• No results found

Vir hierdie navorsing is dié studiegroep gekies op grond van hul beskikbaarheid en betrokkenheid by die aktiwiteite van die Darling Fokus Gemeenskapsentrum.

Volgens Swanepoel (1997: 34) is die voordeel van ’n bestaande groep dat dit reeds gevestig is en reeds georganiseer is. Die groep het gewoonlik ’n struktuur en ’n spesifieke manier van doen. Die infrastruktuur is geskep en kan vir projekte gebruik word. Die lede van so ’n groep ken mekaar en is gewoond daaraan om saam te werk. Dit is dus nie nodig om deur die bekendstellings- en aanvaardingsproses te gaan soos in die geval van nuutgevormde groepe nie.

Die groepe het vir die doel van die studie as een groep gefunksioneer. By die aanvang van die studie was daar agtien lede betrokke. Die ledetal het by die tweede ontmoeting, waartydens ʼn opname gedoen is oor die studiegroep se belangstelling in groepwerk, tot vyftien verminder. Dié vyftien het vir die volle duur van die studie deelgeneem. Die groepe het op Dinsdae van 14:00 tot 16:00 vergader. Die gevestigde werkswyse is aanvanklik gevolg en daar is dus ook van skenkings van die Darling Fokus Gemeenskapsentrum gebruik gemaak en 20% van die individue se inkomste uit artikels wat tydens die navorsing gemaak is, moes aan die Darling Fokus Gemeenskapsentrum betaal word. Sommige materiale is ook deur die Universiteit van Stellenbosch geskenk. Geen betaling word egter hiervoor geeis nie. Swanepoel (1997: 35) noem dat een van die nadele van bestaande groepe gekoppel is aan die gevestigde strukture en funksies. Bestaande groepe het voordele, maar die groep kan so gevestig wees in ’n manier van doen dat die leerproses nie deeglik kan plaasvind nie. Dit gebeur as daar nie aan die beginsel van aanpasbaarheid aandag gegee word nie. In hierdie studie het beide groepe as gevolg van die samevoeging aanpassings gemaak.

4.3.1 Bespreking van opname oor die studiegroep

Die resultate van die opname oor die studiegroep se belangstelling om saam as ’n groep ’n inkomstegenereringsprojek te vestig, is gebaseer op vrae rakende die respondente se huidige ervaring van samewerking in groepverband (Addendum 2). Die antwoordkategorieë wat as positief beskou word ten opsigte van die vrae wat gevra word, word as aanduiding vir die belangstelling om as groep ’n inkomste- genereringsprojek te vestig, beskou. Dit word dus vir die doel van die studie aanvaar dat as die respondente samewerking positief ervaar, hulle geneë sal wees om in groepverband ’n inkomstegenereringsprojek te vestig.

Die samewerking van die naaldwerkgroep aan ’n projek word deur 12 van die 15 respondente beskou as iets wat altyd gebeur. Wanneer die groep saamwerk, is 13 van die respondente van mening dat ruimte gelaat word vir individue om self te besluit wat hulle wil doen. Elf respondente het aangedui dat niemand verplig word om alleen sekere aktiwiteite uit te voer nie. Ongeveer die helfte van die groep, naamlik agt respondente dink dat die werk onder lede van die groep verdeel word wanneer daar saamgewerk word. Onder die groeplede is daar 13 wat aangedui het dat hulle daarvan hou om saam met die ander lede van die groep aan ’n projek te werk en 14 respondente ervaar dat die groep goed saamwerk.

Veertien van die 15 respondente het aangedui dat hulle bereid is om die inkomste wat die groep deur samewerking verdien met die ander groeplede te deel. Die verdienste van individue wat in die groep werk, word deur elf gesien as meer as wanneer die individu alleen werk.

Volgens tien respondente bestaan daar geen onenigheid in die groep nie. Onder dié wat wel onenigheid ervaar het, het twee aangedui dat die rede daarvoor masjiene is wat nie reg werk nie en twee het aangedui dat die rede daarvoor is dat die naalde uit die masjiene verwyder word. Daar is ook deur twee respondente onder dié wat onenigheid ervaar, genoem dat die redes daarvoor is dat mense goed wegneem van waar dit hoort en dat daar verkeerd gewerk word. Tien respondente ervaar dat daar staat gemaak kan word op die hulp van ander groeplede as individue met iets probleme sou ervaar.

Die respondente se mening oor behoeftes van kliënte, die tipe kliënte en kliëntevereistes ten opsigte van die kwaliteit van handwerkartikels is bepaal. Sewe

respondente het aangedui dat artikels altyd vir kliënte op bestelling gemaak word terwyl vyf aangedui het dat dit dikwels gebeur. Tien respondente is van mening dat die kliënte aan die individu voorskryf wat die artikel moet wees. Volgens sewe sal kliënte altyd spesifieke eienskappe in die artikels verlang. Dit is vir veertien van die respondente baie belangrik om te weet watter vereistes kliënte aan die artikels stel en sewe noem netjiese artikels as rede vir beter verkope. Dit gebeur volgens agt respondente selde dat kliënte nie die artikels wat gemaak word, koop nie.

Op die vraag wie die kliënte is wat artikels koop is die volgende gevind. Van die totale getal respondente dui 14 familie, 13 vriende, 13 dorpsmense, 12 toeriste en 11 bure as gereelde kliënte aan. Dit gebeur selde dat kliënte buite die gemeenskap van dié handwerkartikels koop.

Die naaldwerkartikels wat deur die lede van die naaldwerkgroep gemaak word, word volgens agt altyd verkoop en sewe het aangedui dat dit dikwels verkoop. Die aanduiding was dat 13 respondente artikels maak waarvan hulle hou wanneer artikels vir verkope gemaak word.

Volgens ses respondente word daar dikwels afgewyk van ou ontwerpe. Agt het aangedui dat hulle altyd nuwe ontwerpe probeer terwyl ses dikwels nuwe ontwerpe probeer. Wanneer daar van bestaande patrone afgewyk word, verander sewe die patroon soos hulle wil en vier verander dit nooit na eie goeddunke nie. Nuwe artikels word deur agt van die respondente met vertroue aangepak na die voltooiing van ander artikels en sewe dui aan hulle sal dit dikwels doen.

Uit die resultate is dit duidelik dat die studiegroep voldoende belangstelling toon in en ’n mate van ondervinding het van samewerking met die doel om ’n inkomste te genereer.