• No results found

SPIRITUELE BETEKENIS EN SINBELEWING

DIE TWEEDE BEDRYF: PRAKTIESE TEOLOGIE

HOOFSTUK 2 ’n “WERKENDE” MENS BESKOUING

2.8 SPIRITUELE BETEKENIS EN SINBELEWING

Ten einde laaste het die pastoraat ten doel om te “komen tot verstaan: verstaan van zichzelf, verstaan van elkaar, in het perspectief van het evangelie, opdat mensen weer weten, waartoe zij bestaan” (Bons-Storm 1989:9). Dit wil ons “verstaan van God verbind met reële menslike ervarings sodat ons menslike bestaan of eksistensiële sin mag ontdek” (Louw 1999a:3), en “to develop the theological lens through which we… can understand the human condition and organize an effective pastoral response”

HOOFSTUK 2 - SPIRITUELE BETEKENIS EN SINBELEWING

(Lester 1995:2). Pieterse (1993:5) sluit hierby aan wanneer hy merk dat die pastoraat ten doel het ’n “vertolkende diens wat intermediêr instaan tussen die sprekende Heer in die gewaad van die Skrif, en die deelnemers van die gesprek.” Capps (1993:1) merk dat die taak van die pastoraat daarin lê om mense te help “in locating their personal stories within the framework of the Christian story.”

Vir my persoonlik behels pastorale doelstelling die fasilitering van betekenis en sinbelewing in ’n poging om eksistensiële vraagstukke te kan beantwoord. Die vraag na betekenis en sinbelewing behels nie vir my ooit ’n volledig ‘voltooide proses’ nie. Die sinvraagstuk behels ’n voortdurende proses van herinterpretasie. In elke nuwe lewensituasie of omstandighede word opnuut gepoog om sin te herinterpreteer of te herontdek ten einde in daardie betrokke konteks ’n nuwe sinvolle verstaan te bewerkstellig. Dit gaan om die denke van die menslike situasie en die verstaan daarvan, in terme van daardie geloofstaal: God is hier en ek kan op Hom vertrou. Vir my impliseer die voorafgaande dat ek binne die konteks van ’n persoonlike ontmoeting met God, veilig kan voel om besinnend na te dink oor my eie lewensituasie in ’n poging om sinvolheid te kan beleef met die betrokke betekenis wat ek daaraan toevoeg. Louw (1999a:3) merk in dié verband: “Die pastoraat is ’n hermeneutiese aangeleentheid rakende die kombinasie geloofstaal oor God en ons daaglikse lewenservaring met betrekking tot die vraagstuk na sin.”

Die hele kwessie aangaande die verskillende perspektiewe wat gehandhaaf word omtrent spiritualiteit, en die moeilike definieerbaarheid van die begrip, word volledig in hoofstuk 4 onder die afdeling 4.2 verwoord. Hiér van belang is om te sê dat spiritualiteit moontlik as ’n tipe intelligensie beskryf en begryp kan word (Emmons 1999; 2000; Hyde 2004; Kwilecki 2000; Zohar & Marshall 2000; Adams & Hyde 2008). Die soeke na betekenis en sinbelewing kan moontlik met spirituele intelligensie in verband gebring word (Zohar & Marshall 2000; 2004). Spirituele intelligensie dien dan as ’n transformerende intelligensie, wat met ou paradigmas breek ten einde nuwe paradigmas te skep, om sodoende probleme en situasies in ’n breër en nuwe verwysingsraam te belig (Zohar & Marshall 2004:100). Dit handel dus met die vermoë om ’n eie lewe te transformeer, wat die diepste betekenis en uitlewing van doelwitte

HOOFSTUK 2 - SPIRITUELE BETEKENIS EN SINBELEWING

impliseer (Zohar & Marshall 2004:119), om sodoende sinvolle antwoorde op lewensvraagstukke te genereer.

In aansluiting by die voorafgaande merk Sherburne (2008:104) dat “Spirituality provides the bridge between these seemingly contradictory purposes as one seeks and embraces a changing reality.” Hierdie opmerking word onderstreep deur die navorsingsbevindinge van Wink en Dillon (2002:91), wat dui op ’n toename in spiritualiteit gedurende die middel- en laatvolwasse lewensfase. Wagenseller (1998:266) vertel die verhaal van Jung rakende persone, wat hy op konsulterende wyse bygestaan het: “of all the people who ever came to consult him in the second half of life, no one was ever cured who did not gain a spiritual outlook.” Spiritualiteit lei tot ’n integrasie van die verskeie aspekte van menswees:

’n Integrale spiritualiteit moet die kwaliteit van menswaardigheid sodanig verbeter dat die teenwoordigheid van God ’n bydrae tot die sin van menslike bestaan en die kwessie van humaniteit lewer; dit moet die innerlike en die private verbind met die lewe, die sosiale konteks en publieke karakter van die mens se bestaan (Louw 1999a:236).

Die voorafgaande blyk duidelik uit gesprekke met medenavorsers, waar spiritualiteit te midde van die praktyk van lewenservaring eindelik sinvol beleef word. Daarom word slegs uittreksels van sommige gesprekke (as gevolg van beperkte bladsyruimte) volledig gebied:

Rentia (biokinetikus en deel van groep 1) heg die volgende betekenis aan ’n sinvolle lewe: “Vir my is ’n sinvolle lewe slegs te vinde in ’n persoonlike verhouding met Jesus Christus. Alles anders is uiteindelik sinneloos. Soms verloor mens jouself in die gejaag van die lewe en voel alles inderdaad sinloos. Al is jy op moedverloor se vlakte kom haal die Here jou altyd weer daaruit en wys jou die sin, daarvan kan ek getuig.”

HOOFSTUK 2 - SPIRITUELE BETEKENIS EN SINBELEWING

Scott (ingenieur en deel van groep 2) merk: “Vir my is die lewe werklik sinvol as jy dít wat jy het, met ander kan (uit) deel omdat dit vir jou lekker is. Dit sluit natuurlik alles in – geld, kennis, lewenservaring, wysheid, ensovoorts.”

Liné (internasionale projekbestuurder en deel van groep 2): “Dit kan net ervaar word as jy vrede in jouself het met wie en wat jy is. Wanneer jy self liefde het, kan jy ook liefde aan ander gee. Vir myself noem ek dit ‘huistoe kom’ – jy soek nie meer in die wêreld na dinge wat jou gelukkig maak nie. Hierdie vrede en sekerheid is nie te koop met geld nie, maar lê diep in die liefde, vrede en genade van Jesus.

Dit is ’n geluk in jouself, ten spyte van moeilike omstandighede en/of verhoudings, siekte, nood, ensovoorts. Dit is ook nie belangrik om te ontvang nie, maar die vreugde lê daarin om te gee en te deel, nuwe ontdekkings te maak, en om geestelik te groei. Jou verhouding met God is prioriteit. Ons lewe op aarde is maar net die pad wat ons stap na die ewigheid, en ons vat niks saam nie, behalwe die liefde wat ons uitgeleef het.

Samevattend, in die lig van die bogenoemde opmerkings van gespreksgenote, kan ek myself die beste verwoord in die woorde van Louw (2005a:136), wanneer hy sê: “Sinloosheid oorval die siel as daardie donkernag wanneer die lewe ’n cul de sac word; wanneer die lewe ’n sel is en die siel ’n slagoffer van omstandighede. Sinvolheid stroom soos lig binne wanneer die siel met die periskoop van hoop om die hoek van ’n krisis kan loer tot binne-in die verblindende straal van die opstanding.”