• No results found

2.1 Die konsep van gemeenskapsentrums

2.3.4 Groepproduktiwiteit en effektiwiteit

Volgens Napier en Gerschenfeld (1993: 199, 200) is groepdoelwitte veronderstel om rigting vir aksie aan te dui. Dit is die standaard om die toereikendheid van groepprestasie te beskryf in terme van effektiwiteit (taakoriëntering), die mate waartoe die groep suksesvol is in die bereiking van die taak, verwante doelstellings en doeltreffendheid (onderhoudoriëntering) en die mate waartoe die groep die behoeftes van die lede bevredig.

Daar is elemente wat groepproduktiwiteit beïnvloed. Dit is onder meer positiewe interafhanklikheid, individuele of persoonlike verantwoordbaarheid, bevorderende interaksie, sosiale vaardighede, groepprosessering en groepskohesie.

Positiewe interafhanklikheid verwys daarna dat die sukses van een persoon

groeplede bestaan wanneer almal insien dat skakeling met ’n ander gebeur omdat sukses nie onafhanklik bereik kan word nie. Die pogings van die groeplede word met mekaar gekoördineer sodat die taak voltooi kan word. Dit is belangrik dat groeplede die verantwoordelikheid aanvaar om persoonlike produktiwiteit te verbeter asook die produktiwiteit van al die ander groeplede (Johnson & Johnson, 1997: 25).

Individuele of persoonlike verantwoordbaarheid verwys daarna dat vir ’n groep

om produktief te wees, al die lede van die groep ’n regverdige deel van die werk moet doen. Die groeplede se sin vir persoonlike verantwoordbaarheid vir die bydrae tot die bereiking van groepdoelwitte is naas positiewe interafhanklikheid ’n sleutel- veranderlike. Dit behels dat lede verantwoordelikheid aanvaar vir die voltooiing van take as individuele lede van die groep, die take van ander groeplede fasiliteer en die pogings van ander groeplede so min as moontlik versteur. Individuele verantwoord- baarheid bestaan dus wanneer die prestasie van elke lid bepaal word en die resultate aan die groep en die individu gekommunikeer word (Johnson & Johnson, 1997: 25).

Bevorderende interaksie kan gedefinieer word as individue wat mekaar se pogings

om die taak te voltooi, aanmoedig en fasiliteer, sodat die groepdoelwitte bereik kan word. Bevorderende interaksie word gekenmerk deur

• lede wat aan mekaar doeltreffende en effektiewe hulp en bystand verleen; • die nodige hulpbronne met mekaar uitruil;

• die terugvoer wat lede aan mekaar gee om die daaropvolgende prestasie op toegeskrewe take en verantwoordelikhede te verbeter;

• mekaar se gevolgtrekkings en redenering uit te daag om hoër kwaliteit besluitneming en groter insig in probleme wat oorweeg word, te bevorder;

• mekaar se pogings te beïnvloed om wederkerige doelwitte te bereik; • op vertroulike en betroubare maniere op te tree;

• gemotiveer te word om te streef na wederkerige voordeel; en • minder angstigheid en spanning te ervaar.

Sosiale vaardighede beïnvloed groepproduktiwiteit en prestasie in die sin dat

groeplede interpersoonlike vaardighede moet bemeester en gemotiveer word om dit te gebruik. Sosiale vaardighede dra by tot die bou van meer positiewe verhoudings tussen groeplede (Johnson & Johnson, 1997: 25).

’n Inherente deel van groepe is dat lede mekaar se aksies en prestasies monitor en aan mekaar terugvoer gee. Dit staan bekend as groepprosessering. Daarom moet groeplede met tussenposes reflekteer op hoe goed die groep funksioneer en beplanning doen om die werksprosesse te verbeter (Johnson & Johnson, 1997: 26).

Groepskohesie is die mate van aangetrokkenheid wat die groeplede tot mekaar en

die groep voel. Dit versterk die groeplede se lojaliteit tot mekaar en die groep en help dat die groepdoelwitte geïnternaliseer word. Groepskohesie ontwikkel rondom taak- en verhoudingsdimensies. ’n Groep wat alleenlik op die basis van ooreenkoms in interpersoonlike aangetrokkenheid gebou is, veroorsaak dat groepskohesie op verhoudings gebaseer is en dat die funksionering as taakgroep minder effektief is. Dit is waarom selfgekose groepe dikwels minder kohesie het as groepe waarin lidmaatskap versigtig toegeskryf is met die groeptaak in gedagte. Die produktiwiteit van ’n groep is sterk verwant aan die groepskohesie (Beebe & Masterson, 2000: 122, 123).

Volgens Napier en Gerschenfeld (1993: 201) is daar deur Thelen (1954) bewys dat wanneer die groep aanvanklik meer tyd aan interpersoonlike verhoudinge afstaan, dit op die lang duur tot groter doeltreffendheid lei. Die outeurs verwys na Elias, Johnson en Fortman (1989) wat daarna verwys het dat wanneer groeplede persoonlike inligting deel, daar later ’n beduidende hoër kohesie, groter verbintenis tot die groeptaak en hoër produktiwiteit is.

’n Belangrike determinant van groepskohesie is die mate waartoe ’n spesifieke groep in staat is om lede se behoeftes te bevredig in vergelyking met die vermoë van enige ander groep wat dieselfde behoeftes kan bevredig. Wanneer daar ervaar word dat voordele verkry word van deelname aan ’n groep wat deur geen ander groep gegee kan word nie, versterk die aantreklikheid van die groep aansienlik (Beebe & Masterson, 2000: 123).

Hoër groepskohesie is egter nie altyd ’n waarborg vir hoër produktiwiteit nie, maar beteken dat die groeplede mekaar in ’n groter mate beïnvloed. In hierdie geval haal Napier en Gerschenfeld (1993: 201) ook vir Norris en Niehbur (1980) aan wat sê dat ’n groep met hoër kohesie minder produktief kan wees as ’n groep met laer kohesie, omdat ander faktore ’n sterk rol speel in die groepsverhoudinge.

Persoonlikhede binne die groep word deur die aard van die taak wat deur die

groep uitgevoer moet word, beïnvloed. ’n Groepdoelstelling wat die probleem van verskillende emosies in groepsverhoudinge uitdruk, moet dit vir die groeplede maklik maak om uitdrukking aan hul gevoelens te gee. ’n Projek wat klem lê op beheer binne die groep, bemoeilik dit vir groeplede wat sukkel om aanduidings te volg of ’n taak wat afgedwing is, te voltooi. Oor die algemeen is daar ’n aanduiding dat groepe met lede wat meer formele verhoudinge verkies wanneer daar aan ’n taak gewerk word, meer produktief is. Groepe wat saamgestel is uit lede wat meer persoonlike verhoudinge verkies, is nie noodwendig minder produktief nie. Die afleiding kan gemaak word dat groepe wat bestaan uit soortgelyke tipe mense (taakgeoriënteer of verhoudinggeoriënteer) meer produktief is as groepe wat uit meer diverse tipe lede saamgestel is (Napier & Gerschenfeld, 1993: 200, 201).

Die volgende aspekte is faktore wat ’n rol speel in die effektiwiteit van ’n groep. Dit is die invloed van produktiwiteit op die effektiwiteit van die groep en die vlak van vertroue tussen die groeplede.

Produktiwiteit beïnvloed die effektiwiteit van die groep. ’n Groep het werklike en

praktiese kennis oor die hulpbronne wat aan die groep beskikbaar is. As ’n groep eers saam gewerk het, is die lede bekend aan mekaar en weet hulle wat om van die ander te verwag. Die groep kry meer ervaring in die manier waarop die lede saam werk en dit verhoog die produktiwiteit. Die lede raak ervare in die bepaling van doelwitte, die insameling van nodige inligting en het ’n bewustheid van die vaardighede wat nodig is om ’n spesifieke taak te voltooi. Die proses waardeur take suksesvol voltooi word bring nuwe prosedures en norme na vore wat die produktiwiteit van die groep verbeter. Dit bring groeplede tot die besef dat effektiwiteit kan verbeter as sekere prosedures hersien word (Johnson & Johnson, 1997: 128).

’n Hoë vlak van vertroue tussen groeplede is ’n essensiële voorwaarde vir groep- effektiwiteit. Die onderverdeling van hulpbronne, hulpverlening, regverdige werksverdeling en positiewe bydrae tot die bereiking van doelwitte, dra by tot die effektiwiteit van die groep. Dit kom na vore wanneer daar onderlinge vertroue tussen groeplede bestaan. ’n Hoë vlak van vertroue binne die groep maak voorsiening dat groeplede hul gedagtes, gevoelens, reaksies, opinies, inligting en idees meer openlik met die groep deel. ’n Laer vlak van vertroue veroorsaak dat probleme soos

vermyding, oneerlikheid en onnadenkendheid kop uitsteek (Johnson & Johnson, 1997: 129).

Die vergelyking tussen suksesvolle en minder suksesvolle groepe kan getref word in terme van verbintenis tot groepdoelwitte, openlike kommunikasie en die koördinering van aktiwiteite wat spesifiek gemik is op die bereiking van die doelwitte (Napier & Gerschenfeld, 1993: 202).

Daar is verskeie redes waarom die pogings van ’n groep om doelwitte te bereik, misluk. Dit gebeur dikwels dat groeplede wat minder bevoegd is die opdragte oorlaat aan die ander lede in die groep en dus nie ’n positiewe inset lewer nie. Dit skep die “free-rider”-effek waar hierdie persoon op die rug ry van die ander groeplede wat die werk verrig. Die teenoorgestelde hiervan word die “sucker”-effek genoem. Die meer bevoegde lede vervul dikwels die belangrike leierskaprolle en kan die posisie gebruik tot persoonlike voordeel ten koste van minder bevoegde groeplede, die ryk-word- ryker effek. Dit is belangrik dat groepe wat strewe na effektiwiteit, bogenoemde lokvalle identifiseer en pogings aanwend om dit ten alle koste te vermy (Johnson & Johnson, 1997: 18, 19).

Vervolgens word literatuur ten opsigte van probleme wat binne groepe kan voorkom, bespreek.