p.12], "Onguns" [p.13] en "Kalwerliefde" [p.31] uit Heuningstee; asook "'n Beroofde 1, 2 en 3" [p.12-14] en "Eva" [p.21] uit

Grotwater). Dit is egter veral in Taxa dat "die huwelik […] op 'n treffend eiesoortige wyse

vergestalt" word (Spies 1989:71). Ná Die verlate tuin, wat sestien jaar vantevore verskyn het, is Taxa die bundel wat as 't ware die res van die Rousseau-oeuvre inlei en word dit ook, soos reeds vroeër aangetoon, beskou as een van die bundels wat die begin van 'n bloeitydperk vir die Afrikaanse vrouedigter aandui. As sodanig geniet hierdie bundel 'n bepaalde prominensie en word dit selfs met die verskyning van Rousseau se latere bundels steeds beskou as "in alle opsigte 'n besondere bundel" (Olivier 1979a:7) en "die hoogtepunt van haar werk" (Cloete 1990b:10). Die gedigte in Taxa gee in 'n sekere sin die toon aan vir haar latere bundels, en resensente wys ook op temas, motiewe en procédés uit hierdie bundel wat by herhaling later in haar oeuvre terugkeer (Cloete 1990b:10; Johl 1979:3; Olivier 1981a:13). Gegewe die belangrike plek wat Taxa in die Rousseau-oeuvre inneem, word daar in die ondersoek na die verhouding tussen die man, vrou en "moeder natuur" hoofsaaklik gefokus op die huweliksgedigte wat die bundel kenmerk en dan spesifiek daardie gedigte waarin die man-vrouverhouding in noue aansluiting by die natuurgegewe ter sprake kom. Ten slotte sal daar ook gekyk word na 'n enkele huweliksgedig uit Rousseau se latere bundel, 'n Onbekende

jaartal. Hierdie gedig toon tematiese ooreenkomste met die Taxa-gedigte en indien daar

sprake van verskille in die man-vrou-natuur-dinamika op dié latere moment in die Rousseau-oeuvre sou wees, is die verwagting dat dit aan die hand van die besondere gedig uitgewys sou kon word.

Dit is opvallend dat die man in vier opeenvolgende gedigte aan die begin van die bundel Taxa heel spesifiek uitgebeeld word as die een wat struktureer en vorm gee. In "Korsmos 2" (p.10) "hou hy die huis / se struktuur in stand" (r.1-2). In "Die laer" (p.11) bring hy uit "die onvaste, selfs die verraderlike van die natuur" (Ohlhoff 1983:45), naamlik "[d]ryfsand" (r.1), die stewige, onbeweeglike "berge" (r.5) tot stand. Die man rig 'n ondeurdringbare "barrikade" (r.15) op waarbinne hy 'n volmaak beskutte lewensruimte vir hom en die vroulike spreker in die gedig tot stand bring. Ook in "Vrou voor 'n hakkebord" (p.12) begin die klankstrukture

wat deur die vrou voortgebring word, ironies genoeg, by die man wat sit en luister na haar uitvoering op dié musiekinstrument, en in die slotreëls neem hy met 'n kopknik dit "wat hy verwek het in ontvangs". In "Beswering" (p.14) beskryf die spreker in die gedig die wyse waarop die man 'n boek herbind wat uitmekaar geval het om daaraan weer 'n "saamgebondenheid" (r.14) te gee.

Dit is interessant dat Cloete (1980:136) oor hierdie gedigte sê dat hulle handel oor twee mense wat 'n struktuur (naamlik 'n huishouding) in stand hou, en spesifiek oor "Die laer" opmerk: "Weer is dit 'n man en vrou wat hier saamwerk", terwyl dit hier uitsluitlik die man is wat skep en tot stand bring. Later merk Cloete wel op dat dit eintlik die man is wat in "Korsmos 2", "Die laer" en "Beswering" die inisiatief neem, maar hy voeg by dat die vrou wel die inisiatief neem in "Vrou voor 'n hakkebord". Ook die laaste opmerking is te bevraagteken, aangesien dit eksplisiet gestel word dat die klankstrukture by die man begin en eindig; vergelyk "by hom begin die klankstrukture, dans / in 'n sirkel met my hande / en met die hamers langs / weer na hom t'rug" (r.28-32). Verder word die man ook in die slotreël gesien as die een wat die musiek "verwek" het.

Die man word in hierdie vier gedigte in sy tradisionele rol as die aktiewe, sterkere persoon in die man-vrouverhouding aan die leser voorgehou, terwyl die vroulike spreker telkens 'n meer passiewe rol inneem. In "Korsmos 2" word daar wel drie reëls aan haar gewy as die een wat die huis se vure in stand hou en die kos voorberei, maar in "Die laer" en in "Beswering" is sy totaal passief in vergelyking met die man. Selfs in "Vrou voor 'n hakkebord" neem die vroulike spreker in die gedig byna nie eienaarskap van die musiek wat sy voortbring nie. Soos reeds aangetoon, beskou sy die man as die begin en die einde van haar kreatiewe skeppingsproses. Die binêre opposisie aktief/passief wat, volgens Cixous (1986d:91), onderliggend daaraan ook die hiërargiese opposisie superieur/inferieur het, en altyd binne die konteks van die patriargale simboliese orde met die man/vrou-paar in verband gebring kan word, is 'n prominente gegewe in hierdie vier gedigte. Die vraag kan gevra word of dié opposisie in die gedigte van Rousseau blindelings in stand gehou word en die vroulike subjek haar gelate aan die patriargale orde onderwerp, en of daar sprake is van 'n poging om uit die hiërargie te ontsnap.

'n Gedig uit dieselfde bundel (Taxa) wat tematies by bogenoemde vier gedigte aansluit, en waarin die hiërargiese, binêre opposisie aktief/passief ook eksplisiet hanteer word, is "Takrivier" (p.62):

Takrivier

Bedoel vir die dolomietwoestyn, vir die klinkende klipwêreld, vaag dolend op die landkaart – 'n dowwe ink-lyntjie, 'n fyn veseltjie van die papiergrein? – Word sy gevind deur die sterkere, wat haar lewe met syne verenig en haar deel maak van 'n mirakel van snelstrome en watervalle, en haar stu, en haar inskakel by skemas van ongehoorde gewigtigheid: Ryk nedersettings verrys op die walle,

en waar daar 'n ongestoorde vlak van vaal aarde was, word sy nou byna verblind deur lemoen- en nartjieboorde se brandende son-oranje.

Dit is opvallend dat die takrivier waarom dit in hierdie gedig gaan as vroulik geteken word, soos blyk uit die vroulike voornaamwoorde "sy" en "haar" wat deurgaans gebruik word om na dié takrivier te verwys. Die manlike besitlike voornaamwoord "syne" kom slegs een keer voor (r.7) en verwys na "die sterkere" wat in die voorafgaande reël genoem word. Hoewel dit nie eksplisiet in die gedig genoem word nie, is die afleiding dat "die sterkere" wat hier as synde manlik voorgehou word, op die rivier of hoofstroom dui waarby die takrivier aansluit. In sy bespreking van Rousseau se oeuvre in Die Afrikaanse literatuur sedert sestig lees Cloete (1980:142) hierdie gedig saam met die gedigte waarmee Taxa begin. Hy skryf:

Die voorlaaste gedig in die bundel, "Takrivier", is weer, soos die gedigte uit die begin, 'n liefdesvers, waarin die swakkere vrou se liefde vir die man haar "inskakel" by die sterkere man; haar lewe word "verenig" met dié van die man wat haar "deel maak" van die groot wêreld.

Dit is interessant dat Cloete hierdie gedig as 'n liefdesvers beskou, en dat hy aanvoer dat dit die vrou se liefde vir haar man is wat haar inskakel by sy wêreld, veral aangesien daar nooit eksplisiet na liefde verwys word in die gedig nie. Ohlhoff (1983:46) wys daarop dat die takrivier se bestaan "van die eerste woorde af […] as passief geteken [word]" en dat passiefkonstruksies gebruik word om haar te beskryf, terwyl die hoofstroom (wat die man is) aktief optree: "[D]eur die een na die ander oorganklike werkwoord in aktief-konstruksies

word die feit dat hy beïnvloed en tot stand bring, beklemtoon". Dit is dus eerder die hoofstroom wat die takrivier, of dan die man wat die vrou, by hom inskakel, en nie soseer die vrou se liefde wat haar daartoe dring nie.

Die vraag kan weer gevra word of die vrou haar die rol wat aan haar toegeken word deur die man laat welgeval en of die prentjie wat hier geskets word, nie dalk minder idillies is as wat Cloete beweer nie. Reeds die eerste woord van die gedig, "[b]edoel", wat onder andere verklaar word met "as doel hê" (Nasionale woordeboek 1987), suggereer dat die takrivier as 't ware vir die "klipwêreld" (r.2) bestem is en daar tuis hoort. Sy word egter "gevind deur die sterkere" (r.6) wat nie net impliseer dat sy die swakkere is nie, maar moontlik ook daarop dui dat sy geen verweer het teen die wyse waarop hy haar lewe met syne verenig nie. Die woord "ongehoorde" in die bevoorregte eindrymposisie in reël 11 het ook nie 'n positiewe betekeniswaarde nie, maar sinspeel daarop dat dit buitensporig of onvanpas is dat die takrivier deur die hoofstroom by gewigtige "skemas" (r.11) ingeskakel word. As sodanig kontrasteer dié woord skerp met die gedagte aan die begin van die gedig dat die takrivier "[b]edoel" was vir 'n ander wêreld. Dit is asof dié woord suggereer dat waar sy haar nou deur die man se toedoen bevind, nie is hoe dit bedoel was om te wees nie.

Die verwysing na "skemas van ongehoorde / gewigtigheid" (r.11-12) dui in die eerste plek op die "ryk nedersettings" (r.12) en "lemoen- en nartjieboorde" (r.17) wat op die walle van die rivier tot stand gekom het en waarmee die takrivier haar nie kan vereenselwig nie (vergelyk "byna verblind" [r.16] en "brandende" [r.18]). Die woord "skemas" het egter ook assosiasies met die wêreld van die digkuns, deurdat dit die woord "rymskemas" onwillekeurig voor die gees roep. Die verwysing na "– 'n Dowwe ink-lyntjie, 'n fyn / veseltjie van die papiergrein? – " wat as interpolasie aan die einde van die eerste strofe die gedagtegang in die gedig versteur, verwys in die eerste plek na die rivier op 'n kaart, maar versterk ook die gedagte dat die skryfproses in gedagte gehou moet word by die lees van die gedig, hoewel dit nie die sentrale tema van die gedig is nie. Dit is byna asof daar gesuggereer word dat die takrivier se lyntjie op papier, of dan die vroulike skryfkuns, minderwaardig is in vergelyking met dié van die man. Die vraagteken aan die einde van die interpolasie sou beskou kon word as 'n aanduiding van die vrou se onsekerheid en minderwaardigheidsgevoel oor haar skryfvermoë. 'n Ander interpretasie kan egter wees dat dié retoriese vraag juis dui op verontwaardiging by die vrou dat daar neergesien word op die wyse waarop sy haarself tot uitdrukking bring of as takrivier gestalte kry op papier. Die suggestie kan wees dat sy sou verkies om as gemarginaliseerde (in

spesifiek as vrou haarself op eiesoortige wyse te (be)skryf, maar dat sy as 't ware teen haar wil deel gemaak word van die konvensies van die hoofstroom-digkuns waarvan die (rym)skemas ongehoord gewigtig is. Dit wil voorkom asof dit veral die streng struktuur en gemaaktheid (die "lemoen- en nartjieboorde" [r.17] waarvan daar later in die gedig sprake is, sluit aan by die gedagte van orde en struktuur) van konvensionele poësie is waarmee die spreker nie wil identifiseer nie.

Kristeva (1986a:166) wys daarop dat dit een van die dilemmas is waarmee vroueskrywers gekonfronteer word, naamlik dat hulle binne die heersende patriargale bestel 'n keuse moet uitoefen tussen twee uiterstes: die toetrede tot die simboliese orde waardeur hulle erkenning gee aan falliese dominansie wat geassosieer word met die bevoorregte vader-dogter-verhouding en in verband gebring word met gewigtige sake soos meesterskap, die wetenskap en die filosofie, óf die ontvlugting van enige vorm van falliese oorheersing om uiteindelik skuiling te vind in, wat Kristeva noem, "a silent underwater body" (1986a:166) en sodoende as 't ware te verdwyn uit die geskiedenis. Kristeva (1986a:166) beskryf die rol van die vroueskrywer soos volg:

If women have a role to play in this on-going process, it is only in assuming a negative function: reject everything finite, definite, structured, loaded with meaning, in the existing state of society. Such an attitude places women on the side of the explosion of social codes: with revolutionary moments.

Die woord "ongestoorde" (r.14) rym met "ongehoorde", maar het 'n positiewe betekeniswaarde, deurdat dit "sonder steuring" of "rustig" (Nasionale woordeboek 1987) beteken. Die rustigheid van die "vlak van vaal aarde" (r.15) waarin die takrivier haar tuis gevoel het, is versteur en in die slotreëls "word sy nou byna verblind / deur lemoen- en nartjieboorde / se brandende son-oranje". Dit is nie 'n lowergroen, koel paradys wat hier deur die spreker geskets word nie, maar 'n omgewing waarvan die skel kleure haar brand en verblind. Dat die son nie noodwendig 'n positiewe betekeniswaarde binne Rousseau se oeuvre het nie, blyk onder andere uit die gedig "Hierdie liefde" (p.18) uit Kwiksilwersirkel waarin daar gepraat word van "die kwaadwillige lig / van die lenteson" (r.10-11). Binne die konteks van die oeuvre, is die afleiding dat die laaste reëls van "Takrivier" 'n negatiewe ingesteldheid by die spreker verraai ten opsigte van die hoofstroom se uitwerking, nie so vergesog nie, aangesien daar uit talle gedigte 'n weersin blyk "in die allesoorweldigende oordadigheid" (Jacobs 1992:13) wat soms in die natuur aangetref word. In "Die lang somer"

(p.45) ook uit Taxa, byvoorbeeld, walg die spreker van "die ornamentiek / van die pienk rankrose" (r.3-4) en "die suikerige / liedere van lysters" (r.10-11), terwyl sy in "Jakarandatyd '83" (p.15) uit Grotwater die "pastelskakerings" (r.3) van die jakarandabome beskryf as "'n beweginglose / violet en lila hel" (r.7-8). Dit is betekenisvol dat die boorde in "Takrivier" getemde natuur is wat deur die man se toedoen tot stand gekom het. Naas haar afkeer in die verblindende "son-oranje" (r.18) van die boorde, is daar ook 'n weersin in die feit dat die eens "ongestoorde" (r.14) vloedvlak van die rivier versteur is deur mens-/manlike intervensie (vergelyk die "[r]yk nedersettings [wat] / verrys op die walle" [r.12-13] en die "lemoen- en nartjieboorde" [r.17] waarby "die sterkere" [r.6] haar inskakel). Hierdie gedagte vind weerklank in gedigte soos "Die bewerking" (p. 54) ook uit Taxa waarin die man/God 'n tuin (negatief) maak met klippe "wat plante dood" (r.2), "Die vrugbare suurlemoenboom" (p. 29) uit Heuningsteen waarin daar krities verwys word na "die óórnette / tuin se stugheid" (r.7-8) en "Afloop" (p.16) uit 'n Onbekende jaartal waarin die katastrofale gevolge van die mens se ingrype in die natuur verwoord word.

Die vroulike komponent in die gedig "Takrivier" slaag nie daarin om eenwording met die hoofstroom teen te werk nie. Sy veroorsaak nie 'n "explosion of social codes" (Kristeva 1986a:166) nie en hou binne die strukture (en rymskemas) wat aan haar voorgeskryf word. Tog is die gedig nie bloot 'n liefdesgedig waarin die vrou opgaan in haar sterkere man nie. Naas die magteloosheid wat blyk uit die gedig, is daar ook onderliggend 'n kritiese ingesteldheid by die vroulike subjek te bespeur. Sy slaag nie daarin om die strukture van die patriargale simboliese orde te ondermyn nie. Daar sou egter beweer kon word dat haar hunkering na die gestrooptheid van die "dolomietwoestyn" (r.1) en die "klinkende klipwêreld" (r.2), wat binne die konteks van die gedig die ongereptheid en veral ook die onbewerktheid van "moeder natuur" verteenwoordig, 'n aanduiding daarvan is dat die vroulike subjek haar ontuis voel binne die strukture van die patriargie en selfs 'n weersin daarin het. Hoewel sy nie as revolusionêr beskou sou kon word nie, verlang die vroulike subjek by implikasie na eenheid met die moeder (natuur) waarin die potensiaal vir die ondermyning van die patriargale bestel, opgesluit lê volgens die Franse feministe. Hierdie gedagte druis lynreg in teen Camille Paglia se teorie dat die kunstenaar skoonheid noodwendig aan struktuur en orde gelykstel en dat die vrou slegs 'n eie identiteit kan vorm as sy "moeder natuur" oorwin. Die takrivier verloor haarself juis in die hoofstroom en verlang terug na die woestyngebied wat ook geografies nader is aan haar oorsprong (wat weer eens assosiasies met die moeder het).

Bogenoemde interpretasie van "Takrivier" lei die leser daartoe om ook in sommige van die vroeëre Taxa-gedigte waarna hierbo verwys word, sekere nuanses te bespeur wat die bestaande eenduidige interpretasies daarvan as liefdesgedigte wat 'n idilliese man-vrou-verhouding daarstel, teenwerk of ten minste kompliseer. Daar is reeds gesê dat die tradisionele rolle van man en vrou in hierdie gedigte uitgebeeld word, maar of dit deurgaans as die ideaal beskou word deur die spreker in die gedigte, is te bevraagteken.

Korsmos 2

Kyk hoe hou hy die huis Se struktuur in stand, Hou hy byderhand Die hamer en die tang Om daglank te ondersoek, En te herstel, te verstel, Te herstel, te verstel, Te herstel,

Draai hy skroewe vas, Draai hy skroewe los, Vang hy die reënwater op Met 'n ingewikkelde stelsel Van bo- en onderaardse geute, Bakke, kanne, opgaartenks, Draai hy skroewe vas, Draai hy skroewe los – Kyk hoe hou sy die huis Se vure in stand,

Hoe stip berei sy die kos. In glasige streke van ys, In die tropiese moeras, Op pieke van die mees Onherbergsame gneis Deur almal gevrees, Sou hierdie huishouding Presies dieselfde wees.

Die titel van die gedig verwys na 'n soort mos wat gewoonlik op ou mure of rotse voorkom en bestaan uit 'n swam en 'n wier wat in simbiose lewe (Nasionale woordeboek 1987) en waaroor "Korsmos 1" wat die onderhawige gedig voorafgaan, ook handel. Met die lees van "Korsmos 2" word dit duidelik dat dit in hierdie gedig om die interafhanklike saambestaan van 'n man en vrou gaan waarvoor die "alga" en "swam"22 van "Korsmos I" die metafore was. Die titel roep ook, vanweë die klankmatige ooreenkoms daarmee, die woord "kosmos" voor die gees wat

22

"Korsmos I" se aanvangsreëls lui: "Lewenslange verbintenis / swaar van betekenis, / van die alga met die swam".

dui op die heelal. Die suggestie sou moontlik kon wees dat dit wat in die gedig weergegee word wyer van toepassing is as bloot net op die man en vrou binne die konteks van hulle huishouding, soos dit in die eerste strofe van die gedig geteken word.

In "Korsmos 2" word dit eksplisiet gestel dat dit die man is wat "die huis / Se struktuur" (r.1-2) in stand hou. Hierdie gedagte strook met Kristeva se siening dat struktuur en, daarmee saam, die sosiale kodes waarvolgens die samelewing ingerig word, manlik bepaald is. Cloete (1980:138) beweer dat die herhalings, ritme en sintaksis van die gedig die volgehoue kreatiewe krag uitdruk van die saamgestelde magte (van man én vrou). Die herhalings sou egter ook kon dui op 'n nimmereindigende eenselwigheid wat deur die man se byna obsessiewe instandhouding van die huis uitgebeeld word. Dit is inderdaad ook slegs die man se handelinge wat by wyse van herhaling aan bod kom (vergelyk "hou hy byderhand / die hamer en die tang / om daglank te ondersoek / en te herstel, te verstel / te herstel, te verstel / te herstel" [r.3-8] en ook "draai hy skroewe vas, / draai hy skroewe los" in reël 9 en 10 wat in reël 15 en 16 herhaal word), terwyl daar slegs kortliks na die vrou se bereiding van die kos