• No results found

DIE DERDE BEDRYF: MIDDELLOOPBAAN-ONTWIKKELING

Groei 4 14 Identifiseer met ander en ontwikkel selfkonsepte Spontane leer oor die wêreld Ontwikkel

4. Laat loopbaan

3.6 DIE FENOMENOLOGIE VAN DIE MIDDELJARE

3.6.3 Sosiale verhoudings

Die herstrukturering van sosiale rolle, veral op die gebied van werk en familie, is een van die uitdagings in die middellewe (Lachman 2004:322). Op sosiale vlak word middeljarige pare deur major kwessies gekonfronteer, soos byvoorbeeld, die huwelik, ouerskap, asook verantwoordelikheid vir en versorging van ouerwordende ouers. Newman en Newman (2003:417) is van mening dat “although people derive a significant sense of personal identity from their jobs….happiness in an intimate relationship is a stronger predictor of overall well-being.” Dit word onderstreep deur navorsingsbevindinge van Markus, Ryff, Curban en Palmershein (2004:286-287) waar een major komponent van welstand positiewe verhoudinge met ander, veral ouers, gades en nageslag, veronderstel. Langtermyn, intieme verbintenisse veronderstel en behels dinamiese verhoudings. In hierdie afdeling word drie tipes verhoudings kortliks belig, naamlik die huwelik, ouerskap en die versorging van ouers:

 Huwelik

Die huwelik in die middeljare word met unieke uitdagings gekonfronteer. Middeljarige pare bevind hulself in die middel van twee generasies, ’n jonger en ’n ouer generasie, met moontlike gepaardgaande verantwoordelikheid vir beide kinders en ouers, en heel moontlik ook kleinkinders en grootouers (Lachman & James 1997:4).

Hierdie tydsfase kan nuwe geleentheid vir groei en hernude intimiteit in die huwelik inhou, maar negatiewe ervarings soos siekte, werksverlies, problematiese verhoudings met volwasse kinders en versorgingsverantwoordelikhede teenoor ouers

HOOFSTUK 3 - Sosiale verhoudings

kan ook voorkom (Waldron & Kelley 2009:xv). Die voorafgaande blyk uiteenlopende gevolge te hê, met positiewe groeimoontlikhede aan die een kant en negatiewe ervarings- en verhoudingsprobleme aan die anderkant, wat tot ongewone huwelikstres kan lei.

Middeljarige mans en vroue kom dikwels tot die slotsom dat hulle huwelik in ’n onstabiele toestand is as gevolg van verveling met gesinsroetines, asook ’n afname in intimiteit, belangstellings wat begin verskil en ’n afname in kommunikasievermoëns (Collins 2005:226).

Uit gesprekke met die gespreksgroepe was daar ’n duidelike onderskeid tussen die eerste groep, wat 38-45 jaar oud is en die tweede groep met ’n ouderdom van 46-55 jaar. Die eerste groep was van mening dat uiterste moeite met hulle huwelik belangrik was, aangesien die kinders nog inhuisig is en baie aandag verg. Gepaardgaande loopbaanverantwoordelikhede bemoeilik die taak om huweliks- en familieverhoudinge gesond te hou en te balanseer. Deelnemers van die groep het ’n behoefte aan ‘meer tyd benodig’ geïdentifiseer. Die tweede groep daarteenoor het ’n nuwe fase betree, met kinders wat die huis verlaat. Hierdie groep het skielik die ervaring van ‘te veel tyd’ op hande wat sinvol gevul moet word.

Carina is 41 jaar oud (groep 1) en ’n finansiële bestuurder: “Ons moet hard werk aan ons huweliksverhouding. Voorheen het ek en my man spontaan saam gekuier – nou verloop twee weke en dan besef ons skielik dat ons nie genoeg tyd saam deurgebring het nie.”

Marelie, is 50 jaar oud (deel van groep 2 en ’n musiekonderwyseres): “Ek kyk nou anders na ons. Meer verdraagsaamheid is deel van ons verhouding. Ons doen soveel dinge saam. Om die waarheid te sê, dit is nou die lekkerste ooit!”

HOOFSTUK 3 - Sosiale verhoudings

 Ouerskap

Die jare waartydens kinders die huis verlaat word die “lanseerfase” (launching period) genoem. Dit staan ook bekend as die “leë nes-sindroom” (McCullough & Rutenberg 1989:285; Newman & Newman 2003:423). Wanneer kinders die huis verlaat kan dit ’n emosionele tyd vir ouers wees. Ouers kan dikwels terneergedruk en leeg voel, asook geneig wees om te treur (Collins 2005:225). Dit laat ouers soms met herevaluerende vrae rakende hulle eie betekenis. Waldron en Kelley (2009:xvi) stel dit: “How do I find meaning in life now that I am no longer at the centre of my kids’ universe?” Die leë nes lei tot veranderde gesinsdinamika, met die herevaluering van rolle tuis (McCullough & Rutenberg 1989:285; Newman & Newman 2003:423).

Soms is daar ’n gevoel van verligting, vryheid en hernude lewenskragtigheid. Ouers soek nuwe teikens vir energie en toewyding, wat voorheen slegs op die versorging van kinders gerig was (Newman & Newman 2003:423; Collins 2005:225). In die algemeen blyk dit dat die oorgangsfase, waartydens kinders die huis verlaat, nie ’n negatiewe tyd vir volwassenes is nie (Newman & Newman 2003:423). Ouer-kind verhoudings verbeter wanneer kinders die jong volwasse fase bereik (Kail & Cavanaugh 2004:517). Vir vroue kan die middellewe-fase nuwe geleenthede vir persoonlike groei en uitdagings buitenshuis bring (Werner & Smith 2001:79).

Die vroue in die tweede groep (46-55 jaar) bevestig die voorafgaande en met meer tyd tot beskikking is hulle gereed vir nuwe uitdagings en die uitleef van ander belangstellings. Marelie, die musiek-onderwyseres merk: “Ek en my kinders is vriende en dit is baie lekker. Ek is gereed vir nuwe uitdagings en wil graag by ander projekte betrokke raak.”

Gedurende die jong volwasse fase van kinders is ouers steeds primêr finansieel vir studies, nagraadse kwalifikasies en hulp met die begin van ’n loopbaan verantwoordelik. Dit lei soms tot swaar finansiële druk, wat ouers kan noop om ekstra werk aan te pak ten einde finansiële druk te verlig (Newman & Newman 2003:423- 424; Kail & Cavanaugh 2004:517).

HOOFSTUK 3 - Sosiale verhoudings

Dit gebeur soms ook dat jong volwassenes terugkeer huistoe, vanweë egskeiding of die voltooiing van studies (Kail & Cavanaugh 2004:519; Lachman 2004:322). In aansluiting hierby beklemtoon ’n gespreksgenoot, Elizé (finansiële adviseur en deel van groep 2) die voorafgaande. Elizé inspireer ander met haar positiewe lewens- ingesteldheid. Sy is geliefd onder mense en glo daarin om ’n bydrae te lewer deur gemeenskapsbetrokkenheid.

Elizé merk: “My seun het huistoe gekom – hy sleep steeds vakke en het steeds nie sy graad voltooi nie. Ons het hom ’n jaar kans gegee om te besin. In die begin was dit vir my baie sleg. Nou besef ek, ek gaan hom erg mis volgende jaar. Hy maak sulke lekker kos en help met soveel dinge in en om die huis.”

Andersins betree jong volwassenes die huwelikslewe, wat veranderende verhoudings, asook nuwe verhoudings met die aangetroude familie meebring (Newman & Newman 2003:424; Lachman 2004:322). Grootouerskap, die tyd wanneer volwassenes die getuie van ’n nuwe generasie geboorte is, mag beskou word as die begin van ’n addisionele fase in familie ontwikkeling (Newman & Newman 2003:424).

 Versorging van ouers

Die middelvolwasse-fase word dikwels gesien as ’n tyd wat aan toekomstige generasies toegewy is. Een van die grootste uitdagings van middelvolwassenheid is egter die stryd om effektiewe verhoudings tussen middeljariges se ouers, eie kinders en moontlik ook kleinkinders te bewerkstellig. Dus is middeljariges vasgevang in ’n situasie tussen eie ouers en kinders, waar albei geslagte ’n behoefte aan leiding en hulp benodig. Dit verduidelik waarom daar dikwels na middeljarige volwassenes verwys word as die ‘toebroodjie-generasie’ (Newman & Newman 2003:425; Kail & Cavanaugh 2004:516; Lachman 2004:322; Cavanaugh & Blanchard-Field 2006:415). In die middeljare kan dit bykomende druk veroorsaak, tesame met die gedurige prikkels wat herinner aan die ouerwording van beide geslagte (Collins 2005:226).

HOOFSTUK 3 - Sosiale verhoudings

Navorsing bewys dat dogters drie keer meer as seuns die versorgingsrol van ouerwordende ouers hanteer. In geval van slegs seuns in ’n familie, sal die rol deur die skoondogter oorgeneem word. Hierdie geslagsverskil word ook in ander kulture waargeneem. In byvoorbeeld Japan, waar die oudste seun vir ouerversorging verantwoordelik is, is dit die skoondogter wat die dag-tot-dag versorgingsrol inneem (Newman & Newman 2003:425-426; Kail & Cavanaugh 2004:520; Cavanaugh & Blanchard-Field 2006:416).

Sommige situasies noodsaak dat ouers by hulle middeljarige kinders intrek. Dit gebeur na dekades waartydens twee generasies onafhanklik gebly en geleef het. Die resultaat is aanpassingsprobleme by die skikking van twee verskillende lewenstyle. In die meeste gevalle voorsien middeljarige kinders versorging aan moeders na die verlies van ’n eggenoot, of weens swak gesondheid (Kail & Cavanaugh 2004:520; Cavanaugh & Blanchard-Field 2006:416; Hayslip, Panek & Patrick 2007:171). Mada, tuisteskepper en deel van groep 1, merk in die verband:

“My skoonma het na my skoonpa se dood by ons gebly. Ek was toe in my twintigerjare en dit was vir my baie moeilik. Ek het gesukkel om die situasie te hanteer. Ek dink vandag sal dit makliker hanteerbaar wees.”

Ouerversorging bied ’n dilemma omrede “Most adult children feel a sense of responsibility, termed filial obligation, to care for their parent if necessary” (Kail & Cavanaugh 2004:521). Volwasse kinders handhaaf die mening dat hulle dit aan hulle ouers verskuldig is. Die rede hiervoor aangevoer is die versorging wat ouers jare lank aan kinders gebied het. Die gevoel blyk universeel van aard te wees, soos in studies oor alle Westerse, sowel as nie-Westerse kulture gesien kan word (Cavanaugh & Blanchard-Field 2006:416).

Ouerversorging bring psigologiese, sowel as finansiële druk mee. Die mees toegewyde volwasse kind-versorger voel by tye depressief, gebelgd, kwaad en skuldig. Finansiële druk is die gevolg wanneer die middeljarige ouers vir eie kinders se kinderopvoeding of na-skoolse opleiding verantwoordelik is en nie genoegsaam vir

HOOFSTUK 3 - Sosiale verhoudings

eie aftrede kan spaar nie. Kroniese siektetoestand van die middeljarige se ouers kan ’n verdere finansiële las meebring (Cavanaugh & Blanchard-Field 2006:417).

Marie (entrepreneur en deel van groep 1) merk: “’n Groot deel van my vriendekring sorg finansieël vir hulle ouers. In sommige gevalle lei dit tot geweldige druk om begrotings te laat klop.”

Hoewel ouerversorging as uiters stresvol beskou word en dit dus as verlies in terme van die lewensloop perspektief gesien word, is die wins geleë in die ervaring van beloning ontvang. Die post-kinderopvoedingsfase is dikwels ’n tyd vir konsolidasie en funksionering, soos uitgedruk in volwassenheidservaring en finansiële kredietwaardigheid (geldend vir die middel en hoër klas). Dié nabetragtingstydperk hou beide wins en verlies vir die middeljarige ouer in, wat verhoudings in terme van eie potensiaal, huweliksband en verbintenis met eie kinders en ouerwordende ouers moet beoordeel. Volgens McCullough en Rutenberg (1989:307) verloor die meeste individue in die middelgenerasie een of beide ouers en beleef dus ’n verlieservaring, met implikasie dat hulleself die volgende ouer generasie word.

Met die fenomenologie van die middeljare as agtergrond, word die middelloopbaanjare vervolgens in oënskou geneem. Die middelloopbaan vergestalt ’n tydperk van herondersoek betreffende drome en prestasies bereik.