• No results found

Semi-gestruktureerde onderhoude oor toepassing van besigheidsvaardighede

4.5 Implementering van meetinstrumente en data-insameling

4.5.6 Semi-gestruktureerde onderhoude oor toepassing van besigheidsvaardighede

’n Besigheidsvaardigheidswerkswinkel (sien Addendum 5) is deur die navorser aangebied as gedeeltelike bydrae tot die bereik van subdoelwit 1.3.3, naamlik om aan die studiegroep die nodige vaardighede te leer ten opsigte van die bestuur van produksie, bemarking en verkoop van goedere ten einde ’n inkomste te genereer. ’n Semi-gestruktureerde onderhoud (sien Addendum 7) is met die lede van die studiegroep gevoer ten einde die toepassing van die besigheidsvaardighede te evalueer. Die vrae wat gevra is, is gebaseer op die inligting wat deur die besigheids- vaardigheidswerkswinkels aan die lede van die studiegroep weergegee is. Die getal respondente waarmee die navorser onderhoude gevoer het, was veertien. Dit is die totale aantal respondente wat aan hierdie werkswinkel deelgeneem het. Die

resultate van die toepassing van besigheidsvaarighede deur die lede van die studiegroep word vervolgens uiteengesit.

Vrae een tot elf het die gedeelte oor marknavorsing in die besigheidsvaardigheids- werkswinkel gedek. Nege van die veertien respondente het aangedui dat die groep eers produkte maak en dit dan probeer verkoop en die ander vyf respondente het aangedui dat daar eers uitgevind word wat dit is wat mense koop en dat hierdie produkte dan gemaak sal word (vraag 1). Dertien respondente het aangedui dat die produkte verkoop word aan mense wat dit self gaan gebruik teenoor die éen wat aangedui het dat die koper die produk weer verkoop (vraag 2). Die hoeveelheid respondente wat aangedui het dat die gemeenskapsentrum die plek is waar alle produkte gemaak word, maar dat die produkte ook huis toe geneem sal word om te voltooi, is elf. Drie het aangedui dat dit by die gemeenskapsentrum gemaak word, maar dat daar ook tuis aan artikels gewerk word (vraag 3).

Inligting is ingesamel oor die voorwaardes wat gestel is vir die gebruik van die lokaal en fasiliteite by die Darling Fokus Gemeenskapsentrum (vraag 4-8). Al 14 respondente het genoem dat ’n heffing van R2 per maand per groeplid gevra word vir die gebruik van die elektrisiteit en dat daar geen verdere koste by die gebruik van die lokaal betrokke is nie (vraag 7, 8). Die tye waarop die lokaal aan die groeplede beskikbaar gestel word (vraag 5), is volgens agt respondente slegs op tye wat vir die groepe vasgestel is en vyf respondente het geantwoord dat dit enige tyd beskikbaar is. Die lokaal is volgens ses van die respondente toeganklik as daar vooraf met die sekretaresse gereël is of as die sekretaresse beskikbaar is om die lokaal oop te sluit (vraag 6).

Volgens sewe respondente word die produkte by verskillende afsetgebiede en ook uit die hand verkoop. Die produkte word hoofsaaklik verkoop deur dit uit te stal in die afsetgebied of by ’n straatmark, soos aangedui deur agt van die groeplede (vraag 9, 10). Volgens Malick (1985: 12) is een van die belangrikste aspekte van enige inkomstegenereringsprojek die marknavorsing wat gedoen word om te bepaal watter produkte gemaak moet word, waar dit verkoop moet word en aan wie dit verkoop moet word. Om die toepassing hiervan te toets, is daar gevra dat die respondente met ’n voorstel of voorstelle vorendag moet kom van hoe die groep te werk moet gaan ten einde bogenoemde deur te voer (vraag 11). Vyf respondente het aangedui dat afsetgebiede besoek moet word om te kyk of te vra wat gemaak en verkoop word. ’n Verdere vier respondente het aangedui dat daar gekyk moet word na watter

produkte mense soek of watter produkte die beste sal werk en dat produkte teen die einde van die maand by ’n stalletjie in die dorpsentrum uitgestal moet word vir verkope. Die ander vyf respondente se antwoorde was vaag en dus onbruikbaar. Vraag 12-24 het gehandel oor die produksie. Inligting oor patrone en materiale, die maak van produkte en die beskikbaarheid van hulpbronne is gevra (vraag 12-19) waarop sewe respondente aangedui het dat die patrone wat oor die algemeen gebruik word vir die maak van produkte, die patrone is wat by die Darling Fokus Gemeenskapsentrum beskikbaar is. Ses respondente het aangedui dat daar wel ook van die groeplede se eie patrone gebruik gemaak word (vraag 12). Hierdie patrone is volgens ses van die respondente kommersiële patrone. Daar word egter soms van beide kommersiële patrone én patrone wat deur groeplede self ontwerp is, gebruik gemaak soos aangedui deur vier van die respondente (vraag 13). Die patrone is meestal maklik om te gebruik vir al die groeplede soos deur tien van die respondente aangedui is (vraag 14). Die materiale waarop daar besluit word word bepaal deur die produk, soos deur vyf van die respondente aangedui is. Vier van die respondente het aangedui dat die groep die materiale gebruik wat vir hulle aangekoop word en drie het aangedui dat die materiale wat in die stoorkamer beskikbaar is vir die maak van produkte gebruik word (vraag 15). Om die respondente se mening oor die kwaliteit van materiaal te bepaal, is ’n vraag gestel oor die reaksie van ’n persoon in 'n situasie waar materiaal teen ’n goedkoper prys aangebied word, maar waarvan die kwaliteit nie na wense is nie (vraag 16). Agt van die respondente het aangedui dat hulle die materiaal nie sou koop nie en eerder op ander plekke vir die geskikte materiaal sal gaan soek. Die materiale word volgens sewe respondente meestal in die stad (Kaapstad en Bellville) aangekoop deur een of twee van die groeplede wat toegang het tot vervoer (vraag 17). Die tipe materiaal wat vir die maak van ’n spesifieke produk gebruik kan word en waar hierdie materiaal volgens die respondent gekoop kan word, is gevra (vraag 18, 19).

Om te bepaal hoe die groep te werk sou gaan in die maak van die produkte, is daar gevra dat elke respondent ’n voorstel maak vir ’n metode om produkte makliker en vinniger te produseer (vraag 20). Vier respondente het aangedui dat dit belangrik is dat al die groeplede blootgestel word aan die maak van ’n item en daarom moet elke groeplid die hele item self maak. Drie respondente het voorgestel dat die werk onder die lede van die groep verdeel word en dat die groep moontlik in kleiner groepe deel, onder wie die werk dan verdeel kan word.

Die respondente is ook vrae gevra aangaande die onderhoud van apparaat wat gebruik word vir die maak van produkte (vraag 16, 17). Sewe van die respondente het aangedui dat die masjiene gereeld gediens moet word en elf het aangedui dat die groeplede self ook verantwoordelikheid neem vir die versorging daarvan. Die toebehore wat gebruik word, word volgens elf van die respondente netjies versorg en in die stoorkamer weggepak na gebruik.

Die studiegroep se mening oor taakverdeling ten einde as ’n groep saam te werk, is getoets deur te vra hoe daar te werk gegaan sou kon word om die vaardighede van elke groeplid ten beste te benut tot voordeel van die groep (vraag 23). Sewe respondente het aangedui dat die groeplede mekaar eerder moet help om almal op dieselfde vlak van vaardigheid te kom as wat die sterk punte van sommige groeplede uitgesonder word om tot voordeel van die groep gebruik te word. Die aanduiding is dat dertien respondente van mening is dat almal gewillig is om as groep saam te werk (vraag 24).

In enige inkomstegenereringsprojek is dit belangrik dat die persone wat die produkte vervaardig die regte prys vir die produkte kan bepaal en bewus is van die koste wat by die vervaardiging van die produkte betrokke is (vraag 25, 26). Faktore wat die prys bepaal is soos volg deur die respondente aangedui: materiaal wat aangekoop word (veertien respondente); aantal items wat uit die materiaal gemaak kan word (vyf respondente); wins (sewe respondente); elektrisiteit, arbeid en tyd (ses respondente).

Daar is verskeie vrae gevra aangaande die produkte wat vervaardig en verkoop word. Om die produkte meer aantreklik vir die kliënt te maak (vraag 27) het ses respondente voorgestel dat dit met ’n etiket uitgestal word en vier het genoem dat die verpakking en versiering van die produk die kliënte se aandag sal trek. Om kliënte wat in die produkte belangstel aan te moedig om die produk te koop, het drie respondente aangedui dat die kliënt die produk moet nodig hê (vraag 28). Die eienskappe wat die produkte moet hê om bo ander uitgekies te word, is volgens sewe van die respondente die netheid van die produk (vraag 29). Uitsonderlike produkte is vir drie van die respondente produkte met ’n modieuse styl (vraag 30). Die aanduiding deur agt van die respondente was dat iets van Darling Fokus aan kliënte gesê moet word of op etikette aangebring moet word sodat meer mense daarvan bewus raak en dit ondersteun (vraag 31).

Finansiële bronne is volgens sewe respondente skenkings en volgens ses persoonlike finansies (vraag 32). ’n Lening word slegs deur een as bron van finansies beskou omdat dit terugbetaal moet word en hierdie terugbetaling kan nie altyd nagekom word nie (vraag 33). Daar is ’n verskeidenheid van redes vir skenkings genoem naamlik dat dit aankope vergemaklik en uitgawes verlaag en dat dit nie altyd vir al die groeplede maklik is om van hul eie geld tot die inkomstegenereringsprojek by te dra nie. Die groeplede se eie geld word as finansiële bron beskou omdat die groeplede dan nie ander in die oë moet kyk vir geld nie en dat die geld wat op skuld afbetaal moet word, so verminder.

Respondente se kennis oor die inkomste en uitgawes van ’n besigheid is bepaal (vraag 34, 35). Die inkomste van ’n besigheid word deur al veertien respondente as verkope gesien. Vyf respondente het aangedui dat skenkings ook by die inkomste van ’n besigheid ingesluit kan word. Die uitgawes van ’n besigheid is deur al die respondente gesien as die aankoop van materiale vir die maak van produkte. Elektrisiteit is deur vyf respondente aangedui as ’n uitgawe en vier het aangedui dat die apparaat ook ’n uitgawe sal wees.

Die meerderheid van die respondente, naamlik agt, verkies om produkte kontant te verkoop omdat verkope op krediet tot verliese aanleiding gee. Vier respondente vind verkope op krediet sowel as kontantverkope aanvaarbaar omdat meer mense dan van die produkte kan koop (vraag 36). Die hantering van potensiële skuld aan en deur die studiegroep lewer die volgende response. Volgens ses is die rede vir die aanteken van skuld dat dit dien as herinnering (vraag 37). Die hantering van ’n geldskuldenaars behels volgens vier van die respondente die bepaling van die tydperk waaroor terugbetaal moet word, die moontlikheid van bêrekoop en besoeke aan die skuldenaar. Die manier waarop skuld deur die studiegroep hanteer moet word, is volgens ses respondente om die skuld op tyd terug te betaal en volgens vier om die skuld te betaal as die geld daarvoor beskikbaar is (vraag 38).

4.6 Die sukseskriteria vir samewerking in groepverband

Na aanleiding van die sukseskriteria vir samewerking in groepverband wat in die voorafgaande hoofstuk (3.6) uiteengesit is, is die volgende resultate ten opsigte van elke kriterium gevind.

Die eerste kriterium is die mate waartoe die groeplede ’n algemene doelwit deel. Deur die navorsing het dit duidelik geword dat die studiegroep nie vasgestelde doelwitte het wat gedokumenteer is nie. Die navorser kon ook nie deur die opnames vasstel watter doelwitte die studiegroep het nie, behalwe dat die aktiwiteite plaasvind sodat elke individu geleentheid het om ’n inkomste te genereer met die hulp van skenkings. In die ongestruktureerde onderhoude is daar ook nooit deur die respondente na doelwitte verwys nie.

Die belangstellingsvraelys se respons dui daarop dat die studiegroep nie bewus is van enige probleme wat in die groep ondervind word nie en daarom is daar ook nie metodes vasgestel om probleme te identifiseer, te analiseer en op te los nie.

Deur die selfdiagnose vir die identifisering van behoeftes vir vaardigheidsopleiding is probleme deur die groeplede geïdentifiseer en in die opvolgende werkswinkels is die vaardighede aangeleer vir die oplossing van die probleme, aangespreek. Hierdie probleme het verband gehou met produkontwikkeling, die vervaardiging van produkte, kreatiwiteit en besigheidsvaardighede. Uit waarneming blyk dit dat die groep nie tans oor probleemoplossingsvaardighede beskik nie.

’n Leemte is waargeneem ten opsigte van terugvoer aan die groeplede wat betref produkte en aktiwiteite. Dit blyk uit die gesprekke met rolspelers (die maatskaplike werker en koördineerder van ’n afsetgebied in Darling) dat daar sekere verwagtinge van die studiegroep is, maar dat dit nog nooit pertinent en duidelik aan die studiegroep uiteengesit is nie. Verder word daar nie terugvoer aan die studiegroep gegee ten opsigte van die verkope van produkte by die afsetgebiede nie. Daarom is die studiegroep nie bewus van watter produkte regtig markgerig is vir die generering van inkomste nie.

Dit is waargeneem dat die individu se bydrae ten opsigte van hulpbronne aan die groep net gedeeltelik plaasvind aangesien groeplede meestal individueel en vir persoonlike voordeel werk. Tog blyk dit dat die groeplede mekaar sal help in die aanleer of verbetering van vaardighede sodat almal op dieselfde vaardigheidsvlak kan wees.

Die studiegroep maak gebruik van beskikbare hulpbronne deur die Darling Fokus Gemeenskapsentrum daargestel, maar ondersoek nie die uitbreiding van hulpbronne nie.

Aanpassing by verandering is waargeneem uit die feit dat die studiegroep bereid is om nuwe vaardighede te leer. Ongelukkig is daar ’n afhanklikheid van fasilitering waargeneem. Groeplede pas slegs vaardighede wat aan hulle geleer word toe en reproduseer slegs bekende voorbeelde. Die selfvertroue om nuwe kreatiewe produkte te maak, het nog nie waarneembaar ontwikkel nie. Hoewel die groep kommunikeer dat hulle as ’n oop groep funksioneer, is geen nuwe lede die afgelope drie jaar betrek nie.

HOOFSTUK 5