• No results found

HOOFSTUK 1 – Domeine in gesprek

1.5 BEDRYF-UITEENSETTING

’n Opera bestaan uit verskeie elemente. Dit word ingelei deur die ouverture en opgevolg deur bedrywe, met elke bedryf verteenwoordigend van ’n spesifieke tema. Die bedrywe word afgesluit met ’n finale, waarna ’n tussenpose gebied word vir oordenking en verfrissing.

HOOFSTUK 1 - BEDRYF-UITEENSETTING

Hiérdie navorsingstudie is ingelei met ’n ouverture in dié hoofstuk, verteenwoordigend van die verskillende domeine betrokke by die interdissiplinêre gesprek. Hoofstuk- indeling geskied dienooreenkomstig die voorstelling van die verskillende gespreksgenote verteenwoordigend van elke betrokke domein, soos ook in die titel opgeneem. Alhoewel praktiese teologie nie direk in die titel verwoord word nie, veronderstel die aksent van spiritualiteit wat reeds verteenwoordig is, ’n alles- insluitende lewenswyse voor God en word eerstens aan die woord gestel. Daarna word middelloopbaan-ontwikkeling, spiritualiteit en lewenstylafrigting, opeenvolgend soos in die titel uiteengesit, aan bod gestel. Elk van die vier domeine word in die verskillende bedrywe aan die woord gestel, met die stemme van gespreksgenote en die librettis deurlopend getrou aan die praktyk-teorie-praktyk benadering. Die gebruik van opskrifte en sub-opskrifte is eie aan elke domein ter wille van identiteitsversterking van dié betrokke veld. Na afloop van al die bedrywe word ’n gevolgtrekking in die finale gevind, waar al die betrokke stemme deur kruis-informering tot ’n geïntegreerde geheel verweef word.

Die inkleding van die agtergrond in elke bedryf is eie aan die tema en word in die navorsingstudie vergestalt deur die voorkoms van elke hoofstuk. Daar word gebruik gemaak van merkers en tabelle, wat in elke bedryf anders daarna uitsien ten einde ’n kleurvolle verhooginkleding te voorsien. Die doel van merkers en tabelle behels nie ’n ingeperkte, reglynige deel van inligting nie, maar is drieledig van aard. Eerstens, dien dit om die leesproses te vergemaklik, tweedens wil dit die wyse waarop inligting aangebied word varieer en derdens, soos reeds genoem, wil dit kleur aan die voorkoms van die betrokke bedryf verleen.

In die wyse waarop met bronne omgegaan word, mag ’n opeenhoping van bronverwysings soms voorkom. Waar ’n groepering van bronne aan die einde van ’n paragraaf aangedui word, dien dit ter stawing van al die feite in dié betrokke paragraaf. Getalle word soms uitgeskryf of in syfervorm weergee, ter vergemakliking van die leesproses en om ’n kleurvolle aanbieding van die betrokke bedryf moontlik te maak. Vervolgens word die oorblywende vier bedrywe kortliks belig:

HOOFSTUK 1 - BEDRYF-UITEENSETTING

Hoofstuk 2 – Die tweede bedryf: Praktiese teologie

Die ensiklopediese paradigma van teologie word deur die postmoderne, intellektuele paradigma bevraagteken. ’n Nuwe begrip en ontwikkeling, wat in die praktiese teologie sigbaar geraak het, soos deur Richard Osmer en Friederich Schweitzer veronderstel, word opgesom. ’n Pastorale siening, met ’n verdere verrekening van ’n hermeneutiese waarneming en narratiewe verwoording, word ook belig, waarna ’n bespreking ten opsigte van die pastorale antropologie, soos deur Jan-Albert van den Berg veronderstel, aandag geniet. ’n Eie teologiese posisie word ingeneem ten einde my (en andere) se verstaanshorisonne te verruim, met dieper insig in die beantwoording van die vraag waarom júís hierdie gekose verwysingsraamwerk verkies word.

Hoofstuk 3 – Die derde bedryf: Middelloopbaan-ontwikkeling

Ten einde te verstaan wat die middelloopbaanfase behels, is ’n diepgaande bespreking rondom volwasse ontwikkeling en die lewensloopbenadering nodig. Die lewensiklusstadia geniet aan die hand van Erik Erikson en Daniel Levinson breedvoerige aandag, waarna loopbaanontwikkeling en die betekenis wat aan werk toegeskryf word, aan die beurt kom. Die verskillende loopbaanfases, soos beskou en ontwikkel deur Donald Super en Jeffrey Greenhaus, en ook spesifiek die middelloopbaanfase, word volledig bespreek. Die fenomenologie van die middeljare, met onder meer gesondheids-, fisiese-, asook kognitiewe veranderinge en veranderde sosiale verhoudings, kom onder die soeklig. Ten slotte word die middelloopbaanjare en die handhawing van produktiwiteitsvlakke in oënskou geneem.

Hoofstuk 4 – Die vierde bedryf: Spirituele intelligensie

Agtergrondinligting ten opsigte van spiritualiteit en intelligensie word verskaf ten einde tot ’n breë begrip van beide konsepte te kom. Spiritualiteit is moeilik definieerbaar en word daarom vanuit verskillende perspektiewe belig in ’n poging om ’n geheelbeeld daar te stel. Dit word in samehang, asook teenstellend tot religieusiteit bespreek, waarna spiritualiteit in die werkplek, volledig aandag geniet. Die tradisionele en alternatiewe sieninge rondom intelligensie, waaronder Howard Gardner se teorie van meervoudige intelligensie en die emosionele intelligensie van Daniel Goleman tel,

HOOFSTUK 1 - BEDRYF-UITEENSETTING

word voorgestel. In die ‘intelligente debat’ word die identifiseerbaarheid van spiritualiteit as intelligensie beredeneer. Spirituele intelligensie as transformerende en integrerende paradigma word laastens aan bod gestel.

Hoofstuk 5 – Die vyfde bedryf: Lewenstylafrigting

Vanweë die siening dat afrigting ’n nuwe fenomenologie is, word in die eerste gedeelte van die betrokke bedryf aandag gegee aan wat afrigting behels. Die vraagstuk rondom afrigting as professie, wat tans wêreldwyd vurige debat ontlok, sowel as die passing van afrigting met ander dissiplines, verskillende teoretiese benaderinge, asook die toepassing daarvan in verskeie kontekste, word bespreek. Daarna kom lewenstylafrigting in die tweede gedeelte van die bedryf aan die woord. Die kliënte, Bruwer en Lizette, wat deelgeneem het aan die lewenstylafrigtingsproses word voorgestel. Die praktiese aanbieding van die afrigtingsproses word uiteengesit, sowel as die bespreking van hulpmiddels wat in die proses aangewend is. Ten slotte word die navorsingstudie afgesluit met ’n finale, wat ’n geïntegreerde siening rondom die voorgestelde interdissiplinêre gesprek bied.

1.6 FINALE

Die perspektiewe verwoord in die voorafgaande hoofstuk veronderstel ’n dinamiese en interdissiplinêre gesprek tussen praktiese teologie, middelloopbaan-ontwikkeling, spirituele intelligensie en lewenstylafrigting, wat ’n libretto of operateks tot stand bring. Die waarde van die studie is ingebed in die uniekheid van die eiesoortige stemme, wat deur interdissiplinariteit en kruis-informering tot ’n geïntegreerde geheel saamgevoeg word.

Vervolgens word die eerste domein, praktiese teologie, as gespreksgenoot in die tweede bedryf aan die woord gestel.

HOOFSTUK 2