• No results found

DIE TWEEDE BEDRYF: PRAKTIESE TEOLOGIE

HOOFSTUK 2 ’n “WERKENDE” MENS BESKOUING

2.7.1 Die “middeljarige” mens

In die pastoraat gaan dit in die eerste plek om die mens. Die mens word beskou as ’n holistiese wese (Clinebell 1984:31-32), as ’n fisies-psigies-geestelike wese (De Klerk 1975:3) en ook as ’n etiese wese met kognitiewe, konatiewe, affektiewe en liggaamlike funksies (Louw 1999a:30). Die mens is ’n eenheidswese (Heyns 1976:120-124) met behoeftes wat in geheel hanteer moet word.

In die tweede plek behels die pastoraat ook die mens-in-gemeenskap – die groep (De Klerk 1975:3). Dit behels die “utilization by persons in ministry of one-to-one or small group relationships to enable healing, empowerment and growth to take place within individuals and their relationships” (Clinebell 1984:25-26). Die gemeenskap het ten doel die uitreiking na die besondere behoeftes van diegene in sorg (Gerkin 1986:25).

Antropologie is wesenlik ’n hermeneutiese probleem, aangesien die mens nie verklaar kan word nie, maar verstaan moet word (Louw 1999a:157). Vir doeleindes van hierdie studie is dit belangrik om die mens ook as ’n ontwikkelende wese, wat deur verskillende lewensfases beweeg, te beklemtoon, vandaar die lewensloopbenadering. Die lewensloopbenadering beskou menslike ontwikkeling as ’n voortdurende en

HOOFSTUK 2 - Die “middeljarige” mens

lewenslange proses (Cavanaugh & Blanchard-Fields 2006:3; Papalia, Sterns, Feldman & Camp 2007:5; Bjorklund & Bee 2008:14). ’n Kern aanname van hierdie benadering is dat ontwikkeling nie by volwassenheid voltooid is nie (Baltes, Staudinger & Lindenberger 1999:472).

Die lewensloop-ontwikkelingsbenadering word beskou as ’n integrerende perspektief, wat ’n holistiese benadering demonstreer deur onder meer biologiese, psigologiese en sosiologiese perspektiewe in te sluit (Baltes, Reese & Lipsitt 1980). Die biologiese perspektief verwys na die fisiese en biologiese veranderinge wat oor die lewensloop plaasvind (Merriam, Caffarella & Baumgartner 2007:299-300). ’n Psigologiese perspektief handel met die interne prosesse van die individue, byvoorbeeld geloofsontwikkeling (Fowler 1981), morele ontwikkeling (Kohlberg & Colby 1987), identiteitsontwikkeling (Erikson 1964; Erikson 1997; Levinson et al 1978), intellektuele ontwikkeling (Piaget 2001) en self-ontwikkeling (Josselson & Lieblich 1993). Laastens, veronderstel die sosiologiese perspektief dat volwasse ontwikkeling nie apart van die historiese konteks waarin dit voorkom, verstaan kan word nie (Miller 1983:23-24; Bjorklund & Bee 2008:8). Hierdie onderskeie perspektiewe word volledig in hoofstuk 3, afdelings 3.2 en 3.3, aan bod gestel.

Gespreksgenote handhaaf eie sieninge rakende die verouderingsproses wat vir hierdie studie verligtend is. Scott, ’n ingenieur van beroep en toegedeel tot die tweede ouderdomsgroepering (soos reeds voorgestel), is ’n aktiewe mens wat gereeld muurbal speel en aan bergfiets-wedrenne deelneem. Hy maak die volgende opmerking aangaande die oudword-proses:

Min mense word lekkerder as hulle oud word, en ek dink dit is ’n groot jammerte. Ou mense kan soveel beteken en ’n groot bydrae lewer, maar ek ervaar die meeste ouerwordendes as knorrig en iesegrimmig, veral die mans. Ek is nie mal oor oudword nie, want dalk dink ek dit gaan my inperk – veral met sport. Ongelukkig kan jy niks daaromtrent doen nie, daarom poog ek om die oudword-proses soveel moontlik te vertraag deur baie te oefen, reg te eet, gewig in toom te hou, ensovoorts – en om gawer te wees!

HOOFSTUK 2 - Die “middeljarige” mens

Die fokus in hierdie betrokke navorsing is spesifiek die middelloopbaanfase waar die werkende individue gedurende middelvolwassenheid aandag geniet. Ouderdom of ontwikkelingstake word as die twee mees algemene wyses waarvolgens individue in fases van die lewensiklus geklassifiseer kan word, beskou (Hayslip, Panek & Patrick 2007:13). Die aanduiding van ouderdomme, stadia of fases, is arbitrêr van aard en kan daarom nie as absolutes of onderskeidend veronderstel word nie, aangesien dit primêr ten doel het om die organisering van die volwasse lewe te vereenvoudig (Louw & Ewards 2005:493; Hayslip, Panek & Patrick 2007:13; Papalia, Sterns, Feldman & Camp 2007:407). In aansluiting by die voorafgaande maak Capps (2008xi) die opmerking dat hy aan sy eie lewe dink in terme van dekades:

what I did when I was in my twenties, thirties, forties, or fifties. This is also how I think about the lives of other persons I know… Using decade language enables me to ‘place’ myself or another in life-span terms but to avoid having to be too precise. I occasionally use my exact age when I mention a life experience – ‘I got married when I was twenty-five years old’ – but most of the time identifying the decade in which something happened is close enough.

Twee van die mees invloedryke navorsers ten opsigte van volwasse lewensontwikkeling, naamlik Erik Erikson en Daniel Levinson bied ’n breë verwysingsraamwerk aangaande die onderskeie lewenstadia. Dit word volledig in afdeling 3.4 van hoofstuk 3 toegelig, met ’n besondere klem op die middelvolwasse tydperk.

Kortliks kan dit in die lig van ’n mens-beskouing gestel word dat Erikson die middelvolwasse tydperk as ’n fase beskou, waarin generatiwiteit teenoor stagnasie gestel word. Generatiwiteit weerspieël ’n altruïstiese belang van omgee en versorging van ander, maar het ook te make met produktiwiteit en kreatiwiteit, wat uitdrukking vind in ’n werkslewe, probleemoplossing en kinderopvoeding. Stagnasie, daarteenoor, veronderstel opgang in die self, waarin daar gefaal word om behoeftes van die gemeenskap in ’n eie lewe te inkorporeer (Erikson 1965:258-259; Erikson 1968:138-

HOOFSTUK 2 - Die “middeljarige” mens

139; Capps 1983:28-29; Erikson 1997:66-69; Green & Piel 2002:91; Bentley 2007:11- 13; Whitbourne 2007:34).

Daniel Levinson en sy kollegas het bevind dat diegene in die middeljare ’n pynlike herevalueringsproses begin en ’n intense stryd met die self en die eksterne wêreld beleef. Die middeljare aktiveer angstigheid oor agteruitgang en die dood. Hierdie fase word as ’n tussentydse tydperk beskou, waar die mens nie meer jonk is nie en tog ook nie heeltemal oud is nie (Levinson et al. 1978:ix-x). In aansluiting hierby, stel Sherburne (2008:102) dit dat “the middle-aged person is forced, both consciously and unconsciously, to respond to an acute realization of personal death… We begin to measure our lifetime from the distance to the end rather than from birth. Remember when we used to say, ‘I am 11 and ½ years old’? It never occurred to me to say, ‘I am 55 and ½.’”

Rentia, ’n biokinetikus (groep 1) en ook ’n deelnemende gespreksgenoot (soos voorgestel), leef met ’n ingesteldheid om elke dag in volheid aan te gryp en te beleef. Sy merk die volgende met betrekking tot die middeljare:

My onmiddellike gevoel oor die middeljare is negatief, omrede die term in die eerste plek vir my ’n fisieke konnotasie het – bles, boep, bril, spatare, bloeddrukpille, plooie, ensovoorts. Die jeugdige gees in my is nie lus om in ’n ouer dop verpak te word nie. Middeljarig klink vir my oud en half oor die muur en ook half middelmatig! Daar is egter ook ’n ander sy – middeljare is eintlik ’n mylpaal wat behaal is op die lewensreis, eerder as ’n neerlaag. Dit is ’n cliché, maar ’n mens is beslis rustiger in jou menswees en het ’n sterker identiteit ontwikkel. Ek is meer gemaklik met myself en my huismense se tekortkominge, en is beter in staat om die ‘groter prentjie’ raak te sien. Ek leef nou meer in die oomblik, nie soos vroeër, vir eendag wanneer ek bereik het wat ek wil nie.

Die middelloopbaanfase veronderstel, in aansluiting by lewensfases, die ontwikkeling van loopbaanfases met ’n spesifieke klem op middelvolwassenheid. Die konteks hier

HOOFSTUK 2

behels dus die wêreld van werk met ’n besondere beskouing van die “werkende” mens.