• No results found

ONTWIKKELINGSTADIA VAN DIE MIDDELKINDERJARE IN OOREENSTEMMING MET DIE INTERMEDIÊRE FASE

3.4 Piaget se kognitiewe ontwikkelingsteorie oor intelligensie

3.4.1 Strukture en prosesse van Piaget se teorie

Die doel van Piaget se teorie oor kognitiewe ontwikkeling is om te verduidelik hoe kinders aanpas by objekte en gebeure in die wêreld interpreteer. Die organisering van kennis is vir kinders ’n groot taak. Piaget was van mening dat kinders ’n aktiewe rol speel in die bemeestering daarvan. Kinders wag nie passief om inligting uit die omgewing in te neem nie. Alhoewel kinders se denkprosesse en konsepsies van die realiteit deur hul ontmoetings met die wêreld rondom hulle gewysig word, soek hulle aktief inligting en pas dit aan by die kennis en konsepsies van die wêreld wat hulle alreeds het en vorm dus hul kennis van die realiteit uit hul eie ervaringe (Hetherington & Parke, 1993:296).

3.4.1.1 Kognitiewe strukture

Volgens Meyer en Van Ede (in Louw, et al., 1998:75) verwys ’n kognitiewe struktuur na die vorm (of patroon) wat kognisie aanneem gedurende elkeen van die stadia van kognitiewe ontwikkeling. Kognitiewe strukture onderlê kognisie en bepaal die kognitiewe gedrag (in Piaget se teorie word hierna as

inhoud verwys) van ’n individu. Piaget het baie klem geplaas op kinders se

organisasie van hul gedrag en kennis in toenemend komplekse strukture (Hetherington & Parke, 1993:296).

Kognitiewe strukture bestaan uit skemas. ’n Skema is die verstandelike voorstelling van ’n gedragspatroon of ’n reeks handelinge (die grypskema verwys byvoorbeeld na ’n reeks handbewegings wat nodig is om iets in die hande te kry). Skemas kan na interne (verstandelike) sowel as fisiese handelinge verwys, byvoorbeeld die suigskema, en die vermenigvuldigingskema (’n verstandelike handeling). Hierdie kognitiewe

skemas vorm saam ’n kognitiewe struktuur. Die oorsprong van skemas is die outomatiese responspatrone of aangebore reflekse (byvoorbeeld die suig- of gryprefleks) waarmee babas gebore word. Hierdie reflekse word verander in skemas deur die interaksie van babas met hul omgewing. Soos babas en kinders opgroei, verander hul kognitiewe skemas en gevolglik ook hul kognitiewe strukture en gedrag (Meyer & Van Ede in Louw, et al., 1998:75). Hetherington en Parke (1993:296) verklaar dat skemas kwalitatief tussen kinders verskil in verskillende ontwikkelingstadia. Die kognitiewe strukture is nie fisiese entiteite in die brein nie, maar eerder verbandhoudende en georganiseerde groepe geheues, denke, handelinge en strategieë wat die kind gebruik om ’n bepaalde situasie te verstaan. Kinders beskik oor baie verskillende skemas en hierdie skemas verander soos die kind ontwikkel. Soos die kind groei en ervaring bekom, is daar ’n geleidelike verskuiwing vanaf skemas wat op overte fisiese aktiwiteite gebaseer is na skemas wat op interne verstandelike aktiwiteite gebaseer is. Piaget noem hierdie verstandelike aktiwiteite van gedragskemas operasies. Operasies word gevorm wanneer die fisies gebaseerde skemas van jonger kinders geïnternaliseer en deel van ’n georganiseerde struktuur word. Operasies kan taamlik kompleks word en kan strategieë, planne, reëls vir probleemoplossing en klassifikasie insluit. Terwyl operasies uiteindelik tot overte fisiese handeling kan lei, word dit gevorm deur ’n georganiseerde stel verstandelike strukture. Hierdie interne strukture wat deur ouer kinders gebruik word, word toenemend ooreenstemmend met dié van volwassenes, en minder ooreenstemmend met die verstandelike operasies van jonger kinders.

Vervolgens sal die kognitiewe prosesse volgens Piaget se siening bespreek word.

3.4.1.2 Kognitiewe prosesse

Piaget het voorgestel dat selfs suigelinge skemas vorm. Die skemas wat egter deur suigelinge se motoriese interaksies met hul omgewing gevorm word, moet ’n mate van transformasie ondergaan wat gepas moet wees vir ouer kinders en volwassenes. Piaget het ook voorgestel dat sekere onaangeleerde beginsels van verwerking van en respondering op ervaring tot ’n volgehoue wysiging van skemas lei. Die belangrikste van hierdie oorgeërfde beginsels is organisasie en adaptasie (Hetherington & Parke, 1993:297). Volgens Meyer en Van Ede (in Louw, et al., 1998:75) verduidelik Piaget kognitiewe funksionering aan die hand van hoe individue met hul omgewing in interaksie tree. Kognitiewe funksionering vind plaas deur twee invariante prosesse, naamlik organisasie en adaptasie, soos

hieronder aangetoon. Invariant beteken dat hierdie prosesse altyd teenwoordig is en nooit verander nie.

Organisasie verwys na die koördinasie en integrasie van kognitiewe skemas om ’n meer komplekse en geïntegreerde kognitiewe struktuur te vorm. Sodoende kan meer handelinge uitgevoer word. Deur organisasie te beklemtoon, wil Piaget daarop wys dat individue holisties, dit wil sê as ’n geïntegreerde geheel, funksioneer (Meyer & Van Ede in Louw, et al., 1998:75; Hetherington & Parker, 1993:297; Bernstein, et al., 1994:49). Ten opsigte van die suigskema kan die baba aanvanklik oor die suigrefleks, kykrefleks en ’n gryprefleks beskik wat onafhanklik funksioneer. Hierdie aparte maar eenvoudige gedrag word geleidelik tot ’n hoërordesisteem georganiseer wat die koördinasie van al hierdie aktiwiteite behels. Na organisering van hierdie drie reflekse tot ’n skema, kan die baba na ’n objek kyk, dit gryp en dit in sy mond plaas om te suig (Hetherington & Parke, 1993:297).

Adaptasie is die proses waardeur individue hulle kognitiewe strukture by omgewingseise aanpas. Hierdie adaptasie of aanpassing lei weer daartoe dat verdere kognitiewe strukture gebou word. Adaptasie behels twee komplementêre (aanvullende) dog interafhanklike prosesse, naamlik assimilasie en akkommodasie. Wanneer assimilasie plaasvind, reageer en interpreteer persone nuwe inkomende inligting in terme van hul reeds bestaande kognitiewe skemas. Inligting vanuit die omgewing word daarom verander om dit in die bestaande kognitiewe skemas te kan inkorporeer. Bestaande kognitiewe skemas verander egter nie. Shaffer (1999:232) beaam hierdie siening van assimilasie. Hy noem die voorbeeld van ’n jong kind wat ’n perd vir die eerste keer sien en probeer om dit te assimileer deur in sy bestaande skemas van vierbenige diere aan hierdie kreatuur as ’n hond te dink. Hy probeer om by hierdie nuwe stimulus aan te pas deur dit as iets bekends te konstrueer.

Akkommodasie is die proses waardeur bestaande kognitiewe skemas en gevolglik ook kognitiewe strukture verander word om nuwe inkomende inligting vanuit die omgewing te inkorporeer. Wanneer persone iets akkommodeer, verander hulle kognitiewe skemas om nuwe insette vanuit die omgewing te inkorporeer. Akkommodasie vind dus plaas wanneer individue met nuwe inligting gekonfronteer word wat hulle nie in terme van hul bestaande kognitiewe skemas kan interpreteer nie (Meyer & Van Ede in Louw, et al., 1998:76). Wanneer die kind besef dat ’n perd nie ’n hond is nie, kan hy ’n naam skep vir hierdie nuwe kreatuur en ’n nuwe etiket gebruik wat hy van sy ouer maats geleen het. Deur dit te doen, wysig

(akkommodeer) hy sy skema vir vierbenige diere om ’n nuwe kategorie ervaringe, naamlik perde, in te sluit (Shaffer, 1999:232).

Alhoewel Piaget tussen assimilasie en akkommodasie onderskei, glo hy dat die twee prosesse saamwerk om kognitiewe ontwikkeling te bevorder. Die twee prosesse kom nie altyd saam voor nie, maar assimilasie van ervaringe wat nie eintlik ooreenstem met die bestaande skemas nie, sal uiteindelik lei tot kognitiewe konflik en die akkommodasie van daardie ervaringe bespoedig. Die eindresultaat is adaptasie, ’n toestand van ekwilibrium tussen die persoon se kognitiewe strukture en die omgewing (Shaffer, 1999:232). Kognitiewe ontwikkeling is dus gebaseer op wysigings in intellektuele strukture wat spruit uit aangebore predisposisies om ervaringe op sekere wyses te organiseer en daarby aan te pas. Hierdie prosesse word by alle normale kinders gevind en werk dwarsdeur die lewensduur (Hetherington & Parke, 1993:297).

Vervolgens sal Piaget se kognitiewe ontwikkelingstadia bespreek word.