• No results found

2.6 Ontwikkeling van kreatiwiteit

2.7.2 Risiko’s geassosieer met bemagtiging

Adams (2003: 15-17) verwys na verskeie risiko’s wat met bemagtiging geassosieer kan word. Daar lê eerstens ’n teenstelling daarin om ander mense se bemagtiging te fasiliteer sonder om iets vir hulle te doen. Net soos wat Lee (1994: 13), Parsons (1991) en Simon (1990) aangehaal het, voer Adams (2003) aan dat daar weg beweeg moet word van die persepsie dat bemagtiging iets is wat aan iemand gedoen word of wat ’n persoon aan homself doen en dan aan ander oordra. Dit kan ook gebeur dat deur die bemagtigingsproses, een persoon bemagtig word en ’n ander persoon meer onbemagtig gelaat word. Omdat die proses op verskillende vlakke van die samelewing (individu, groep, gesin, organisasie en gemeenskap) en persoonlike sektore van mense se lewens plaasvind, sal mense verskillende idees hê oor die betekenis van bemagtiging. Verder loop bemagtiging die gevaar om afgewater te word tot bloot die instaatstelling van mense om sekere dinge te kan doen. Daardeur word die omvang waartoe mense se omstandighede verbeter kan word, kleiner gemaak. Dit is ook ’n risiko dat wanneer te veel groepe op ’n tyd vir bemagtiging geteiken word, dit dikwels gebeur dat nie ’n enkele groep effektief bereik word nie en dat bemagtiging sodoende relevantheid verloor vir die belange van die eintlike groep wat daardeur geraak moet word. Laastens bestaan ’n teenstrydige verband tussen selfhelp en bemagtiging. Daar is wel ’n verband tussen die twee konsepte, maar eersgenoemde word in die praktyk dikwels onderskat. Deurdat mense gelei word tot selfhelp kan hulle hulself en ander mense bemagtig. Die fokus van die gemeenskapswerker moet op elke inidividu as ’n oorwinnaar en nie as slagoffer van hul omstandighede wees nie en die fokus moet bly op sosiale verandering (Lee, 1994: 28).

Wanneer ’n program beplan word ten einde bemagtiging teweeg te bring, moet dit terselfdertyd ook die kapasiteit van die deelnemers bou. Die kapasiteit van individue

kan gebou word deur behoeftes wat suksesvol aangespreek is en die prestasie wat bereik is deur vaardighede te bemeester.

2.8 Kapasiteitsbou

Die UNDP (United Nations Development Programme) erken dat kapasiteitsbou ’n langtermyn, aaneenlopende proses is. Die Capacity 21 inisiatief van die UNDP definieer kapasiteitsbou as die som van pogings wat nodig is om die vaardighede van mense te erken, te verbeter en te gebruik om te vorder tot volhoubare ontwikkeling (James, 1998: 234).

Die ontwikkeling van kapasiteit is die proses waardeur individue, groepe, organisasies en samelewings hul vermoëns verbeter om die uitdagings van ontwikkeling op ’n volhoubare basis te identifiseer en daaraan te voldoen. Vir die pogings van enige ontwikkelingsprogram om effektief te wees, is dit afhanklik van plaaslike kennis en energie (Qualman & Bolger, 1996).

Die doel van onderrig en opleidingsprogramme is om die nodige omstandighede te skep wat mense in staat stel om op te tree op vlakke wat hul persoonlike effektiwiteit verhoog en ook voordeel vir die groep of gemeenskap as geheel inhou (McLennan & Schütte, 2001: 3). Ontwikkeling van individue en groepe ten opsigte van verskeie vaardighede en kennis is opsigself saamgestel uit ’n stel aspekte wat die sukses of mislukking daarvan verseker

Kapasiteitsbou word gekonseptualiseer as voortdurende verbetering van die vermoëns van individue om die kragte wat teen hulle is, te beheer en dit tot hul voordeel aan te wend. Dit het te doen met die ontwikkeling van die vaardighede en kennis van individue om die materiële toestand te kan verbeter. Kapasiteit is dus ’n mengsel van individue binne ’n gemeenskap se bestuurs-, wetenskaplike, tegnologiese, entrepreneurs- en instellingsvaardighede. In hierdie konteks van gemeenskap behels kapasiteitsbou die voortdurende opgradering van hierdie vaardighede sodat die gemeenskap die strewe na die ideaal om almal in staat te stel om produktiewe en vervulde lewens te lei, aktualiseer. Die toenemende vaardighede en kennis wat verkry word in eenvoudige probleemoplossing, lei tot selfvertroue om komplekse sosio-ekonomiese probleme aan te spreek. Die oorkoepelende doel met kapasiteisbou is om die vermoë van die gemeenskap as geheel te verbeter sodat dit

kan voldoen aan die behoeftes van individue en hul lewenskwaliteit kan verbeter (James, 1998; 235).

Dit is reeds beklemtoon dat individue moet deelneem aan hul eie ontwikkeling en dat dit veral nodig is wanneer kapasiteisbou bereik wil word. August (1999: 24) ondersteun Rahman (1993) se siening van deelname as ’n aktiewe proses waarin deelnemers inisiatief en aksie neem wat gestimuleer is deur hul eie denke en oorweging en waaroor hulle effektiewe beheer kan uitoefen. Oakley (1991) sien deelname as ’n manier waardeur mense bemagtig word deur die ontwikkeling van vaardighede en vemoëns om hulle in staat te stel om met die mense wat ontwikkeling inisieer, te onderhandel en hulself toe te rus om keuses te maak in terme van hul eie ontwikkelingsbehoeftes en realiteite (August, 1999: 24).

Wanneer daar van kapasiteitsbou gepraat word, word daar gepraat van die kapasiteit van mense, die wat voorheen die voorwerpe en ontvangers van ontwikkeling was, om die meesters van hul eie ontwikkeling te word. Die kapasiteitsbouparadigma is nou gekoppel aan, en ontwikkel saam met die debat van deelname in ontwikkeling: ’n debat wat oor gemeenskapsontwikkeling, basiese behoeftebenadering, deelnemende ontwikkeling, mensgesentreerde ontwikkeling en ander ontwikkeling span (De Beer, 1997: 21, 22).

Volgens James (1998: 235) berus kapasiteitsbou op sekere sleutelkonsepte wat ontwikkeling moontlik maak. Die implikasie daarvan is dat kapasiteitsbou nie in isolasie gesien of onderneem kan word nie. Dit is ingebed in die sosiale, ekonomiese en politieke omgewing en hierdie omgewing moet begryp word sodat die tekort aan kapasiteit van sommige mense in enige gegewe konteks verstaan kan word asook die rede vir die tekort en waarom dit belangrik is. Alle individue het kapasiteite. Dit is nie noodwendig sigbaar vir die mense self of vir buitestaanders nie, maar kan ontgin word as die regte prosedures gevolg word. Individue se kapasiteite en behoeftes is afhanklik van baie faktore wat mense van mekaar onderskei en identiteite, verhoudings en lewenservaring vorm.

Kapasiteitsbou is veronderstel om verandering teweeg te bring alhoewel projek- gebaseerde intervensie plaasvind in wyer prosesse van transformasie. Dit is daarom belangrik om buigbaar genoeg te wees om te reageer op ’n veranderende situasie en steeds ’n sin vir rigting te behou. Kapasiteitsbou is nie net ontwikkeling nie en dit is ook nie vry van risiko’s nie. Kapasiteitsbou impliseer ’n langtermyn belegging in

mense en organisasies en ’n verbintenis tot die onderskeie prosesse waardeur die kragte wat hul lewens beïnvloed gevorm word.

In programme is die klem op hulpverlening in kapasiteitsbou en nie kapasiteitsbou as sodanig nie. Die hulp moet deel wees van die leerproses wat gekenmerk word deur buigbare, volgehoue, ervaringsgerigte aksie wat gebaseer is op die kapasiteitsbou- benadering. Die mense wat hulp verleen is net so deel van die leerproses as dié wat geleer word (De Beer, 1997: 22).

Volgens Qualman en Bolger (1996: 4, 5) is die interverwantskappe tussen komponente in die konsep van kapasiteitsbou net so belangrik soos die individuele komponente daarvan. Die funksies van kapasiteitsbou verwys na die aktiwiteite wat uitgevoer moet word om spesifieke take te verrig. Daar moet ooreenstemming wees oor die sleutelfunksies wat versterk moet word. Dit sluit beleidsanalise en -vorming, netwerkvorming, strategiese beplanning, leer en besluitneming in. Die akteurs van kapasiteitsbou verwys na die spesifieke agente wat spesifieke take of funksies verrig. Hulle is die individue, formele organisasies, netwerke van organisasies en informele instellings. Die hulpbronne van kapasiteitsbou is die insette wat saam met die akteurs gekombineer word om kapasiteit te ontwikkel. Menslike hulpbronne, inligtingshulpbronne, finansiële hulpbronne en tegnologiese hulpbronne is dit wat in dié geval impliseer word. Die normatiewe konteks verwys na die visie, waardes en beleide wat die benadering tot kapasiteitsbou vorm. Die gemeenskapskonteks sluit in die omstandighede en kragte binne ’n gemeenskap waarop kapasiteitsbou- programme of projekte moet reageer. Die komponente op verskillende vlakke is globaal, nasionaal en streeksvlak.

Bogenoemde komponente van kapasiteitsbou skep ’n goeie idee van wat kapasiteitsbou behels en watter aspekte ’n rol speel daarin. Daar is egter verskeie voorbeelde van kapasiteitsbou wat nie instrumente van ontwikkeling is nie.

Eade (1997: 32) gee die voorbeelde soos volg weer: kapasiteitsbou moet nie afhanklikheid skep nie omdat verhoogde afhanklikheid en vatbaarheid vir afhanklikheid die teenoorgestelde van kapasiteitsbou impliseer. Kapasiteitsbou is nie ’n verswakkende toestand nie; dit is inteendeel ’n versterkende toestand. Kapasiteitsbou is nie ’n afsonderlike, onafhanklike en selfomvattende aktiwiteit nie en word nie in die plek van ondersteuning en opleiding gedoen nie. Ontwikkeling steun net soveel op hoe dinge gedoen word as op wat gedoen word. Kapasiteitsbou is nie

net gemoeid met finansiële volhoubaarheid nie, maar dit moet wel volhoubaarheid verbeter.

Kapasiteitsbou is duidelik nie die einde van ’n proses nie, maar die middel tot die sukses van ’n proses. Die einddoel van kapasiteitsbou is die ontwikkeling van mense. Daarom staan kapasiteitsbou nie apart nie, maar maak dit ’n integrale deel uit van die ontwikkelingsproses. Dit stel mense in staat om hul grense te verskuif en hul sieninge te verbreed en dit maak ontwikkeling op die end volhoubaar. Daar word nie ’n belegging in mense gedoen nie, maar mense word in staat gestel om in hulself te belê. Kapasiteitsbou is die "in-staat-stellende" benadering tot ontwikkeling (James, 1998: 235).

Uit bogenoemde literatuur is dit duidelik dat kapasiteitsbou ’n belangrike aspek is in die sukses van individue se ontwikkeling. Daardeur word individue in staat gestel om hul eie en ander se omstandighede te verbeter en sodoende die proses van ontwikkeling vol te hou.