• No results found

DIE DERDE BEDRYF: MIDDELLOOPBAAN-ONTWIKKELING

Groei 4 14 Identifiseer met ander en ontwikkel selfkonsepte Spontane leer oor die wêreld Ontwikkel

4. Laat loopbaan

3.7 DIE MIDDELLOOPBAANJARE

Tydens die middelloopbaanjare gaan dit nie net om die werk wat gedoen moet word nie, maar om die verhouding met die beroep. In die woorde van Levinson (1996:374):

We experience work and career from a more private, personal perspective. It becomes less important to ask, ‘How successful am I in the eyes of the world?’ and more important to ask, ‘What do I give to and receive from my work?’ ‘How satisfying is my relationship with work?’

HOOFSTUK 3 - DIE MIDDELLOOPBAANJARE

Dit gaan om die tweede major loopbaan- en lewenstaak, naamlik die handhawing van produktiwiteitsvlakke. Dit toon deurweefdheid met betekenis geheg aan die verhouding met die beroep. Middelloopbaanwerknemers en –bestuur is veronderstel om die hoogste produktiwiteitsvlakke te handhaaf, maar die teendeel is waar. Hierdie segment word beskou as die mees onvergenoegde van die werksmag (Morison, Erickson & Dychtwald 2006:79). Dié periode word as “middlescence” deur Morison, Erickson en Dychtwald (2006:80) beskou. Die skrywers stel dit dat “middlescence” net soos adolessensie ’n tydperk van frustrasie en verwarring verteenwoordig. Middelloopbaan-individue worstel met “middlescence” in die soeke na balansering van verantwoordelikhede betreffende werk, familie en ontspanning, met die hoop om nuwe betekenis tot werk te vind.

Loopbaanstadia-teorieë, soos dié van Super (bespreek in afdeling 3.5.3) het die middellewe, en dan spesifiek die onderhoudsfase, as ’n tyd van relatiewe stabiliteit beskou, waar die individu “does not attempt to break new ground, to open up new fields of work” (Super 1957:147). Hierdie stabiliteitsienswyse is gewysig deur voortdurende snelle veranderinge en kompleksiteite rakende nuwe tegnologieë en nuwe interaksie tussen ekonomiese, politieke, religieuse, sosiale en private sfere, asook die inneem van veelvoudige lewensrolle en werk ten einde te kan oorleef (Hall & Mirvis 1995:278).

Middeljarige rusteloosheid is niks nuuts nie. Dit blyk egter asof die voorkoms daarvan in verskillende generasies verskil (Morison, Erickson & Dychtwald 2006:80). Toenemende langslewendheid, uitgestelde en meervoudige huwelike, groot getalle twee-loopbaan huishoudings en die ‘toebroodjie-generasie’–situasie, waar middeljariges verantwoordelik is vir die grootmaak van kinders, sowel as die versorging van ouerwordende ouers, het ’n veranderende invloed op familiepatrone. Daarmee saam word hierdie tydperk ook gekenmerk deur ’n hoogtepunt wat werksverantwoordelikheid betref (Morison, Erickson & Dychtwald 2006:80; Bown- Wilson & Parry 2009:75). Die “baby boom”-generasie het egter ’n ingesteldheid, wat ’n totale lewensperspektief voorstaan, naamlik dat die balans tussen werk en familie belangrik is. Die houding wat gehandhaaf word is: “I work to live, I don’t live to work”

HOOFSTUK 3 - DIE MIDDELLOOPBAANJARE

(Hall & Richter 1990:11). Die implikasie van toenemende langslewendheid is dat die gemiddelde persoon van 50 jaar kan uitsien na 30 jaar van ’n meer gesonde en aktiewe lewe. Dus, ’n tydsfase van die aanleer van nuwe vaardighede, die begin van ’n nuwe loopbaan of die skuif van prioriteite ten einde aan die samelewing terug te gee (Morison, Erickson & Dychtwald 2006:80; Bown-Wilson & Parry 2009:77). Die volgende opmerking van Kimbarow (2004:4) onderstreep die voorafgaande en beklemtoon die veranderde siening rondom die tydsaspek. Dit word ook uit dié opmerking duidelik dat geen ruimte gelaat word vir stagnering en stabiliteit nie:

Our culture measures time in nano-seconds. Complex news stories are distilled to less than two minutes or two paragraphs, matching a seemingly endlessly shortening attention span. Society celebrates the transitory nature of the workplace and casts a suspicious eye on those opting for stability (Kimbarow 2004:4).

Greenhaus, Callanan en Godshalk (2010:233) is van mening dat hoewel menige individu in die middeljare groei en ontwikkeling begeer, daar egter ook diegene is wat ’n periode van onderhoud, stagnasie en afname betree; ’n “checking out” uit die organisasie. Twee middelloopbaan-ervaringe kan produktiwiteit affekteer, naamlik die loopbaanplato en loopbaanveroudering. Die loopbaanplato word gedefinieer as ’n tyd in ’n loopbaan waar die waarskynlikheid van addisionele hiërargiese bevordering laag is. Loopbaanveroudering behels ’n tekort aan nuwe kennis en werksvaardighede om effektief mededingend volhoubaar te funksioneer (Kets de Vries 1978:50; Tan & Salomone 1994:291-302; Betz 2003:205-209; Bown-Wilson & Parry 2009:76; Werner & DeSimone 2009:415-416; Greenhaus, Callanan & Godshalk 2010:233-238).

Wim (veearts, groep 2) voel vasgevang in sy werksituasie wat hoofsaaklik uit roetine- take bestaan. Hy is iemand wat van fisieke- en intellektuele uitdagings hou.

Wim sê: “Ek is op ’n groot afdraande pad. Ek sal dinge moet doen om my loopbaan interessant te hou.”

HOOFSTUK 3 - DIE MIDDELLOOPBAANJARE

Rentia (biokinetikus, groep 1) hou van die verskeidenheid wat haar werk bied. In haar beroep is sy nie net by rehabilitasie betrokke nie, maar ook by sportafrigting, die opstel van oefenprogramme vir kinderontwikkeling en die aanbied van pilates-klasse.

Rentia (biokinetikus) merk: “Ek raak gou verveeld en soek gedurig nuwe uitdagings. Gelukkig is my werk van so ’n aard dat ek dit uitdagend kan hou. Ek sal nie kan werk as ek jaar in en uit dieselfde goed moet doen nie. Dit sal my depressief maak.”

Gedurende die middeljare is die rol van werk sentraal. Die aard van werk kan die kognitiewe kapasiteit en intellektuele buigbaarheid van ’n individu affekteer (Lachman 2004:232). Realiteite in die wêreld van werk, soos ekonomiese onsekerheid, afleggings, koste-behoudende pogings en die globalisering van besighede het ’n dramatiese effek op loopbane. Die verhouding tussen werkgewer en werknemer het tans ’n korttermyn fokus en word gekenmerk deur lae vlakke van verbintenis en lojaliteit. Die werknemer kan daarom nie die verwagting koester dat die werkgewer aanspreeklikheid sal aanvaar vir loopbaanontwikkeling nie. Dit is die individu se eie verantwoordelikheid om voortdurend te groei en te ontwikkel, met moontlike toevoeging van betekenis en sinbelewing. Dit is veral geldend vir die individu in die middelloopbaanjare om sin te maak van dié herevaluerende fase, deur ’n terugblik na die verlede aan die een kant en nuwe moontlikhede in die toekoms aan die anderkant.