• No results found

Spiritualiteit en Religieusiteit

DIE VIERDE BEDRYF: SPIRITUELE INTELLIGENSIE

4.2 SPIRITUALITEIT EN BETEKENIS TOEGEVOEG

4.2.1 Spiritualiteit en Religieusiteit

Volgens Amerikaanse navorsing plaas statistiese bewys religie en spiritualiteit in ’n veranderde landskap. Die 1960’s en 1970’s getuig van ’n grootskaalse afname in georganiseerde religieuse betrokkenheid, veral onder die sogenaamde “baby-boom”- generasie. Navorsing toon dat 60% van hiérdie nagevorsde groep vir twee of meer

HOOFSTUK 4 - Spiritualiteit en Religieusiteit

jaar gedurende dié periode geen betrokkenheid by georganiseerde religie getoon het nie, maar eerder ’n toename in “nuwe gelowe” wat direkte spirituele ervaringe bo institusionele religie benadruk. Die “baby-boom”-generasie het georganiseerde religie en tradisionele vorme van geloof verwerp ten gunste van ’n persoonlike geloof, wat ’n “spirituele reis” of “spirituele soeke” karakteriseer. Met die afname van hoofstroom religieuse instellings het alternatiewe tot hierdie tradisionele instellings, asook nuwe vorme van geloof onder die vaandel van “spiritualiteit” in gewildheid toegeneem. Gedurende die 1980’s en 1990’s word die term spiritualiteit gekoppel aan, en in verband gebring met vele dissiplines. In hierdie landskap van religieusiteit en spiritualiteit het daar spanning tussen dié twee konstrukte ontstaan. Dit word toegeskryf aan ’n afname in tradisionele instellings, ’n toename in verpersoonlikte en geïndividualiseerde vorme van geloofsuitdrukking, ’n beweging weg van geloofsklem na ’n direkte ervaring van die heilige, en ’n kultuur wat religieuse pluralisme toon, (Zinnbauer, Pargament & Scott 1999:890-892; Hill et al. 2000:58-63; Musick, Traphagen, Koenig & Larson 2000:73-74; Zinnbauer & Pargament 2005:24).

In die verlede is geen onderskeid tussen godsdienstigheid/religieusiteit en spiritualiteit getref nie. Met die opgang van sekularisme en populêre ontnugtering, met religieuse instellings wat as ’n hindernis tot persoonlike ervaring van die heilige beskou is, het dit verander. Die gevolg is dat spiritualiteit onderskeibare betekenisse en konnotasies begin verkry het. Spiritualiteit het godsdienstigheid in populêre gebruik vervang, soos geïllustreer deur die toenemende massaproduksie van boeke aangaande spiritueel- verwante onderwerpe (Zinnbauer et al. 1997:550; Zinnbauer & Pargament 2005:24). Een van die redes wat aangevoer word vir die ontploffing in die mark, verwys na die invloedryke “baby-boom”-generasie. Hierdie generasie-soekers poog om die transendente via ’n persoonlike, eksperimentele en eklektiese pad te vind, in plaas van tradisionele georganiseerde godsiens. Die “baby-boom”-generasie het spirituele ontdekking buite die mure van tradisionele kerke en sinagoges geneem. Daarmee saam het uitgewers tot die besef gekom dat religieuse en spirituele boeke vir die algemene mark bemarkbaar is en nie slegs tot religieuse aanhangers beperk is nie (Schlumpf 1999:54-59).

HOOFSTUK 4 - Spiritualiteit en Religieusiteit

Met die differensiëring tussen spiritualiteit en religieusiteit het spiritualiteit elemente, wat voorheen tot die religie behoort het, oorgeneem. Daarom is definisies van godsdiens/religie tans meer eng en minder inklusief. Histories is godsdiens/religie as ’n breëband konstruk gesien, wat beide individuele en konstitusionele elemente geïnkorporeer het. Tans word dit as ’n eng konstruk gesien, met die fokus op die institusionele alleen. Spiritualiteit, daarenteen, blyk die meer verkose term te wees om individuele ervaring te beskryf. Dit word ook met persoonlike transendensie, super- bewuste sensitiwiteit en betekenisvolheid geïdentifiseer (Zinnbauer et al. 1997:550- 551; Zinnbauer, Pargament & Scott 1999:897; Hill et al. 2000:60).

Die ontluiking van spiritualiteit het gelei tot die ontstaan van ’n spanningsverhouding tussen religieusiteit en spiritualiteit. In die mees ekstreme vorm, word die twee terme gedefinieer in ’n rigiede, dualistiese raamwerk waar die konstrukte gepolariseer word. Die mees opvallende polarisasies word vervolgens in oënskou geneem (Zinnbauer et al. 1997:550-551; Zinnbauer, Pargament & Scott 1999:901-903; Hill et al. 2000:60-63; Wink & Dillon 2002:79-80; Zinnbauer & Pargament 2005:24-27):

 Substantiewe religie versus funksionele spiritualiteit

Funksionele beskrywings, wat aanvanklik op religieusiteit van toepassing was, karakteriseer nou spiritualiteit. Spiritualiteit verteenwoordig individue se pogings tot heilige en eksistensiële doelwitbereiking, byvoorbeeld die vind van betekenis, heelheid, innerlike potensiaal en interverwantskap met andere. Spiritualiteit word uitgebeeld as ’n vorm van geloof, wat die individu en die wêreld in verhouding plaas deur betekenisgewing en eksistensiële definiëring. In teenstelling daarmee word religieusiteit met formele geloof, groepspraktyk en instellings geassosieer. Dit word uitgebeeld as perifeer tot eksistensiële funksies.

 Statiese religie versus dinamiese spiritualiteit

Tradisionele godsdiens was as ’n werkwoord gekonseptualiseer. Dit is egter onlangs tot ’n selfstandige naamwoord getransformeer. Dit impliseer ’n statiese entiteit, gereduseer tot elemente en gestroop van funksie. Dit dui op “what religion is, not what it does or how it works. What is lost…is the dynamic operation of religion in the life of

HOOFSTUK 4 - Spiritualiteit en Religieusiteit

the individual” (Zinnbauer, Pargament & Scott 1999:904). In teenstelling daarmee word spiritualiteit met dinamiese werkwoorde en byvoeglike naamwoorde geassosieer.

 Institusionele objektiewe religie versus persoonlike subjektiewe spiritualiteit

Dit kan ook georganiseerde religie teenoor persoonlike spiritualiteit genoem word, waar navorsers onderskei tussen die “institusionele,” “georganiseerde” en “sosiale” aspekte van godsdiens, en die “persoonlike,” “transendente” en “verwantskap of behorende tot”-kwaliteite van spiritualiteit. Hier kan die werk van Miller en Thoreson (2003) “Spirituality, religion and health: An emerging research field” as voorbeeld genoem word. Hill et al. (2000) gebruik ook die individueel-institusionele dimensie om tussen spiritualiteit en religieusiteit te kan onderskei. Hulle stel dit dat heiligheid die kern van beide konstrukte is, waar religie ook insluit “the means and methods of [a] search [for the sacred] that receive validation and support from within an identifiable group of people” (Hill et al. 2000:66).

In ’n inhoudsanalise van religieuse en spirituele definisies blyk dit dat persoonlike geloof in die heilige algemeen tot die definisies van beide konstrukte is (Zinnbauer et al. 1997). Definisies van religieusiteit sluit verwysings na georganiseerde praktyke of aktiwiteit, bywoning van dienste, uitvoering van rituele, kerklidmaatskap, verbintenis tot organisatoriese gelowe, of die nakoming van institusionele gebaseerde geloofsisteme in. Daarteenoor verwys definisies van spiritualiteit na gevoelens of ervaringe omtrent interverwantskap en verhoudinge met heilige wesens of kragte.

 Geloof-gebaseerde religie versus emosioneel/eksperimenteel- gebaseerde spiritualiteit

Hierdie polariteit blyk duidelik uit teoretiese skrywes en empiriese navorsing. Religie word met geloof, die institusionele, dogmatiek en die teologiese geassosieer. Spiritualiteit, daarenteen, word met ’n manier van wees, transendente ervarings, konneksies of verhoudings met ander, verhouding met God, gevoelens van die hart en keuse in verband gebring.

HOOFSTUK 4 - Spiritualiteit en Religieusiteit

 Negatiewe religie versus positiewe spiritualiteit

Religieusiteit en spiritualiteit verkry ’n direkte gepolariseerde stand in populêre en wetenskaplike skrywes. Spiritualiteit word gekrediteer met die positiewe: “the loftier side of life, the highest in human potential, and pleasurable affective states” (Zinnbauer & Pargament 2005:26). In godsdiens word die negatiewe benadruk: “mundane faith, outdated doctrine, or institutional hindrances to human potentials” (Zinnbauer & Pargament 2005:26).

Uitgewers ervaar in die bemarking van boeke ook ’n negatiewe of positiewe konnotasie met godsdiens/religie en spiritualiteit, wat die plasing van titels in kategorieë bemoeilik. Hulle is van mening dat die term religie negatiewe bagasie dra en met reëls en regulasies, asook doktrine en dogma geassosieer word. Sommige is selfs van mening dat die godsdiens-afdeling in ’n boekwinkel ’n akademiese ghetto blyk te wees. Die ontluikende kategorie – spiritualiteit - word daarteenoor wyd gelees, met die voorwaarde dat God of die heilige met die daaglikse lewe in verband gebring word, sonder naby verwysing aan institusionele strukture of sektariese beperkings, aldus Schlumph (1999:54).

Alhoewel sommige navorsers die kontras tussen godsdiens en spiritualiteit verkennend aanwend, is die tweedeling van die begrippe gevaarlik en wel om die volgende redes: Eerstens, vind Zinnbauer, Pargament en Scott (1999:904), en Zinnbauer en Pargament (2005:27) dat die polarisasie van substantiewe religie en funksionele spiritualiteit dié twee konstrukte onnodig beperk. Substantiewe definisies van godsdienstigheid reduseer die konstruk tot ’n rigiede entiteit, wat nie die wyse waarop godsdiens werk en in die lewe van individue ontwikkel, insluit nie. Die beperking van spiritualiteit tot funksionele definisies is problematies omrede dit tot probleme in verband met grense aanleiding gee. Die vraag ontstaan hoe die sielkunde van religie van ander dissiplines onderskeibaar is, wat ook handel met vrae rondom betekenis, self en waarde. “Without its sacred substantive core, functional spiritualities become unduly broad and bland” (Zinnbauer, Pargament & Scott 1999:904). Dus, die polarisasie van godsdiens en spiritualiteit in die substantiewe en funksionele lei tot ’n statiese, bevrore godsdiens (“frozen religion”) en ’n spiritualiteit sonder kern.

HOOFSTUK 4 - Spiritualiteit en Religieusiteit

Tweedens, die polarisasie van institusionele religieusiteit en persoonlike spiritualiteit as onverenigbare teenoorgesteldes is ook problematies. Die rede daarvoor is in die eerste plek dat alle vorme van spirituele uitdrukking in ’n sosiale konteks geskied (Zinnbauer & Pargament 2005:27). In die tweede plek is feitlik alle georganiseerde geloofstradisies gemoeid met die bestel van persoonlike sake, naamlik persoonlike geloof, emosie, gedrag en ervaringe. Sommige skryf dat die primêre doel van religieuse organisasies is om individue nader aan God te bring, of andersins dít wat as transendent gesien word. Die konseptualisering van spiritualiteit as ’n enkele persoonlike fenomeen ignoreer die kulturele konteks waarin hierdie konstruk ontluik het. As ’n individuele uitdrukking is spiritualiteit nie kultuurvry nie; dit word steeds in ’n kulturele konteks ingebed (Zinnbauer, Pargament & Scott 1999:903; Hill & Pargament 2003:64; Zinnbauer & Pargament 2005:27)

Derdens, blyk dit dat polarisasie met ’n verkeerde woordkeuse verbind word. Miller en Thoresen (2003:27-29) sien geloof as ’n institusionele, materiële verskynsel, terwyl religieusiteit dikwels in terme van individuele geloof of praktyk uitgebeeld word. Gees word as ’n eksterne transendent, met spiritualiteit as ’n heilige menslike aktiwiteit gesien. Zinnbauer en Pargament (2005:28) merk dat ’n vergelyking tussen godsdiens en gees, en tussen religieusiteit en spiritualiteit meer geskik is, en dat verwarring verminder kan word wanneer navorsers aandui of konstrukte op dieselfde vlak (byvoorbeeld religieusiteit en spiritualiteit), of oor vlakke van analise (byvoorbeeld godsdiens en spiritualiteit), vergelyk word.

Sommige studies oor taalgebruik illustreer die perspektief dat spiritualiteit en religieusiteit oorvleuelende konstrukte met gedeelde eienskappe en ook eie, behoudende-ongedeelde funksies, beskryf. Miller en Thoresen (2003:27) beskryf godsdiens/religie as “social entities or institutions, and unlike spirituality, they are defined by their boundaries.” Dus is dit in wese ’n sosiale verskynsel, teenoor spiritualiteit, wat gewoonlik op ’n individuele vlak binne spesifieke kontekste verstaan word. Volgens dié skrywers kan religieusiteit ook op die vlak van die individu gekonseptualiseer word. Ter illustrasie kan die navorsing van Zinnbauer et al. (1997) as voorbeeld dien. Navorsers het ondersoek ingestel na die waargenome

HOOFSTUK 4 - Spiritualiteit en Religieusiteit

ooreenkomste en verskille tussen religieusiteit en spiritualiteit in die vorm van ’n vraelys, asook skale wat geloof en houding omtrent God, die self en ander gedek het. In hierdie verband is 346 deelnemers in Pennsylvania en Ohio nagevors. Ter bevestiging is gevind dat religieusiteit en spiritualiteit oorvleuel; maar nie dieselfde is nie (42%). Spiritualiteit word gesien as die breër konsep, wat religieusiteit insluit (39%), teenoor diegene (slegs 10%) wat religieusiteit as die breër, inklusiewe konsep beskou.

Vierdens, is die onderskeiding tussen kognitiewe religie en emosionele spiritualiteit belaai met beperkings. Gedagtes en gevoelens gebeur gelyktydig en beïnvloed mekaar. Passielose religieuse geloof en gedagtelose spirituele ervaringe is moontlik, maar nie verteenwoordigend van die ryk wyse waarop gedagtes, gevoelens, gedrag, motivering en ervaringe tot ’n geheel in religieusiteit en spiritualiteit bymekaar kom nie (Zinnbauer & Pargament 2005:28).

Laastens, is die tweedeling met spiritualiteit as goed en godsdiens/religie as slegs ’n oorvereenvoudigde perspektief, wat potensieel nuttig, maar ook skadelik kan wees vir beide begrippe (Hill & Pargament 2003:64). Die aanname “goeie” spiritualiteit kan die destruktiewe kant van die spirituele lewe ignoreer. Teenoor die soeke na die nabyheid van God deur altruïsme en medelye, is voorbeelde van spirituele-soekers wat ekstreme self-strawwende asketisme, selfmoordbomme en massamoorde gebruik om hul heilige doel te bereik (Zinnbauer, Pargament & Scott 1999:904-905; Zinnbauer & Pargament 2005:28). Uit die studie van Zinnbauer et al. (1997:561), blyk dit dat respondente hulself as beide spiritueel en religieus bestempel (74%). Daarenteen identifiseer 19% hulself as spiritueel, maar nie religieus, en 4% noem hulself religieus, maar nie spiritueel nie. Die tweeledige verdeling van spiritualiteit en religieusiteit in onversoenbare teenoorgesteldes weerspieël dus nie die perspektiewe van alle respondente nie.

In aansluiting by die voorafgaande is ’n studie deur Mitroff en Denton (1999) geloods aangaande die verhouding tussen spiritualiteit en godsdiens/religie in die werkplek. Daar is bevind dat ongeveer 60% van die respondente positief is omtrent spiritualiteit,

HOOFSTUK 4 - Spiritualiteit en Religieusiteit

maar negatief oor georganiseerde godsdiens. Ongeveer 30% van die deelnemers handhaaf ’n positiewe siening jeens spiritualiteit saam met godsdiens/religie, terwyl slegs 10% negatief is teenoor beide. Vir diegene in ’n pluralistiese samelewing, waar daar nie een dominante godsdiens is nie, is daar dus nie ’n enkele religieuse tradisie wat aanspraak op spiritualiteit kan maak nie.

Hoewel spiritualiteit as persoonlik, inklusief en positief, en religieusiteit as ekstern, eksklusief en negatief gesien word, is Mohamed, Wisnieski, Askar en Syed (2004:103-104) van mening dat ’n onderskeiding tussen die twee begrippe kunsmatig en onnodig is. Die redes hiervoor aangevoer is in die eerste plek dat alle major godsdienste oor ’n spirituele dimensie beskik, aldus Zinnbauer, Pargament en Scott (1999:903). Tweedens, is religieuse praktyke soos vas ’n private en persoonlike aangeleentheid, terwyl spirituele aktiwiteite soos joga en meditasie in groepsverband gedoen kan word. Laastens, is die evaluasie van godsdiens/religie as negatief en spiritualiteit as positief ’n produk van breë veralgemenings.

Hill et al. (2000) en Hill en Pargament (2003) wys daarop dat godsdiens/religie en spiritualiteit verwante eerder as onafhanklike konstrukte verteenwoordig. Spiritualiteit kan volgens dié skrywers verstaan word as ’n soektog na die heilige of heiligheid. Hierdie soektog geskied binne ’n groter religieuse konteks, tradisioneel of nie- tradisioneel. Die heilige of heiligheid is dié faktor wat godsdiens/religie en spiritualiteit van ander verskynsels onderskei. Die heilige sluit konsepte van God, die goddelike, “Ultimate Reality,” die transendente en enige ander aspek van die lewe in, wat ’n buitengewone karakter toon as gevolg van die assosiasie daarmee, of teenwoordigheid van sulke konsepte. Die heilige of heiligheid is die gemene deler van die godsdiens/religie en spirituele lewe. Dit verteenwoordig “the most vital destination sought by the religious/spiritual person, and it is interwoven into the pathways many people take in life” (Hill & Pargament 2003:65).

Opsommend blyk dit dat die konstrukte van religieusiteit en spiritualiteit in algemene gebruik wel oorvleuel, maar dat dit egter ook beduidend in betekenis kan verskil. Miller en Thoresen (2003:28) wys daarop dat die betekenis van dié woorde voortdurend

HOOFSTUK 4 - Spiritualiteit en Religieusiteit

ontwikkel, met konsepte aangaande godsdiens/religie wat neig tot engheid, en konsepte omtrent spiritualiteit wat neig tot ’n breër begrip.

Navorsing omtrent die begripsverskille tussen religieusiteit en spiritualiteit in die werkplek toon dieselfde uitkomste tot dusver in hierdie afdeling (4.2) bespreek. Mitroff en Denton het in 1999 een van die eerste empiriese studies oor spiritualiteit in die werkplek gepubliseer, getiteld “A spiritual audit of corporate America.” Dié studie was primêr betrokke by die persoonlike betekenisse wat respondente aan die konsepte van godsdiens/religie en spiritualiteit koppel, met ’n spesifieke belang in die ontluikende definisies aangaande godsdiens/religie en spiritualiteit van bestuurders. Die definisies en gevoelens uitgedruk in die 1999-studie is steeds verteenwoordigend van die mees onlangse studie in 2009 deur dieselfde navorsers (Mitroff, Denton & Alpaslan). Godsdiens/religie word steeds primêr as ’n dogmatiese en institusionele fenomeen beskou, met spiritualiteit as ’n individuele verskynsel. Godsdiens/religie word ook steeds in negatiewe terme soos, dogmaties en onverdraagsaam gesien, teenoor die meer positiewe terme van spiritualiteit, wat as oop en verdraagsaam bestempel word.

Die ontluiking van spiritualiteit in die werkplek in die organisatoriese wetenskappe is afkomstig “from a very different mind-set than one would expect” (Giacalone, Jurkiewicz & Fry 2005:516). Die veld van werkplekspiritualiteit is gebore in die organisatoriese en sosiale sielkunde, etiek en bestuur. Navorsing uit die opkomende ontologiese tradisie, byvoorbeeld die werk van Biberman en Whitty (1997), het gelei tot belangrike en toonaangewende style in komplekse en ontluikende kwessies in die sosiale wetenskappe (Mirvis 1997; Neal 1997, Mitroff & Denton 1999). Met ’n beter begripsverkryging omtrent spiritualiteit kan werkplekspiritualiteit bestudeer word.